Regters M.H. Rampai en M.B. Molemela het die Reitz-vier se vonnisse in die Vrystaatse hooggeregshof drasties verminder. Dié uitspraak is ná die appèl van die studente gelewer.
Rampai het gesê die landdros het by vonnisoplegging wesentlike mistastings rakende die aard en die erns van die oortreding gemaak.
Die vermeende rassistiese oortredings wat die studente sou gepleeg het, en wat internasionaal opslae gemaak het, is tydens die appèlsaak uitgewys as studentepret.
Die “morele” blaam van die “misdadige gedrag” van die vier oudstudente is dus geminimaliseer, volgens die uitspraak.
Die regter is oortuig dat die vier swart skoonmakers en die man in die video toneel gespeel het en nooit die brousel ingekry het nie en net gemaak het of hulle daarvan eet en naar word.
Die vernedering en aantasting van waardigheid was werklik nie so ernstig en ontstellend as wat voorgegee is nie, sê Rampai.
Die opgeskorte tronkstraf van ses maande wat hooflanddros Mziwonke Hinxa in Julie 2010 in die Bloemfonteinse landdroshof aan hulle opgelê het, val ook heeltemal weg.
Volgens Rampai het die vier studente nie crimen injuria teenoor swart mense in die algemeen en in die besonder die studente en personeel van die Universiteit van die Vrystaat gepleeg nie. Hulle het alleen skuld beken teenoor die vyf klaers.
Senior advokaat Kemp J. Kemp, het vir die Reitz-vier opgetree.
