Die land se minister van onderwys en navorsing, Annette Schavan, het gesê die regering sal in die komende week ‘n nuwe wetsontwerp opstel om duisende oorsese beroepsmense na die grootste Europese ekonomie te lok.
“Ons stem saam dat die ingewikkelde reëls, wat aanstellings so ver moontlik aan Duitsers toeken, afgeskaal moet word,” het sy gesê.
‘n Plaaslike arbeidskantoor ondersoek tans werkgewers om te verseker dat Duitsers waar moontlik aangestel is.
“Ons sal dit ook makliker maak vir oorsese kwalifikasies om erken te word,” het sy bygevoeg.
Die regering, werkgewers en arbeidsunies sal Woensdag byeenkom om samesprekings oor die nuwe wetsontwerp te voer.
‘n Ekonomiese navorsingsinstituut het gesê ‘n tekort aan gekwalifiseerde werkers het die Duitse ekonomie R149 miljard in 2009 gekos.
