Vyf-en-dertig volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 40 is op waarskuwing vrygelaat, het lt. kol. Lesego Metsi gesê.
Nege jeugdiges is gestuur vir assessering deur ‘n maatskaplike werker. Hulle sal in die toesig van hul ouers gelaat word.
Al 44 is aangekla van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging.
Gewelddadige betogings het aan die einde van Mei opgevlam ná die beweerde rituele moord op Thabiso Moloi. Inwoners het op 29 Mei verwoesting begin saai ná die begrafnis van Moloi, wie se ontbindende lyk in die bosse gevind is.
Inwoners vermoed hy is vir moeti doodgemaak.
Busse wat mense werk toe vervoer het, is voorgekeer en skoolkinders is nie toegelaat om skool toe te gaan nie. ‘n Motor en ‘n huis – wat aan die eienaar van die sjebien waar Moloi laas gesien is, behoort het – is aan die brand gesteek en die eienaar is met die dood gedreig.
Van die drie mense wat tydens die betoging geskiet is, het twee gesterf. Die polisie monitor steeds die situasie.
Al die beskuldigdes verskyn weer Vrydag in die hof.
