Navorsers aan die Californiese Oakland-instituut sê buitelandse beleggers trek voordeel uit “grondgryp”, wat dikwels nie die beloofde voordele van werksgeleenthede en ekonomiese ontwikkeling oplewer nie en tot omgewings- en maatskaplike probleme in die armste lande ter wêreld kan lei.
Die nuwe verslag oor grondaankope in sewe Afrikalande dui daarop dat Harvard, Vanderbilt en baie ander Amerikaanse universiteite met groot skenkingsfondse die afgelope paar jaar swaar in Afrikalande belê het. Baie van die geld is gekanaliseer deur middel van die Londense firma Emergent Asset Management, dws een van Afrika se grootste grondfondse, wat deur voormalige JP Morgan- en Goldman Sachs-valutahandelaars bedryf word.
Die navorsers van die Oakland-instituut meen dat Emergent se kliënte in die VSA tot $500 miljoen van die mees vrugbare landgrond opgekoop het met die verwagting dat dit 25% se opbrengste sal oplewer.
Emergent sê hulle tree verantwoordelik op. “Ja, universiteitskenkingsfondse en pensioenfondse is langtermynbeleggers,” het ‘n woordvoerder gesê. “Ons belê in Afrika se landbou en die oprigting van ondernnemings en werkskepping. Ons is besig om dit op ‘n verantwoordelike manier te doen… Die bedrae is groot. Dit behels honderde miljoene dollar. Dit is nie grondgryp nie. Ons wil die grond meer waardevol maak. Om groot te wees, maak ‘n impak. Skaalekonomieë kan meer produktief wees.”
Chinese en Midde-Oosterse maatskappye is voorheen geïdentifiseer as “grondgrypers” omdat hulle groot stukke grond in ontwikkelende lande aankoop om goedkoop voedsel vir hul eie bevolkings te kweek.
Die maatskappy wat Harvard se beleggingsfondse bestuur, het geweier om kommentaar te lewer. “Dit is die Harvard-bestuur se beleid om nie beleggings of ‘n beleggingstrategie te bespreek nie en daarom kan ek nie die verslag bevestig nie,” het ‘n woordvoerder gesê. Vanderbilt het ook geweier om kommentaar te lewer.
Oakland het gesê beleggers oorbeklemtoon die voordele in aanbiedings vir die betrokke gemeenskappe. “Maatskappye kan komplekse lae van maatskappye en filiale tot hul eie voordeel in ‘n swak gereguleerde omgewing skep. Ontleding van die kontrakte onthul dat baie van die aanbiedings slegs enkele werksgeleenthede sal voorsien en duisende mense van hul grond af sal dwing,” sê Anuradha Mittal, Oakland se direkteur.
In Tanzanië bepaal die memorandum van verstandhouding tussen die plaaslike regering en die Amerikaanse Development Corporation AgriSol Energy, tesame met Iowa Universiteit, dat die twee vernaamste plekke – Katumba en Mishamo – se vlugtelingnedersettings soveel soos 162 000 mense gedwonge sal moet verskuif voordat die $700-miljoenprojek kan begin. Die vlugtelinge bedryf reeds 40 jaar lank hul boerdery daar.
In Ethiopië is ‘n proses van “dorpskepping” deur die regering aan die gang om tienduisende mense uit die tradisionele gebiede in nuwe sentra te vestig, terwyl groot grondtransaksies met internasionale maatskappye onderhandel word.
Die grootste grondtransaksies in Suid-Soedan, waar tot 9% van landbougrond deur Noorse beleggers opgekoop is, is tussen ‘n Texas-maatskappy en ‘n plaaslike koöperasie van hoofmanne beding. Die huurkontrak van 49 jaar behels die gebruik van 400 000 hektaar teen ongeveer $25 000 en stel die maatskappy in staat om alle natuurlike hulpbronne, olie en hout inkluis, te ontgin. Die maatskappy, gelei deur die voormalige Amerikaanse ambassadeur Howard Eugene Douglas, sê dat hy voornemens is om aansoek te doen vir VN-gesteunde koolstofkrediete wat vir hom miljoene dollar per jaar aan inkomste kan beteken.
In Mosambiek, waar tot sewe miljoen hektaar landbougrond potensieel vir beleggers beskikbaar is, is verskansingsfondse besig om saam te werk met Suid-Afrikaanse sakeondernemings om groot stukke bos- en landbougrond vir beleggers in Europa en die VSA op te koop. Die regering gaan glo belasting vir tot 25 jaar afskryf, maar min werksgeleenthede sal geskep word.
“Die skaal van die grondhandel is skokkend,” sê Mittal. Hy sê dié beleggingstrategie kan voedselpryse en die risiko’s van klimaatsverandering verhoog.
Navorsing deur die Wêreldbank en ander dui daarop dat nagenoeg 60m hektaar – ‘n gebied die grootte van Frankryk – die afgelope drie jaar deur buitelandse maatskappye in Afrika gekoop of gehuur is.
“Die meeste van dié transaksies word gekenmerk deur ‘n gebrek aan deursigtigheid, ten spyte van die ernstige implikasies wat konsolidasie van beheer oor globale voedselmarkte en landbouhulpbronne deur finansiële ondernemings kan inhou,” sê die verslag.
Frederic Mousseau, beleidsdirekteur by Oakland, sê: “Hierdie voedselonsekerheid word ‘n veel groter bedreiging vir die wêreld se veiligheid as terrorisme. Meer as een miljard mense in die wêreld ly honger… Die meeste van die wêreld se armes is steeds afhanklik van klein plase vir hulle bestaan, en die spekulante neem dit weg terwyl die beloofde vordering nooit gebeur nie.”
Dit mag dalk verklaar waarom PLAAS, verbonde aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Britse en Amerikaanse fondse aanwend om Afrikanerboere ideologies van hul plase te probeer afdwing. Die organisasie produseer ‘n groot hoeveelheid anti-Afrikaanse ideologiese stof wat radikale grondhervorming in Suid-Afrika aanbeveel. Dit sal landbougrond in Suid-Afrika spotgoedkoop maak en dmv ‘n pagstelsel aan buitelandse beleggers beskikbaar stel wat dan nie markpryse daarvoor sal hoef te betaal nie.
