‘n Treindrywer is Woensdag afgedank nadat hy R12 miljoen se skade veroorsaak het toe hy teen ‘n goederetrein gebots het, het Metrorail in ‘n verklaring gesê.
Die ongeluk het op 2 Januarie plaasgevind.
“Die afdanking van die drywer is om die publiek en pendelaars te verseker dat Metrorail se stelsel op streng veiligheidsprosedures, reëls en beleid berus,” het Tony Games, ‘n woordvoerder, gesê.
Die drywer is tydens ‘n dissiplinêre verhoor skuldig bevind nadat hy twee gevaarseine verontagsaam het en teen ‘n hoë spoed gery het.
Die skade sluit die verlies van drie treilers en twee kompartemente in.
‘n Wag wat in die drywer se kajuit was, is beseer en moes drie maande in die hospitaal deurbring.
“Metrorail beskou treinongelukke in baie ernstige lig en glo die veiligheid van pendelaars is nie onderhandelbaar nie.”
Negentien Metrorail-drywers staar dissiplinêre stappe in die gesig vir soortgelyke oortredings.
