Die adjunkminister kla oor die DA, maar dit is soos die katfamilie wat gelyktydig vry en baklei. Die adjunkminister kritiseer die VF Plus en sê ons is die eerste party wat altyd kla oor grondhervorming. Hy is reg, maar ek wil dit duidelik stel dat ons steeds daarmee sal voortgaan. Die adjunkminister kla die boere aan en vertel hoe mishandel hulle hulle werkers en maak hulle selfs dood. Ek daag die adjunkminister uit om die statistiek hiervan bekend te stel. Hoeveel plaaswerkers is deur boere vermoor? Ek sal egter die statistiek gee van plaasmoorde in Suid-Afrika. Tans is daar 313 moorde per 100 000 van die bevolking betreffende plaasmoorde. Die Polisie, as gevaarlike beroep, se syfer is 271 per 100 000 van die bevolking. Die wêreldgemiddel vir moord is sewe per 100 000 van die bevolking. Hiervan hoor ek niks by die adjunkminister nie en hy moet sy feite eers reg kry voordat hy hier onverantwoordelike stellings kom maak. Die adjunkminister moet ook weet as dit nie vir die boere is wat sorg dat daar kos is nie, sal hy nie so blink en vet hier kan kom sit en ‘n klomp snert praat nie.
Ek wil vir die adjunkminister sê hy moet luister wat sy minister sê. Die minister self het erken dat 90% van die grondhervormingsprojekte misluk het. Die adjunkminister kla egter oor die stadige pas van grondoordrag. Tans is ongeveer 6,03 miljoen hektaar landbougrond oorgedra in terme van grondhervorming en restitusie, maar die suksessyfer is slegs 10%. Die VF Plus se standpunt is om eers seker te maak dat die reeds oorgedraagde grond suksesvol aangewend word voor verdere grond oorgedra word.
Vir die minister wil ek sê daar kan geen landelike ontwikkeling plaasvind sonder die kommersiële boere nie. Kommersiële boere is die hartklop van die landelike ekonomie en moet daarom vertroetel word. Sy department is egter die grootste bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika deurdat verwarrende uitsprake, soos die adjunkminister s’n vanmiddag, onsekerheid by die boere skep. Dit is hoekom boere begin uitwyk na ander lande toe en Suid-Afrika gaan sy boere verloor as daar nie sekerheid kom oor grondhervorming nie. Dit is een van die belangrikste aspekte waaraan die minister aandag sal moet gee.”
Begrotingsposdebat: Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Parlement – 7 Junie 2011
