Daar is stygende kommer in Brittanje oor kinders wat op ‘n baie vroeë ouderdom aan beeldmateriaal met seksuele botone blootgestel word.
‘n Verslag, wat deur die regering aangevra is, stel voor dat ouers meer beheer moet hê oor wat hul kinders op TV en op die internet mag kyk.
Die verslag het ook adverteerders en publiseerders aangemoedig om beelde wat baie seksueel is, nie onder die oë van kinders te plaas nie.
Hulle het spesifiek verwys na tydskrifte se voorblaaie, sowel as advertensieborde wat naby skole is.
Die verslag het ook ‘n beroep op winkels gedoen om nie uitlokkende kinderklere te verkoop nie.
“Die samelewing word oorval met beelde wat seksueel van aard is,” het die outeur van die verslag, Reg Bailey, voorsitter van Mothers’ Union, gesê.
“Ouers voel dat hulle nie van dié beelde kan ontkom nie en dat daar al hoe minder plekke is waar kinders bloot kinders kan wees.”
Die Britse eerste minister, David Cameron, het die voorstelle verwelkom.
Hy was veral ten gunste van ‘n webblad waar ouers direk oor TV-programme, advertensies, produkte en dienste kan kla indien hulle voel dat die inhoud nie geskik is vir kinders nie.
Reguleerders sal dan gedwing word om die klagtes direk aan te spreek.
Hy het reguleerders en besighede aangemoedig om aksie te neem en teen Oktober terug te rapporteer.
