Die Oilgate-skandaal het gevolg nadat die Mail & Guardian die brandstofmaatskappy Imvume Holdings daarvan beskuldig het dat dit R11-miljoen se staatsgeld kort voor die verkiesing van 2004 aan die ANC oorbetaal het. Die geld was deel van ʼn bedrag van R15-miljoen wat deur Imvume vir ‘n olietransaksie van PetroSA gevra is.
Volgens Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sal die feit dat adv. Mushwana as OB die ANC klaarblyklik beskerm het, net die standpunt versterk dat die MRK eintlik as ʼn kommissie vir die beskerming van die ANC se regte funksioneer.
“In die verlede het AfriForum al etlike klagtes by die MRK ingedien, wat nie ondersoek is nie. Dit het reeds vrae oor die onpartydigheid en funksionaliteit van die MRK laat ontstaan,” het Bailey gesê. “Die appèlhof se beslissing dui net weer aan hoe instellings wat grondwetlik veronderstel is om die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap te beskerm en te dien, en daardeur demokrasie te bevorder, deur die ANC se kaderontplooiing lamgelê word.”
AfriForum sal die saak na die OB terugverwys. Volgens Bailey sal dit die toets wees om te bepaal of die OB sedert Mushwana se vertrek, nou inderdaad as ʼn openbare beskermer funksioneer, of steeds net die ANC se belange op die hart dra.
