Die dodetal en aantal beseerdes is tydens ‘n mediakonferensie in Tripoli deur Mussa Ibrahim, die regeringswoordvoerder, bekend gemaak. Hy het ook gewaarsku dat indien Gaddafi die land verlaat, dit die “heel ergste scenario” vir Libië sou wees.
“Vanaf 19 Maart tot 26 Mei was daar reeds 718 martelaars onder burgerlikes en 4 067 is beseer, waarvan 433 baie ernstige gevalle is,” het Ibrahim gesê. Die getalle kon egter nog nie deur die gesondheidsministerie bevestig word nie.
Hy het gesê die getalle sluit nie Libiese militêre ongevalle in nie. Die departement van verdediging wou egter ook nie bekend maak hoeveel troepe reeds in dié oorlog gesneuwel het nie.
“As Gaddafi moet gaan, sal die sekuriteitsklep van die land verdwyn,” het Ibrahim gesê. Hy het gesê dit is buite die kwessie dat Gaddafi uittree.
“Gaddafi se uittrede sal ernstige gevolge vir Libië inhou.” Hy het ook gewaarsku teen ‘n burgeroorlog.
Ibrahim het ontken dat Jacob Zuma, die Suid-Afrikaanse president, Maandag in Tripoli ‘n “uitgangsplan” met Gaddafi bespreek het.
“Zuma het nooit enige uitgangsplanne met hom bespreek soos in die media beskryf is nie,” het hy gesê.
In ‘n verklaring van die Suid-Afrikaanse presidensie in Pretoria is daar gesê dat Gaddafi Libië nie gaan verlaat nie ondanks stygende internasionale druk en verskerpte NAVO-aanvalle op sy regime.
Die Suid-Afrikaanse president het gesê aanvalle deur NAVO, wat ‘n vliegspergebied oor Libië ter beskerming van burgers onder ‘n VN-mandaat afdwing, het Afrika se bemiddelingspogings ondermyn.
Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake Maite Nkoana-Mashabane het ‘n onmiddellike skietstilstand gevra nadat Zuma gesê het die kolonel is “gereed” om ‘n Afrika-Unie vredesplan, wat reeds verwerp deur NAVO en die rebelle verwerp is, te aanvaar.
In Benghazi, in die ooste van Libië, het Italië se minister van buitelandse sake Dinsdag gesê, is die regime reeds verslaan.
