Moeammar Gaddafi is gereed vir ‘n wapenstilstand om ‘n einde aan die opstand in sy land te bring, het President Jacob Zuma Maandag ná sy besoek aan die Libiese leier gesê. Hy het voorwaardes opgenoem wat dieselfde as Gadaffi se vroeëre eise is. Dié pogings het tot dusver nie vrede in die land bewerkstellig nie.
Groot gewag is van Zuma se besoek gemaak deur Gaddafi se regime. Navo het ook die vliegspergebied oor Libië tydelik opgeskort sodat Zuma die land kan besoek.
Zuma het gesê Gaddafi is gereed om ‘n inisiatief van die Afrika-Unie te aanvaar vir ‘n wapenstilstand wat alle vyandigheid in die land tot ‘n einde sal bring, insluitende Navo se lugaanvalle ter ondersteuning van die rebellemagte in die land.
“Hy is gereed om die padkaart te implementeer,” het Zuma gesê.
Zuma het gesê Gaddafi dring daarop aan dat “alle Libiërs ‘n kans gegun word om onder mekaar te praat” oor die land se toekoms.
Hy het nie gesê Gaddafi is gereed om uit te tree nie, hoewel dit die sentrale eis van die rebelle is.
Zuma het met verslaggewers van Suid-Afrikaanse en Libiese televisie gepraat. Sy opmerkings is laat Maandag uitgesaai.
Zuma het in April ‘n afvaardiging van die Afrika-Unie na Tripoli gelei met ‘n voorstel vir ‘n wapenstilstand. Gaddafi het gesê hy sal die wapenstilstand aanvaar, maar het dit vinnig geïgnoreer en sy aanvalle op die rebelle hervat. Die rebelle het op hul beurt ook die wapenstilstand verwerp, aangesien dié ooreenkoms nie Gaddafi se uittrede ingesluit het nie. Verskeie pogings om ‘n wapenstilstand te bewerkstellig, het sedertdien om soortgelyke redes gefaal.
Gaddafi beskou Libië reeds dekades lank al as ‘n Afrika- sowel as Arabiese land. Hy het hulp in die vorm van miljoene dollars aan verskeie Afrikalande geskenk en homself as ‘n leier op die kontinent opgebou.
