Zuma is na Libië onderweg om met Moeammar Gaddafi in gesprek te tree.
Zuma se party, die ANC, het gesê hulle ondersteun die Afrika-Unie (AU) se pogings om die onluste op vreedsame wyse te besleg “deur onderhandlings met al die partye wat by die konflik betrokke is”.
Zuma sal Maandag met Gaddafi vergader, te midde verskerpte Navo-aanvalle op die Libiese leier se troepe, as deel van ‘n poging om die konflik vanuit Afrika op te los. Bronne meen die samesprekinge kan fokus op ‘n reddingsboei vir Gaddafi.
Luidens die ANC-verklaring sluit dié party “aan by die kontinent en alle vredeliewende mense in die veroordeling van die lugaanvalle op Libië deur westerse magte”. Die verklaring is uitgereik nadat die ANC se uitvoerende raad twee dae lank vergader het.
Twee beamptes in Zuma se presidensie, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê Maandag se vergadering sal fokus op ‘n “uitgangstrategie” vir Gaddafi.
Sy woordvoerder het egter daarop aangedring dat dié inligting misleidend is en dat die samesprekinge deel van die AU se pogings is om Libië die “politieke hervorming te laat aanneem wat nodig is vir die oplossing van die huidige krisis”.
Die Suid-Afrikaanse leier, wat Sondag in Nigerië was, het ook belowe om “te doen watookal nodig is terwyl ek in Tripoli is” om seker te maak die oorskot van die fotograaf Anton Hammerl na Suid-Afrika terug gebring word.
Dié Suid-Afrikaanse fotograaf is in April deur Gaddafi se magte doodgeskiet. Daar was egter herhaaldelike aanduidings deur die Libiese regering dat hy steeds lewendig was.
Suid-Afrika het in Maart ‘n VN-besluit om ‘n vliegspergbebied oor Libië in te stel, ondersteun. Suid-Afrika kritiseer egter sedertdien Navo se lugaanvalle en is gekant teen ‘n bewindsverandering, maar het ook aanvalle op burgers deur Gaddafi se magte skerp veroordeel.
