Die waarskynlike nuwe leier van Al-Kaida sê NAVO se operasies in Libië is bedoel om Moeammar Gaddafi se regering omver te werp sodat die Weste ‘n “marionet-regering” kan instel om beheer oor Libië se olie te verkry.
In ‘n 49-minuut lange klankopname het Ayman al-Zawahri, die nommer twee van Al-Kaida, Libiërs aangemoedig om wapens op te gaar vir ‘n guerrilla-oorlog teen die westerse koalisie.
Die klankopname is glo oor die naweek op militêre internet-forums gepubliseer. Volgens die webwerwe is die opname gemaak voor die Amerikaanse weermag Osama bin Laden op 2 Mei doodgeskiet het.
Na bewering is Al-Zawahri die waarskynlike kandidaat om Bin Laden as leier van Al-Kaida op te volg. Hy werk glo naby die grens tussen Pakistan en Afghanistan.
