Die Vryheidsfront Plus gaan vandag ‘n klag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) teen president Zuma lê vir sy uitsprake wat hy in die Vrischgewacht-township naby Delareyville aan kiesers gemaak het.
Zuma het volgens Beeld (13/05/2011) gesê dat diegene wat hulle rug teen die ANC draai, teëspoed sal moet trotseer en aan die ANC-voorvaders verantwoording sal moet doen wanneer hulle sterf. Volgens dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, is hierdie optrede van Zuma ‘n duidelike verbreking van die OVK se verkiesingskode. “Zuma se gedrag is eerstens intimiderend van aard deurdat hy vrees by kiesers inboesem oor die gevolge van ‘n stem anders as vir die ANC en tweedens misbruik hy sy posisie van tradisionele gesag om kiesers te beïnvloed om ‘n stem vir die ANC uit te bring,” het dr. Mulder verder gesê.
Die verkiesingskode is ingevolge artikel 9(1)(a)(ii) baie duidelik dat intimiderende gedrag ontoelaatbaar is en ingevolge artikel (9)(2)(e) is enige gedrag waar gesag misbruik word om kiesers te beïnvloed om op ‘n sekere wyse te stem, verbied.
Hierdie klagte teen Zuma word gebring teen die agtergrond van verskeie uitsprake deur Zuma en ander senior ANC-lede wat kiesers gereeld bombardeer met godsdienstige boodskappe en vergelykings met die Christelike Godheid. Hierdie gedrag is vir meeste Christene, insluitende die VF Plus, ‘n steen des aanstoots en kan beskou word as godslasterend. Dit is ‘n aanduiding van die ANC se desperaatheid om stemme te werf en te behou vir die komende verkiesing.
“Die ANC se optrede is ‘n gevolg van een-party wat regeer en te sterk geword het. Dieselfde sal gebeur indien enige ander party alleen in bewind kom en al die verskillende groepe en oortuigings moet verteenwoordig. Koalisiepolitiek, waar meer as een party saam regeer, hou die voordeel van meer wigte en teenwigte teen magsmisbruik in,” het dr. Pieter Mulder bygevoeg.
