Jeugliga vies omdat Zuma hulle isoleer

President Jacob Zuma se opmerking dat die menings oor grondhervorming uitgespreek deur ANC-jeugligapresident Julius Malema sy eie is, isoleer die jeugleier, het die ANC-jeugliga Donderdag gesê.

Die liga het gereageer nadat Zuma die ANC van die sieninge gedistansieer het.

“Om die sienings wat in die… liga se besprekingsdokument uitgedruk word aan…Malema toe te skryf, is nie van hulp nie en kan net dien om hom (Malema) van die organisasie (ANC) te isoleer,” het die liga se nasionale werkkomitee Donderdag in ‘n verklaring gesê.

Zuma het na berig word, gereageer op besorgdheid wat uitgespreek is deur boere oor grondhervorming deur te sê: “Malema is op ‘n leerkurwe en die boerderygemeenskap moet nie ontsteld word deur sy uitlatings nie. Wat hy sê, is bloot sy (Malema se) sienings.”

In die liga se besprekingsdokument, wat met die oog op die liga se komende verkiesingskonferensie uitgereik is, stel die liga wysigings voor aan die eiendomsklousule van die Grondwet om die regering toe te laat om “in die openbare belang” op grond beslag te lê.

Die liga meen dat die onteiening van grond sonder vergoeding ‘n beleidsvoorstel deur die liga is en nie dié van ‘n individu nie.

Die verhouding tussen Zuma en Malema, sy eens getroue ondersteuner, het intussen versleg. Malema se naam is ook genoem in ‘n beweerde komplot wat glo beplan word vir die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in 2012 om Zuma uit die kussings te lig.

бани внутрипрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae