Verkiesingsprojeksies

As alle opposisiekiesers gaan stem en groot getalle ANC-kiesers wegbly van die stembus, kan sekere metrorade en enkele plaaslike rade deur koalisies van opposisiepartye regeer word.

Onrealistiese voorspellings deur politieke partye mag kort termyn voordeel inhou, maar maak dat opposisiekiesers wat na die uitslae teleurgestel is, anti-politiek en apaties in die toekoms word.

Van die 283 rade het die DA in 2006 sewe rade gewen, die IVP 33 en die ANC meer as 200. Enkele rade is met koalisies regeer.

Hierdie verkiesing gaan daar meer koalisieregerings wees en kiesers gaan begin om die voor- en nadele van die proporsionele kiesstelsel beter te verstaan. Koalisies maak dit moontlik dat kleiner partye groot bedinging kry waar hulle na die verkiesing die deurslaggewende rol in sekere metro’s en rade gaan speel. Die VF Plus gaan in al hierdie koalisies saam met ander opposisiepartye ‘n belangrike rol speel.

Waarom koalisies? Omdat die syfers en projeksies wys dat, behalwe dalk vir Kaapstad, geen opposisieparty alleen die ANC in die metro’s gaan wen nie.

Voorbeeld: Met die vorige plaaslike verkiesing in 2006 kon geen party meer as 50% in Kaapstad kry nie. Die DA het 41% gekry. Danksy ‘n koalisie tussen die DA, VF Plus, ACDP en enkele ander partye is geslaag om die ANC in opposisie te kry. Kaapstad het 210 raadslede en die Speaker het ‘n beslissende stem as daar gelykop gestem word. Met die eerste stemming is ‘n VF Plus-raadslid met 105 teen 104 stemme as Speaker gekies. Hierna het hy ‘n beslissende stem gehad waarmee die ANC in opposisie gehou is. As deel van die ooreenkoms is mev. Zille daarna as burgemeester verkies.

Hoe broos hierdie koalisie na vyf jaar steeds is, blyk uit die feit dat die DA in Kaapstad vandag (11 Mei 2011) ‘n noodkoukus gehou het en probeer om die vergadering te kanselleer waarop die begroting goedgekeur moes word. Hulle wil die vergadering kanselleer omdat sommige OD-raadslede nie die begroting ondersteun nie, en die DA bang is hulle verloor ‘n stemming so kort voor die verkiesing waar Kaapstad as die model van DA-regering voorgehou word.

Waar kan hierdie patroon herhaal word?

Naas Kaapstad het opposisiepartye die beste kans om in die Nelson Mandela (Port Elizabeth) metroraad dit te herhaal. In 2009 het die ANC 50% van die stemme in hierdie metro gekry. Die DA het 28% gekry. Omdat dit nie moontlik is om in minder as twee jaar van 28% na 50% te groei nie, gaan samewerking met die VF Plus, Cope en ander partye nodig wees om die ANC in opposisie in te forseer.

Dit gaan moeiliker wees in Johannesburg en Pretoria waar die ANC in 2009 63% en 61% gekry het teenoor die DA se 20,8% en 24,9% onderskeidelik. Verantwoordelike samewerking tussen opposisiepartye mag dalk ook hier tot sukses lei.

Ons navorsing en werwing wys dat realisme nodig is wanneer voorspellings oor die verkiesingsuitslae gemaak word. Die huidige onrealistiese voorspellings maak dat opposisiekiesers wat na die uitslae teleurgestel is, anti-politiek en apaties word.

Voorbeeld: Met die 2009 verkiesing het die DA ‘n veldtog geloods met die boodskap dat hulle Zuma kan stop. Toe die uitslag kom het die ANC 65% en die DA 16% gekry. Dit is veral ook waarneembaar in provinsies waar die verwagting by die vorige verkiesing gewek is dat die ANC uitgestem kan word. Kiesers was geskok toe Cope, en nie die DA die amptelike opposisie in vyf van die nege provinsies is. Die gevolge is dat daar tans kiesers is wat weier om te stem. Hulle voel hulle is die vorige verkiesing mislei deur hierdie veldtog en dat hulle stemme nou geen verskil gaan maak nie.

Uit die verlede blyk dit dat daar nie ingrypende verandering in stempatrone intree tussen die nasionale verkiesing en die plaaslike verkiesing twee jaar later nie. Opposisiepartye vaar gewoonlik ‘n paar persentasiepunt beter in die plaaslike verkiesing.

‘n TNS navorsingsopname wat in Februarie in metropolitaanse gebiede gemaak is, het bevind dat 73% van die kiesers beplan om weer vanjaar vir dieselfde party te stem. Die opname het ook bevind dat persone wat ongelukkig is met hulle party, oorwegend gaan wegbly eerder as om vir ‘n ander party te stem.

Die navorsing het aangetoon dat die hoogste stempersentasies in Durban, Port Elizabeth, Bloemfontein en die Oos-Rand verwag word. Lae stempersentasie word vir Soweto, die Vaaldriehoek, die Suid-Rand en Oos-Londen voorspel.

Dit kan aandui dat opposisiekiesers wel meer gaan stem terwyl ANC-kiesers makliker gaan wegbly.

Die DA het in 2009 Wes-Kaap provinsiaal gewen. Die tendens behoort voort te duur. In die ander provinsies was die DA-uitslae in 2009: Gauteng 21,8%; KZN 9,1%; Noordwes 8,2%; Limpopo 3,4%; Mpumalanga 7,4%; Oos-Kaap 9,9%; Noordkaap 12,5% en Vrystaat 11,6%. Dit is hierdie werklikhede wat maak dat navorsing wys dat een enkele party nie alleen die ANC sal wen nie, maar dat koalisies dit wel kan doen.

хамам что этоФильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae