Nie alleen word gou na die manifes gegryp as beleid skynbaar ongrondwetlik is nie – iets wat al verskeie kere op hofsake uitgeloop het waar die grondwet gehandhaaf is, maar ook omdat die DA ook nou aangedui dat dit die manifes onderskryf.
Intussen het die minister van Energie, Dipuo Peters, die manifes gebruik om die omstrede kwessie oor die ANC se gebruik van die Christelike geloof om verkiesingspropaganda te maak, ‘n stappie verder gevoer deur die manifes te vergelyk met beginsels wat in die Bybel gestel word.
Reeds in sy tweede punt maak die manifes melding dat die mense van hul geboortereg op grond beroof is. Grondonteiening word later in die vooruitsig gestel, en so ook die nasionalisering van mineraleregte, myne en die banke. Die nuwe grondeienaars sal van alles voorsien word wat nodig is om voedselsekuriteit te verseker.
Die manifes bevat ook mooi ideale, maar dit is nogal opvallend dat dit juis daardie ideale is wat in die teenoorgestelde realiseer, soos die verskillende gemeenskappe se reg op gelyke taalberegtiging. Trouens, Pansat het vroeg in sy bestaan die regering self as die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings verskaf.
Dit is ‘n teologiese vraag of ‘n dokument wat uitsluitlik humanisties opgestel is in ‘n tyd, 1955, toe die SAKP die ANC sterk begin oorheers het, enigsins met die Bybel vergelyk kan word.
Die Christen-Demokratiese Party het al by verskeie geleenthede daarop gewys dat die ANC in die aanloop tot die verkiesingsveldtog en die veldtog self, waar herhaaldelik op ‘n spesiale status voor God aanspraak gemaak is, nog nie een keer beloof het om enige van die wette wat strydig met die Bybel is, te herroep nie. Daar is verskeie, soos die aborsiewetgewing wat as van die mees liberale in die wêreld beskou word, die wetgewing oor staatslotery, die beskikbaarheid van pornografie en ander. Van die ouer Suid-Afrikaners sal onthou hoeveel druk die kerke op die vorige regering uitgeoefen het om die bonusobligasies te onttrek, al het die houers daarvan hul geld met rente belê. Dit is veroordeel oor die element van die geluksgodin om bonusse te verdien. Dit is moeilik om die skade aan en lyding van gesinne te meet wat hul broodgeld in Lotto-spelery kwyt is.
So opsigtelik span die ANC die Here as verkiesingsfoefie in, dat al die noemenswaardige kerke dit al veroordeel het. Dit sluit die susterkerke, die APK, die AGS en vele meer in. Die VGK het selfs so ver gegaan om sy lidmate af te raai om vir die ANC te stem, terwyl die NG Kerk sy vermanings onlangs opgevolg het met ‘n vermaning dat ook hierdie kerk sy lidmate kan afraai om ANC te stem. Sedertdien is minstens twee gevalle gerapporteer waaruit dit blyk dat die ANC hom nie hieraan steur nie.
Die standpunt van die Christen-demokrasie is duidelik: Die Here is niemand se verkiesingsfoefie nie – die Christen is God se werktuig.
