‘n Boot met 72 passasiers aanboord, waaronder verskeie vroue, jong kinders en politieke vlugtelinge, het in Maart naby Tripoli in die moeilikheid geraak. Hulle was oppad na Europa om daar om politieke asiel aansoek te doen.
Die vaartuig het blykbaar rondgedryf in die oop water vir 16 dae lank. “Elke oggend het ons wakker geword en nog liggame ontdek,” het Abu Kurke, een van slegs nege oorlewendes, gesê. Hulle het oorleef, sê hy, deur hul eie urine te drink en tandepasta te eet.
Internasionale maritieme reg verplig alle skepe, insluitende militêre vaartuie, om gehoor te gee aan noodoproepe en hulp aan te bied waar moontlik. Vlugtelingorganisasies het ‘n ondersoek na die sterftes aangevra, terwyl die UNHCR, die VN se vlugteling-agentskap, gevra het vir strenger samewerking tussen kommersiële en militêre skepe in die Middellandse See in ‘n poging om menselewens te spaar.
Hierdie jaar se politieke onrus en militêre konflik in Noord-Afrika het ‘n skerp styging in die aantal mense wat probeer om Europa te bereik, veroorsaak. Soveel as 30 000 migrante het die reis oor die Middellandse See in die afgelope vier maande aangepak.
Groot getalle sterf en route; die afgelope maand is meer as 800 immigrante van verskillende nasionaliteite vermoedelik dood. Van die lyke spoel op die strande in Europa en Noord-Afrika uit.
Die pous het intussen, in ‘n toespraak aan meer as 300 000 aanbidders, ‘n beroep op Italianers gedoen om immigrante te verwelkom.
Die Guardian het na uitgebreide navrae vasgestel dit was waarskynlik die Franse skip Charles de Gaulle.
‘n Woordvoerder van NAVO, wat militêre optrede in Libië koördineer, het gesê hulle het geen rekords van die insident nie. “NAVO-eenhede is ten volle bewus van hul verantwoordelikhede met betrekking tot die internasionale maritieme reg, en sal antwoord op alle noodoproepe op see en altyd help wanneer dit nodig is om lewens te red.”
