Geregtigheid, op die Amerikaanse manier

Uitbundige vieringe op Pennsylvania Avenue in Washington Sondagnag ná die aankondiging van Osama Bin Laden se dood, laat ‘n mens wonder wat die Amerikaanse publiek verstaan van internasionale reg en die wette van oorlog. Hulle woon in ‘n land wat graag daarmee spog dat hulle albei met groot erns bejeën en dit graag wil uitvoer na dié lande waar goeie regspraak en wetmatigheid ontbreek.

Daar is min twyfel oor die vraag of dit moord was in terme van internasionale reg en die wette van die oorlog, nadat Leon Panetta, hoof van die CIA, Dinsdag erken het dat Osama nie gewapen was nie en dat Pakistan nie geweet het van die aanval nie.

Kort vóór die aanval is terloops bekend gemaak dat Panetta deur genl. Petraeus vervang gaan word. Petraeus, hoofaanvoerder van Amerikaanse magte in Afghanistan, is ook Navo se bevelvoerder. Een van sy besondere kwaliteite tot dusver was sy aandrang dat die VSA se sukkelende veldtog in Afghanistan ‘n sukses is.

Sy vertrek beteken waarskynlik dat die VSA gaan onttrek uit Afghanistan en dat hulle Bin Laden se dood as verskoning gaan gebruik om oorlogsuitgawes daar te besnoei.

Die ongewilde Amerikaanse president Barack Obama kry bitter min geleenthede om ‘n oorwinning aan te kondig. Dit is dus geen wonder dat hy luisterryke woorde gekies het vir sy TV-verskyning nie: “Geregtigheid het geskied,” het hy gesê na afloop van die aanval.

Vir die families van die slagoffers van die 9 / 11-aanvalle, en vir patriotiese Amerikaners wat ‘n bende internasionale misdadigers moet trotseer, kan die antwoord eenvoudig wees. Maar vir internasionale regskundiges, wat reeds sukkel met die kwessie van die wettige status van die VSA se oorlog teen terreur, is Obama se triomfantelike woorde toenemend problematies.

Claus Kress, ‘n internasionale regsgeleerde aan die Universiteit van Keulen, sê  moeilik soos wat dit mag wees, word geregtigheid “nie bereik deur middel van summiere teregstellings nie, maar deur straf aan die einde van ‘n verhoor”. Kress sê die normale manier van hantering van ‘n man wat wêreldwyd gesoek word vir moord sou wees om hom te arresteer, hom voor ‘n regbank te bring en uiteindelik te vonnis. In die konteks van die internasionale reg, kan militêre geweld gebruik word in die arrestasie van ‘n verdagte, maar moord uit weerwraak is nie ‘n opsie nie.

So vroeg as gedurende sy verkiesingsveldtog in 2008, het Obama belowe dat hy “Bin Laden sal doodmaak” en die werk wat begin is deur sy voorganger voltooi na 9/11. “Ons is in ‘n oorlog teen al-Kaida gewikkel en ons moet ons burgers, ons vriende en ons bondgenote beskerm,” het die president verduidelik. ‘n Amerikaanse nasionale veiligheidsamptenaar het sonder om doekies om te draai, aan Reuters gesê: “Dit was ‘n doodsoperasie. En waarom nie? Die hoofdoel van oorlog is die nederlaag van die teenstander, die doodmaak van vyande deur die wettige middele. Oorlog is oorlog.”

In der waarheid, is dit nie heeltemal so eenvoudig nie. En nie alles wat die Verenigde State verklaar as ‘n oorlog, is werklik so nie. Daar was al “oorlog” teen misdaad, dwelms, drankmisbruik, tienerswangerskappe en wat nog. Regskundiges soos Kress sê dit is ‘n “ope vraag of die VSA nog steeds kan aanspraak maak om betrokke te wees in ‘n gewapende konflik met al-Kaida”.

Dit was dalk oorlog toe Bush die inval van Afghanistan in 2001 gelas het. Operasie Enduring Freedom het die Taliban geteiken, asook Osama bin Laden se terroriste-organisasie wat dit ondersteun. Tans het al-Kaida wel basisse en oefenkampe in Afghanistan – net soos ‘n strydende party – maar sommiges meen die beheer van die dwelmnetwerk daar speel ‘n groter rol as die stryd teen terreur.

Die oorlog teen terreur was ‘n “asimmetriese oorlog.” Dit beteken dat nie-regerings soldate, mits hulle regtig vegters is wat in eenhede georganiseer word met ‘n militêre karakter, óf as gewapende vegters dien, instruksies van ‘n leier neem.

Osama bin Laden was, sonder twyfel, ‘n vegter volgens die laasgenoemde definisie. Baie terreurkundiges huiwer egter vandag of die toepassing steeds geldig is. Kress sê dit word sterk betwyfel of die netwerkstrukture in die Pakistanse grensgebiede nog gefunksioneer het met Osama as hoof. “Dit was werklik lankal reeds nie meer duidelik of Bin Laden steeds opdrag gegee het as hoof van ‘n kwasi-militêre organisasie nie.”

As Bin Laden nie meer ‘n leier was nie, sou dit nie meer toelaatbaar wees om hom te behandel soos ‘n vyand of vegter nie, sê Kress, omdat die wette van oorlogvoering dit verbied.

Die operasie het ook nie plaasgevind op die werklike slagveld van Operasie Enduring Freedom nie, dit wil sê in Afghanistan nie, maar eerder op Pakistanse grondgebied. Op hierdie punt wyk die amptelike Amerikaanse siening af van die internasionale reg, sê die meeste kenners op die gebied. Die bevelvoerders van die oorlog teen terreur beskou die hele wêreld as ‘n slagveld. Die VSA kan dus oral waar hulle glo die vyand wegkruip, hulle optrede regverdig – ongeag of dit nou in Europa of Islamabad is.

In die geval van Suid-Afrika was die ou NP-regering nie eens hoegenaamd anti-Amerikaans of naastenby vyandig nie. Dit het egter nie die VSA gekeer om ‘n militêre basis in Botswana op te rig nie.

Kress en die oorgrote meerderheid van ander kundiges op die wette van gewapende konflik, vind hierdie siening nie aanvaarbaar nie. “Die teater van ‘n asimmetriese konflik is gereeld beperk tot die gebied van die land waar nie-regeringsorganisasies se akteurs optree op kwasi-militêre wyse,” sê Kress.

“Enigiets anders sou lei tot die onberekenbare eskalasie van geweld.” Die vraag word dus of die sogenaamde asimmetriese oorlog wat woed op die Pakistanse grondgebied vandag, teen al-Kaida of teen die regering daar gemik is? Waar laat dit Afghanistan, waar die konflik afgekondig is? Wat is die rol van die Taliban in hierdie konflik? Waar pas Bin Laden in?

“Dit is op geen manier duidelik dat Bin Laden, ten tye van sy dood, ‘n organisasie bedryf het wat besig was met ‘n gewapende konflik vanuit Pakistan nie,” sê Kress.

‘n Militêre aanval wat oor nasionale grense heen strek, behalwe met dade van selfverdediging, word oor die algemeen beskou as ‘n inbreuk op soewereiniteit – tensy Pakistan se regering hulp van die Amerikaners versoek het.

Obama het Sondag verklaar dat bin Laden se dood ‘n “getuigskrif aan die grootsheid van ons land is”. Maar was Sondag ‘n goeie dag vir geregtigheid? As die Verenigde State die massamoordenaar Osama bin Laden in die beskuldigdebank van ‘n internasionale hof geplaas het, sou ‘n mens die Amerikaanse president geglo het.

Wanneer is dit FW de Klerk se beurt om homself te gaan verduidelik voor ‘n internasionale gehoor?

гостиная с камином в загородном домеФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae