Skrywerpolitikus Martin Bosma skryf in sy onlangse rubriek oor Nederlands en sy ietwat windverwaaide sustertaal Afrikaans: “Onze talen zijn diep verbonden.” Die rubriek verskyn in die NRC Handelsblad, Nederland se invloedrykste koerant, en is ook hier op Praag te lees. Daarby siteer hy ‘n aantal Afrikaanse digters, waaronder Eugène Marais, Elisabeth Eybers en NP van Wyk Louw.
Dit gaan egter om veel meer as taal- en letterkunde. Die dapper jong koningin Wilhelmina stuur in 1900 die Gelderland na Delagoabaai om die ou, romantiese president Kruger van Britse inhegtenisname en vernedering te red. Binnekort gaan Suid-Afrika se swart nasionalistiese regering die bekende Koningin Wilhelminastraat in Pretoria se naam verander. Waarmee gaan die ANC Koningin Wilhelmina se naam vervang? Met dié van Aboobaker Ismail, die outeur van die Kerkstraatbom in die einste Pretoria? Nie ver van die wakende bronsoog van Oom Paul se standbeeld op Kerkplein nie het die Kerkstraatbom, die ANC se enigste “militêre triomf”, op 20 Mei 1983 19 mense gedood en 219 erg beseer of vermink. Onder die vele “nuwe vakansiedae” in postrevolusionêre Suid-Afrika word dié blye dag, vreemd genoeg, nie herdenk nie.
Toe ek op skool was, het ons elke jaar Van Riebeeckdag op 6 April gevier. Jan van Riebeeck, ‘n Hollandse amptenaar, was die vader van ons “Dietse volk” hier in Afrika. Ook hierdie vakansiedag het intussen gesneuwel en is deur ander vervang: Sharpevilledag, Sowetodag, Vrouedag, Vryheidsdag; daar is selfs sprake van ‘n Mandeladag wanneer ons die geboorte van die wêreldberoemde Xhosa-politikus sal herdenk.
Dinge gaan nie goed met Afrikaners nie. Al het FW de Klerk die ganse land met sy weermag, polisie, ekonomie en sentrale bank net so op ‘n skinkbord aan ‘n bende onervare oud-terroriste en uitgewekenes uit Londen en die voormalige Oos-Europa oorhandig, bly die ANC en sy volgelinge gruwelik ondankbaar. Soos ‘n honger krokodil, wil hulle altyd méér. Meer mag, meer geld, meer regte, ad absurdum.
Juis verlede week is ‘n hofsaak in Johannesburg gevoer waartydens die regerende ANC ter verdediging van sy jeugligaleier, Julius Malema, aangevoer het dat die liedjie “Skiet die Boer… deel van hul kultuur” uitmaak. Ons boere op die platteland word byna daagliks op die grusaamste wyse in plaasmoorde deur swartes uitgemoor. Maar die ANC en Malema matig hul die reg aan om “kulturele” oproepe tot volksmoord teen ons te mag doen. Suid-Afrika het intussen die mees gevaarlike land ter wêreld geword, in terme van die aantal moorde en verkragtings wat jaarliks plaasvind.
N.P. van Wyk Louw is ons grootste digter, maar was ook populêre filosoof, ‘n ware philosophe in die Franse sin. Polities het hy homself as “liberale nasionalis” getipeer. Dog iewers in die vyftigerjare skryf hy: ““Die eise van ‘vryheid’, ‘gelyke regte’, en ‘gelyke kanse’ vir almal is, abstrak gestel, byna vanselfsprekend billik – ten minste wanneer ons die gewone menslikheid as grondslag aanvaar – maar toegepas op Suid-Afrika sou dit beteken dat die klein, relatief hoog ontwikkelde Afrikaanse volk en die Engelse volksdeel sou versink tot magtelose minderhede tussen ’n massa swartes.”
Hoe profeties klink daardie woorde nie vandag waar ons geen reg, selfs nie dié op lewe of gelyke behandeling met ander, meer as vanselfsprekend kan aanvaar nie!
Dr Dan Roodt is ‘n Afrikaanse skrywer / digter en aktivis vir Afrikaans en Afrikanerregte
Hierdie artikel het gister 27 April 2011 in Nederlandse vertaling in die NRC Handelsblad verskyn.
