Afriforum daar vir ‘kameras’

Julius Malema, die ANC-jeugliga se president, het Woensdag gesê AfriForum het die haatspraaksaak teen hom aanhangig gemaak omdat hulle daarvan hou om in die kollig te wees.

Tydens kruisondervraging deur Adv. Martin Brassey SC, regsverteenwoordiger van AfriForum, het Malema gesê die saak teen hom is net “goedkoop politiekery” en AfriForum wat “grootpraat”.

“Julle het hierheen gekom vir die kameras,” het hy aan Brassey gesê.

Die burgerregtegroep AfriForum het Malema verlede jaar van haatspraak aangekla oor die sing van ‘Skiet die Boer’ of “awudubhule ibhunu”.

Malema het ook die media daarvan beskuldig dat hulle sy woorde “verdraai” en AfriForum “mislei”.

Volgens Malema is die media besig om hulle vryheid te misbruik.

Die Jeugliga-president het ook aangevoer dat daar seker elemente binne die media is wat apartheid wil verewig.

“Dit het so erg geraak dat ons nie eers met mekaar kan praat sonder dat dit in die media bespreek word nie,” het hy gesê.

“Hierdie is nie ‘n Julius-lied nie. Ek is nie Brenda Fassie nie. As ek dié lied sing maak ek voorbladnuus, maar wanneer hulle Die Stem sing sê niemand niks.”

“Ek wil saam met my mense sing. Ek wil othou en herdenk sonder enige beperkinge,” het Malema aan die hof gesê.

Malema het AfriForum vroeër uitgenooi om die lied saam met hom te sing en om dit nie buite konteks te verstaan nie.

“Ek is nie ‘n rassis nie. Ek is deel van ‘n organisasie wat daaraan toegewy is om ‘n nie-rassige samelewing te skep,” het hy gesê.

Hy het gesê hy het die lied “dubula iBhunu” (“skiet die Boer”) gesing om comrades wat tydens die struggle gesterf het, te onthou.

“iBhunu beteken nie boere of witmense nie, maar polisie en soldate wat (ANC) kinders kom soek,” het Malema gesê.

Die saak duur steeds voort.

poker online notopcargo

Maak 'n opvolg-bydrae