Die aantal terreuraanvalle in die Europese Unie was verlede jaar slegs 249 – ‘n daling van 21,2%, vergeleke met die vorige jaar, het Europol Dinsdag gesê.
“In 2010 is 249 terreuraanvalle in nege lande van die Europese Unie aangemeld,” het Europol in ‘n jaarlikse verslag bekend gemaak.
Sewe mense is dood in dié aanvalle.
Meeste van die aanvalle (160) is deur seperatistegroepe uitgevoer. Slegs drie is deur Islamitiese groepe uitgevoer.
Spanje en Frankryk is die twee lande wat die meeste deur terreuraanvalle, meestal deur seperatistegroepe, geraak is, met onderskeidelik 90 en 84 aanvalle wat in dié lande plaasgevind het.
“Al het die getal terreuraanvalle gedaal, bly die bedreiging van hierdie groepe groot,” het die hoof van Europol, Rob Wainwright, in ‘n verklaring gesê.
