Die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, moet antwoord oor die gebruik van outomatiese aanvalsgewere vir die beskerming van Julius Malema by die Gelykheidshof in Pretoria. Mnr. Pieter Groenewald (LP) woordvoerder van polisie vir die VF Plus het ‘n vraag by die parlement ingedien waarin hy vra of die wapens gelisensieerd is en aan wie dit gelisensieerd is asook of elkeen van die veiligheidswagte ‘n bevoegdheidsertifikaat besit om ‘n vuurwapen te mag hanteer.
“Die gebruik van outomatiese aanvalsgewere deur die veiligheidswagte van Julius Malema het ‘n lewensgevaar geskep vir die publiek. Die hofsaak op sig self wek redelik emosies op wat tot gevolg het dat die publiek hoogs emosioneel is. ‘n Situasie kon vinnig ontstaan het waar konflik skielik kon uitbreek en waarna die wagte blindelings op die mense sou kon skiet. Mens sou verwag dat die polisie die wagte met hulle aanvalsgewere onmiddellik sou verwyder het om die veiligheid van die publiek te verseker,” het mnr. Groenewald gesê.
