Dubbele standaarde

“Dit is absolute dubbele standaarde van die ANC om te wil besluit watter geskiedenis hulle wil behou en watter geskiedenis hulle nie pas nie,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier gesê.

Dr. Mulder het gereageer op mnr. Mantashe se beswaar teen die konstitusionele hof se beslissing dat Robert McBride wel ‘n moordenaar genoem mag word, terwyl die ANC in die hof veg om die slagspreuk “Skiet die Boer” te behou.

“Die meerderheid Suid-Afrikaners wil vrede en harmonie in Suid-Afrika hê. Dit kan bereik word deur die geskiedenis nie weg te wens nie, maar verstandig te hanteer. Om in die hof “Skiet die Boer” te probeer regverdig in die huidige plaasmoorde-tyd en dit dan voor die hof te sing, getuig van ‘n onsensitiwiteit en ‘n arrogansie van die ANC wat nie harmonie en vrede bevorder nie. Terselfdertyd eis die ANC dat mnr. Robert McBride nie ‘n moordenaar genoem mag word nie. Dit is dubbele standaarde. Suid-Afrika kort tans ‘n Mandela-atmosfeer en nie ‘n Malema-atmosfeer in die land nie,” het dr. Mulder gesê.

Mnr. McBride was verantwoordelik vir die dood van persone met sy Magoo’s Bar-bom en is aan moord skuldig bevind. Amnestie het nie hierdie feite verander nie en mnr. Mantashe se uitsprake kan dit ook nie doen nie al het hy amnestie gekry.

Toekomstige goeie verhoudinge in Suid-Afrika sal bepaal word deur die verstandige wyse waarmee ons met die geskiedenis omgaan. Dubbele standaarde en eensydige propaganda-sienings van die geskiedenis mag goed wees vir stemme werf en om mense te mobiliseer, maar maak geen bydrae tot vreedsame naasbestaan in ‘n diverse land soos Suid-Afrika nie.

справкипрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae