Die uitgeweke oudpres. Jean-Bertrand Aristide (57) sal vroeg Vrydag in Port-au-Prince aankom nadat hy sowat sewe jaar in ballingskap in Suid-Afrika deurgebring het.
Sy terugkeer na Haïti kom op ‘n kritieke oomblik in dié land se politieke geskiedenis en kan moontlik ou wonde oopmaak.
Aristide is in 2004 in ‘n magsoorname uit Haïti gejaag en woon sedertdien as uitgewekene op staatskoste in Suid-Afrika.
“Dit gaan omtrent ‘n gebeurtenis wees. Hy sal met sy privaatvliegtuig daar aankom,” het Maryse Narcisse, Aristide se woordvoerder, gesê.
Lede van die Lavalas-party, wat lank reeds op die oudpresident se terugkeer wag, beplan ‘n optog om Aristide terug te verwelkom.
