Dis nie my gewoonte om vreeslik te reageer op menings in die koerante van Nasionale Pers, soos Beeld, nie. Andriette Stofberg, ‘n Beeld-redaksielid wat so pas aan kanker oorlede is, het eenkeer aan my gesê: “Ek kan nie eens ons joernaliste kry om ander koerante te lees nie, wat nog te sê boeke.”
Soos FW de Klerk, wie se hele outobiografie nie ‘n enkele aanhaling bevat nie – vir seker ‘n aanduiding dat hy nog nooit in sy lewe ‘n boek gelees het nie – vermoed ek die gemiddelde hoofartikelskrywer in Beeld lees ook nie graag boeke nie. Miskien lees hy of sy ander koerante, veral die Engelse liberale koerante in dié land wat nou ook al hoe meer in die duister rondtas noudat die verwagte utopie wat hulle ons al die jare belowe het maar net nie wil aanbreek nie. Maar ‘n agtergrond oor die swart politiek en swart denke ontbreek byna geheel en al.
Seker die absurdste kommentaar oor die hele Jimmy Manyi-sage verskyn in vandag se Beeld onder die opskrif: “Manyi hoort in die dae van ou apartheid”. Daarby verskyn dan ‘n spotprent waar Manyi kastig die “potloodtoets” op ‘n tou mense gaan doen om hulle op grond van hul ras te klassifiseer.
Eers het die Palestyne die Israeli’s daarvan beskuldig dat hulle “apartheid pleeg” en dat Israel ‘n sogenaamde “apartheidstaat” is. Nou doen Beeld, ‘n koerant wat in die sewentiger- en tagtigerjare nog bankvas agter die ou Nasionale Party en sy beleid van “afsonderlike ontwikkeling” gestaan het, dit sommer ook! Die ironie is natuurlik dat Beeld Manyi en by uitbreiding die ANC van “apartheid” beskuldig.
Die ANC het as’t ware sy hele politieke loopbaan op die stigmatisering en oordrywing van apartheid gebou. Dat Beeld, ‘n koerant met hoofsaaklik blanke Afrikaanse lesers en, helaas, ‘n blanke Afrikaanse redakteur, nou sulke kritiek teen Manyi uitspreek, is op sy minste lagwekkend. Ek is seker die hele Luthuli-huis lê vanoggend soos hulle lag.
Beeld demonstreer met hierdie soort kinderlike na-apery van een of ander agtergehaalde liberale begrip van “nie-rassigheid” ‘n verstommende graad van onkunde en naïwiteit. Onkunde, want oor die afgelope honderd jaar en regdeur die wêreld, het elke swart politikus van naam nog altyd die belange van sy eie rassegroep bevorder. Dis so deel van swart politiek soos om ‘n slagoffer te wees. Selfs Obama, wat sedert sy Chicago-dae die blanke Amerikaanse meerderheid probeer pamperlang, het erken dat hy dit as deel van sy presidensiële taak beskou “om die probleme van Afro-Amerikaners aan te spreek”. In dié opsig is Jimmy Manyi se antiwit- en proswarthouding geensins ‘n uitsondering nie. Vandaar ook die feit dat Trevor Manuel, die liefling van die Suid-Afrikaanse media uit sy dae as minister van finansies, reeds die politieke onderspit teenoor Manyi gedelf het.
Die naïwiteit van Beeld is daarin geleë dat die koerant meen dat hy hom nou as “meer swart as die swartes” kan voordoen en begin om morele lessies oor rassisme en “apartheid” uit te deel. Beeld, wat sedert sy dae as sikofant van afsonderlike ontwikkeling tot die liberale ontkenning van ras bekeer is, verreken eenvoudig nie die feit dat wit skuld en masochisme juis ‘n wêreldwye verskynsel is nie. Beeld het wit skuld op hom geneem of is per definisie deelagtig daaraan, daarom mag hy nie ‘n swartman soos Manyi van apartheid of rassisme beskuldig nie.
Tans lees ek ‘n briljante boek deur die Franse “nuwe filosoof”, Pascal Bruckner. Die titel, vry uit Frans vertaal, lui: Die tirannie van skuld: opstel oor Westerse masochisme. Iewers in die boek (bl. 35 vir diegene wat Frans lees) laat Bruckner hom soos volg oor blankes uit: “Om Europees gebore te wees, is om ‘n hele las van sondes en die aaklighede op jouself te neem waarmee ons gebrandmerk is, dis om te erken dat die blanke oral waar hy sy voet neergesit het verdriet en vernietiging gesaai het. Om as blanke te bestaan, is in die eerste plaas om om verskoning te vra.”
Met tipies Franse ironie verwoord Bruckner hier die wese van die hele probleem. Want deur Manyi van “apartheid” te beskuldig, is Beeld ook eintlik besig om sy blanke skuld te bely, dat die redaksie van die koerant die swart of links-liberale stereotipe van “apartheid as benadeling van die swartman” soos ‘n godsdiens aangeneem het. Beeld, wat in die verlede apartheid in sy latere federale en hervormende inkarnasie ondersteun het, is nou “wedergebore” en kan daarom met die ywer van die pasbekeerde vir Manyi van apartheid beskuldig. Totdat Beeld van sy skuldkompleks ontslae raak, gaan enige argument wat die koerant aanbied, eenvoudig soos water van ‘n eend se rug afloop.
Die uitdaging van die potloodtoets gaan ook nie ver kom nie. Daar bestaan vandag baie beter maniere om mense se genetiese of rasse-afkoms te bepaal, onder meer deur DNS-toetse. ‘n Jaar of twee gelede het ‘n Nederlandse TV-span wat met ‘n program oor Darwin besig was ‘n onderhoud met my gevoer en ook vooraf ‘n monster van my DNS geneem. Voor die kameras moes ek die koevert met my mitochondriale DNS en Y-chromosoom-inligting oopmaak. Waarskynlik het die Nederlandse TV-span en die liberale Amerikaanse genetikus wat die betekenis daarvan aan my verduidelik het, gehoop dat ek iewers “gekleurde bloed” sou hê. Helaas stam ek uit Noord- en Sentraal-Europa af en is ek dus vir alle praktiese doeleindes tot in aller ewigheid deel van die “skuldige blankes”. My kinders gaan nooit vir regstellende aksie kwalifiseer nie en slagofferskap is my nie beskore nie.
Niks verhoed die ANC om, indien daar twyfel oor mense se ras of afkoms bestaan, te begin om DNS-toetse op die Suid-Afrikaanse bevolking uit te voer nie. Tot dusver het dit glad nie nodig geblyk nie, want elkeen in Suid-Afrika is erg bewus van sy eie ras en klassifiseer homself met besondere akkuraatheid as swart, wit, bruin of Indiër. Selfs die aartsliberale mev. Helen Zille, ‘n voormalige lid van die Black Sash en die Progressiewe Party, sal geredelik erken dat sy ‘n blanke is.
Daar is nêrens ter wêreld ‘n voorbeeld van ‘n swart bevolking wat nie op voorkeurbehandeling aandring as dit kom by mededinging met blankes vir poste, befondsing of opvoedkundige geleenthede nie. As Beeld se hoofartikelskrywer die moeite gedoen het om oor rasseverhoudinge in ander lande op te lees, sou hy of sy onmiddellik van hierdie eenvoudige waarheid bewus geraak het.
Solank as wat ons blankes onsself as skuldig aan politieke erfsonde beskou, is dit ook sinloos om op gelyke behandeling aan te dring. Dis bloot logies dat mense wat oor ‘n morele “smet” of “gebrek” beskik, nie op gelyke behandeling mág aandring nie. Die kleurlinge is natuurlik ‘n spesiale geval, synde nóg swart, nóg wit. Maar die blote feit dat die kleurlinge in die Wes-Kaap die DA aan bewind hou, is seker genoeg om hulle as behorende tot “die wit kamp” te beskou, wat Manyi ook dan gedoen het. Ons het aanvaar dat demografie in hierdie land feitlik alle politieke uitkomste bepaal en daarom was Manyi nie so ver verkeerd toe hy die kleurlinge van die Wes-Kaap met swart demografie begin dreig het nie. Totdat ons demokrasie of politieke mag as iets begin sien wat nie noodwendig deur demografie bepaal moet word nie, gaan ons teen swart nasionaliste nie veel hond haaraf maak nie.
Ons sal die wortel van die probleem moet aanspreek en nie langer drogredenasies oor “nie-rassigheid” soos ‘n kinderlike resitasie opsê nie.
