KIVA se verklaring is belangrik omdat dit die regeringagentskap is wat verslae aan die Buro vir Natuurlike Hulpbronne en Energie in die ministerie van Ekonomie, Handel en Nywerheid skryf. KIVA werk saam met die Atoomenergiekommissie. Sy rol is dié van toesighouer in die bedryf en die agentskap is verantwoordelik vir die afteken van onder meer konstruksieplanne vir nuwe aanlegte. KIVA is reeds gekritiseer vir die goedkeuring van die kernaanlegte op geologiese breuklyne en vir ‘n beweerde konflik van belange in die regulering van die kernsektor. Dit was KIVA wat die opening van die klep gelas het om druk vry te laat – en dus na bewering kernuitstraling – vanuit die Fukushimakragstasie.
KIVA was ook in beheer van die regering se kommunikasie oor die kernreaktorprobleme na afloop van die Tohoku-aardbewing en tsoenami. Dit is moeilik om te bepaal of die KIVA-verklaring akkuraat is, as die Nikkeiverslag nie bevestig word nie. Dit is ook nie duidelik uit die konteks of KIVA die gevolgtrekkings van ‘n amptelike assessering weergee nie, of bloot ‘n verklaring gemaak het nie. Maar die Tokyo Electric Power Co (TEPCO), die operateur van die Fukushima-kernaanleg, het ook gesê dat alhoewel druk verlig word, kernbrandstof wel gesmelt het en dat verdere optrede nodig is om die druk te beheer.
As hierdie verslag akkuraat is, is dit nie die eerste keer dat verklarings van KIVA en Edano verskil nie. Terwyl Edano vroeër beweer het dat die bestralingsvlakke gedaal het op die terrein na drukontladingspogings, sê KIVA die druk het toegeneem as gevolg van die vrystelling van radioaktiewe dampe.
