Die Afrika-Unie het militêre ingryping in Libië verwerp om die geweld tussen rebelle en magte lojaal aan Moeammar Gaddafi te beëindig.
Die aankondiging volg na die ministers van verdediging van NAVO se vergadering in Brussel ‘n besluit uitgestel het, oor ‘n vliegverbod in Libië se lugruim. Die AU wou nie kommentaar lewer op Frankryk se besluit om die Libiese afvaardiging van die Nasionale Raad te herken nie.
Dié raad verteenwoordig die rebelle wat teen Gaddafi se magte veg. Libië is ‘n lid van die Afrika-Unie se Vrede en Sekuriteitsraad en word verteenwoordig deur sy minister van buitelandse sake, Moussa Koussa.
Die leier in die Ivoorkus, Laurent Gbagbo is egter gewaarsku dat daar ernstige gevolge sal wees indien hy dié liggaam se opdrag verontagsaam om die mag te laat vaar.
Die AU het Gbagbo aangesê om sy amp dadelik te verlaat. Dit volg ná sy verwerping van voorstelle deur ‘n AU-paneel, wat president Jacob Zuma insluit. Die Ivoorkus is in chaos gedompel sedert ‘n betwiste presidentsverkiesing op 28 November. Die internasionale gemeenskap herken Alassane Ouattara as die wenner van die verkiesing.
