Wat van Alexkor?

“Die staat se diamant-mynmaatskappy is effektief bankrot. Indien mens ooit ‘n bewys wou hê wat met ons land se myne sou gebeur indien dit genasionaliseer word, hoef mens net na die Alexkor-fiasko te kyk,” het adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor Mineralebronne gesê.

Volgens die Ouditeur-Generaal se Oudit Uitkomste Verslag vir 2009/2010 het die maatskappy nie genoeg kontantreserwes om aan sy operasionele kontantvloei-vereistes te voldoen nie. Die Ouditeur-Generaal het ook ernstige bedenkinge oor die staatsmaatskappy se vermoë om as ‘n besigheid in die langtermyn voort te bestaan, indien daar nie ‘n vennootskap met die plaaslike gemeenskap aangegaan word en met volhoubare mynaktiwiteite begin word nie.

“Hierdie bevinding moet gelees word teen die agtergrond van sekere elemente in die ANC, veral onder die ‘reuse intellektuele leierskap’ van Julius Malema, wat aan die mense van Suid-Afrika voorskryf dat die nasionalisering van myne in belang van almal sal wees. Malema het verlede naweek weer gesê dat tot 60% van myne genasionaliseer moet word, met spesifieke verwysing na Anglo-American,” het adv. Alberts bygevoeg.

“In teenstelling met hierdie pad na die sosialistiese utopia, is die werklikheid dat die staat nie eens sy oudste mynmaatskappy winsgewend kan bedryf nie. Die vooruitsigte vir die staat se tweede mynmaatskappy, Africa Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), om ‘n winsgewende toekoms tegemoet te gaan lyk baie donker gegewe Alexkor se kreeftegang. Die staat kan nie eens hulle kerntaak om openbare dienste te lewer naastenby nakom nie, soveel te meer sal die staat misluk met die bedryf van ‘n besigheid op die periferie van die staat se fokus,” meen adv. Alberts.

Die VF Plus glo dat beide nasionalisering en die bedryf van besighede deur die staat verkeerd is. Die staat moet slegs die omgewing skep om besighede te laat gedy. Daarom moet die klem wegskuif van ‘n groot staatsmasjinerie wat oral inmeng, hetsy in die privaatsektor of die privaat lewe, na die ontwikkeling van entrepreneurs en die daarstelling van ‘n omgewing waarin hulle kan innoveer en handel dryf op ‘n gelyke speelveld. Dit is die voorwaarde vir die ontstaan van ‘n volhoubare omgewing waarin permanente werk geskep word.

Die VF Plus het vrae in die Parlement aan die minister van Mineralebronne gestel waarin gevra word hoe die staat se mynmaatskappye befonds word. Indien belastingbetalers se geld gebruik word, sal dit ‘n skande wees en sal die party verdere stappe oorweeg om die vermorsing te staak.

отбеливание зубов москваданильченко юрій броніславович

Maak 'n opvolg-bydrae