Pas boere mooi op

“Suid-Afrikaanse kommersiële boere behoort deur die regering vertroetel te word en nie onder druk geplaas te word sodat hulle voel hulle word weggejaag nie,” het dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en VF Plus-leier gesê. Dr. Mulder het die naweek die Outeniekwa-landbouskou op George geopen.

Dr. Mulder het spesifiek gereageer op die Georgiese regering se aanbiedinge om Suid-Afrikaanse kommersiële boere na daardie land te lok. Georgië is die nuutste land wat waardering het vir die Suid-Afrikaanse kommersiële boere se kundigheid en hulle probeer kry om daar te kom boer. Op hierdie tydstip het reeds 22 Afrika-lande soortgelyke uitnodigings gerig om Suid-Afrikaanse boere na hulle lande te lok. Dit gebeur terwyl die ANC met allerlei nuwe wette en maatreëls meer druk op die Suid-Afrikaanse kommersiële boere plaas. Dr. Mulder het spesifiek na die Groenskrif op grond, die nuwe arbeidswette en die nuwe wet op verblyfsekerheid verwys wat ingrypende gevolge vir die landbousektor kan hê.

Lande soos Kenia, Tanzanië en Zimbabwe het as gevolg van kortsigtige politieke besluite hulle kommersiële landbousektor vernietig. As ‘n land eenkeer daardie kundigheid verloor het, is dit baie moeilik om dit weer terug te kry.

Dr. Mulder beskou dit as sy taak om as tolk tussen hierdie kommersiële boere en die regering op te tree.

As hierdie kommersiële boere sekerheid oor hulle grond en toekoms kan kry, sal die regering verbaas wees oor die positiewe rol wat hulle kan speel om opkomende swart boere op te lei en voedselsekerheid in die toekoms vir Suid-Afrika te waarborg.

Die landbousektor het die potensiaal om meer werkgeleenthede te skep as die mynbousektor. As die huidige onsekerhede in die landbousektor nie opgelos word nie, gaan daar meer werkverliese in landbou wees in plaas van die skep van nuwe werkgeleenthede.

люстры хрустальныелобановский александр досье

Maak 'n opvolg-bydrae