Sowat 22 lede van die die munisipale vakbond Samwu is Maandag in Kempton Park in hegtenis geneem vir openbare geweld, intimidasie en aanranding.
Volgens Zweli Dlamini, woordvoerder vir die Ekurhuleni-munisipaliteit, was die verdagtes glo deel van ‘n groep van sowat 100 stakers wat amok in die stad gemaak het.
“Geen voorvalle van boewery of vandalisme sal geduld word nie,” het Dlamini in ‘n verklaring bekend gemaak.
“Die munisipaliteit kan nie net terugstaan en kyk hoe werkers onregmatig optree en ander intimideer wat nie by die stakings betrokke wil wees nie.”
Na bewering is daar verskeie voorvalle aangemeld waar nie-stakende werkers geïntimideer is en vragmotors aan die brand gesteek is.
Dlamini het beklemtoon dat die munisipaliteit bereid is om onderhandelings met Samwu aan te gaan om die stakings te keer.
