President Jacob is in Mauritanië waar hy hom sal aansluit by die ander lede van die paneel van die Afrika Unie wat die geskil na die verkiesing in die Ivoorkus moet probeer oplos.
Zuma moes vroeër sy toespraak by die Franse Instituut vir Internasionale Betrekkinge in Parys kortknip na kommer oor veiligheid.
Dit het na bewering verband gehou met betogings deur Tunisiërs wat in die stad woon. Die paneel van die AU het ‘n maand tyd om die politieke krisis in die Ivoorkus op te los, maar dit lyk of daar min vordering is aangesien die huidige president, Laurent Gbagbo, steeds weier om die mag oor te dra aan Alessane Ouatarra wat wyd erken word as die wenner van die November-verkiesing.
Vliegtuie van die Libiese lugmag het intussen nuwe aanvalle op die oostelike dorp Brega geloods. Die dorp is ‘n groot olieprodusent en tans onder beheer van teenstanders van die Libiese leier, Moeammar Ghaddafi. ‘n Opposisiewoordvoerder sê die lughawe by Brega en opposisiemagte is onder bomme gesteek.
Tweehonderdduisend vlugtelinge het nou reeds uit die land gevlug weens die onrus. ‘n Grootskaalse internasionale operasie waarby vliegtuie van Brittanje, Frankryk en Tunisië betrokke is, help om mense uit die land te verwyder.
