Praag, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het Donderdag toestemming gevra om as vriend van die hof, amicus curiae, toegelaat te word in die saak tussen Julius Malema en Afriforum. Die ANC het ‘n aansoek om verlof ingedien om as party toe te tree tot die haatspraaksaak teen Julius Malema.
Dr. Dan Roodt van Praag het gesê die versoek om toe te tree is gemaak sodat Praag belangrike inligting omtrent die saak kan indien. Die versoek is aan Regter Colin Lamont gerig.
Dr. Roodt het aan die media gesê die lied kom neer op aanhitsing tot volksmoord en dat Afrikaners se regte deur die internasionale reg beskerm moet word.
Adv. Vuyani Ngalwana, die ANC se regsverteenwoordiger, het Donderdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg aangevoer dit sal net so absurd wees om die lied “De La Rey” te verbied, as om “Skiet die Boer” te verbied.
AfriForum voer aan die lied is haatspraak waar dit by openbare byeenkomste soos in Polokwane en by die Universiteit van Johannesburg, deur Malema gesing word.
Ngalwana voer aan dat die ANC se reg tot vryheid van spraak benadeel word.
Die Transvaalse Landbou-unie Suid-Afrika (TLU SA) en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het ook Donderdag die hof toestemming gevra om as partye toe te tree.
Adv. Martin Brassey SC, AfriForum se regsverteenwoordiger, is gekant teen die toetrede van partye tot die saak omdat hul deelname die hofsaak sal vertraag.
Adv. Muzi Sikhakhane, Malema se regsverteenwoordiger, het die ANC se aansoek verwelkom, maar dié van die ander partye teengestaan.
Lamont sal Vrydag beslis of ander partye tot die saak toegelaat sal word.
