President Jacob Zuma is Dinsdag in die Ivoorkus deur ontstoke jeugdiges, ondersteuners van presidentskandidaat Alassane Ouattara, oorval.
Meer as twee dosyn pro-Ouattara jeugdiges het op Jacob Zuma se motor toegesak en Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte moes ingryp om die president te beskerm. “Zuma, Zuma, vertel die waarheid,” het die jeugdiges geskree.
Zuma word gesien as ‘n ondersteuner van die ongewilde president Laurent Gbagbo wat die verkiesing teen Ouattara verloor het en nogtans weier om uit te tree as leier van dié Wes-Afrika-land.
Zuma is deel van ‘n raadgewende paneel wat lande soos Tsjad, Mauritanië en Tanzanië insluit. Ouattara word in dieselfde hotel waar die paneel vergader, deur Verenigde Nasies-troepe opgepas ‘n dag ná die vergadering met sy teenstander Gbagbo.
Gbagbo weier om af te stap ten spyte van VN-gesertifiseerde uitslae wat toon dat hy op 28 November die verkiesing prysgegee het. Intussen steur Gbagbo homself nie aan Westerse sanksies en internasionale isolasie wat die ekonomie vernietig nie. Hy het reeds die weermag aangewend om opstande te onderdruk.
Die Afrika-Unie erken amptelik Ouattara se oorwinning, maar is verdeel tussen die lande teen Gbagbo, veral in Wes-Afrika, en lande soos Suid-Afrika, wat Gbagbo ondersteun.
Sowat 300 mense is dood sedert die verkiesing en die onrus het kakaopryse tot die hoogste vlak in meer as drie dekades gedryf. Die Ivoorkus is die wêreld se grootste kakaoprodusent.
Burkina Faso se president Blaise Compaore, wat ook op die paneel dien saam met Zuma, het weggebly as gevolg van dreigemente teen hom.
Die kommersiële hoofstad Abidjan was meestal kalm Dinsdag, nadat inwoners groot ontploffings oornag gerapporteer het.
Geweervuur is later in die pro-Ouattara-voorstad van Abobo gehoor. Minstens ses mense wat probeer het om te protesteer teen Gbagbo is Maandag vermoor deur die veiligheidsmagte, het getuies gesê.
