Vreedsame optogte in Marokko, maar geweld breek uit elders in die Midde-Ooste en Chinese polisie onderdruk onrus. Só lui hoofopskrifte die wêreld oor.
Duisende het die naweek die strate van Rabat, Casablanca, Tangier en Marrakech ingevaar in vreedsame protes om aan te dring op ‘n nuwe grondwet, ‘n verandering in die regering en ‘n einde aan korrupsie te vra.
Sondag se protes was ‘n toets vir koning Mohammed VI se bewind, wat spog dat hulle meer liberaal en verdraagsaam is as ander lande in die streek wat geweld en rewolusie moes trotseer.
Ten spyte van ‘n swaar geheime polisie teenwoordigheid, het polisiepersoneel op die agtergrond gebly in die hoofstad, Rabat.
Duisende betogers in Iran is egter met traangas en knuppels verwilder.
Onluspolisie en basiji-militia het duisende betogers wat die dood van twee pro-demokratiese betogers aan die hand van die veiligheidsmagte tydens die anti-regeringsbetogings verlede week wou herdenk, bestorm.
Iran se IRNA staatsnuusagentskap berig dat Faezeh Rafsanjani, die dogter van die oormalige president Hashemi Rafsanjani, in hegtenis geneem is in Teheran, maar semi-amptelike nuusagentskap FARS het later berig dat sy vrygelaat is.
Opposisie webwerwe beweer die protes het ander groot stede ook geraak, insluitende Shiraz, Isfahan, Tabriz, Mashhad en Sanandaj met tonele soortgelyk aan dié in die hoofstad, Teheran.
Polisie met knuppels, maar geen vuurwapens nie, het hul pad deur die skare in sentraal-Algiers oopgebeur om ‘n opmars te probeer keer. Die byeenkoms, gereël deur die Koördinering vir Demokratiese Verandering in Algerië, kom ‘n week na ‘n soortgelyke protes waarin 26000 onluspolisielede op die strate van Algiers ontplooi is. Algerië is ook getref deur talle stakings oor die afgelope maand.
Onrus heers tans vir die negende agtereenvolgende dag in Jemen.
Die leier van Jemen se Suider-Beweging wat wil afstig, Hasan Baoum, is in hegtenis geneem tydens ‘n betoging in die hoofstad Sanaa.
In China is oproepe vir ‘n “jasmyn rewolusie” gou-gou stilgemaak.
Chinese sekuriteitsdienaars het talle aktiviste die naweek toegesluit en het gewaarsku teen aanlynprotes nadat ‘n aanlynoproep gemaak is vir optogte in 13 stede.
Die boodskap, wat Saterdag op ‘n oorsese webwerf verskyn het, was getiteld: “Die jasmynrewolusie in China”. Die vinnige optrede van veiligheidsamptenare onderstreep die angs van owerhede in die nasleep van die Egipte-opstand en protes regoor die Midde-Ooste.
Meer as 100 aktiviste regoor die land is deur die polisie weggeneem, of is verhoed om hul huise te verlaat.
“[Die boodskap] dit verbind aan die jasmyn rewolusie en ek dink dit het die regering senuweeagtig,” het ‘n aktivis gesê.
