Dit sluit nie 11 privaat vlugte in asook Mbeki se besoeke tot dusvêr vanjaar in nie.
Direkteur-generaal Cassius Lubisi het in ‘n interne presidensiële memorandum gekla oor Mbeki se reiskoste en voorgestel dat die Afrika-unie sy reise moet betaal.
“Ek sal duidelikheid kry oor die verantwoordelikheid van die AU in die befondsing van sendings wat op Suid-Afrikaanse leiers van toepassing is,” het Lubisi volgens Sunday Times in die memorandum geskryf.
“Die huidige reëling is nie volhoubaar nie en sal ‘n paar veranderinge moet ondergaan.” Daar was kommer oor die stygende koste van Mbeki se reise, wat nou hoër as dié van pres. Jacob Zuma is.
Ndivuhuwo Mabaya, ‘n woordvoerder van die departement van verdediging, het gesê Mbeki gebruik gereeld privaat vlugte vir sy besoeke aan Soedan omdat hy 15 mense het wat saam met hom reis, wat soms nie met die weermag se vliegtuie moontlik is nie.
As ‘n voormalige staatshoof vlieg Mbeki op lugmagvliegtuie, en ander vervoer- en akkommodasiekoste word deur die presidensiële begroting befonds.
Mbeki se kantoor moes toestemming van die presidensie ontvang voor hy die reise onderneem het.
