Musa Xulu sê dit is tyd dat die ANC vir die ekonomiese slagaar van Suid-Afrika mik.
Die onderwerp van nasionalisering (van die belangrikste industrieë) is oor die naweek deur die ANC se hoof van media em kommunikasie vir Johannesburg vir die soveelste maal getakel in ‘n opiniestuk op Politicsweb.
Sy voorspelling is dat nasionalisering inderdaad sal gebeur en ook in ons leeftyd. Teen 2012 sal die beleid gestel word as ‘n amptelike beleidsposisie van die ANC.
Die sentiment op die grond (maw takke) sê hy, is nie ten gunste van die elite nie en dit is so dat Afrikane ‘n drang vir ekonomiese bevryding voel. Hulle voel 17 jaar in die nuwe bedeling in is 90% van die ekonomie nog steeds in die hande van ‘n paar.
Soos Mandela in 1956 en weer in ‘n verklaring wat hy herhaal het met sy vrylating in 1990 gesê het, wil die mense in hul leeftyd ekonomiese vryheid sien:
“Die nasionalisering van die myne, banke en die monopolie nywerhede is die beleid van die ANC, en ‘n verandering of wysiging van ons opvattings in dié verband is ondenkbaar Swart ekonomiese bemagtiging is ‘n doelwit wat ons ten volle ondersteun en aanmoedig, maar in ons situasie is die staat se beheer van sekere sektore van die ekonomie onvermydelik. “
Mandela herhaal soortgelyke sentimente in sy outobiografie, The Struggle of my Life, wat in 1990 vrygestel is. In hierdie boek skryf Mandela:
“Die Afrika-nasionalisme waarvoor die ANC staan is die konsep van vryheid en vervulling vir Afrikane in hulle eie land. […] In hierdie opsig is die ANC se beleid in ooreenstemming met die ou beleid van die huidige Nasionale Party, wat vir baie jare as deel van sy program die nasionalisering van die goudmyne voorgestaan het”
