Die metropolisie het openlik kant gekies in hierdie etniese konfrontasie waar een groep poog om die geskiedenis en kultuur van 'n ander uit te wis. Dit was die laaste spyker in die doodskis van Suid-Afrikaanse demokrasie. Want demokrasie in die normale sin kan net bestaan waar die staat en veral die polisie onpartydig optree om orde tussen mededingende etniese of belangegroepe te handhaaf. Waar die polisie in kultureel bevooroordeelde gedrag begin verval, verloor hulle alle legimiteit en begin as 'n soort proregeringsmilisie optree soos mens in soveel Afrikalande aantref.
Eintlik is die onlangse wending skokkend. Mens het nog altyd gedink dat Pretoria met sy groot Afrikanerbevolking 'n potensiële territoriale strydperk tussen Afrikaners en die Xhosa- en Zoeloe-oorheersde ANC sou word. Gedurende die Kemptonparkse onderhandelinge in die vroeë negentigerjare het die ANC sy bes gedoen om Pretoria as opposisiegebied lam te lê. In die aanloop tot die munisipale verkiesings in 2000, het die ANC se dr. Michael Sutcliffe die grense so getrek dat die groot aantal Afrikanerkiesers in die gebied geneutraliseer is en verhoed word om enige invloed uit te oefen.
Hoewel ons by Praag reeds 'n aantal jare gelede Pretoria as 'n moontlike konflikgebied uitgesonder het, kon ons nie die huidige situasie voorsien wat so vinnig besig is om in 'n klassieke etniese konflik van die Afrika-tipe te verval nie – baie soortgelyk aan die DRK, Oeganda of die Ivoorkus waar een groep 'n ander probeer uitstoot en alle spore van sy vorige bestaan uitwis.
Eintlik is dit 'n wonderwerk, gegewe die vyandigheid op voetsoolvlak, dat veel meer geweld nie reeds uitgebreek het nie. As mens die internasionale modelle van etniese wrywing toepas, het Pretoria reeds van geel na rooi oorgeslaan.
Dat verdere konflik in Pretoria op pad is, is seker. Sosiale onrus, onluste of erger is binne die volgende ses maande onafwendbaar. Afrikaners sal móét saamstaan om dit te hanteer.