Blaas vir Bafana


Daar is moederharte stukkend. Elders wonder nog ‘n moeder, waar haar seun is. Die gebeurtenis is in een berig verby en vergete. Miskien is daar nog ‘n week lank deur die civvies daaroor gepraat, vandag is dit vergete. Wie sou weer hieraan aandag gee?
Hierdie ontsettende gebeurtenis sou egter ‘n ongelooflike impak hê op die psige van ‘n groep mense. Dit sou diep wonde inbrand in die siele van manne wat eintlik maar nog seuns was. Hierdie wonde het littekens geraak wat gedra is. Van hierdie wonde sou nooit genees nie. Savati … wat ‘n afskuwelike plek.
Woensdag 21 Mei 1980.
Vier Kompanies, Alpha, Charlie, Foxtrot en Echo, van 32 Batteljon het met voertuie 60 kilometer oor die kaplyn in Angola ingery. Echo is in diepte as reserwemag ontplooi. Opdrag: Wis die vyand uit, buit so veel as moontlik uitrusting en wapens en keer so vinnig moontlik terug oor die grenslyn. ‘n Unita gids het die pad probeer aandui tot by ‘n punt wat veronderstel was om 20km wes van die dorpie Savati te wees. Van hier af is daar te voet geloop ooswaarts. Die nag is snerpend koud en stikdonker. Die bos is ruig met plate agressiewe haak en steek.
Daar word op kompaspeiling gestrompel om met eerste lig ‘n aanval op die Fapla basis te loods. Reeds gedurende die nag is die verrassing prysgegee toe daar in vyandelike magte vasgeloop is en daar ‘n kort skietgeveg uitgebreek het. Die mochilas was swaar gelaai met 1ste lyn ammunisie, water, geen rantsoene, radios en wapens asook mortierbomme en pype vir die 81mm’s.
Alles vir die geveg is te voet saamgedra. Al wat Suid-Afrikaans is, is die 81 mm mortiere. Die rugsakke weeg meer as 40kg. Die geveg wat bedoel was vir eerste lig, sou eers 09:00 begin met ‘n baie moeë gehawende en half verkluimde groep. “Os Terriveis” The terrible ones – soos die Buffalo soldate bekend gestaan het – was op die doelwit en die skote het begin klap.
Charl Muller, Heinz Muller, Evert Engelbrecht, Tim Patrick, André Erasmus en Andy Falcus word doodgeskiet. Die res van die gesneuweldes is swart 32 troepe van Angolese Portugese oorsprong. Hulle name word nie bekend gemaak nie. Die totaal van die eenheid wat die dag sneuwel is 15 man. Wat veronderstel was om ‘n verrassingsaanval te wees, het geëindig as ‘n frontaanval waar die vyand gereed gelê en wag het. Die vyand was nie Swapo soos die koerante berig het nie, maar Fapla – die Angolese weermag – ‘n konvensionele mag goed gefortifiseer in loopgrawe met kommunikasieverbindingslyne.
Die mag is totaal onderskat en die weerstand genadeloos. ‘n Wrede bloedbad volg aan beide kante. Die leiergroep is verwese en troepe wil omdraai – veral toe André Erasmus tussen hulle val toe almal dink die geveg is verby. Die vyand vlug noordwaarts en oos deur die rivier. Die wat noord vlug loop hulle vas in die 32 recce spanne se stoppergroepe. ‘n Paar man sit die vyand agterna op voertuie wat hulle intussen bereik het. Tussen Savati en die rivier lê ‘n oop shona wat fataal is vir die voortvlugtendes voor die masjiengeweervuur vanaf die voertuie.
Hulle word letterlik afgemaai. Dié wat die rivier bereik word genadeloos deur die krokodille verskeur. ‘n Bloedrivier (Rio de sangue). Wat ‘n grusame gesig. Wie het gewen?
Louis Bothma skryf : “Falcon het later die aand op Rundu aangekom. “Hy was so wit soos ‘n laken. Hy het my en klein Alwyn vasgegryp. Ek het my man nog nooit so gesien huil nie,” onthou Hermien Ferreira.”
Vyf jaar later ry ons tydens ‘n ontplooiing verby ‘n spookdorpie. Ek is deel van Alpha-kompanie. Die troepe raak stil, party hou hulle boshoede gewyd teen hulle bors vas. Ek wil nader ry, die troepe kom omtrent iets oor. Landmyne – verduidelik hulle aan my. Savati ! Noord van die dorpie staan die wrakke van ‘n konvooi in ‘n gelid op die opgeboude teerpad. Al monument of medalje wat Trompie en sy makkers sou kry.
Twee jaar later staan daar ‘n jongman langs my bed met ‘n pak klere aan – ek dag dis die kapelaan. Hy stel homself voor as Trompie. Hy kom kuier so nou en dan vir die ouens in 1 Mil – verduidelik hy. Ek sou toe nooit ‘n kapelaan sien nie, maar ek sou dikwels vir Trompie sien. Hy praat nie baie nie en wil net weet of ek iets nodig het. As ek die dag hier uitkom kan ek daar by hom kom bly.
Gelfri 201 was die herberg van al ons makkers op verlof uit die bos en op herstel verlof uit 1 Mil. Hy was soos ‘n moeder, getrou Woensdae by Waterklooflughawe, angstig om te sien wie klim uit die Flossie om hulle woonstel toe te bring. So was Gelfri ook die rehabilitasie sentrum, waar wonde herstel het en nooit herstel het nie. Hier het ons ook laaste heildronke gedrink op makkers wat geval het terwyl ons oor en oor Mike Bat se “Ride to Agadir” speel. Trompie het vir ons destyds baie beteken toe ‘n stelsel en ‘n generasie ons gefaal het.
Vir manne wat trauma en verliese moes verwerk, was Trompie daar in die afwesigheid van kerk en staat, terwyl hy self die letsel van Savati en die oorlog saam in hom gedra het. Wie sal verstaan as jy nie daar was nie. Trompie was die pel bev van Charlie nove, wat deel was van die hoofaanvalsmag. Wie sal weet as jy nie saam was toe hulle makkers geval het nie? Wat sou deur die gedagtes van hierdie erg getraumatiseerdes die volgende dag gaan toe hulle terug gestuur is om die gevalle makkers te gaan soek? Wat gaan deur die gemoed van ‘n jong seun wat einlik nog in adolesensie is? Hoe dra jy die verkoolde liggaam van jou makker, hoe sluit jy af van vrees? Hoe verwerk jy die verwyte – ek kon hom gehelp het, ons het hom daar gelos om te sterf? Hoe skeur jy jou los en vlug jy weg van Savati in jou?
Dave Hodgson skryf in sy memoirs: “The only debriefing that we had as far as Alpha Company was concerned, was nil.” Louis Bothma skryf : “En toe, ná die dooies begrawe, die wonde gelek en die nabetragting deur die hoë offisiere verby was, wat toe? Toe niks. “
Trompie het reeds 3 weke gelede afskeid geneem van sy vriende by die gedenkdiens vir Savati. Vandag neem ons afskeid van hom – ‘n legende, een van ‘n handjievol blanke leiergroep wat geskiedenis geskryf het. Die geskiedenis van Savati.
Hoe sou die storie hier kon eindig? Is daar dan geen hoop, was alles verniet? Is hierdie lewe ‘n jammerdal vol verdriet? Moet ons alles vergeestelik om ons op te beur, of kan ons ook nou en hier weet God regeer?
Gen 17:7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
Gen 17:8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
Het God ons vergeet? Was alles verniet? ‘n Volk verwese en lam wat in ballingskap deur heidene regeer word. Vir ‘n volk wat ongehoorsaam geraak het aan God se Woord geld hierdie verbond egter nie meer nie, want dan is ons nie kinders van Abraham nie. Wie egter terugkeer na God het hierdie verbond en belofte – ‘n nageslag en eie grondgebied. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here. Die belofte is vervul.
Begin elkeen by sy eie gesin. Vertel dit alles aan julle kinders en hulle kinders en leer hulle van Bloedrivier en Savati se bloedrivier – Rio de sangue. Vertel hulle van die verraaiers in lugversorgde kantore wat weggehardloop en oorgegee het aan die onbenullige terroriste bendetjie van Madiba Mandela, sonder dat daar ‘n skoot geskiet is. Hulle wat lafhartig was in die aangesig van die vyand, wat ons in die rug gesteek het. Vertel hulle van “The terrible ones – Os Terríveis “, Trinta Dois wat in die genadelose PKM, mortiere en AK vuur ingestorm het, wat geskree het avanca toe hulle makkers om hulle geval het. Vertel hulle van Os Terríveis wat 30 sikkels silwer aan die leier van die verraaiers oorhandig het.
Leer hulle weer van vryheid. Leer hulle die Psalms van Dawid wat sing van die Messias wat die dood oorwin het en in wie se bloed ons meer as oorwinnaars is.
Joh 6:58 Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het …. ; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe.

As jong afgestudeerde is haar eerste musiekpos egter op Nieuwoudtville, waar sy kort voor lank met die bankbestuurder, oupa Harry, afhaak. Oupa Harry het nie maklik aan sy geleerdheid – bankpapiere – gekom nie, en moes hom opwerk. Kort-kort is hy onder sy meisie uit verplaas. Pa-Jan sê hy het ‘n raam gehad vir die meisie se portret. Trek hy, gaan die raam saam, en op die nuwe dorp kry hy ‘n nuwe meisie wie se portret in die raam in kom.
So was hy nie meer heeltemal vandag se kind nie toe hy met ‘n bloedjong ouma Lita afhaak. Vier kinders was gou op die toneel, maar die jongste is ongelukkig kleintyd oorlede.
Nou soos ek aan Pa-Jan verstaan het, self lankal saliger, was daar wat die see betref drie soorte Namakwalanders. Die soort wat vakansies see toe trek na plekke soos Hondeklipbaai aan die Weskus toe, ander wat nie juis erg aan die groot dam gehad het nie, en die wat na die warmer water by Mosselbaai uitgewyk het.
Maar die wegblyers was mense van hul eie. Soos oom Maans Louw wie se bure so aangedring het hy moet een kersvakansie ook saamkom see toe. Een jaar kry hulle hom omgeloop, en toe die ander nog so besig is om kamp aan die Weskus op te slaan, toe is oom Maans en sy vrou-goed, ta Mieta, en die kroos ook daar.
Ywerig help die gesoute kampenaars vir oom Maans-goed tent opslaan en die kampplek regkry.
Maar so deur die loop van die dag siet oom Maans maar hier kom mos nou moeilikheid. Die see is besig om vol te loop, en die branders spoel al nader en nader na sy kampplek toe.
Toe hy sien die bure merk nie die naderende gevaar op nie, gaan maak hy alarm. Hy het juis gehoor dit het so kwaai in Basotholand gereent en die Oranje kom so sterk af, Kanoneiland neuk al om te versuie. Die bure glimlag, en beduie van getye. Getuies is hofgedoentes en oom Maans bly lugtig.
Die aand gaan slaap almal na ‘n heerlike fees van kabeljou. Die volgende dag is die Louws skoonveld – tente, kampbedjies, die hele lot. Net die spore oor die duine binneland in verklap daar is koers huis toe gevat.
Later verneem die ander, kon die Louws glo nie rus kry met die see wat so raas nie, en het toe verkas. Sommiges het bly meen oom Maans het die see wat so volloop nie gevertrou nie.
Die benoudheid moes regtig groot gewees het, want om terug by Nieuwoudtville te gekom het, moes Van Rynspas uit. En oom Maans had ‘n Model T-Fordjie, en dié neuk met die opdraandes uitry uit. Die soort karretjies moes die pas agteruit uit “reverse” sodat die petrol met swaartekrag in die enjin kom inloop. En daai se tyd was die pas nog half soos sy agterent, en oom Maans moes goed benoud gewees het om daai pas so in die donkerte uit agteruit te ge- “reverse” het.
Maar oupa-goed het seevakansies, soos ‘n klompie ander mense, teenoorgestelde kant toe gery om by die see te kom. Almal is nou al afgesterf wat betrokke was, maar smaak my daar is so Calvinia, Matjiesfontein om Mosselbaai toe gery. Land-in.
Of Oupa Harry se kar nou ‘n Model T-Ford was, weet ek nou nie. Wat ek wel weet is dat die kar nie juis ‘n bak gehad het nie. Die bagasie is met strêppe op ‘n “carrier” op die kar se skuins agterkant vasgemaak.
Ook weet ek hoede was daai tyd hoog in die mode. Tot haar dood het Ouma nog sulke ronde kyste gehad. Vir die hoede.
Elke kys kon ‘n hele lot hoede vat, en as die “carrier” klaar gelaai is, pryk daar ‘n hele lot ronde kyste agterop. Vir elke dag omtrent ‘n hoed, en vir party dae ‘n spaarhoed of twee.
En so word die pad binneland toe aangepak. Oupa Harry en ouma Lita voor, en pa-Jan, sy kleinboet Rons en ous SC agterin, saam met nog ‘n klomp bagasie want tot haar dood het ouma Lita enige moontlike spasie gebruik as verskoning om nog bagasie in te pak.
Om binneland in te ry het egter ‘n lastigheid. Hekke. En nie sommer enige hekke nie, maar smoelslanerhekke. Oupa Harry bestuur, en hy kan nie die hekke oopmaak nie. Ouma sou nie droom om hekke oop te maak nie, en sy het eers jare na sy weduwee geword het, en die sestig al geslaan het, ‘n liksens loop kry. Die kinders is nog klein en het te min murg in die pyp om smoelslanerhekke sonder die gevaar van ernstige ongevalle oop te maak.
Maar so is daar darem geleentheid vir vakansiewerkies vir die bruin kinders, wat gelukkig nog nie deur ‘n verbod op kinderarbeid verfongfaai is nie. So ry so ‘n bruin mannetjie buite op die spatbord saam ‘n ent die binneland in, en hoop dan om weer so ‘n geleentheid terug te kry. In ruil vir die geneuk met die smoelslaners kry hulle ‘n ietsie.
Pa-Jan sê hulle was al dóér, toe oupa in die truspieël sien een van die ronde kyste moes oopgegaan het, want daar is besig om hoede te makeer. Oupa Harry slaan ankers aan, en hy en die kleingoed peul uit om die skade te gaan betrag.
Ja-nee, die een kys het oopgekom en al amper al die hoede makeer. Pa-Jan sê hy het nog so met die terugkykslag gesien hoe die naaste hoed soos ‘n tolbos die bossieveld in hol tot dit teen ‘n bossie gaan vassit het. Maar nie voor dit ordentlik ver van die pad af gerol het nie.
Oupa en die kleingoed reken daar is nog genoeg hoedens oor vir die vakansie, maar ouma Lita skop vas. Terug sal daar geterug word om die hoede te gaan bymekaar maak.
“Daai hoedens sal een een de lot getsjarra word,” het sy beslis in haar aangeleerde Namakwalands gesê
Die bruin seun op die spatbord skop egter vas. Hy mag dalk nie ‘n vakbond hê nie, maar hierdie wending, weet hy, is duidelik nie in sy werksbeskrywing ingeskryf nie. Hy staak. En hy bly ook sommer net daar.
Daar is toe g’n ander genade nie. Hulle ry terug, en pa-Jan en boet Ronsie moet saamspan om die smoelslaners oop te kry. Tot sy dood toe had pa-Jan ‘n heilige respekte vir smoelslaners. Hy kon in sy Namakwalands in die fynste besonderhede uitlê hoe so ‘n smoelslaner kan maak. Jy span al jou krag in om daai stok uit die lussie te kry. En wanneer dit gebeur moet jy klaar ‘n hand los hê om die stok stewig te vat, anders hoor jy net WOER! soos daai stok gatskoonmaak om die paal om en WAP! soos dit jou teen die kop tref. En as jy uit die stof en gruis opstaan, moet jy weer die stok vasgetrek en deur die lussie kry, met die wete jy kom netnou weer hierlangs na die laaste hoed ingehol en gevang geraak het.
Pa kon nooit met sekerte sê hoeveel myl hulle teruggery het, en hoeveel hekke hulle mee moes spook nie, maar smaak my dit was baie.
Toentertyd, het pa Jan vertel, het ‘n klomp Amerikaanse studente as aspirant-jagters op die Knersvlakte beland.
Hoewel die storie oor hoe hulle hier gekom het, ‘n storie op sy eie is, handel hierdie verhaal veel eerder oor hul “Namakwalandse ervaring.” Dus maar net so vluggies oor die aanloop drawwe.
Die drie, Thomas Bains, Richard Brightstone en Herman Gowalski was die telge van skatryk Wall Street-makelaars. Kort voor hulle klaar maak met skool, gaan kyk hulle ‘n swart-en-wit Tarzanprent.
Toe kon dit nie hoër of laer nie, hulle wil ook na die “hunting grounds” in Donker Afrika gaan.
Uiteindelik is ‘n kompromis met die ouers aangegaan. Hulle kan ‘n jaar “in Africa” gaan studeer, en dan hulle make gemaak kry. Uiteindelik beland hulle by Ikeys, waar hulle terstond die byname “Tom, Dick en Harry” kry. Hier spandeer hulle, tot groot vermaak van die ander Ikeys en met baie van die wal-in-die-sloot-advies, die meeste van hul eerste kwartaal vir hul groot safari “up North”.
Maar die Vrydagmiddag breek uiteindelik aan dat hul Jeep gepak is. Alle belangrike toerusting is ingepak. Dit sluit voldoende drank, slaapsakke, vuurwater, tente, voggies, kos, likiede bates, gewere, skoplafenis, baie ammunisie, drank en ander minder belangrike bykomstighede in.
O ja, ek moenie van die drank vergeet nie, want dié het ‘n baie belangrike rol in dié verhaal gespeel.
So juig die spannetjie die Vrydagaand na donker die Paarl in. Hulle bemerk ‘n man wat vier rye spore loop, ‘n algemene Bolandse verskynsel teen sononder op ‘n Vrydag. Hulle is op soek na ‘n gids wat hulle “up North” sal kan neem – na die “hunting grounds” toe.
Ou Jacob word genader. Fout.
Jacob stem in. Hy mag sleg gesuip wees, maar sy paar breinselle is darem nog nie doodgesuip nie. Hy gewaar in die skemerte die Bachussop in die Jeep, en hy het familie in Vanrynsdorp wat hy graag wil besoek. Hy klim terstond op, en beduie in ‘n koers. Skaars het die wiele begin draai, of Jacob is in droomland.
Net buite Vanrynsdorp word “kamp” opgeslaan. Dis egter al amper sonsopkoms, en met al die voggies wat deur die nag gevloei het, kry Tom, Dick en Harry hul lê in die oopte. Die tente is gans te ingewikkeld om opgeslaan te kry.
Die sonbesies raas al oorverdowend toe Tom, Dick en Harry met die vreeslikste koppe wakker word. Van Jacob en ‘n taamlike deel van die vog is daar geen teken nie.
Die situasie word ontleed. In plaas van om in ‘n tropiese woud wakker te word, is hulle op ‘n kaal haai vlakte. Hulle onthou egter Jacob het hulle met die kamp-opslanery verseker hulle het in die “hunting grounds” gearriveer.
Hulle kry koers die vlakte in. Destyds was die Knersvlakte nog nie so van drade toegespan nie.
Nie lank nie, brand die woedende Namakwalandse son van reg van bo af. Hul watersakke is lankal leeg, maar die ander vog hou nog. Hulle soek iets om te skiet, maar al wat beweeg, is die dansende hitteduiwels.
Uiteindelik gewaar hulle iets. Aan die agterna-verduidelikings kon dit enigiets van ‘n meerkat tot ‘n kangaroe of selfs dalk ‘n boerbok gewees het. Hulle lê aan en skiet, tot die “slagoffer” maar naderhand verkas.
‘n Ruk later gewaar hulle weer iets roer. Gelukkig, voor hulle losbrand, merk hulle dis ‘n man te voet. Hulle ry nader, en kom by ‘n trens aan.
Dis nou die manne wat so van plaas tot plaas geswerf het en in ruil vir kos, onderdak en ‘n ietsie allerlei herstelwerkies gedoen het soos skoene regmaak.
“A, ‘n potensiële gids,” meen die manne.
En ja, die trens sal saamry. Maar skaars het die Jeep weggetrek, of die trens het al ‘n bottel vuurwater teen die mond, wat nou ook al vuurwarm is. So ry hulle, terwyl die trens – wat nie ‘n woord Engels verstaan nie, net kort-kort in ‘n rigting beduie.
En toe, net voor hulle wil handdoek ingooi, sien hulle ‘n volstruis op die horison.
Hulle besluit om op dié gedierte los te brand tot dit ook verkas. Die volstruis bekyk die geraas met sy plat bakkies, en toe iets naby sy kop verbyvlieg, druk hy sy kop in ‘n gat. ‘n Ruk later bekyk hy weer die raserige gedoente my sy plat bakkies. Dit klink soos ‘n jong oorloggie, en in die proses wek hulle die “gids” wat ondertussen ook aan die slaap geraak het.
Hy strompel regop, en beduie dat hy ook ‘n skoot wil hê. Tom, Dick en Harry besluit dit kan dalk net sports wees. Hulle maak die trens slinger-slinger staan op die Jeep se neus, en stop hom ‘n baster olifantgeweer in die hande.
Die trens druk die loop in die rigting van die volstruis, en terwyl die loop sulke groot sirkels in die lug trek, trek hy die skoot af.
Die slag lig die trens uit sy verslete skoene en slinger hom op die plat Knersvlakte neer dat hy skoon tussen die bossies deur op die gruis skuif.
Tom, Dick en Harry wil hulle breeklag, maar die trens strompel regop, klap die ergste stofwolke uit sy gelapte klere, en beduie in die rigting van die volstruis: “Lets ghou fets hôm” beduie hy.
Tom, Dick en Harry sy koppe ruk soos hulle omkyk, en jou waarlik, daar lê die volstruis bene in die lug!
Dis ‘n flink ent se ry om by die gevalle voël te kom.
Verbaas roep Harry uit: “ He’s shot the thing through the head!”

Afrikaners was tot in die 1820erjare polities apaties. Hulle het nog geen persorgaan gehad om hul volks- en taalbelange te stel nie. Daaraan sou nou verandering kom.
Die Kaapsche Stads Courant/ Cape Town Gazette and African Advertiser, van 7 Julie 1826 af The Cape of Good Hope Government Gazette, het ‘n regeringsorgaan met sulke swaarwigtige proklamasies, ordonnansies en offisiële berigte geword dat die mense interessanter blaaie wou hê. Daarom het die Britse Setlaars George Greig, Thomas Pringle en John Fairbairn in 1824 The South African Commercial Advertiser opgerig. Die blad het later advertensies en hoofartikels in Nederlands geplaas.
Die ontevredenheid van die plattelanders met die rigting van die Gazette, wat boonop al hoe meer Engels geraak het, was ‘n aansporing vir ‘n Portugees-Hollandse Jood, J. Suasso da Lima, om in 1826 te begin met ‘n weekblad wat baie op die ou gewaardeerde Kaapsche Courant gelyk het.
Da Lima is skrywer van Geschiedenis van de Kaap de Goede Hoop (1823), die eerste geskiedenisboek wat in Suid-Afrika verskyn het. Hy het Nederlands hartstogtelik liefgehad en was digter van die bundel Gedichten (1821) en Nieuwe Gedichten (1840): “O Heil’ge dierbre moedertaal, / Zoo rijk als wel verheven, / Geen vreemde of geleerde praal, / Behoeft u kracht te geven.” In 1844 het hy ook vir Afrikaans in die bresse getree in ‘n brosjure De taal der Kapenaren verdedigd.
Van 1 Januarie 1827 af het Da Lima sy koerant die Kaapsche Courant, Afrikaansche Berigter of De Verzamelaar genoem. Hy was egter ‘n swak sakeman en op 6 Maart 1830 was hy bankrot. Een van sy skuldeisers, P. van Breda, het op sy drukpers beslag gelê. Op dié pers het ‘n nuwe koerant op 9 April 1830 begin verskyn: De Zuid-Afrikaan. Intekenaars op De Verzamelaar (wat in 1834 en van 1839 tot 1848 herleef het), het De Zuid-Afrikaan ontvang tensy hulle die blad bedank.
Die stigters van die tweetalige weekblad De Zuid-Afrikaan was adv. C.J. Brand, ‘n leier van die Kaapse Afrikaners, en ds. Abraham Faure. Dit was nie Faure se eerste blad nie. In 1824 het hy saam met Pringle en Fairbairn twee tydskrifte opgerig: die South African Journal (Januarie en Februarie 1824) en Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (1824-1843). Op die platteland het dié blad heelparty lesers gehad.
Dit het veral godsdienstige en historiese artikels bevat, soos dele van Van Riebeeck se dagverhaal. Petronella Camijn (gebore Faure, niggie van ds. Faure) het ‘n besoek aan die Kangogrotte of Druipkelder in 1808 beskryf. Sy wou amper eers vlug, maar toe een van die mans erken hy is net so bang, het sy vasgebyt. Ná twee uur moes die besoekers terugkeer omdat die kerse byna op was en hulle sonder lig nie die pad boontoe sou vind nie. Later was sy bekend vir haar 129 gediggies oor Stellenbossers en haar plakskilderye uit plantmateriaal van Stellenbosse geboue.
Nee, dis nie die *&^%sem hier naby se gefufuzela-blaas al die heel oggend wat my aan ‘n donkie laat dink nie. ‘n Donkie se hartverskeurende gebalk is musiek in die ore vergeleke met ‘n “beruchte blaastoeter” soos die Nederlandse pers die *&^ noem.
Nee, oudste bel van die wildsplaas af waar hy die vakansie werk. Praat eers met sy ma, en toe met die uwe. Nie hy of sy pa is telefoonmense nie, en daarom sê hy “ma sal vir pa vertel van die donkie wat sy alie gesien het.” Hy het ‘n ander woord vir “alie” gebruik.
My gedagtes gaan terug na die dae toe die roete tussen my huis en die kantoor langs Bloemfontein se dieretuin verbygeloop het. Die oggend as jy inry, sien jy die donkies. Die middag op pad huis toe, nie. Die leeus, tiers en ander karnivore het maaltyd genuttig.
Maar op die wildplaas wat neef Ferdie bestuur, is daar na beste wete nie roofdiere nie. Dus vermoed ek die donkie het nie aspris sy agterent gesien nie.
Maar dis toe nie ‘n donkie soos ‘n esel nie, maar ‘n donkie soos warm water en vuurmaak-donkie.
Oudste bly in ‘n buitekamer en sy water word met ‘n donkie warm gemaak. Hy kan self goed stook, maar dit is een van die werkers se werk, en dié is half teë op die werk. Toe hy nou te veel aangepraat word oor die effense vuurtjies wat hy maak, vererg hy hom en maak ‘n te groot vuur.
So R200 skade aan ‘n klep later word beslis dat oudste van nou af self die donkie sal stook vir warm water.
Maar donkies vir warm water bring nostalgie. Jarre der jarre gelede is 110 van ons troepe op Rooikop, ‘n ent die woestyn in van Walvisbaai, gestasioneer. Om die waarheid te sê, op die grens tussen die Walvisbaai-enklawe en Suidwes, so ver as wat dit moontlik van die see en daai berugte geroes af kan wees.
Want ons was kanonniers en kanonne is van metaal en daar roes metaal iets vreesliks.
Maar dié basis was net ingerig vir ‘n paar wagte wat snags daar oornag het. Skielik is daar nou 110, en die druk op die storte en die toilette is toe groot.
Die storte is ten dele deur sonverhitting en ten dele deur ‘n donkie van warm water voorsien. Nie genoeg vir 110 troepe nie, maar dit het darem ‘n ent weggekom.
Die donkiestokery was die stoorman se werk. Sammajoor het hom “Shawmannetjie” genoem, maar by geleentheid maak Shawmannetjie droog en gooi iets in wat die kole gou sal laat vat. Amper was daar nie meer ‘n Shawmannetjie nie.
Van gesighare, soos wenkbroue, was daar lank nie sprake nie. Op 17-jarige ouderdom spog hy met ‘n middelpaadjie so breed soos PW, toe minister van verdediging. Die Sammajoor noem hom van toe f, tot sy haredos weer teruggegroei het, Agbare Minister.
Die toilette was bietjie van ‘n ander verhaal. Dit was ‘n sirkelstelsel waar organismes die toevoer teen ‘n spesifieke tempo verdun het.
Toe is die toevoer swaarder as waarvoor dit ontwerp is, veral wanneer die kokke wat hulself sjefs genoem het meer as gewoonlik met die kos drooggemaak het.
Dan verstop die spulletjie, maar die pomp hou aan met pomp.
Behoede die arme drommel wat op die troon was as daai spul ontplof.
Dus word ‘n plaastoilet gebou. So haastig was die manne om na veiliger trone te verskuif, dat dit in die ope lug ingewy is, en ons nie soos op die Kaapse Vlakte die spul gaan verinnerweer nie. Die sinke om het eers later gekom. Skynbaar is dit ‘n kuns om sinke van die republiek af verby Walvisbaai te kry sonder dat dit tot niet roes.
Nietemin, toe word die ou stelsel te min gebruik. Met dieselfde gevolge want dan raak dit te verdun…
Ag, die leser kry seker die punt.
“Die k*khuise huil vir k*k” verduidelik die sammajoor.” Die “huil” word so lank uitgerek om die punt behoorlik te maak. Want kort-kort moet iemand gaan mure en dak was.
My laaste ervaring met daai soort donkie was toe ma saam met stiefpa, Barend Toerien, die plasie Eldorado buite Onrusrivier koop. Barend was wyle pa Jan se neef, en so gebeur dit dat ek ‘n van met my gewese stiefpa deel, maar nie sy skryfkuns nie (volgens die *&^% uitgewers).
Dáái donkie was nou ‘n wonnerlike ding. Buite groei bloekombome wat bolle maak. En dis nie bollie nie, hoor, dis bloekombolle en hier en daar dennebole, en daai donkie sing lustig, en ‘n man bad warm.
Daai bloekombolle werk ook lekker in die kaggel as die winterreën neersif, en ‘n Vrystater soos ‘n wafferse Overberger met ‘n glasie rooi wyn kopstukke met familie en vriende gesels.
Maar toe verander regulasies en kry ‘n mens vooruitgang van mense wat reken ‘n donkie is nie so ‘n wonnerlike ding nie.
En dis daai mense wat ek so graag op Langoor by oupa Nic hulle wil sit. Langoor is nie gister uitgebroei nie. Klim iemand op sy rug snol hy reguit na die naaste grensdraad, en dan maak hy so al met die doringdraad af biltong van jou been.


Maar dit laat my self dink aan ‘n geleentheid, ‘n klompie jare gelede toe ek vir die regering kruis en dwars oor die land moes ry en verskillende soorte boerderye moes aandoen.
“My neef, Karel, is ‘n wildboer daar anderkant Middelburg en Stoffberg,” sê ‘n kollega toe ek nog dié soort boerdery uitstaande is.
Dus word die afspraak gemaak.
As ek nou die regte grondpad-afdraai geraai gekry het, en so dertig kilometer die kloof in is, kry ek weer hul afdraai.
“Ou Sunshine sal daai tyd daar in die hoek wees, by die hek.”
Sunshine, so blyk dit, is ‘n buffelbul. Toe hy die eerste keer op die plaas gekom het na hy elders hans grootgemaak is, het hy namiddae in daai hoek melasse gekry om hom te laat aanpas. Nou soek hy daai melasse steeds.
Dis so half vier die middag toe ek by Sunshine kom. Ek hou stil en meen om Sunshine, synde so ‘n ligstraaltjie van ‘n naam, se kop bietjie te vryf.
Maar so met die uitklim lyk dit of Sunshine van daai melasse ‘n vreeslike seer tand het. ‘Donderweer’ staan oor sy hele bakkies geskryf. Hy stamp vererg met sy horings aan die wildwerende heining.
Dus is ek maar weer terug in die bakkie en ry opstal toe. Om Sunshine by daai donderweergesig te bring laat my onwillekeurig aan Jan Spies se storie oor Waaksaam, die lui plaashond dink.
Die werf is oënskynlik stil – half ‘n vreemde ervaring vir my met my aankoms op vreemde en minder vreemde plaaswerwe. Met die ding van plaasaanvalle is daar gereeld honde op die werwe wat tekere gaan of hulle moet leeus of iets gebaster moet wees.
By die voordeur, styf teen die gaasdeur, kry ek die boerboel. Ek praat saggies met hom, maar in plaas van ‘n woeste opvlieg en tande uitpak, verwerdig hy hom om sy oog wat boontoe wys, se lid so halfmas op te trek. Wat hy dromerig gewaar, lyk nie na iets wat die moeite werd is nie en die ooglid val weer dig toe.
Ek leun oor die hond en lui die klokkie. Na ‘n ruk doem neef Karel anderkant die gaasdeur op.
So met die groetslag begin hy die deur oopbeur, wat beteken die waghond word behoorlik oor die stoep geskuif. Want opstaan staan hy nie op nie.
“Sie jy Waaksaam!” raas Karel.
So, hy het ook Jan Spies se stories geluister.
Waaksaam is ‘n volbloed-boerboel. Boerboelle het 500 gesigsuitdrukkings, waarvan 499 hartseer of verwytend is. Verwytend, met sulke wit omdopoë kyk Waaksaam sy baas aan wat hom so onsagkens met die gaasdeur versteur.
‘n Ruk later is dit weer sulke tyd, want dis warm in die kloof en Karel se vrou, Karen, stel voor ons gaan drink ons lafenisse onder die kareeboom buite.
Terwyl ek so aan my leeuplesier teug, voel-voel ek iets aan my broeksak pluk, en kyk in die vraatgesig van ‘n vlakvark vas. Die varkogies die ene opwinding oor ‘n lekkerny wat dalk uit daai sak kan kom.
“Sie-jy Sunlight, gaan speel in jou modderbad.”
Sunlight was lanklaas, indien ooit naby Sunlight, of enige ander seep. Hy trippel weg, antenna kiertsregop.
‘n Teug of twee later sê Karel skielik vir Karen: “Kyk, hier kom Twiggie haar kalfie vir ons wys!”
Ek kyk in die rigting waarin hy beduie, en sien ‘n yslike dik seekoei aangestap kom met ‘n koeëlronde kalfie aan haar sy.
Twiggie stap tot by ons, en dit is ‘n blye weersiens.
“Ek gaan haal gou vir haar ‘n happie melasse,” sê Karel, en stap-draf in die rigting van die stoor. Sunlight spring uit sy modderbad en val soos ‘n uitgelate hond by sy baas in. As Waaksaam dan nou te lui is, sal hy wat Sunlight is maar as waghond instaan.
Karen gesels met Twiggie, en dit blyk gou dié seekoei is hans grootgemaak. Sy is maar so twee jaar gelede by die ander seekoeie geplaas. Elke nou en dan kom wys sy egter oë.
Skielik begin Twiggie aanstap huis toe.
“Ag nee,” gil Karen. “Net nie in die huis in nie.”
Maar Twiggie is op ‘n missie. Vernuftig haak sy die skuuifdeur oop, en kry al daai verwyt-omdop-oë van Waaksmaam. Toe word die binnedeur ewe vernuftig oopgemaak, en Twiggie begin die huis instap.
Of so het sy gedink.
Haar kop en nek gaan in, maar toe dit by die skouers kom, haak sy vas. Daar tussen die bulle by die rivier nie genoeg op haar wilgerlatlyfie gelet nie, blyk dit.
‘n Paar keer probeer Twiggie haar lyf deur die deur wikkel, en ek begin bekommerd raak oor die hoe standvastig hierdie huis dalk kan wees. Na ‘n ruk blaas sy vies – vies die aftog, maar is weer die ene oorlamsheid self toe sy die melasse by Karel kry.
“Wat noem ons die kleintjie?” vra Karel vir Karen.
Ek is die ene ore.
“Tobie,” stel Karen voor.
Hulle lag. “Ja, heel gepas, hy gaan eendag net so groot soos Tobie Cronjé word.”
Ek kyk Tobie middeldeur om te kyk of ek iets kan sien wat my net naastenby aan Tobie Cronjé kan laat dink. Niks.
Met aandete stap ‘n pikswart kat die eetkamer in, en nog voor iemand iets sê raai ek sy naam is Whitey. Verkeerd. Dis Snowy.
Die volgende middag ry ek huis toe. By Sunshine hou ek stil, en gee hom ‘n klompie melasse wat ek by Karel gebedel het deur die wildwerende heining aan.
“Darem een op die plaas wie se naam by hom pas – al is dit net soms,” mymer ek terwyl ek verder ry.
Die aga blaas sy warm asem na buite toe die boer die agterdeur oopmaak. Aan ou Jim buite se gesigsuitdrukking kan oom Anneries sien die groot oomblik het aangebreek.
Jare lank gooi Jim soos ‘n goeie bul net verskallers. Maar Jim was vasbeslote – hy sou aanhou probeer tot hy ‘n bulletjie by sy stroois het.
En soos die jare aangestap het, het sy drome vir dié droomseun al groter geword. Maar die dogters het net meer en meer geword, en niemand weet of Jim naderhand nog gebodder het om onder hulle te tel nie.
Vandag is daai droomseun egter in die bondeltjie komberse toegedraai en Jim hou hom styf vas.
Oom Anneries weet Jim het gekom om sy ego gestreel te kry. Dus speel oom Anneries saam.
“Is dit ‘n seun, ou Jim?” vra hy onnodig.
Oom Anneries sien die trots nog verder blom. Ou Sahrah wat skuins agter Jim staan, se gesig is egter eerder die ene verligting.
“Es ramakatse,” kry Jim dit skaars uit.
“Nou wat is sy naam?”
“Sy naam ês Dogter.”
Oom Anneries voel hoe hy leegloop van alle logika. So ‘n gespook vir ‘n seun na ‘n hele span dogters, en dan noem hy hom Dogter?
Oom Anneries kry sy asem terug: “Nou hoekom Dogter?” vra hy verbaas.
“Want hy gaan word die dogter.”
Oom Anneries voel hoe die verligting oor hom terugspoel. Sekondes gelede het hy vas geglo Jim se varkies het losgekom, of hy wat oom Anneries is, het begin hallusineer.
“Nee, Jim, nie ‘dogter’ nie, dis dokter.”
“Ja, hy gaan die dogter word.”
“Maar dit is vreeslik duur om vir dokter te leer.”
Ou Jim lag. “Aikôna, met al die meisiekinders se lobôla wat ekke gaan kry, daais peanuts.”
Oom Anneries sug. Lobôla bestaan omtrent net in teorie. In die praktyk beland die spulletjie sommer half kleintyd in die ander tyd, en van werklike huwelike is daar selde sprake. Van lobôla nog minder. Evangelis Pappegaai de Bees probeer sy bes, maar maak nie veel hond-haaraf nie.
Dit neem oom Anneries en tant Marié ‘n paar maande om die fonetiek te laat reg inslaan. Toe is Dokter se naam Dokter, en hy gaan ‘n dokter word.
Oom Anneries het nie baie moed gehad dat hy die fonetiek sou regkry nie.Sy plaas se naam is Merino, maar van hy kan onthou noem die werkers, en die bure se werkers, en die skaapdiewe in die lokasie die plaas Merina. Hy het jare lank die stuipe gekry, maar uiteindelik moes hy maar vrede maak.
Maar vir Dogter wat ‘n dogter gaan word – daarvoor het hy darem regtig nie kans gesien nie.
Die kommer oor studiekostes het geblyk vals te wees. Dit was sommer kleintyd duidelik vir almal behalwe Jim dat sy trots skaars die vermoë vir die laerskool sou hê.
So was dit ook. Op 16 het die prinsipaal van die plaasskool vir Dokter deurgesit op voorwaarde hy gaan nie sy pa se geld by die hoërskool op die dorp verder mors nie.
Dokter het ‘n plaaswerker geword, maar g’n boer was welgesteld genoeg om Dokter te bekostig nie. Is hy op ‘n trekker is ‘n mens byna verseker ‘n nuwe trekker moet gekoop word en dit waarin hy vasgery het moet heelgemaak word. En omdat hy Dokter is, is hy ook maar half teë op iets anders wees as trekkerdrywer.
“Dokter het sy tyd op skool gemors, maar iewers het sy verbeelding op loop gesit om rampe uit te dink,” kla oom Anneries een oggend oor sy krummelpap. Die vorige dag het Dokter die groentetuin probeer natlei, en so drooggemaak, of eerder, natgemaak, die hele leidam was leeg en die water onder in die vallei af, terwyl nie eens die helfte van die beddings water gekry het nie.
Oom Anneries het lankal gesê hy skiet vir Dokter as hy hom naby die vee en die groen lusern kry. Gelukkig het Dokter hom geglo.
Maar met al sy dinge, het Dokter darem ‘n hart van goud.
Toe kom daar ‘n soort uitkomste. Miems, oom Anneries en tant Marié se oudste dogter, en dié se prokureurman, Stefan, woon in ‘n stad ‘n paar honderd kilometer weg. Hul erf is groot en kan doen met ‘n inwonende tuinman. “Kan pa dalk vir Dokter afstaan?”
So is Dokter stad toe. Miems is huisvrou en kan redelik ‘n ogie oor Dokter en haar spogtuin hou. Soms is haar toesig egter net ‘n paar sekondes te lank nie waar dit moet wees nie, en rig Dokter die een of ander katastrofe aan. Hoewel Dokter belet is om naby die swembad te kom, het hy tog gesien hoe chloor van tyd tot tyd ingegooi word. Na Dokter so die vyfde keer ‘n klomp kunsmis in die swembad gegooi het, het Miems se man met die polisie gekonkel, en was Dokter ‘n nag lank in “eensame opsluiting” by die polisiestasie. Dit het darem gehelp.
Maar Dokter was talentvol genoeg om genoeg ander rampe te bedink, of ten minste ten uitvoer te bring.
Boonop, het dit geblyk, waar dit in die boonste verdieping tekort geskied het, is laer af aan die anatomie deeglik opgemaak. Jim het mildelik gesaai. Miems se woedende man moes gereeld huishulpe met kopdoeke en bondeltjies in die arms te woord staan.
“Julle weet die man is nie toerekeningsvatbaar nie, maar julle gaan maak kleintjies met hom en dan wil julle hom verantwoordelik hou!”
Toe kom daar ook uitkomste. Dokter se blindederm maak moeilikheid, en toe hy ingaan teater toe praat Miems mooi met die dokter.
“Toe hulle jou blindederm uithaal, kom daar ‘n muskiet en byt jou daar,” verduidelik Stefan die bykomende wond aan Dokter.
Omdat Miems so baie in die tuin doenig is, het sy haar telefoon aan ‘n lang verlengkabel op die stoep uitgedra. Maar soms gebeur dit dan dat sy in die kombuis of agter die huis is as die oproepe inkom.
Dokter, heel oorlams genoeg, antwoord dan: “Dokter hier.” Dan hoor hy net ‘n geprewel van “verkeerde nommer” en die een aan die ander kant plak die telefoon neer.
Maar dié ding het tog sy kwota verwarring opgelewer. Nie lank nie of Stefan word gereeld as “doktor” aangespreek, en hoewel hy mense reghelp so ver hy gaan, kom daar maar gedurigdeur nuwes by wat hom “doktor” noem. Uiteindelik word die herkoms van dié vergissing opgespoor, en Miems hou die telefoon van toe af liefs binnenshuis.
Dokter is later terug plaas toe. In sy kispak na ‘n vragmotor hom vlak voor Stefan en Miems se huis getrap het. Vandag staan daar ‘n grafsteen oor ‘n hopie van ‘n plaaswerker se droom om eendag ‘n geneesheer as seun te hê: Dr. Dokter.

