praag.co.za

Category: Herman Toerien

  • Herrie se kerrie: Smokkel met buitelanders se koppe

    Die Vrystaat het miskien nie so vreeslik baie buitelanders getrek soos die sokker se ander groot gasheerstede nie, maar darem ‘n sarsie of twee.

    En tipies Afrikaner, sal die humorverhaaltjies ook nie uitbly nie.

    By ‘n gastehuis is ‘n Japannese sokkertoeris erg opgetrek met die heerlike maaltyd wat hy pas weggeslaan het. “ What you say the food velly velly nice?” wil hy by die gasheer weet. Die gasheer dink op sy voete: “ You push plate forward, rub your belly and say ‘Kaka!’ “

    Die gasvrou hoor dit, en byt op haar lippe om nie te lag nie, maar in die proses loop die trane van lag inhou.

    “ Why you cly?” wil die gas besorg weet.

    Die moeilikheid, met die superster, Kaka, in die toernooi, is dit ook nie ‘n woord wat dié beleefde Japannees gaan vergeet nie, en stellig by verskeie ander gastehuise gaan gebruik om sy waardering vir die kos te betoon.

    Omtrent soos Koos wat jare gelede in Taiwan gedink het “Tsjou en Lai” is Chinees vir ontbyt in die bed.

    Maar die taalding en buitelanders. Jare gelede, diep in die ou Suid-Afrika in, het ‘n Stellenbosse akademiese egpaar besoek aan die VSA gebring, en daar links en regs mense genooi: “ If ever you come to South Africa…”

    Een aand laterig, lui die voordeurklokkie, en hulle gaan maak oop. Dis Mr. en Mrs. Black. Hulle is met die skip onderweg iewers heen, en toe die skip in Kaapstad anker gooi, sien hulle op ‘n kaart Stellenbosch is sommer naby, en hulle haal die taksie ( What a rip off!) en hier is hulle.

    Die huismense slaan gou iets aanmekaar, en stop die gaste in die gastekamer. Met ‘n nota in die kombuis vir die bruin huishulp dat daar gaste is, en sal sy asseblief vir hulle koffie en ‘n ietsie in die bed neem?

    Die volgende oggend hoor hulle daar word aan die gastekamer se deur geklop, en die klopper word na binne genooi. Die deur gaan oop, daar is ‘n vreeslike gil, ‘n skinkbord wat kletter en breekgoed wat…wel, breek. Die volgende oomblik storm die huishulp die hoofslaapkamer in: “Mastah, mêrrim, daar is twee voorheen benadeeldes in die kooigoed!” Net, sy het nie na voorheen benadeeldes verwys nie.

    Deeglik onder die indruk dat verdere huishou nie goed in die huislike geledere sal afgaan nie, word die gaste na ‘n deftige landgoed-restaurant geneem. Herrie wil-wil van Lanzerac onthou, maar nou nie so sterk dat Herrie bereid sal wees om gepresedeer te word hieroor nie.

    Vir die bruin kelner was dit destyds eens te erg. Die Suid-Afrikaanse gaste word beleef op gemoduleerde Engels bedien maar kom dit by die Amerikaners: “Wil djy êtjies hê?” ‘n Ruk later: “Rook djy?” Telkemale “vertaal” die gasheer maar erg generies om verleentheid te voorkom.

    Die bekende prof. Boelie Wessels, Herrie se peetpa, wat legendaries met Romeinse Reg geword het, en een van die min mense wat die Latyn vlot kan gooi, was in ‘n stadium ‘n Oxford-student. Hy kán die rooitaal gooi. By daai einste restaurant gaan eet hy saam met Herrie se pa en ma, en die bruin kelner praat net Engels, en word net in Afrikaans aangespreek. Maar hy byt vas met die Engels. Oom Boelie vererg hom, en spreek hom in Oxford-Engels aan.

    “Sal die mastah nie maar samblief Afrikaans praat nie?”

    купить брюки теплые на мальчикаtopcargo отзыв

  • Sokkerpolitiek

    Sokkerpolitiek in Suid-Afrika kom al van ver af. Buthana Komphela en Seppie Frolik kan gaan slaap as hulle dink hulle het politieke inmenging in sokker uitgedink. En selfs Griekeland, Kenia en Iran wat al hieroor uit Fifa geskors is, kan gaan slaap. In die Namakwaland in is dit al lankal uitgevind én vervolmaak.

    Pa-Jan se suster, tannie SC, het vertel hoe hulle kleintyd daar op Nieuwoudtville sokker speeltye by die skool gespeel het. Dit was die dae van Smelters en Gesuiwerdes, en die grootmense se politieke verdeeldheid het so diep geloop dat dit na die kinders deurgeloop het.

    Pouses was dit die Gesuiwerdes wat die Smelters op die “sokkerveld” die stryd aangesê het. Of liewer, hul kinders.

    Die sokker wat die kinders opgedis het, kan dalk nie met die poer-poer sokker wat nou by die wêreldbeker opgedis word, vergelyk nie. In elk geval nie wat entoesiasme betref nie. Pa-Jan het gesê dit het soos twee spanne honde gelyk wat ‘n vlakhaas op die sportterrein jaag. Die bal, die vlakhaas, en die speler wat eerste by was, het dit ongeag die posisie op die veld, met alle mag na die opponente se pale geskop. Gelukkig was daar nie skeidsregters nie, want sou daar wees sou die rooikaarte gesorg het dat die wedstryd gou oor sou wees, selfs te gou vir klein pouse.

    Danksy ds. Steenkamp, wat later ‘n rukkie Amerika toe is en met sy terugkeer gesê het is nou ‘n mediese dokter, en toe SAP-parlementslid geword het, was daar in hierdie kol bietjie meer Smelters as wat mens andersins sou verwag.

    Maar die bakleilus tussen die Gesuiwerdes en Smelters was hier nie minder erg as elders in die land nie, soos Ladybrand se stadsaal se deftige voordeur wat kosyn en al uit die muur uit gebaklei is.

    Kom maar op enige dorpie, soos byvoorbeeld Philippolis, en gaan kyk in die venduasiekrale se stoor hoe lyk die stoele van daai tyd. Dit was sulke hout opslaanstoiele wat sulke lang rye aanmekaar vas was. Heel stewige stoele, maar waar mens hulle raakloop is daar ook genoeg in die stoorkamer wat mens laat wonder hoe daai stoele so flenters geraak het.

    Hulle is so gebaklei, man. Vat nou so ‘n lang ry opvoustoele, ‘n fris boer en ‘n paar politieke opponente. Dan is daai ry stoele darem ‘n gawe mokerding. ‘n Fris boer kan met een hou maklik vier gesuiwerdes, of ses smelters buite weste moker. Dít, het wyle pa-Jan vertel, is hoekom so baie van daai stoele in daai treurige toestand is.

    En as Johny de Lange met daai voltreffer in die parlement op dr. Manie Schoeman gedink het hy het die resep uitgevind om iemand van party te laat verwissel, is hy maar laat.

    Soos ek die storie onthou, was daar die aand in Calvinia se stadsaal ‘n politieke vergadering, en in die skoolsaal nog een. As dit nie was dat pa-goed gesê het die Smelters het nog opvoeding nodig gehad nie, sou ek nooit geonthou het wie was in watter saal nie.

    Maar die Gesuiwerdes se spreker was, anders as die Smelters s’n, droog en oninspirerend. Heeltemal uit pas met die hitte van die politieke era. Ook nie lank nie, vlieg ‘n man in die gehoor op en skree: “Ek sê, kom ons los hierdie vergadering, en gaan d*nder die Smelters!”

    Die spreker ag dit sy plig om die grondbeginsels van demokrasie neer te lê. ‘n Rukkie is dit stil, maar toe is dit weer so. Nog ‘n ongeduldige lid van die gehoor wat meen dis veel aptytliker om die Smelters te gaan d*nder.

    Weer paai die spreker.

    Toe ‘n vyfde lid van die gehoor opvlieg en meen dis beter om maar hier te los en die Smelters te gaan regsien, is die spreker self half m*erig.

    “Wil jy my nou wysmaak jy sal ‘n Smelter regged*nder kry?”

    “Ja! Ek was ‘n Smelter, en hoe het ek reggekom? Ek is regged*nder! Ek sê ons los hierdie vergadering en gaan d*nder die Smelters!”

    Teen hierdie goed-beredeneerde logika, wat so suiwer uiteengesit is, had die spreker geen verweer nie. Die manne stroom uit, sommiges met die lang rye opslaanstoele onder die arm, en sit af skoolsaal toe.

    G’n niks ‘n gesissie-storie soos Julias wat die polisie opdrag gee om sy opponente te laat toesluit nie. Dis selfhelp-politiek op sy allerbeste.

    Later het die baie bekende storie ook uit hierdie dampkring ontstaan. Die referendum oor republiek of nie, is onderweg, en mense vir en teen die republiek reis die land vol en spreek vergaderings toe.

    Natuurlik werk dit nie vreeslik nie, want elke groep gaan luister na hul eie sprekers, en dus oortuig niemand vir niemand nie.

    Maar een maer mannetjie waag dit om by ‘n pro-republiek-vergadering op te daag.

    Toe die spreker sy storie klaar gestorie het, vlieg die mannetjie op, en skree: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!”

    Die spreker verduidelik geduldig, maar is net klaargepraat, dan vlieg die mannetjie weer op en gil: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!”

    So met die vierde opvliegslag had die fris tante wat reg agter hom gesit het, genoeg. Sy druk hom op die skouers plat, terug in sy stoel in, en toe sommer die stoel heel flenters, terwyl sy kliphard vir hom sê: “Sit str*nt, ék sal jou beskerm?”

    Hiermee is die argument vir die republiek toe ook gewonne.

    Pa-Jan en tannie SC het baie staaltjies van ds. / dr. Steenkamp vertel, maar dis ‘n storie op sy eie. Johan van Wyk, jare lank Volksblad se skrywer van die rubriek, Stop van Myne (nou Goeiemôre na die dampielus so teenspoed gekry het), het by geleentheid ook iets oor dr. Steenkamp as politikus se wel en weë geskryf.

    Sy groot verkiesingsbelofte was die bou van ‘n groot dam. Maar toe dr. Steenkamp verkies is, is hy vort Kaap toe en in sy kiesafdeling so skaars soos hoendertande. Die dam, nog skaarser.

    Naderhand is dit weer verkiesingstyd, en dr. Steenkamp maak ‘n slag sy opwagting. Die bloed kook behoorlik oor die beloofde dam waarvan niks gekom het nie. Met vraetyd is dit sommer die eerste vraag ook. Nou wat van daai gebeloofde dam?

    “Nee,” verduidelik dr. Steenkamp, hy was skaars in die parlement toe verduidelik hy die behoefte aan die dam. En daai dam was sommer dadelik so te sê gebou ook, toe breek die oorlog met die Duitsers uit.

    “Toe dink ek so by my sigselwers, maar as daai dam nou vol reën en die Duitsers kom en bombardeer daai dam, dan loop versuie al die goeie mense hier oor die Knersvlakte tot by die see. Ek sit toe dadelik af na die minister toe en pleit dat die dam tog nie gebou moet word nie.”

    Van Wyk skryf hiermee was die argument goed gewen, en die dak lig behoorlik soos dr. Steenkamp toegejuig is.

    Maar hierdie storie moet mens dalk nie te wyd laat loop nie. Netnou lees pres. Zuma dit, en gaan bedink hy iets om vir die massas te verduidelik hoekom hulle nou eintlik so geseënd is om sonder beloofde dienste oor die weg te moet kom. Soos: “Mense, dink net, as julle behoorlike dienste gehad het kon julle ook stort. En, so klink dit my na ‘n bohaai, stort werk nie teen vigs nie. Dink net hoe gelukkig is julle om in die basins te moet was.”

    Ja, nee, bring my enigiets oor vandag se politiek en ek sal bewys dat dit al ou, ou nuus in die Namakwaland in was.

    купить комплект верхней одежды для мальчикалобановский класс

  • Hoeveel onse in jou Afrikaanse pond?

    Hierdie opskrif van ‘n rubriek deur Die Burger se Dawie vang telkemale my oog as ek so ‘n vinnige blik oor die binnelandse pers werp – danksy die geleentheid wat die internet bied.

    Ek het dit gelees ook, en sou dalk ook ‘n eiertjie wou lê, maar daardie geleentheid is nie gebied nie. Dawie, so lyk dit, het ‘n dunnerige vel.

    Maar hy kan die lakens uitdeel, en dr. Pieter Mulder, dr. Dan Roodt en die onbekende boer wat Julius Malema by die internasionale strafhof in Den Haag gaan verkla het, kom onder meer onder die loep.

    Maar is die vraag oor wie die Afrikaner is, is wie namens die Afrikaner praat, al opgeklaar?

    Dieselfde kwessie is pas op Praag se woernaal onder die loep geneem.

    In die Staatsregklas, in 1994, het die jong dosent ons probeer oortuig die Afrikaner kan nie aanspraak maak op ‘n entiteit wat homself staatkundig kan uitdruk nie. Sy het aangevoer die Afrikaner voldoen nie aan die vereistes vir ‘n regsubjek nie.

    Die aandklas, liberaal of regs of in die middel van die pad, was egter ‘n spul hardebaarde met tussen hulle ‘n streep regskwalifikasies wat al diep spore in die lewe getrap het. Sy weer, bloedjong en ‘n dissipel van Dirk du Toit wat pas sy ry as departementshoof gekry het om adjunk-minister in die ANC-regering te word. Ons klas het hieroor, en oor verskeie ander sake, oor haar geloop.

    Presies hoe verskil die Afrikaner nou van byvoorbeeld die Baske, die Koerde, die Vlaminge en ander wat ingevolge die volkereg vorme van staatkundige uitdrukking gekry het?

    En van wanneer af moet ‘n volk ‘n regsubjek, of regsobjek wees?

    ‘n Volk wat hom kultureel in kulturele organisasies uitdruk, is goed. ‘n Volk se kernkenmerk is immers kultuur, soos taal en godsdiens, en die goue draad hiervan loop diep in die Afrikanergeskiedenis, met Retief se manifes in die Grahamstown Journal as belangrike rigtingwyser.

    In ‘n onderhoud wat Naspers dié week met die nuwe AWB-leier, Steyn van Ronge, geplaas het word die element van Geloftevolk beklemtoon.

    Wat duidelik ontbreek, is ‘n tipe Afrikanerowerheid. Aanvanklik miskien iets wat funksioneel met die Joodse Raad vergelyk kan word. Die Afrikaner is tradisioneel ingestel op demokrasie, en daarom sal die owerheid demokraties verkies moet word.

    So ‘n Afrikanerliggaam, soos wat deur verskeie Afrikanerorganisasies in die vooruitsig gestel word met ‘n verkiesing wat vir volgende jaar beplan word, sal die kwessie van legitimiteit moet oorkom. Gaan Dawie die Afrikanerliggaam as verteenwoordigend erken? Gaan Helen Zille dit doen?

    Uiteindelik kan die belangrike vraag nie omseil word nie. Wie is die Afrikaner?

    Iemand, soos Koos Kombuis wat al by geleentheid as Afrikaner bedank het, sal waarskynlik nie in so ‘n aksie wil deelneem nie. Iemand wat homself as Afrikaanse definieer, en Afrikanerskap ontglip, sal hulself ook waarskynlik vrywillig uitskakel.

    Wanneer ‘n Moslem-adjunk-minsiter sonder om haar eers van die feite te vergewis onder Israel inseil, laat die Joodse Raad van Afgevaardigdes van hom hoor, en die skuldige sit met eier in die gesig en verdwyn effektief van die politieke toneel.

    Wanner ‘n boer tydens ‘n plaasaanval lewend agter ‘n bakkie aan gesleep en vermoor word, is daar ‘n gebrom en selfs ‘n aksie of twee. Dit haal nie eens al die Afrikaanse koerante nie. Word ‘n swart plaaswerker agter ‘n bakkie aangesleep, is daar ‘n groot beroering.

    ‘n Verteenwoordigende owerheid, met die legitimiteit van ‘n verkiesing agter die blad, kan nie so ligtelik van die tafel gevee word nie.

    slots loginФильчаков прокурор

  • Jeugdag: niks om te vier

    ‘n Volk wat nie in sy jeug belê nie, sorg nie vir sy toekoms nie.

    Dit is ‘n bitter ou waarheid, maar Sondag lui ‘n prominente opskrif in Rapport: “Vir die verlore jeug is daar niks om te vier.”

    Die man wat sy pen so in gal doop is Charles Malan, wat benewens as skrywer, ook deur sy werk by die RGN bekend geword het.

    Malan se inleiding lees: “Die jong mense van Suid-Afrika het bitter min om te vier op Jeugdag, behalwe verspeelde kanse, onbeholpe volwasse leiding en ‘n weldeurdagte jeugbeleid wat nooit ordentlik in werking gestel is nie.”

    Malan verwys naamlik na ‘n jeugbeleid wat in opdrag van die destydse president Nelson Mandela ontwikkel is. Aan die stuur van sake was dr. Van Zyl Slabbert wat onlangs oorlede is. Malan self was een van die medewerkers, en sy artikel toon ook die kenmerke van effense bitterbekheid – maar skynbaar met baie goeie rede. Die man wat dit moes implementeer was adjunk-president, en later pres. Thabo Mbeki, wat dit weer grootliks aan dr. Essop Pahad oorgelaat het.

    Die gevolge is daar vir almal om te sien. Die nasionale en provinsiale jeugkommissies het ontwikkel tot instellingts wat min meer moes doen as om prominente ANC-jeugleiers van salarisse – ruim salarisse – te voorsien. Die staatsfondse is dus ook grootliks op projekte ter ondersteuning van die ANC aangewend, hoewel onbekwaamheid wat die Ouditeur-generaal slapelose nagte besorg, dikwels die uitvoering daarvan in die wiele gery het.

    Die twyfelagtige hoogtepunt was waarskynlik toe die amptelike hoof-jeugdagvieringe by Botshabelo in die Vrystaat gehou is. Die hoosprekers was mnr. Jacob Zuma, wie se enigste amp destyds president van die ANC was, Julius Malema, met ‘n enigste amp om jeugleier van die ANC te wees, en Cosatu se Zwelinzima Vavi. Die enigste rol vir opposisiepartye was om uitnodigings te kry om na hierdie geleentheid met sy ANC-sprekers te kry. Die DA het hieroor by die Openbare Beskermer gaan kla, en na ‘n lang oponthoud het die OB bevind alles was pluis, maar dit moet nie weer gedoen word nie.

    Dié geleentheid sal veral onthou word vir Malema se “Ons sal doodmaak vir Zuma”, half ge-ego deur Vavi. Hierdeur is die simboliek van ‘n erg verdeelde Suid-Afrikaanse jeug ingelui.

    Die pleknamekomitee van Limpopo – ook ‘n werkverskaffer van die ANC-jeugliga – se optredes is vanuit ‘n versoeningshoek skrikwekkend.

    Op tradisioneel Afrikaanse kampusse waar studentepolitiek volgens politieke lyne bedryf word, is die vernaamste rolspelers dikwels die Vryheidsfront Plus Jeug aan die en kant, en die ANC-jeugliga en Sasco aan die ander kant. ‘n Party soos die DA wat onder die studente se ouers wye steun het, maak nie hond-haaraf nie.

    In die aanloop tot die sokkerwêreldbeker, met die vuvuzela al goed aangeskakel en die euforie op voorblaaie, het Afriforum Jeug nog ‘n titseltjie werklikheidskoors probeer aanskakel deur te wys op die onvanpastheid van die regering en Fifa se verheerliking van Peter Mokaba, die man van “Kill the Boer, kill the farmer”-faam.

    Die volwasse respons op die radikalisering van Mokaba se geesteskind. Malema, laat veel te wense oor om dit sagkens te stel.

    Pas het ‘n Nederlandse koerant in ‘n ellelange artikel die mantel van Suid-Afrika se ikoon van versoening vir die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen aangetrek. Hierdeur het hy ‘n buitelandse erkenning gekry vir die inisiatief om die Reitz-kwessie op ‘n ander manier te beredder as om die vier verhoorloos hul studies te ontneem en te laat verguis. Plaaslik verswyg die Engelse pers – anders as die pers in die buiteland en twee groot Afrikaanse koerante – dat die vier om verskoning gevra het.

    Nie dat Jansen almal se droomrektor is nie – soos die gedagte wat hy en sy omstrede studentedekaan koester om voortaan studentepolitiek volgens politieke partylyne te verbied. Dit klink al te veel na simptome in plaas van die oorsake aan te spreek. Die werklike oorsake is nie moeilik om te vind nie: volwassenes.

    автоинструмент купитьданильченко юрій броніславович компромат

  • Die fisiologie van die euforie se afloop

    Oor ‘n jaar van nou af sal politieke sosioloë en ander vakwetenskaplikes ontleed hoe die huidige sokkereuforie afgeloop het, en hoekom.

    Om nou reeds projeksies te maak is om ‘n mens se kop ver uit te steek. Dit bied egter ‘n uitdaging en sommige mense kan eenvoudig nie van ‘n uitdaging wegskram nie.

    Basies is daar potensieel drie uitkomste:

    • Die euforie behou momentum, en ‘n nasionale kohesie verdiep. Nasiebouers steek ‘n veer in die hoed.
    • Die euforie plat af, en die land is presies waar dit was, met die bevolking wat nie al te lekker met ander groepe stryk nie
    • Die euforie sit om in ‘n babelas, en die land is meer verdeeld en verskeur as tevore.

    Om ‘n projeksie te doen met enige hoop op sekuurheid, moet die fisiologie van die huidige euforie verstaan word. Hierdie fisiologie moet dan vergelyk word met die euforie wat tydens die rugby-wêreldbeker in Suid-Afrika geheers het.

    Daar kan min twyfel wees dat die Suid-Afrikaners aan die stuur van sake met die huidige toernooi voluit gaan om ‘n beeld van Afrikanisme uit te straal. Word na die buitelandse pers gekyk, is dit inderdaad die beeld wat uitgestraal word – die danse, die vertoon, alles is so Afrikasentries as moontlik voorgestel.

    Ook nie enige Afrikabeeld nie. Daar is byvoorbeeld min of niks te sien van die Afrikabeeld van die ou Nylbeskawing, die ander Noord-Afrikaanse beskawings soos die Kartaagse, die Ethiopiese en ander nie. Hierdie is die uitbeeld van wat Europa eeue lank as Donker Afrika ervaar het.

    Dié indruk word verdiep deur ‘n president met ‘n span vroue, ‘n president wat moeiteloos, afhangende van die okkasie, van annimisties na ‘n vorm van Christenskap spring, ‘n reinigingseremonie met sangomas, ‘n tradisionele beesslagting – weliswaar taamlik uit die openbare oog gehou.

    Terwyl dit ‘n soort toerismeattraksie aan buitelanders bied, is dit vir diegene wat hier ‘n florerende land probeer bou eerder kommerwekkend.

    Met die rugby-toernooi was die beeld en ervaring nog veel meer verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling. Dit het ‘n tipe middelgrond gesoek waarom euforie gebou kon word.

    Hoekom dan die huidige euforie by diegene wat opsigtelik uitgesluit word?

    Een oorstelpte nuuskommentator meen die moeilikheid lê by die politici, nie by die mense waar ‘n groot poel van goeie gesindheid nou ontgin word nie. Die land verdien ‘n slag ‘n breek, meen sy.

    Sosioloë sal lank besin oor die kwessie van groepsdruk, soos binne werksplekke. Hier en daar iemand wat graag lyf wegsteek wat die kans as verskoning benut – te lekker om jolyt te hou om nou te moet werk. Dis iemand anders wie se onderneming skade ly.

    Kleintjies kom met fufuzelas van die kleuterskool af, waar juffrou hulle goed “opgesaaik” het. Die buurman wil iets met daai fufuzela maak waarop die arme kind se ouers half teë sal wees.

    Dit is so dat die land – die ingeligte deel van die land – nou al baie lank met slegte nuus gebombardeer word. Slaggate, sinkende munisipale dienste, ‘n president wat ‘n internasionale verleentheid is, misdaadsyfers (gekook of nie), ‘n oneindige stroom korrupsie wat skynbaar sekere mense onaantasbaar laat, regstellende aksie sonder einde, en erg polariserende optredes deur onder andere die heer Malema wat uiters onkonstruktief deur die regering aangespreek word. Nou bied die euforie ‘n soort kits-doepa, en ontsnapping van die verstikkende werklikheid.

    Sosioloë sal ook eendag ontleed of, byvoorbeeld binne die wit gemeenskap – mans en vroue oor die algemeen verskillend op die euforie gereageer het. Op die oomblik lyk dit of dit – in sommige dele van die land in elk geval – nogal so kan wees. In my eie omgewing (en dis geen wetenskaplike opname nie) is die vlaggies op motors en ander kenmerke van euforie, bykans uitsluitlik op motors wat deur jong vroue bestuur word. Op die TV-beelde van die jolkolle, behoort omtrent al die wit gesiggies aan jong meisies. En as hierdie waarneming reg is, hou dit dalk verband met die feit dat wit vroue, nomineel anders as wit mans, van regstellende uitgesluit is? Het vroue oor die algemeen ‘n ander nuusbelangstelling, en word aan ander nuusbronne blootgestel?

    Op die oomblik is die verstaan van die fisiologie van hierdie euforie grootliks raaiwerk.

    Wat minder raaiwerk behels, is die werklikheidsomgewings waarin die rugby-wêreldbeker toernooi hier te lande, en die huidige sokkerbeker hom afspeel.

    Die rugbytoernooi het gevolg kort na die aanbreek van die nuwe bedeling. Internasionale isolasie is verbreek, en die “witmansport” het as versoeningsgebaar na swart landgenote uitgegaan. Die destydse president het, Nelson Mandela, was ‘n internasionale ikoon. Hy het ‘n Springboktrui oor die kop getrek, en self die simbool van versoening geword. Infrastruktuur is ingespan wat die land nie agterna ekonomies mank sou laat nie.

    Die Springbokke is as wêreldkampioene gekroon.

    Die teoretiese prognose vir ‘n draende impak van die euforie was goed.

    Was goed …. maar nie lank nie, toe roer die Komphelas, Neels van Rooyens, Thabo Mbeki se kop werk anders, Jimmy Manyi word gebore, Peter Mokaba word gekoester, Julius Malema kom op die toneel. Sommer gou na die rugbytoernooi bevind Pansat dat die regering self die grootste oortreder van taalregte is. Regstellende aksie skop in, emigrasie volg, broodwinners wie se kanse uitloop moet hul gesinne hier los en in lande soos Nigerië, Irak, Abu Dhabi, Angola – haas enige denkbare plek op aarde dikwels gevaarlike werk gaan doen of krepeer.

    Blanke Afrikaanse joernaliste wat gelukkig genoeg is “om in te kom” by betalende mediaposte, vergeet gou hoé gelukkig hulle is, en van daar bedinges hulle almal wat nié so gelukkig was nie. Sielkundiges sal weet of dit ‘n geval is van hul eie onsekerheid verdoesel in ‘n onbedoelde meerderwaardigheid. Blote grootkop kry het gewoonlik nie die geniepsigheid ook tot gevolg nie. Dit maak diegene vir wie die “dice” verkeerd geval het, nie meer gewillig om onbeskroomd die post-Madiba-SA te omarm nie.

    Die omgewing buite Suid-Afrika het ook baie verander.

    Met die rugby-toernooi was die persepsie sterk dat daar nou niks slegs meer uit Suid-Afrika kon kom nie.

    Maar daar het. Suid-Afrika het ‘n katastrofale vakansie in die voorsitterstoel van die VN se Veiligheidsraad gehad, en daardeur die klem op die land se voorliefde vir muishondlande geplaas. ‘n Liederlike wapenskandaal het gevolg, en is onder die mat gevee waar dit steeds prut.

    Maar die kersie op die koek was die opkoms van Jacob Zuma. Genoeg om te sê die opmerking van die leier van ‘n klein partytjie in Suid-Afrika dat Zuma se sekslewe, toe hy ‘n bloedverwantskap met die sokker gesmee het, herinner aan ‘n Tiger Woods, Bill Clinton en Henry VIII is een het dwars oor die wêreld die media gehaal.

    Kultureel is die Afrikaner en Afrikaanssprekende uit die toernooi geweer. In teendeel, Peter Mokaba van “Kill the Boer, Kill the farmer” word verheerlik. Druk op pleknaamsveranderings breek sommer vlak voor die aanbreek van die toernooi aan. ‘n Mens sou verwag dat ‘n hele aantal adviseurs en beeldpoetsers agter die skerms werk om sulke katastrofes te voorkom. Indien wel, en daar is soveel polariserende blapse, hoe sal dit nie na die afloop van die toernooi gaan nie?

    In skrille kontras met die Afrika-kultuur wat uitgebeeld word, word Engelse taalimperialisme nou op groot skaal gepleeg. Engels is die algemene spreektaal van maar ‘n handjievol deelnemende lande, waarvan die helfte na verwagting vroeg hul tassie gaan pak.

    In vandag se Rapport wys Charles Malan op die hopelose vooruitsigloosheid van die (swart) jeug. Hy voeg onbevoegde politieke leierskap in die roerpot. Dit lyk dus nie of dit net die Afrikaner, of it bevolking wat ‘n euforie-babelas gaan oorhou nie.

    Opsommend:

    Met die rugby-toernooi was daar ‘n veel groter dosis redelikheid teenwoordig om te verwag dat die euforie in blywende versoeningsaksie sou uitloop.Toe was die toekomstige verloop nog grootliks onbekend.

    Nou is daar minder onbekendes. Na afloop van die toernooi gaan die Komphelas en Malemas steeds daar wees. Jimmy Manyi ook, hoewel nou in “verminderde kapasiteit.” Zuma gaan minstens nog ‘n paar jaar vasbyt, en dit is bykans seker dat hy met nog verrassings vorendag gaan kom.

    Dit lyk of die land nog vreemder gaan word.

    In die rolprent, Excaliber, sê Merlin vir ‘n vrou wat ook druïde-aspirasies koester: “Ons tyd is verby. In die plek van die baie gode kom daar nou een God.”

    Met die openingswedstryd roep ‘n swart kommentator in ekstase: “This is the Africa of the African gods.”

    Oor Europa waai die wind nou wes. Die tyd van die Joop den Uyls en Olaf Palmes blyk nou in vergetelheid te verdwyn, terwyl die nuwe generasie leierskap opeis dat Afrika sy korrupsie moet staak – al wil Zuma nog moraliteit herdefinieer om dinge wat hy as aanvaarbaar beskou, deel van die openbare moraliteit te maak.

    Om nou rug styf te maak vir moralitetsnorme, wat opgeskerp is na die debakel van die wêreld ekonomiese krisisse, kan veel kopsorge tot gevolg hê as die toernooi se rekenings arriveer en betaal moet word.

    Die euforie het ‘n beter prognose om erge babelas op te lewer.

    Miskien ek verkeerd. Die tyd sal leer.

    Ek is egter nie al wat nou al projeksies probeer maak nie. Soos gebruiklik met wêreldsokkerbekertoernooie verskyn daar internasionaal ook verskeie sokkerboeke. Sommiges is tegniese handleidings, ander suiwer sport-histories, maar daar is ook wat in diepte na die geskiedkundige en politieke omgewing kyk. Een is Hard grass van Simon Kuper. Hoewel Kuper se ouers in die jare sestig Suid-Afrika verlaat het, het Simon dikwels by sy grootouers kom kuier. Sy boek fokus baie op die apartheidsjare, en is baie idealisties oor die impak wat sokker op nasietrots kan hê.

    ‘n Boek wat waarskynlik meer objektief na sake kyk, is Edwin Schoon se “Macht om de bal.” Schoon, ‘n skrywer van verskeie boeke, is ‘n oud-joernalis en was onder meer die redakteur van Trouw. Hy wys daarop hoe diktators soos Idi Amin, Mobutu Sese Seko en Kamuzu Banda die gewildheid van sokker gebruik het om hul diktature te kon verdiep. Sport (of dan die euforie daarvan) is vir die bevolking een van die min uitlaatkleppe en kan hulle van onder meer hul armoede vergeet. Dit word versterk met, wat hy die Kuifie-agtige soort mediaberiggewing noem. (Verwysend na die Belgiese strokieskarakter wat in die oorspronklike Frans as Tintin bekend staan.)

    і гри для дівчатtopcargo развод

  • Media-“stringers” en die propaganda-oorlog

    Israel is onlangs wêreldwyd en bykans uit een mond veroordeel toe ‘n ses skepe met noodvoorraad vir Gaza onderskep is. In die skermutseling wat op een boot uitgebreek het, was daar ‘n aantal ongevalle.

    Geleidelik dring ‘n ander prentjie tot die wêreld deur. Aan boord van dié skip was ‘n aantal aktiviste wat gehoop het om konfrontasie met die Israelse magte af te dwing, en boonop as martelaars te sterf. Geleidelik begin Israel se beeld weer kop optel.

    Maar wat gebeur agter die skerms? Israel sou waarskynlik geen hond-haaraf gemaak het as Mossad, regstreeks of via die regering, die werklike feite op die tafel sou plaas nie.

    Oor ‘n paar jaar sal die rol van sogenaamde “stringers” bekend wees.

    Oor presies wat “stringers” is, is daar meningsverskille. Oor die algemeen word na iemand as “stringer” verwys as hy ‘n ad hoc-taak iewers vir die koerant moet verrig wat hom spesifiek daarvoor huur.

    Binne die intelligensiegemeenskap het dit ‘n algeheel ander betekenis. Soms verwys dit na ‘n joernalis wat in diens van ‘n koerant is, maar vir ‘n intelligensie-agenskap – darem sy eie land s’n) inligting help versamel. Dit kan selfs gebeur dat hy as joernalis na gebiede gestuur word waar die intelligensie-agentskap ‘n behoefte aan inligting het.

    Normaalweg word egter onder ‘n “stringer” verstaan iemand wat intelligensie-agentskappe van tyd tot tyd gebruik om berigte en artikels in media wêreldwyd te “plant.” Op die oog af kom die berig of artikel uit die “stringer” se eie pen, maar in werklikheid is die feite – en soms propaganda – baie ver daarvandaan deur ‘n intelligensie-agenskap voorsien.

    Nie baie agentskappe erken dat hulle hiervan gebruik maak nie. Teen 1973 het die CIA, volgens die Washington Post, reeds meer as 30 “stringers” in die buiteland gehad. Die eerste bekende “stringer” van die CIA was Joseph Alsop wat in 1953 in die Filippyne gaan nuusdekking doen het. In die volgende kwart eeu sou meer as 400 “stringers” al ingespan word.

    Teenoor die Amerikaanse senaat het die CIA erken dat hy soms “stringers” gebruik, en bygevoeg dat bykans elke ander agentskap ter wêreld dieselfde doen. Trouens, daar is skrywers wat beweer dat die CIA is in beheer van elke beduidende nuusagentskap ter wêreld is. Hul rol in ‘n sensiteringsaksie (om ‘n land se inwoners tot ‘n regeringsverandering te beïnvloed) is groot.

    Die “stringer”-sage raak egter werklik interessant as Israel ter sprake kom.

    Hoewel internet-verwysings na Mossad se gebruik van “stringers” volop is, is hierdie bronne nie besonder behulpsaam om ‘n prentjie van media-stringers op te bou nie. Die internetberigte verwys gewoonlik na Mossad-stringers as moordenaars wat gestuur is om gesoekte terroriste “uit te haal,” soos die onlangse moord op ‘n Hamas-leier in Dubai.

    Maar tog is min lande so goed geplaas om van stringers gebruik te maak soos juis Israel. Daar is miljoene Jode in diaspora, onder andere in die VSA, en Joodse sakelui het soms beduidende belange in sakereuse met mediabelange.

    Israel het ook ‘n program om buitelandse joernaliste op staatskoste na Israel te bring. Verskeie Suid-Afrikaanse joernaliste het al sulke ekskursies te beurt geval, soos Leopold Scholtz enkele jare gelede, en onlangs weer ‘n groep waaronder Rhoda Kadali en ook Johannes de Villiers van Rapport. Min word onaangeraak deur die gebeurtenis, soos Kadali wat selfs onder skerp kritiek deurgeloop het toe sy in haar daaropvolgende rubriek ‘n besonder sterk pro-Israelse standpunt ingeneem het.

    Hulle word egter nie noodwendig as “stringers” gewerf nie, maar die projek bied ideale dekking om potensiële of bestaande “stringers” ook na Israel te bring en die prosesse te fasiliteer.

    ‘n “Stringer” is egter slegs van waarde solank sy rol as “stringer” nie bekend is nie. Dit moet werklik lyk of hy deur goeie nuusinsameling die potente inligting uitgesnuffel, en in ink verewig het. Daarom kos dit ‘n geoefende oog om “stringers” te identifiseer. Word ‘n moontlike “stringer” uit die karakter van ‘n artikel agtergekom, is dit ‘n bykans onbegonne taak om uit Google agter te kom of die persoon inderdaad ‘n “stringer”-profiel het. Byna sonder uitsondering sal so ‘n persoon – as al die duisende stukkies bymekaar geplaas is, se naam aan ‘n paar groot koerante, bv in die VSA, gekoppel wees. Hy sou ‘n ruk by ‘n Israelse instelling gestudeer het of lesings aangebied het, en daar sal verskeie ander joernaliste met dieselfde naam wees om die prentjie erg te verstrengel. In die proses is daar letterlik derduisende trefslae. Uiteindelik sal dit blyk dat die een vir wie ‘n duidelike Israelse band geskep is, nie die een is wat die “stringer” is nie maar ‘n naamgenoot.

    Soms is die pogings om ‘n propaganda-omkeer te veroorsaak baie naby aan komies. Na die Israelse inval in Gaza is die “stringers” uiteraard in werking gestel. Die lesers kan self oordeel oor die volgende weergawe: Somaliese seerowers (toe behoorlik as varke in die wêreldmedia voorgestel) speel “vermoedelik” ‘n belangrike rol om wapens uit Iran via die tonnels tussen Egipte en die Gaza-strook by Hamas te kry. Selfs die roete van hoe hierdie wapens sou loop, wat ‘n behoorlike ompad na die seerowers insluit, word geskets.

    Terwyl niemand sal twyfel dat wapens van Iran Hamas via die tonnels bereik nie, wil-wil dit darem net bietjie opsigtelik lyk of die wapensmokkelary net ‘n titseltjie ekstra met die teerkwas bygedam is deur die seerowers ook te betrek.

    Maar enigiets is seker moontlik…

    Terwyl amateur “stringer”-vangers die internet as stokperdjie deurkruis en elke moontlike leidraad opvolg, is dit seker moontlik dat ‘n paar wat as prominente ondersoekende joernaliste bekendheid verwerf, ontmasker kan word. Die meeste sal egter bietjie meer onder die nuusagentskappe se stof wegraak.

    Is Israel verkeerd om “stringers” te gebruik?

    Dit het ‘n pragmatiese en ‘n beginselantwoord. Die pragmatiese is gewoon dat, soos die CIA dit stel, almal dit doen. Die beginselantwoord is komplekser. Die waarde van persvryheid lê juis daarin dat dit nuus sonder bymotiewe, onbevange moet openbaar. So word dit wyd as vierde been, weliswaar informeel, van die demokrasie gereken. Om hierdie rede knyp media-instansies, soos Verslaggewer sonder grense, bykans sonder aansiens des persoons oë toe om ‘n verslaggewer te beskerm wat deur ‘n regering gearresteer of geteister te word.

    Sou Verslaggewers sonder Grense dit met dieselfde entoesiasme doen as hulle sou weet dat die persoon eintlik die vryheid van die media benut om ‘n agenda te bedryf – selfs moontlik vir ‘n regering wat mediavryheid erg onderdruk?

    casino onlineДанильченко Харьков

  • Herrie se kerrie: Boererate teen fufuzelas

    Jare gelede is ‘n skatryk boer oorlede. Met die lees van die testament blyk dit die nasate erf ruim aan plase, aandele, ‘n strandhuis, kontant, vee en vele meer. Die jongste word egter nie hier genoem nie.

    Uiteindelik kom die jongste in die testament darem ook aan die beurt:”Freddie, my jongste. Pa het jou nie vergeet nie. Aan jou bemaak ek ‘n rol doringdraad. Dit is al wat jy nie deur jou agterent getrek sal kry nie.”

    Dié storie net as aanloop om by dié deel van die anatomie te kom wat in die meeste boererate teen vuvuzelablasers aan die beurt kom. As ‘n man so na dié boereraat kyk, sou ‘n mens reken dat ‘n dokter wat adverteer dat hy nou so ‘n danige yster is met die verwydering van vuvuzelas daar, dan dink ‘n mens kon hy skatryk word.

    Maar die dag na die groot opening is dit heelwat stiller hier in Herrie se omgewing. Miskien het die feit dat Herrie ‘n aar gebars het en buite gaan bulder het hoe Herrie dié boereraat gaan implementeer, iets daarmee te doen. Miskien het knapie wat die naaste was se eie pa ‘n aar gebars…

    Maar Herrie lees dié blasery is rof op die lippe. As ‘n mens nou so ‘n dag lank jou eie gehoor aangetas het, word die lippe, en skynbaar nie die ore nie, eerste seer.

    Of miskien het dit iets gemeen met Tolla se storie van die troep wat ‘n boksie mêkies wil koop vir ‘n dampie agter die brandstoftenks. Die winkelassistent skandeer die boksie: “R35,00” seg sy.

    Die troep maak beswaar. Maar die assistent hou vol. As die boksie geskên is en die “till” sê R35, dan is dit R35.

    Die troep se rooklus verdamp. “Jy weet natuurlik waar jy ‘n R35se boksie mêkies kan indruk. “Nee, dit kan ek nie doen nie. Daar is reeds ‘n R85 se komkommer.”

    Mev. Herrie kry ‘n selfoonvideo. Dis ‘n ou op ‘n motorfiets, met ‘n fufuzela wat agteruit steek (by die ou, nie die motorfiets nie), met byklanke en al. Ons stuur dié “boodskap” vir oudste wat die vakansie op ‘n wildsplaas werk aan. Die aand laat weet hy dit veroorsaak pandemonium. Dis na mense op die naaste groot dorp aangestuur en daar is dit nou al wyd en syd gestuur.

    Van die boererate wat omgestuur word, sal beslis werk, maar dis minder ordentlik om dit aan te stuur. Van die rate is so doeltreffend, meen Herrie, die blaser sal op slag sy blaaslus verloor. En ja, Herrie het die beproefde raad gesien van waar ‘n mens die blaser met die paintballgeweer kan skiet. Dis gewaarborg om, by wyse van spreke, die blaser ‘n ander deuntjie te laat uiter. Iets wat die fufuzela se geluid soos musiek in die ore laat klink.

    Ander is heel mak, soos om die ding om die blaser se nek te knoop. Ander meen om dit by die een oor in te druk, sodat dit anderkant uitkom, sal g’n skade aanrig nie, want iemand wat so aangaan met die ding het waarskynlik net een breinsel, wat hy met so vier of vyf ander blasers deel.

    Party is meer kreatief. Soos die een waar ‘n mens vir die ou by die werk wat jou so boor ‘n fufazela persent gee. Gaan blaas dan ‘n paar keer ‘n fufuzela voor daai ou se kwaai buurman se huis, en laat die wette van die natuur aan hulself oor. Omtrent soos die tingerige outjie by die skool wat geleer het hoe om die boelies op hul plek te sit. Skeur net die boelie se hemp, dan wiks sy ma hom.

    Herrie het ook oorweeg om ‘n fufuzela te bekom. Dalk sal Mev. Herrie hom dan toelaat om die enigste instrument wat hy kan speel, die blokfluit, te speel wanneer Herrie dit eendag weer raakloop waar dit dié keer weggesteek is. Maar net een kyk het Herrie van dié plan laat afsien.

    Blaas, blaas, Herrie se storie is uit.

    onlineФільчаков прокурор

  • Sambrele vir ‘n begrafnis

    Die mense wat hierdie storie oorgekom het, is vreeslik, maar vreeslik sensitief hieroor. Dus sal ek hulle maar ‘n ander identiteit verskaf.

    Soos dit met gesinne gaan, raak ‘n gesin naderhand uit sambrele uit. ‘n Hele Vrystaatse winter maak dit gewoonlik nie saak nie, en as die lentereëns nog wegbly, kom ‘n mens gewoonlik eers die moeilikheid agter as dit die dag bejaarde swart dames met knopkieries reën, en mens iewers heen in die oopte moet gaan.

    Oom Anneries en tant Marié sou stellig nog nie die moeilikheid agtergekom het nie, maar ‘n familielid is oorlede, en hoe nader dit aan begrafnistyd kom, hoe meer lyk dit na reën, Vrystaatse winter of te not. Al te dikwels lyk dit of die werklike reën ook net wag vir ‘n groot begrafnis.

    Dus, toe hulle by familie in die stad kom, is hulle na ‘n bekende negosiewinkel waar ‘n mens gereeld winskopies kry.

    Sambrele ook, spotgoedkoop, en dus word sommer twee geneem.

    Terug op die plaas, voor na die begrafnis vertrek word, word die sambrele oopgemaak om te kyk of hulle darem werk, en ‘n mens hul meganismes nou mooi verstaan dat mens nou nie in die triestigheid moet loop staan en sukkel nie.

    Die eerste sambreel skiet foutloos oop. Te pragtig, en oom Anneries wonder nog hoe dié gedoente nou so ‘n winskoop kon geraak het. Toe sien hy dit. Mooi groot staan daar “Jomo Cosmos” op geskryf.

    So ‘n sambreel mag miskien vir iemand anders by ‘n begrafnis deug, maar nie vir oom Anneries en tant Marië nie.

    Boonop was die oorledene nou wel nie ‘n ingeskrewe lid van die Kappiekommando nie, maar al haar simpatie het by dié dames gelê.

    Nee, daai sambreel sal nie deug nie.

    Half teen sy beterwete is oom Anneries hoopvol met die tweede sambreel se oopmaak. Wat kan immers erger wees?

    Maar sommer so met die oopgaanslag pryk die kopbeen, gevolg met Orlando Pirates. ‘n Kopbeen-sambreel by ‘n begrafnis!

    “Nôttendêm!” brul oom Anneries en veeg die sambrele van die tafel af. Dan reën hy en die tante liewers dwarsdeur sopnat, tot op sy fondament as dit moet. Ysreën ook as dit daarop aankom. Hy is liewers dood as om met dié sambreel gesien te word.

    Kort hierna kry die huishulpe onverwags ‘n geskenkie. Dié twee, so kort voor die Bafana Meksiko die stryd aansê, is al te in hul noppies. Hulle het nie geweet baas Anneries en mies Marié is ook in die “feeling” –gedoente in nie.

    Gelukkig, met die begrafnis het dit nie gereën nie. Maar so met die wegtrek by die begraafplaas toe klik-klik die ysreën saam met yskoue reëndruppels op die kar.

    магазин детских куколалександр лобановский супермаркет класс

  • Gaan die uitslag van die Nederlandse verkiesing België se einde verhaas?

    Gaan die uitslag van die Nederlandse verkiesing België se einde verhaas?

     Die Nederlanders het hul kruisies getrek – of ‘n “skrale “ 74 % van die kiesers

    Die sterkste party voor die verkiesing, die Christen-Demokratiese Appèl (CDA), het sleg teruggesak. Saam met hom het die ChristenUnie (CU) steun verloor.

    Beteken dit die Christen-demokrate is op pad uit in ‘n streek waar dit lank ‘n sterk krag was? Is dit slegte nuus aan die vooraand van die Belgiese algemene verkiesing waar die aanduidings ook is dat Christen-Demokrate gaan bloei ten koste van “regse” partye?

    Weer eens. Die Nederlandse pers sal gou vir ‘n buitestander verduidelik die Nederlandse politiek is veels te skisofrenies om te verstaan. Ook vir Nederlanders, as ‘n mens die wyd-uiteenlopende kommentare van kenners neem. Daar is niks van die selfversekerde bravade wat Suid-Afrikaanse kommentators kenmerk nie (en dikwels so in die kol is soos om die maan vir kaas aan te sien).

    Ook nie as ‘n mens na die leserskommentare op die internet kyk nie.

    Pas het hulle die regse party van Geert Wilders van 9 tot 24 setels aangehelp, maar om de dood of iemand sommer sal erken dat daar ‘n beweging na regs was. Die naaste wat hieraan gekom word is dat Wilders onverskoond en helder pro-Israel is, en anti-Islamities. Die partye van wie dié beleid eintlik verwag word, die Christen-partye soos die CDA en CU, was hieroor te verskonend.

    Die CU was waarskynlik die slagoffer van sy ou probleem. Kiesers wil graag vir die CU stem wat ‘n duideliker Christelike boodskap oordra oor sake soos aborsies en genadedood, maar as dit lyk of die groter CDA noustrop gaan trek, gaan stem hulle daar om die CDA uit die moeilikheid uit te stem.

    Dit meen baie lesers, was wat nou gebeur het. Die CDA was dié keer kniediep in die moeilikheid.

    Christen-demokratiese partye wêreldwyd het tradisioneel ‘n sterk simpatie met Israel. Toe die CDA en die CU hieroor kopsku raak, het kiesers eenvoudig gevoel dat hulle dan vir die party stem wat nié die beskroomdheid aan die dag lê nie. Niemand sê dit nie, maar die baie Moslem-immigrante het waarskynlik meer hiermee te make as ‘n besondere sagte plekkie vir Israel.

    Ander kyk meer mikroskopies na die saak. Premier Balkenende was te lank in die stoel. Hy was nog nooit baie dinamies nie, en nou ook nie. So iemand rook in die reël nie die pyp so lank as wat hy dit gedoen het nie.

    Soortgelyk, meen waarnemers binne die ChristenUnie, het hulle hul gewilde leier, André Rouvoet, te wyd aangewend. Hy was vise-premier, minister en partyleier. Boonop, as deel van die regering, kon sy party wat op ‘n reputasie van goeie administrasie probeer bou het, nie die negatiewe impak van ‘n regering vryspring wat foute gemaak het nie.

    Hoewel die liberale VVD as die sterkste party uit die stryd getree het, sou dit ‘n fout wees om die verkiesing as ‘n swaai na links te beskou. Die meer gematigde Partij van de Arbeid het ‘n knou weg, en die Sosialisteparty wat na die vorige verkiesing deelname aan die koalisieregering gebied is, word nou selde indien ooit in berigte genoem en nog minder bespreek.

    Trouens, die situasie herinner op die oog af aan dié van naburige Duitsland, waar Angela Merkel se CDU eers met die sosialiste in ‘n gedwonge koalisie moes verkeer, en toe na die volgende verkiesing dié meulsteen kon afwerp, en met die liberale in koalisie kon tree. Almal is dit eens dat dit ‘n swaai na regs verteenwoordig het.

    Of ‘n uiteindelike regerende koalisie in Nederland ook as ‘n beweging na regs beskou kan word, sal die tyd leer.

    ‘n Gedagterigting wat ook nie heeltemal uit die oog verloor moet word nie, is dat die Christen-demokrasie as ‘n oorgangsfase beskou kan word uit die era toe Nederland onder die bewind van Joop den Uyl ‘n werklike linkse hoogtepunt (of dalk eerder laagtepunt) bereik het. In hierdie permissiewe era het situasies ontstaan waarop die jonger generasie nie trots is nie. Met Calvyn se 500ste geboorteherdenking is in ‘n opname selfs gevind die jonger geslag Nederlanders is meer Calvinisties as hul ouers. Uiteraard kan die woorde wel uit Nederlands na Afrikaans vertaal word, maar om die dieptebegrip en konteks hiervan aan Suid-Afrikaanse lesers oor te dra, soos presies hoeveel godsdiens in so ‘n bevinding ingelees moet word, is ‘n ander saak.

    Teen hierdie agtergrond kan maar net bespiegel word watter uitslag in België verwag sal kan word. In die geval van Nederland was die vraag of Wilders so goed gaan vaar dat dit buite die kwessie sou wees om hom uit ‘n koalisie te sluit. In die geval van België is die vraag of België lank na die uitslag nog as ‘n staat kan voortbestaan.

    Hieroor kan ‘n mens bloot bespiegel, en terwyl ‘n mens dit doen kan ‘n mens net sowel die verbeelding laat koers neem.

    Op sy mees oppervlakkige klink dit of daar ‘n moontlikheid kan wees dat Nederland en Vlaandere kan saamsmelt. Die ou Rooms-Katolieke / Protestantse verdeeldheid is nie meer so sterk beklemtoon nie, en die grens sny verskeie provinsies, selfs met eiesoortige dialekte, deur die middel. Die meer waarskynlike is egter ‘n Vlaamse republiek.

    Op die oomblik subsidieer die meer welvarende Vlaminge die Franssprekende Wallonië met miljarde Euro’s per jaar. Sonder Vlaamse hulp is Wallonië dalk nie meer besonder lewensvatbaar nie, en die Franse is volgens opnames meer geredelik inskiklik om Wallonië in te lyf.

    Dit laat die vraag ontstaan: Met Vlaandere ‘n republiek of by Nederland ingeskakel, en Wallonië by Frankryk, waar laat dit die Belgiese koningshuis? Dié monargie word tradisioneel veel meer met die Franssprekendes as die Nederlandssprekendes geassosieer. Frankryk is tradisioneel ‘n taamlik gesentraliseerde staat, selfs wat ‘n oorsese provinsie soos Frans Guyana betref, en om ‘n koning oor ‘n provinsie, of direktoraat te laat heers, is moeilik in te dink.

    Daarbenewens in die hoofstad Brussels amptelik veeltalig, maar in die praktyk meer Franssprekend maar omring deur Vlaamse grondgebied. Hoe gemaak hiermee?

    Deur baggerwerk en ander ontwikkelings is Antwerpen in Vlaandere al tot ‘n heel geskikte hoofstad ontwikkel, en is die Vlaminge stellig nie besonder verleë om Brussel as hoofstad te behou nie. En dié soort scenario-sketsery slaan plek plek wyd met implikasies, soos Duitsland wat reeds begin bod insit dat Navo sy hoofkwartier na sy oud bondshoofstad, Bonn, verskuif. Weens die onduidelikheid oor Brussel se toekoms, word gefluister.

    Die kompleksiteit eindig egter nie daar nie. België het ‘n derde, belangrike bevolkingsegment, naamlik die Duitssprekende deel. Dis wel in omvang nie so groot en beduidend soos die Vlaamse en Franssprekende dele nie, maar dit is staatkundig verskans. As deel van België is hul idilliese omgewing nooit ver van die openbare oog nie, as deel van Duitsland is dit waarskynlik ‘n eenkant-randgebied.

    instagram clothing linesлобановский александр харьков

  • Minister sê georganiseerde landbou stryd aan oor grondhervorming

    Dit lyk asof georganiseerde landbou hom nou weer in dieselfde spanningsbootjie met die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, gaan bevind as in die dae van Lulu Xinwana en Dirk du Toit.

    Die minister het pas via ‘n artikel in Rapport die wittebrood met georganiseerde landbou opgeskort. Dit is egter haar begrip oor feite en verdigsels wat die weg vir konflik berei.

    Die eerste struikelblok is die persepsie dat georganiseerde landbou en kommersiële boere vir die slakkepas van grondhervorming geblameer moet word. Joemat-Pettersson beweer nog net 5 % van die 30 % wat teen 2014 oorgedra moet word, is reeds oorgedra. Georganiseerde landbou ontken dit, en staaf hul argumente met syfers.

    Joemat-Pettersson het vir haar ‘n yslike lat gepluk deur terug te val op die argument dat swart, bruin en Indiërboere in 1994 net 13 % van die land se oppervlak kon besit, terwyl wit boere die ander 87 kon besit.

    Bruin landelike gebiede wat saam ‘n baie groot oppervlak behels, het egter deel van die 87 % uitgemaak, soos ook groot natuurresrvate, staatsgrond soos staatsplase en weermaggrond, stedelike oppervlaktes en vele meer. Boonop kon, en het, swart mense reeds sedert 1991 voormalige wit plase opgekoop.

    TLU SA wys daarop dat die Ontwikkelinsbank in 2001 reeds bevind het dat die regering en anderskleurige boere saam 56 % van die land se oppervlakte besit. Georganiseerde landbou dring dus al lank op ‘n grondoudit aan, terwyl die regering vierkantig hierteen vasskop, en met sy syfers wat eerder op retoriek as feite geskoei is volhou.

    Onlangs was nog net 13 persent van die plase wat vir restitusie in die staatskoerant gelys is, oorgedra. Die departement van Grondsake het verskeie sake hieroor verloor, hoofsaaklik omdat die amptenare geweier het om kennis te neem van goed nagevorste inligting wat bewys dat die eise ongeldig is. Vrystaat landbou waarsku dan ook dat talle van die eise in die Ladybrand / Clocolan-omgewing is, en dat dié instansie oor die middele beskik om die onregmatige eise teen te staan.

    Die volgehoue persepsie wat geskep word dat boere en georganiseerde landbou die grondhervormingsproses weens teenkanting rysmier, word nie net ontken nie, maar die regering word vir die vasklou aan die persepsie verkwalik, en wys daarop dat Landbou die gevolge in die vorm van plaasaanvalle dra. ‘n Literatuurstudie toon ook gou dat alle landbou-organisasies al lankal en soms uit die staanspoor hulp aan die regering aangebied het, soos met mentorprogramme.

    Landbou reageer ook skerp op planne vir versnelde grondhervorming, soos beoogde onteiening, nasionalisering deur landbougrond as nasionale bate te verklaar en die onlangse 40 % swart aandeelhouding. Landbou is ook ongelukkig oor van die redes waarom meer wit grond oorgedra moet word. Van hierdie redes, soos dat swart landelike armoede bekamp moet word deur die uitdeel van lappies grond wat landbou-ekonome as die teelaarde vir armoede beskou, word aan die voed van populistiese verwagtinge eerder as die voed van die nasie toegeskryf.

    Die omvang van mislukte boerderye op oorgedragte plase, skep ook min vertroue in die regering se obsessie dat die pas van grondhervorming versnel moet word.

    Intussen speel die minister met vuur deur die Zimbabwe-grondgryp as afdreiging teen die landbou te hou. Dit word nie goed deur die boere ervaar nie.

    Die minister het die wittebrood opgeskort, maar sy kan haar kort voor lank in die egskeidingshof – in die vorm van hofsake ten planne – bevind. En tensy sy begin om die korrekte syfers eerder as historiese ANC-retoriek te gebruik, sal sy sleg daarvan afkom.

    Koppestamp oor grondhervorming kom na minister “wittebrood” met georganiseerde landbou opgeskort het

    Te veel mieliepap mors op die grond terwyl rolspelers sorgum met koring vergelyk.

    So kan die chaos in die grondhervorimingsprogram waarskynlik ten beste beskryf word.

    Terwyl daar ‘n obsessie by die regering is om nog ‘n groot hoeveelheid grond in wit besit na swart eienaars oor te dra, betwis verskillende rolspelers mekaar se syfers. Die regering meen ‘n stywe bult lê voor voordat die eerste mikpunt van 30 % teen 2014 behaal is, terwyl ander meen die 30 % persent is lank reeds verbygesteek. In ‘n onlangse artikel in Rapport het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, egter gesê nog net 5 % van die beoogde 30 % is reeds oorgedra.

    Ander bronne lui dat daar wel ‘n voeteslepery by die regering is oor grondrestitusie. Teen 2009 was nog net 13 % van die plase wat in die staatskoerant as restitusie-eise gelys is, oorgedra.

    Die regering skop soos ‘n steeks donkie daarteen vas om die stang vas te byt en ‘n grond-oudit te doen wat alle onsekerheid uit die weg sal ruim.

    Dit word in die praktyk dikwels weergegee asof blanke boere in 1994 saam 87 % van die land besit het, insluitend die voormalige tuislande, bruin landelike gebiede, nasionale parke, staatsgrond en ruimtes wat deur stede, paaie, spoorlyne en damme opgeneem word. Boonop het heelwat grond voor 1994 reeds in swart besit gekom na die groepsgebiedewet en bevolkingsregistrasiewette in 1991 opgehef is. Ook burgers van buurlande soos Lesotho het grond in Suid-Afrika gekoop.

    Dit is wanneer hierdie oppervlaktes by landbougrond in wit besit afgetrek word dat die prentjie baie anders lyk.

    Mnr. Ben Marais, president van TLU SA, stel dit so: “Die Minister wil die boere beskuldig dat hulle die oorsaak is dat daar nog nie 30% grond aan swartes oorgedra is nie, omdat hulle die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel gebruik het. Die staat beskik reeds tussen homself, Swartes, Kleurlinge en Indiërs oor 56% van die grond in Suid-Afrika, volgens demografiese studie vir die Ontwikkelingsbank in 2001. Steeds stu hy voort op inhalige wyse om nog meer grond skynbaar verniet te wil bekom. Dit was en is vir boere onaanvaarbaar. Natuurlik sal boere leun op die vryemarkstelsel om ‘n behoorlike waarde vir hulle grond te kry. TLU SA het bowendien ‘n redelike vermoede dat die regering in elk geval nie genoeg bekwame swart boere kon kry om op die grond te plaas nie. In terme van eie regeringsuitsprake het ongeveer negentig persent van die swart bemagtigingsprojekte in landbou misluk.”

    Ook Vrystaat Landbou koop nie die regering se aansprake oor hoe onwillig boere is om saam te werk, of oor hoe min gerond al oorgedra is nie. In 2009 het VL, by monde van sy hoofbestuurder. Henk Vermeulen, die saak so gestel: “Kwaadwillige stories word versprei dat boere nie grondhervorming steun nie. Landbouers, kommersiële boere en opkomende boere moet bemagtig word om voort te kan gaan om te boer. Vrystaat Landbou (VL) het 104 jaar lank verskillende regerings se aanslae op die landbou deurstaan en is gereed om die huidige aanslae, wat die voortbestaan van boere met onder meer onteieningswette bedreig, te staal. Mentorskap en opleiding vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou is ‘n noodsaaklike komponent waarby georganiseerde landbou betrokke moet bly.’n Ordentlike databasis oor grondhervorming en die hoeveelheid hektaar wat reeds aan opkomende boere oorgedra is, bewys politici se stellings dat boere teen grondhervorming is, is verkeerd. Die sowat 200 plase wat in die distrik Ladybrand reeds oorgedra is, bewys dat aantygings oor ‘n te stadige grondhervormingsproses nie water dra nie. Meer as 49 000 ha in die Vrystaat is reeds vir grondhervorming oorgedra. Grond wat wel deur boereverenigings se lyste van bereidwillige boere wat grond vir verkope aan onder meer grondsake vir grondhervorming beskikbaar gestel is, belooop sowat 12 000 ha, waarvan niks gekoop is nie.”

    Pas het Joemat-Pettersson, aangedui dat altesaam 98 plase wat sedert 1994 aan swart eienaars in die Vrystaat oorgedra is, onproduktief staan. Georganiseerde landbou gee onwilligheid om van Vrystaat Landbou se mentorskap gebruik te maak, grootliks die skuld.

    ‘n Afvaardiging van die Vrystaatse Wetgewer het tydens ‘n toer na oorgedraagde plase gevind die meeste nuwe eienaars het geen aspirasies om op die grond te boer nie. Hulle beskou dit as ‘n woonplek waarop ‘n paar beeste loop, en spandeer bedags hul tyd by hul werk in stede of in dorpe.

    Met Afrika wie se kosmandjie-vermoë die afgelope 40 jaar met ‘n vyfde afgeneem het, is die omskepping van produktiewe plase na onproduktiewe landbougrond nie ‘n opsie nie.

    In ‘n onlangse restitusiesaak in Noordwes is ‘n eis afgewys. Die grondeisehof het bevind dat die gemeenskap wat aanvanklik van die grond verwyder is, voldoende kompensasie, waaronder soortgelyke grond, ontvang het. Die hof het egter ook uitgewys dat die gemeenskap nie in die vermoë is om produksie op die grond wat geëis is vol te hou nie. In die betrokke saak het die Departement van Grondsake laat blyk dat bykans alle grondhervorming in die provinsie misluk het.

    Nogtans dwing die regering om maniere te vind om swart eienaarskap op landbougrond te verhoog, en dreig gereeld dat dit ten doel het om te voorkom dat ‘n Zimbabwe-tipe situasie hier ontstaan. Me. Joemta-Petterson druk die plaaslike potensiële drang uit as iets wat die Zimbabwe-situasie na ‘n Sondagskoolpiekniek kan laat lyk.

    Haar jongste voorstelle behels dat blanke boere 40 % swart aandeelhouding in hul landboubedrywighede bekom. Hierdie voorstel volg nadat verskeie kere aangedui is dat artikel 25 van die grondwet ‘n struikelblok bied om onteieningswetgewing van stapel te stuur.

    Artikel 25 is egter nie net ‘n gewone artikel in die grondwet nie, maar deel van die handves van menseregte, en is veranker in verskeie verdrae en die volkereg waarvan Suid-Afrika deel uitmaak. Selfs die vereiste meerderheid om die grondwet te verander gaan nie

    Tussenin is die gedagte ook geopper om landbougrond as strategiese bate te verklaar, wat min verskil van blatante onteiening, soos wat met mineraleregte (ingesluit bv ondergrondse water) gebeur het. ‘n Groenskrif hieroor sou in April vanjaar die lig gesien het.

    Terwyl die regering hamer op groter swart eienaarskap as eerste prioriteit, is die landbou se fokus op ekonomiese oorlewing, en ‘n veilige, stabiele omgewing te midde van klimaatsverandering.

    Joemat-Pettersson waarsku dat swart verwagtinge oor grond die Zimbabwiese grondgryp na ‘n Sondagskoolpiekniek sal laat lyk. Georganiseerde landbou blameer die ondoeltreffendheid van die Departement van Grondsake. Selfs wyle Dirk du Toit, het as adjunk-minister by geleentheid ‘n beroep gedoen dat georganiseerde landbou vertoë rig vir ‘n klagtedirektoraat in sy departement omdat sy eie kantoor nie met die klagtes kan voorbly nie.

    Die Grondeisekommissie het ook in die onlangse verlede verskeie hofsake verloor omdat hulle geweier het om van bewyse kennis te neem dat eise ongeldig is. Vrystaat Landbou het ook daarop gewys dat grondrestitusie-eise in die Ladybrand / Clocolan-omgewing ongeldig is, en dat sy organisasie oor die regsmiddele beskik om dit teen te staan.

    Boonop is Agri SA onderweg na die Menseregtekommissie met gevalle waar Grondsake in grondhervormingsgevalle, die waardasieprys vir verkopers geheim gehou het. Die boere aanvaar dan die aanbod wat hulle meen in ooreenstemming met Grondsake se waardasie was. Agterna blyk dit dat hulle hul grond ver onder die markwaarde vervreem het.

    Boere voer ‘n verskeidenheid redes aan oor waarom hulle hul grond onder markwaarde verkoop het. Sommiges beweer viktimisasie, en ander weer dat hulle van swak regsadvies bedien is in ‘n tyd toe die regering aangedui het dat hy onteieningswetgewing rondom restitusie ook na grondhervorming wou uitbrei.

    Na ‘n belowende begin het Joemat-Pettersson se glans gou verdof, en nou het sy verklaar die wittebrood is verby. Boonop het sy onrealistiese verwagtinge herhaal soos dat landelike armoede deur klein plasies en bestaansboerdery aangespreek moet word. Dit lyk eerder of die regering met die uitdeel van sub-ekonomiese eenhede populisme wil voed, eerder as die nasie met kos. Joemat-Pettersson se jongste gedagte is dat wit boere 40% aandeelhouding aan swart mense bied. Georganiseerde landbou het reeds op die onwerkbaarheid hiervan gewys.

    Sy het terselfdertyd in haar Rapport-artikel dit duidelik gemaak dat sy haar wittebroodstydperk met georganiseerde landbou opskort. Hierdeur skep sy die indruk dat die georganiseerde landbou in die verlede halsstarrig en onredelik was – iets wat duidelik blyk onjuis te wees met selfs die geringste literatuurstudie. Die stem van redelikheid blyk byvoorbeeld uit ‘n standpunt wat TLU SA reeds in 2008 gestel het: TLU SA bly daarop ingestel om vanuit die beginsel van privaat eiendomsbesit die regte en belange van die kommersiële landbouer met beskikbare middele te bevorder en te beskerm. Waar grondeise die reg van privaat eiendomsbesit in die gedrang bring, onderneem TLU SA om met die nodige verantwoordelikheid wyses te vind om reg en billikheid te laat geld. Wederregtelike aansprake op kommersiële landbougronde word bekamp en word gesorg dat die proses van grondeise, AgriSEB en besit van landbougrond nie tot die nadeel van die kommersiële landbouer en volhoubare landbouproduksie sal wees nie.”

    Of dr. Pieter Mulder as adjunk-minister genoeg invloed gaan hê dat gesonde verstand ook nog nes kan skop, sal net die tyd leer.

    to promoteФильчаков Александр Васильевич

  • Rubriekskrywers – die kuns om te slaag

    Van Zyl Slabbert en Rhoda Kadali as gevallestudies

    Met die bekendstelling van nog ‘n boek deur Blouwillem Theron tydens die Volksblad se kunstefees verlede jaar het die destydse redakteur van dié koerant Blouwillem geloof omdat hy na jare daarin slaag om vol te hou om vars en oorspronklik te bly met sy rubrieke. Baie rubriekskrywers, verduidelik hy, is na ‘n ruk opgeskryf en ‘n mens kom dit agter.

    Hierdie artikel is fokus op rubriekskrywers wat nie in diens van die publikasies is waarvoor hulle rubrieke lewer nie. Personeel wat ook as rubriekskrywers optree, word anders beoordeel omdat hulle in elk geval in diens is, en dus makliker met blapse en brak kolle kan wegkom.

    Hoe lank iemand “vars” kan bly hang natuurlik af van watter soort rubrieke ‘n mens skryf. Humorrubrieke is seker die moeilikste omdat ‘n mens se gemoedstoestand nie altyd reg is om oorspronklik te wees nie, en ‘n mens se reserwe aan snaakshede raak uitgeput.

    Politieke kommentare is ook uitdagend, omdat iemand baie maklik in ‘n groef kan val, veral ‘n negatiewe groef, en sukkel om daaruit te kom.

    Hoe koerante hul rubriekskrywers keur, is dalk ook ‘n ander deel van die verhaal.

    Vakrubrieke, soos oor motors en groen sake is dalk ietwat makliker want dit is die skrywer se belangstellingsveld, en dinge gebeur. Hy hoef nie die nuus te skep nie, hy moet dit bloot verstaan en interessant kan opdis.

    Koos Kombuis het by geleentheid – skynbaar verwysend na Deon Maas – geskryf hy beny soms Maas sy omstredenheid, maar dat hy die publikasie waarvoor hy skryf, se geldjie te nodig het. Soms klink Koos Kombuis baie na ‘n tipiese Afrikaanse gesinsman – konformerend ter wille van die mark waarvoor hy skryf.

    Dit is net ‘n klein persentasie van heel aanwendbare rubriekskrywers vir wie die meetsnoere in pragtige plekke val. Die meeste moet bekendheid via rubrieke of selfs ander harde kopie op hul valerige pense skryf.

    In die proses word Suid-Afrikaners (dalk) van ‘n rypheid idees gestroop, terwyl eentonige kafskrywers dikwels die beskikbare gepubliseerde spasie oorbeset en lesers die mure uitdryf. “Ek was so opgewonde toe ek sien hoe dik vandag se koerant was, maar vyf minute later het ek alles gelees wat ek wou lees en selfs ‘n paar advertensies net om die tyd om te kry.”

    Dit is wanneer ‘n redakteur ‘n fiksasie oor ‘n sekere rubriekskrywer het, maar wat nie deur die lesers gedeel word nie. Of die helfte van die koerant wat handel oor ‘n sekere party se kongres wat met foto’s en leidende opskrifte en ander tegnieke opgedis word, maar dis nie jou party nie en jy blaai hoogstens geïrriteerd daaroor.

    Soms word die rubriekskrywer in die steek gelaat deur die “sub” wat die “koppe” skryf. Koppe opsit is ‘n dikwels onderskatte kuns.

    Hoofsaaklik twee tipes koppe word onderskei – die leidende en die opsommende. In ongeïnspireerde publikasies is opsommende koppe die hoofnorm. Omdat die gemiddelde leser lui is, kom hy gou agter hy hoef net die opskrif te lees en weet dan basies alles wat in die berig / artikel / rubriek staan.

    Die leidende prikkel die leser om te lees. (Dieselfde geld die intro’s).

    ‘n Ander manier waarop ‘n skrywer deur die kopskrywer in die steek gelaat kan word, is as die kopskrywer die item nie behoorlik lees nie, dit nie verstaan nie, of bevooroordeeld is. Onlangs was daar ‘n rubriek in Die Burger waar die opskrif gelui het dat geen groepdenke aanvaarbaar is nie.

    Op sig het dit nie sin gemaak nie, aangesien dit buite die normale norm van die betrokke, hoogs belese skrywer geval het. Eers by die tweede lees van die artikel (die eerste keer te erg beïnvloed deur die kop) sou die gemiddelde leser besef dat die kop hoogs misleidend was.

    Humorskrywers wat ‘n langer rakleeftyd het, is gewoonlik diegene wat ‘n dieper sin vir humor het – dikwels droë humor – as een wat eintlik maar net vlak grappies aanmekaar las om ‘n rubriek op te som. Die vlak grappies slaag die eerste uitgawe, dalk die tweede, maar dan begin die gemiddelde koerantleser bietjie “op” raak vir die vlakheid. Bietjie tussen die lyne, woordspelings, goed geolie met verteltrant, ‘n storielyn en ‘n ontknoping is wat die duursaamheid verseker.

    Politieke rubriekskrywers se eerste fout is dikwels om met die invalslag kant te kies. Die res van sy relaas is dan noodwendig subjektief. Dit pas gewoonlik net in ‘n politieke debat waar ‘n publikasie twee of meer standpunte naas mekaar stel.

    Die suksesvolle politieke rubriekskrywer sal iewers ‘n onverbonde staanplek kry, en van daar verskillende standpunte opstel, politiek-wetenskaplik ontleed en dan miskien ‘n eie, gemotiveerde, voorkeur uitspreek.

    Hierdie lang aanloop om te kom by die afsterwe van dr. Van Zyl Slabbert, en kritiek wat die rissiepit van rubriekskrywers, Rhoda Kadalie onlangs in internetkommentare op ‘n rubriek gekry het. Slabbert het tot sy dood sukses gesmaak, Rhoda het pas ‘n knou weg.

    Slabbert was nie primêr bekend as rubriekskrywer nie,maar hy het genoeg opgelewer dat ‘n mens na sy invloed kan kyk.

    Hy het waarskynlik meer as enigeen bygedra daartoe dat politieke sosioloë ‘n lang, brak tyd op die Suid-Afrikaanse meningsvormingsterrein beleef het. In Suid-Afrikaanse heterogene samestelling is die impak van politieke sosioloë van kardinale belang. Slabbert self het nie klassiek op hierdie terrein ‘n rol gespeel nie, hoewel hy ongetwyfeld goed gekwalifiseerd was om dit te doen. Sy rol kan moontlik beter beskryf word as sosio-politikus. ‘n Politieke sosioloog, per definisie weens die vakgebied sosiologie, weeg die dinamika’s van groepe eerder as individue in ‘n samelewing op. As liberalis met die fokus op die individu het dit nie die klem by Slabbert gekry wat van ‘n sosioloog verwag sou word nie. Trouens, toe hy stem dik maak oor die behoud van Afrikaans by die US, was daar stomme verbasing in liberale kringe wat dit nie van hom sou “verwag” nie. Maar oor die algemeen word hy nou nadoods hoog aangeslaan. Trouens, baie van die lofuitings was so gou by die pers, dat ‘n mens met ‘n stok kan aanvoel dit is nie behoorlik deurdink nie.

    Onlangs was daar weer ‘n ligte opflikkering van politieke sosioloë in koerantrubrieke, onder andere ook ‘n swart Kovsie-hoogleraar.

    Kadali is uitgesproke, skerp en mors nie baie tyd om haar standpunte in geleerde taal toe te wikkel nie. Tog het sy ‘n groot aanhang, en kom met “moord” weg wat ander nie eens kan droom om te probeer nie – behalwe Malema.

    Haar onlangse “sonde” was om na ‘n mediabesoek – skynbaar as gaste van die Israelse regering – gloeiende lof vir Israel uit te spreek en krities teenoor die Palestyne en ander Arabiere te wees. Dit was net te veel vir mense wat nou al lank onder anti-Israelse lobby’s se inligtingverpreiding deurgeloop het. Sy is erg gestriem (met hier en daar ‘n verdwaalde reaksie van steun).

    Skielik lyk Rhoda nie meer so onkwesbaar nie. Nou maak dit minder sin hoe sy, as diep gelowige, haar so lank in die ANC kon bevind al het sy ook al ‘n jare lange woordestryd met die organisasie gehad. Skielik lyk die onverbloemde lof wat sy eens vir Patricia de Lille gehad het (dat sy haar selfs as president wou sien), vaal. Rhoda al oorleef en soos ‘n rubberbal terugspring, maar waarskynlik is sy nou ‘n titseltjie wyser.

     

    online gameФільчаков Олександр Васильович прокурор

  • Die uitgeputte gees en die Rusdag

    Die arbeider is sy loon waardig. Deel van die loon, so lei ons uit die Bybel af, is om te kan rus na ons die brood in die sweet van ‘n mens se aanskyn verdien het.

    Uit die Bybel ken ons ook die verpligte rusdag – die Sabbat, wat deur die meeste Nuwe Testamentiese Christene na Sondag, tegnies die eerste dag van die week, verskuif is.

    Tydens Christus se omwandelinge op die aarde het die klem van ‘n wettiese rusdag sterk verskuif na ‘n dag van afsondering vir God, ‘n dag om te heilig.

    Daar is inderdaad ander maniere om die moeë gees te laat rus, die batterye te laai, as om een dag in die week net mooi niks te doen nie.

    Die mens se brein en sy liggaam het gewoon ‘n dag nodig wat anders is. ‘n Dag om die fokus te verander, anders kan ‘n mens geestelik uitbrand.

    Boonop het Jesus ook die konsep van die kalf in die put ingevoer.

    Die mens se gees het egter ook periodiek ‘n sewende dag nodig om te herstel en laai wat nie op ‘n letterlike dag van 24 uur dui nie.

    Om ‘n studie te maak oor die presiese konsep van die rusdag op die 7de dag, en watter dag dit moet wees, gaan ‘n mens lank besig hou. In die Ou Testament kon die afleiding wees dat God ‘n dag ingestel het omdat Hy, God, aan ‘n menslike eienskap soos moegheid onderwerp sou wees, terwyl die Nuwe Testament dit duidelik maak dat die rusdag vir die mens gemaak is, en nie die mens vir die rusdag nie.

    Ter aanvang oor wat met die woord “dag” verstaan moet word – die Hebreeuse woord Yom wat as “dag” vertaal word, kan ook met ander tydperke soos ‘n seisoen, en selfs ‘n oneindige tyd vertaal word. Hierdie feit word as kernargument in die debat tussen jong aarde kreasioniste (24-uur dae en dus ‘n aarde van ietsie oor 6 000 jaar oud) aan die een kant, en ou aarde kreasioniste en Deïstiese evolusioniste aan die anderkant gebruik. Laasgenoemde se argument word verder versterk deur Psalm 90 en 2 Petrus 3 wat ‘n ”dag” vir God met ‘n duisend jaar vergelyk, en omgekeerd.Boonop was die 1 000 vir die Israeliete ‘n besondere simboliese getal wat ook op die oneindige dui. Vergelyk byvoorbeeld dat God sondes tot in die derde geslag straf (min) maar barmhartigheid bewys aan diegene wat Hom liefhet tot die duisendste (oneindige) geslag.

    Antieke Hebreeus het ‘n beperkte woordeskat gehad van ongeveer 8 000 woorde, terwyl Engels, wat onlangs sy miljoenste woord geregistreer het, sowat ‘n halfmiljoen woorde gebruik. Frans het sowat 40 000 gebruikswoorde, steeds veel meer as antieke Hebreeus.

    Wat met Yom / dag bedoel word, moet uit die konteks afgelei word.

    Fundamentaliste vereenvoudig die 7-daesaak tot twee Bybelse inskrywings – dat God die aarde en die uitspansel in ses dae gemaak het, en die Tien Gebooie waar dié tema herhaal word, met die uitdruklike instruksie dat die Here op die 7de dag gerus het, en daarom mag ons, ons diere en slawe, ook op hierdie dag geen werk doen nie. Terwyl teoloë redelik konsensus het dat die skeppingsdae lang tydperke behels, is dit uit die bepalings van die rusdag duidelik dat die sewende dag wat anders moet wees, ‘n meer letterlike betekenis het. (Vir die luiaard sou dit darem erg gerieflik wees om die ses dae waarin hy moet werk, as letterlike dae op te neem, en die rusdag se “Yom” met ‘n baie langer tydperk te vertaal).

    Dit lyk asof die Semiete, onder ander andere, baie lank voor die opkoms van Israel en die geloof in Yahweh, ‘n sewe-dag week gebruik het. Homerus het onder meer as ‘n duisend jaar voor Christus na die sewe dae week verwys waarvan hy in sekere bronne kennis geneem het. Die sewe dae is volgens die meeste aanduidings bereken van volmaan na volmaan (28 dae) gedeel deur vier.

    Om dit na die Skeppingsverhaal terug te lei, is ingewikkeld. In die eerste Skeppingsverhaal (wat tweede in die Bybel geplaas is) is daar geen aanduiding van ‘n sewe dae skepping nie. Hierdie skeppingsverhaal dateer moontlik uit die tyd van Dawid of Salomo. Die tweede Skeppingsverhaal, wat uit die tyd van die Babiloniese ballingskap dateer, bevat wel die “detail” van die 6 dae skepping. Dit het ook sy stel probleme soos dat dag en nag voor die son, maan en sterre geskep is, ‘n klaarblyklike aanduiding dat dit nie om letterlike 24-uur dae kon handel nie.

    Tog het die Israeliete lank voor die Skeppingsverhaal tot hul religieuse literatuur toegevoeg is ‘n sewe dae week geken, en dat op die 7de dag gerus moet word. Daar is nie tydens die uittog uit Egipte op die Sabbat getrek nie, en manna het ook nie op die Sabbat geval om opgetel te word nie.

    Om te bepaal hoe juis die Saterdag as 7de dag bepaal is, is selfs ‘n nog komplekser saak. Daar is ook meningsverskille oor wanneer die Jode ‘n vaste patroon begin volg het om dit wat ons nou as Saterdag ken, as standaard die 7de dag te bepaal.

    Ten eerste, as ‘n mens van die skeppingsdae as baie lang tydperke praat, is dit nie moontlik om spesifiek een dag aan ‘n skeppingsdag of die rusdag te koppel nie. Die eerste bepalings van watter dag die eerste of laaste dag van ‘n sewe dae periode gekoppel moes wees, is waarskynlik astronomies bepaal. Ten minste aanvanklik, omdat die werklike astronomiese tydperke nie rondom 28 dae gesinchroniseer is nie, is die “sewende dag” deurlopend verstel, volgens sommige bronne tot in die Na-Christus-era, en het eers gegiet geraak onder die Romeinse invloed.

    Om die verskil tussen ‘n kalenderjaar en ‘n astronomiese jaar te oorkom, is periodiek nog ‘n sewe-dag-periode bygewerk, en in ‘n langer siklus nog een. So is bitter na-aan die handhawing van ‘n astronomiese jaar gebly.

    Die 7 word ook vanuit die skeppingsduur, maar ook ander bronne as “God se getal” teenoor die ses as die “duiwel se getal” (dikwels word al twee met drie vermenigvuldig), dws uitgedruk as 777 en 666 respektiewelik. Die AWB se “hakkekruis” is in werklikheid drie 7’s wat om mekaar aangebring is, en is bedoel om verbondenheid aan God-drie-enig te betuig.

    Dit blyk dus dat die onderhouding van die rusdag as sewende dag dui op ‘n aanduiding van periodieke rus, eerder as ‘n nodigheid om te probeer bo alle twyfel vasstel watter dag nou in die besonder die 7de dag sou wees.

    Die Christelike gebruik van om Sondag as die 7de dag te heilig spruit uit die grondkonsep dat Christus op die Sondag – die derde dag – uit die dood opgestaan het.

    Vandag is daar velerlei wette, veral arbeidswette, wat werkers teen uitbuiting beskerm. In die Ou Testamentiese tyd sou slawe en lasdiere waarskynlik nie maklik kans gekry het om te rus as dit nie vir die streng aard van die Tien Gebooie hieroor gewees het nie. “Dan mag jy nie werk nie, nie jou slaaf of jou donkie…” En God sal die oortreder nie ongestraf laat bly nie.

    Mense verskil – sommiges se werk en lewensomstandighede stel nie baie emosionele eise nie, en is ‘n gedwonge rusdag – en terselfdertyd geleentheid om kerk toe te gaan – na-aan voldoende lafenis. Sodoende is daar meer gesinstyd, en tyd vir oordrag van waardes na die volgende geslag.

    Ander mense se eie ingesteldheid, of hul werksomstandighede, verg egter ook daardie periodieke “Sabbatsweek.” Soos wat die Sabbatsweek die jaar en kalender weer in pas moes bring, dien hierdie Sabbatsweek as herlaaitydperk vir terapeute en beraders wat hul pasiënte se probleme aantrek. Geen berader gaan hond-haaraf maak as hy voltyds apaties staan teenoor sy pasiënte se kwellinge nie – maar dit kan mettertyd ook te veel vir selfs die breedste skouers word.

    Die Sabbat(sweek) is vir die mens gemaak. Om ‘n goeie rede.

    Weens die Ou Testamentiese “voorskriftelikheid” word baie hiervan deel van selfs die moderne psige en verstaan van die karakter van die rusdag.

    Iemand wat op ‘n Sondag sy gras sny of planke met ‘n kragsaag saag, gaan meer waarskynlik ‘n klag van geraasbesoedeling of rusverstoring op die lyf loop as een wat dit op ‘n ander dag doen al is daar heelwat meer buigsaamheid van die dae toe visvang op ‘n Sondag in die Vrystaat wetlik verbied was.

    (Ja, soos die grappie gelui het, God straf die visse wat dit waag om op Sondae te gaan swem).

    Van die ou mense vertel hoe bitter hulle op Sondae met hul siele onder die arm opgeskeep gesit het, want die ou mense rus, en maak een van die jonges ‘n geluid, is daar (vermoedelik eers die Maandag) ‘n geween en die gekners van tande. Want die Bybel sê jy moet rus, en as jy rus, kan jy nie raas nie.

    Vandag is daar selfs banke oop. Al hoe meer inkopiesentra verplig hul huurders om, ter wille van die ankerhuurder, op Sondae bykans volwaardige sake-ure oop te wees. Om seker te maak dat dit ernstig opgeneem word, word huurders verplig om ‘n sekere personeelsterkte, vergeleke met gewone werksdae, op die perseel te hê. Groot byeenkomste wat op Sondae plaasvind is algemeen.

    Hierteenoor is Sondae in Duitsland oor die algemeen sake-gewys doodstil. In Nederland is daar ‘n harde gespook om die aantal “handelsondae” uit te brei. ‘n Nederlandse immigrant wat onlangs by familie in Nederland gaan kuier het, vertel dat as die huishouding se melk in groot dele van Nederland op ‘n Saterdagaand opraak, sit die gesin gewoon tot Maandag sonder melk. Daar is nie ‘n plek oop wat Sondae melk verkoop nie.

    Geen twee mense sal presies dieselfde aanvoeling hê oor wat op ‘n Sondag geoorloof is, en wat nie. Geen mens se opvattings sal van sy kindertyd tot sy oudag dieselfde wees nie.

    Opsommend is Sondae die een dag in die week wat vir God afgesonder is. Dit staan egter steeds in die konteks van “bid sonder ophou,” dus dat ‘n mens nie net op Sondae “aanskakel” om ‘n Christen te wees nie.

    En almal het rus nodig – dit kan net sowel op Sondae ingehaal word.

    школьные рубашки для девочекДанильченко Юрий Брониславович Харьков

  • Beginsels en populariteit – hoe kies die kiesers?

    Pas het ‘n nuwe kieskompas in Nederland die lig gesien. Dié kieskompas merk op dat baie kiesers in Nederland in hul harte met die beleid van die betreklike klein ChristenUnie saamstem, maar dat 80 % van die kiesers sê hulle sal nooit hul kruisies by dié party trek nie.

    ‘n Waarnemer meen die ChristenUnie se bykans onversetlike houding oor aborsies en genadedood moet die blaam dra.

    Om van buite te veel in die Nederlandse politiek te probeer lees is fataal. Die Nederlandse pers skryf hul politiek is daarvoor vir buitelanders veels te skisofrenies.

    Tog laat dit sekere vrae ontstaan. In lande soos Nederland (CDA en CU), België (CD & V) en Duitsland (CDU) is die Christen-demokratiese partye (nog) die dominante partye in die regerende koalisies. Hier in Suid-Afrika, waar 80 persent van die mense hulself as Christene opgee, figureer Christen-demokratiese en Christen-Volkseie partye op die rand van die radarskerm.

    Toe Cope tot stand gekom het en sy beleidsvoete moes vind, was die politieke dam aan die kant van humanistiese politiek – liberaal-demokraties, sosiaal demokraties, sosialisties, ens oorbevolk. Die dam van Christen-demokrasies erg ylbevolk.

    En vir so verre Cope beleidstekens toon, lyk dit of hy eerder ook in die oorbesette hoek gaan indons het, sy pogings om prominente kerklui te betrek ten spyt.

    Hoekom Suid-Afrika so lyk, het moontlik baie te make met die lang geskiedenis as deel van die Engelse wêreld. Die Engelse wêreld, Brittanje in die besonder, se grootste partye mag dalk nie Christen-demokratiese per se wees nie (hoewel die Tories organisatories inskakel by die oorkoepelende liggaam vir Christen-demokratiese partye), maar die kiesafdeling-kiesstelsel neig om dit wat voet in die deur het, taamlik te verskans.

    In ‘n omgewing waar jou party se beleid almal geval, maar die uitbring van stemme anders lyk, is so ‘n stelsel rof met partye wat opgang wil maak, tensy hulle regionaal deurbreek.

    Miskien moet ook nie te veel gelees word in die huidige posisie van die Christen-demokrate in Europa nie. Oor ‘n paar jaar kan dit dalk lyk of die Christen-demokrate ‘n soort transito-fase vervul het van die era van liberalisme en permissiwiteit, na ‘n swaai terug na konserwatiewer waardes.

    Baie redes is geopper vir die verskynsel dat ‘n skynbaar baie liberale Wes-Europa sy rug, skynbaar sat vir permissiwiteit – op liberalisme gedraai het, en steeds as dikwels ateïste, hul kruisies by die Christen-demokrate gaan trek het.

    Nou is daar in verskillende Wes-Europese lande ‘n skynbare trek na verder behoudend – soos Denemarke, maar in besonder België waar Vlaamse nasionalisme gevoed word.

    Hoekom gebeur iets soortgelyks nie struktureel in Suid-Afrika nie?

    Dat kiesers lankal nie meer so gekonsolideerd agter die groot partye staan as wat die werklike stemgetalle aandui nie is heelmoontlik. ‘n Mens hoef maar net ‘n oog te werp op internet-meningspeilings, op munisipale betogings, Cope se probleme, en die DA wat skynbaar op die punt staan om die ID in te sluk.

    Pres. Zuma het ook reeds swart kiesers daarop gewys dat hulle moreel verplig is om vir die ANC te stem.

    Tog is daar geen groot, werklik mededingende Christelike-volkseie-party in die parlement nie, en is die Christen-demokratiese partye oor die algemeen net so klein en versplinterd soos die regse partye, met, selfs al word hul getalle bymekaar gereken, steeds klein bly.

    Wanneer daar gestem word, gaan koek die kiesers steeds in die oorvol-gedeelte van die dam saam.

    Hoekom?

    Die antwoord uit verskillende dele van die land sal verskil.

    ‘n Duidelike demonstrasie: Met die laaste oorlooptydperk het ‘n sekere Wes-Kaapse raadslid van die ACDP, erg fundamentalisties, uitgesproke pro-jong aarde kreasionisme, na die DA oorgeloop. In Gauteng loop ‘n raadslid, ‘n boer, na die ANC oor. Beide is blank, Afrikaans. Die Gautengse lid het ‘n lang, bitter naar ervaring van die DA in sy raad agter die blad, wat onder meer voortydig grondbelasting op landbougrond ingestel, en met vervolging teen “wanbetalers” begin het.

    Tog, breedweg kan die indruk nie ontsnap word dat die DA in die Wes-Kaap veel meer opgehemel word as in die res van die land nie. Daar het die DA immers die ANC se kortstondige “bevryding” van die Wes-Kaap afgeskud, en kon die provinsie onder die res van die land uit begin uitpresteer.

    Of die demokrasie in die Wes-Kaap as iets anders verstaan sal word as dat dit beteken ‘n kieser kan vir enige party stem solank dit die DA is, wanneer die DA se posisie gekonsolideer sal wees, is moeilik om te voorspel.

    Om te beweer die ander (kleiner) partye het net hulself te blameer vir situasie, is deels waar, maar die DA het ook lang lyste blapse op die kerfstok – raadslede wat uit die provinsies waar hulle verkies is verhuis, maar geen vakatures verklaar word nie, raadslede wat “lewend ontval,” raadslede wie se name saam met ANC-raadslede op lyste van wanbetalers pryk, ‘n onderburgemeester wat benewens ‘n reistoelaag ook ‘n gehuurde ampsmotor kry ….

    Persoonlikheidsbotsings, duidelike onderlinge beleidsverskille en waardesisteme… dis alles daar teenwoordig.  Tog groei die party. Vir die ander is dit dikwels fataal. Het Suid-Afrika, soos baie ander lande,. ‘n minimum drempel gehad van persentasie stemme om op verteenwoordiging in die parlement geregtig te wees, was ‘n hele span daarmee heen. In sommige lande is die drempel so hoog as sewe persent. In Suid-Afrika sit ‘n span partye in die parlement wat minder as twee, en selfs een persent stemme gekry het.

    Die huidige samestelling is egter nie heeltemal iets wat sommer sal herhaal nie. Met die totstandkoming van Cope het ‘n gees onder baie kiesers posgevat dat hierdie die eerste kraak in die ANC verteenwoordig, en behoorlik stukrag gegee moet word. Partye het dus baie stemme verloor.

    ‘n Deel hiervan was sterk ANC-kaders, wat egter in die ANC gesien het hulle gaan nie die mas opkom nie, en opportunisties na kleiner partye soos die ACDP gemigreer het waar sommiges inderdaad daarin geslaag het om tot bo te vorder (en dan met ‘n oorloop terug te keer ANC toe, maar in ‘n stewig-versterkte posisie). Met Cope se totstandkoming het hierdie party skynbaar dieselfde opsie gebied.

    In wese het baie kiesers opportunisties of hoopvol hul gewig by Cope ingewerp met die hoop dat dit ‘n soortgelyke magsbreuk vir die ANC sou inhou as die DA in die Wes-Kaap.

    Met ‘n nuwe verkiesing sal die Cope-suigkrag waarskynlik nie meer so aanwesig wees nie, en is dit moeilik denkbaar om te voorsien hoe die DA sy Wes-Kaapse rol (nou reeds) suksesvol na die res van die land sal kan ”uitrol”. In die res van die land sal anders gedink moet word – elke kieser sal optimaal die geleentheid moet hê om die beginsels waaroor hy sterk voel te kan uitleef.

    Die Christen-volkseie gaan nie as “lastig” van die tafel gevee kan word nie, en nog minder met argumente oor outyds of verkramp –nie met die “wonderlike” grondwet wat kort-kort nie so wonderlik werk nie.

    ‘n Interessante vraag is of die Christen-demokrasie oor die momentum – veral intellektuele momentum –gaan beskik om nou die simplistiese veldtog van “godsdiens hoort nie in die politiek nie” teen te werk. Veral nou dat ‘n reuse aantal “mighty men” aldus die voorafaankondigings by Greytown moes gaan hoor ‘n Christen is ‘n Christen, nie net in die kerk nie, maar ook in die gesin, die skoolbeheerraad,  die parlement. In kort, hy kan nie Sondae teen aborsies en dobbel  en die res van die week daarvoor wees nie.

    Maar …die Christen-demokratiese en Christelike volkseie partye moet ook hul kant bring. Plek-plek is nuwe besems nodig.

    Met waarskynlik meer eertydse prominente lede deur eerw. Kenneth Meshoe uit die ACDP gedryf as wat hulle nou in die party bevind, is dit geen geheim wat bedoel word nie. Hy is waarskynlik eiehandig daarvoor verantwoordelik dat die ACDP –in weerwil van die aanspraak op die webwerf van “the fastest growing party in South Africa” meer as die helfte van sy nasionale en provinsiale setels prysgegee het.

    Volkseie is doodgewoon deur ‘n grondwetlike bedeling uitverkoop.

    Die stemreg-gedeelte van demokrasie sal eers werk as kiesers vir die beginsels kan stem waarin hul glo.

    Hoe gaan die uitslag lyk as stembriewe vervang word met ‘n rekenaarpaneel waarop die kiesers beleidsvrae moet beantwoord. Vrae soos: “Glo u in privaat besit? Glo u in aborsies op aanvraag? Glo u in die doodstraf?” Na afloop van die verkiesing verwerk die rekenaar die antwoorde ooreenkomstig die partye se beleid, en ken setels toe.

    Sonder Zuma se appèl op swart kiesers dat hulle moreel verplig is om vir die ANC te stem, gaan die uitslag baie, baie anders lyk.

    купить зарядное устройство для автомобильных аккумуляторовОлександр Фільчаков прокурор

  • Kreasionisme en evolusionisme

    Moontlik, omdat verlede jaar Darwinjaar was, is “debatte” in koerante en op die internet oor evolusie volop. Hierdie “debatte” is dikwels erg nydig, en is dikwels sprekend van groot onkunde. Die indruk word gewoonlik gelaat dat dit handel oor Christen-kreasioniste aan die een kant, en ateïstiese evolusioniste aan die ander kant.

    Tog is dit nie so eenvoudig nie, soos blyk uit ‘n RSG-debat waar ‘n teoloog die standpunt van evolusie gestel het, en ‘n argitek die standpunt van kreasionisme.

    Hierdie is ‘n eerlike poging om die speelveld te skets sonder om eie voorkeure te vermeld.

    In hooftrekke kan ses benaderings tot die debat geïdentifiseer word, waarvan sommige meer verbaal, en ander minder is.

    –          Die persoon wat glo die Bybelse skeppingsverhaal is presies soos die Bybel dit skets, en vir wie die fokus op glo en geloof, en nie bewyse val nie. Die Bybel is immers ‘n geloofsboek, nie ‘n wetenskap- of geskiedenisboek nie. Gewoonlik speel die sondeval ‘n belangrike rol om as motivering vir Jesus se kruisdood te dien.

    –          ‘n Tweede benadering word die jong aarde kreasionisme genoem. Hierdie groep verskil van eersgenoemde deurdat hulle hul standpunt dat die aarde sowat 6 000 jaar oud is (daar is enkele variasies) probeer bewys, en ‘n eie wetenskap hiervoor ontwikkel het, wat bykans elke aspek van die konvensionele wetenskap bevraagteken en verdag probeer maak. Die sondvloed speel ‘n uiters belangrike rol, en sou ook die hele aarde oordek het. Wat die nie-biologiese wetenskappe betref, het dit sekere ooreenkomste met die konvensionele wetenskap, behalwe dat alles oneindig vinniger sou geskied het. Kontinentale drywing sou bykans oornag plaasgevind, en die sondvloed se water “ingesluk” het. Olie- en steenkoolvelde het baie gou ontwikkel. Wat die biologiese wetenskappe betref, was daar ‘n tyd toe alle spesies nog gelyk sou bestaan. Die mens en die dinosourus sou saam geleef en saam in die ark gewees het. Dit laat Bybelse argeoloë wat met die opgrawing van stede soos Jerigo werk wat ouers as 6 000 jaar is in ‘n moeilike posisie.

    –          Die geloofsonderbou vir hierdie groepering is sterk gevestig in fundamentalistiese kerkgroepe wat in die 70’ger jare van die vorige eeu in die VSA ‘n oplewing getoon het, en in ‘n groot mate via kerkverbande in die Baptisties-charismatiese  konteks na Suid-Afrika gekom het.

    –          Die derde groep, die ou aarde kreasioniste, het nie ‘n probleem met die wetenskaplike beraming van die aarde se ouderdom van meer as vier miljard jaar nie. Die rasionaal hiervoor word in die Bybel self gevind, naamlik Psalm 90: 4, en 2 Petrus 3:8, wat die konsep tuis bring dat God se tyd nie ons tyd is nie (Hy is immers die Skepper van tyd ook). Dit word simbolies uitgedruk as een dag is soos ‘n duisend jaar (simboliek vir selfs die ewigheid), en ‘n duisend jaar wat vir God soos een dag is. Hierdie groep ontken “species hopping” en voer aan dat “die afwesigheid van tussenvorme” as bewys hiervoor dien. Namate meer en meer tussenvorme ontdek word, kwyn hierdie groep ten koste van die jong aarde kreasioniste.

    –          Die vierde groep word dikwels verkeerdelik gelyk gestel aan die “intelligent design.” Hul korrekte naam is Deïstiese evolusioniste, ook soms Teïstiese evolusionisme genoem. Hulle glo God skep en gebruik evolusie as meganisme. Christen-paleontoloë maak die grondslag hiervan uit, en vandag is dit die amptelike standpunt van die NG Kerk en die Hervormde Kerk. Hulle gebruik ook die teksverse hierbo vermeld om die aarde se ouderdom Bybels te verklaar. Daar is uiteraard baie predikante en lidmate wat nie die standpunte deel nie. Die Gereformeerde Kerke (Doppers) se formele sinodebesluit is ook hiermee versoenbaar, maar baie verwarring bestaan onder lidmate en predikante oor die werklike standpunte wat deels veroorsaak is deur die mediaverklaring wat na die sinodebesluit uitgereik is, en ‘n ander standpunt gestel het. Hierdie benadering verklaar die voorbeeld hierbo vermeld waar die NG teoloog “die evolusie” se standpunt, en ‘n argitek die jong aarde kreasionisme se standpunt gestel het.

    –          Toevallige evolusie behels ‘n ateïstiese standpunt waar God afwesig is in Sy skepping. Mutasies vind deurlopend ongerig plaas, en natuurlike seleksie sorg dat net die lewensvatbare gemuteerde vorme kan bly voortbestaan. Onkundiges verwys dikwels hierna as Darwanisme. Dit is verkeerd aangesien Darwin, toe hy geleef het, niks van genetiese mutasies sou kon weet nie, en Darwin eintlik slegs in die Engelse wêreld as toonaangewend beskou word. In Die Franssprekende wêreld was daar verskeie kenners wat voor hom soortgelyke teorieë geformuleer het.

    –          “Intelligente ontwerp” is aanvanklik ontwerp om die Amerikaanse vertolking van godsdiensvryheid in skole, wat in effek op ‘n beleid van “geen godsdiens” neergekom het, te omseil. Daar is gehoop dat die howe simpatiek sou wees dat die aanbied van die evolusieleer in skole na ‘n Skepper kon verwys, as die Skepper uiters vaag geformuleer sou wees. Die poging was egter nie geslaagd nie, en is deur die howe beskou as ‘n slenter van Christene om Deïstiese evolusie in die skole te laat leer. Hoewel hierdie benadering slegs as juridiese noodmaatreël ontwerp is, het dit sedertdien op eie bene begin staan, en is volgens sommige berigte so radikaal en onverdraagsaam dat dit hoegenaamd nie as ‘n grondslag vir gemeenskaplike denke kan dien nie.

    Soos gemeld, uit die debatte sou afgelei kon word dat daar net twee opsies op die tafel is – jong aarde kreasionisme wat “die Christelike standpunt” verteenwoordig, en die toevallige evolusie wat “ateïste se standpunt” verteenwoordig. Die probleem word vererger deurdat die jong aarde kreasioniste na hul eie benadering as “kreasionisme” verwys asof die ou aarde kreasionisme nie (meer) bestaan nie. Die toevallige evolusioniste eis ook dikwels evolusie as hul uitsluitlike domein op.

    ‘n Christen wat sonder die nodige agtergrond op so ‘n debat afkom, sal maklik ‘n idee kan vorm dat daar net twee opsies is: As hy ‘n Christen wil wees moet hy glo die aarde is 6 000 jaar oud. As hy glo die aarde is ouer, kan hy nie ‘n Christen wees nie.

    Predikante en lidmate van kerkverbande wat in ou aarde kreasionisme of Deïstiese evolusie glo, is gewoonlik in hierdie debatte afwesig. ‘n Belangrike rede is waarskynlik dat die opkoms van jong aarde kreasionisme onderskat word. Die opvatting bestaan dikwels verkeerdelik dat die jong aarde kreasioniste se voortbestaan vergelyk kan word met die pous se volharding dat die aarde plat is, selfs lank na Magellaan se ekspedisie om die aarde gevaar het. Asof dit gaan oorwaai. Die verbetenheid waarmee aanhangers van die jong aarde wetenskap hul opvattings verdedig (en selfs jong aarde Evangelisasieaksies op die been bring) wys dit sal nie gebeur nie. Boonop is daar ‘n stroming van lidmate van die susterkerke na charismatiese kerke. Hoewel ‘n standpunt oor kreasionisme of evolusie waarskynlik selde ‘n rol by hierdie skuif speel, bevind meer en meer mense hulle in kerkverbande wat die jong aarde kreasionisme aanhang.

    In Europa is wel deeglik kennis geneem, deurdat die Europese Unie – met die steun van die regerende Christen-demokratiese Partye – ‘n beleidsdokument aanvaar het met die titel: “Die gevaar van kreasionisme.”

    In Nederland vind dorpsmuseums wat ongehinderd jare lank hul omgewing se geskiedenis uitgebeeld, skielik dat hulle onder druk kom wanneer na duine van miljoene jaar oud verwys word. Dit is immers onmoontlik as die aarde net 6 000 jaar oud is.

    Die debatte op die webblaaie van koerante neem werklik dikwels die karakter aan van iets wat nie tot eer van God sterk nie. Aan die een kant word heel kerkverbande tot die ateïsme gereken, en omgekeerd is daar reaksies soos: “jou god.”

    Wedersydse beskuldigings van bedrog is volop. Jong aarde kreasioniste verwys graag na die ouderdomme van fossiele as bedrog, en selfs dat dit “vervaardig” word. Omgekeerd wys wetenskaplikes (daar is al verskeie boeke geskryf om die jong aarde wetenskap as kwasi-wetenskap uit te wys) byvoorbeeld na die bekende voorbeelde van die lawa van Mount St. Helens waar die jong aarde wetenskaplikes aangedring het op ‘n koolstoftoets en voor betaal het, terwyl die instansie wat die toets gedoen het, reeds vooraf verduidelik het so ‘n toets is nie toepaslik nie, en ‘n foutiewe lesing gaan oplewer.  Die ander voorbeeld waarna gereeld verwys word, is dat ‘n jong aarde wetenskaplike self vasgestel het die “mensspore” waarop dinosourusse sou getrap het, ook deur dinosourusse gemaak is.

     

     

     

    магазин автоинструментаАлександр Фильчаков