praag.co.za

Rubriekskrywers – die kuns om te slaag

Written by

in

Van Zyl Slabbert en Rhoda Kadali as gevallestudies

Met die bekendstelling van nog ‘n boek deur Blouwillem Theron tydens die Volksblad se kunstefees verlede jaar het die destydse redakteur van dié koerant Blouwillem geloof omdat hy na jare daarin slaag om vol te hou om vars en oorspronklik te bly met sy rubrieke. Baie rubriekskrywers, verduidelik hy, is na ‘n ruk opgeskryf en ‘n mens kom dit agter.

Hierdie artikel is fokus op rubriekskrywers wat nie in diens van die publikasies is waarvoor hulle rubrieke lewer nie. Personeel wat ook as rubriekskrywers optree, word anders beoordeel omdat hulle in elk geval in diens is, en dus makliker met blapse en brak kolle kan wegkom.

Hoe lank iemand “vars” kan bly hang natuurlik af van watter soort rubrieke ‘n mens skryf. Humorrubrieke is seker die moeilikste omdat ‘n mens se gemoedstoestand nie altyd reg is om oorspronklik te wees nie, en ‘n mens se reserwe aan snaakshede raak uitgeput.

Politieke kommentare is ook uitdagend, omdat iemand baie maklik in ‘n groef kan val, veral ‘n negatiewe groef, en sukkel om daaruit te kom.

Hoe koerante hul rubriekskrywers keur, is dalk ook ‘n ander deel van die verhaal.

Vakrubrieke, soos oor motors en groen sake is dalk ietwat makliker want dit is die skrywer se belangstellingsveld, en dinge gebeur. Hy hoef nie die nuus te skep nie, hy moet dit bloot verstaan en interessant kan opdis.

Koos Kombuis het by geleentheid – skynbaar verwysend na Deon Maas – geskryf hy beny soms Maas sy omstredenheid, maar dat hy die publikasie waarvoor hy skryf, se geldjie te nodig het. Soms klink Koos Kombuis baie na ‘n tipiese Afrikaanse gesinsman – konformerend ter wille van die mark waarvoor hy skryf.

Dit is net ‘n klein persentasie van heel aanwendbare rubriekskrywers vir wie die meetsnoere in pragtige plekke val. Die meeste moet bekendheid via rubrieke of selfs ander harde kopie op hul valerige pense skryf.

In die proses word Suid-Afrikaners (dalk) van ‘n rypheid idees gestroop, terwyl eentonige kafskrywers dikwels die beskikbare gepubliseerde spasie oorbeset en lesers die mure uitdryf. “Ek was so opgewonde toe ek sien hoe dik vandag se koerant was, maar vyf minute later het ek alles gelees wat ek wou lees en selfs ‘n paar advertensies net om die tyd om te kry.”

Dit is wanneer ‘n redakteur ‘n fiksasie oor ‘n sekere rubriekskrywer het, maar wat nie deur die lesers gedeel word nie. Of die helfte van die koerant wat handel oor ‘n sekere party se kongres wat met foto’s en leidende opskrifte en ander tegnieke opgedis word, maar dis nie jou party nie en jy blaai hoogstens geïrriteerd daaroor.

Soms word die rubriekskrywer in die steek gelaat deur die “sub” wat die “koppe” skryf. Koppe opsit is ‘n dikwels onderskatte kuns.

Hoofsaaklik twee tipes koppe word onderskei – die leidende en die opsommende. In ongeïnspireerde publikasies is opsommende koppe die hoofnorm. Omdat die gemiddelde leser lui is, kom hy gou agter hy hoef net die opskrif te lees en weet dan basies alles wat in die berig / artikel / rubriek staan.

Die leidende prikkel die leser om te lees. (Dieselfde geld die intro’s).

‘n Ander manier waarop ‘n skrywer deur die kopskrywer in die steek gelaat kan word, is as die kopskrywer die item nie behoorlik lees nie, dit nie verstaan nie, of bevooroordeeld is. Onlangs was daar ‘n rubriek in Die Burger waar die opskrif gelui het dat geen groepdenke aanvaarbaar is nie.

Op sig het dit nie sin gemaak nie, aangesien dit buite die normale norm van die betrokke, hoogs belese skrywer geval het. Eers by die tweede lees van die artikel (die eerste keer te erg beïnvloed deur die kop) sou die gemiddelde leser besef dat die kop hoogs misleidend was.

Humorskrywers wat ‘n langer rakleeftyd het, is gewoonlik diegene wat ‘n dieper sin vir humor het – dikwels droë humor – as een wat eintlik maar net vlak grappies aanmekaar las om ‘n rubriek op te som. Die vlak grappies slaag die eerste uitgawe, dalk die tweede, maar dan begin die gemiddelde koerantleser bietjie “op” raak vir die vlakheid. Bietjie tussen die lyne, woordspelings, goed geolie met verteltrant, ‘n storielyn en ‘n ontknoping is wat die duursaamheid verseker.

Politieke rubriekskrywers se eerste fout is dikwels om met die invalslag kant te kies. Die res van sy relaas is dan noodwendig subjektief. Dit pas gewoonlik net in ‘n politieke debat waar ‘n publikasie twee of meer standpunte naas mekaar stel.

Die suksesvolle politieke rubriekskrywer sal iewers ‘n onverbonde staanplek kry, en van daar verskillende standpunte opstel, politiek-wetenskaplik ontleed en dan miskien ‘n eie, gemotiveerde, voorkeur uitspreek.

Hierdie lang aanloop om te kom by die afsterwe van dr. Van Zyl Slabbert, en kritiek wat die rissiepit van rubriekskrywers, Rhoda Kadalie onlangs in internetkommentare op ‘n rubriek gekry het. Slabbert het tot sy dood sukses gesmaak, Rhoda het pas ‘n knou weg.

Slabbert was nie primêr bekend as rubriekskrywer nie,maar hy het genoeg opgelewer dat ‘n mens na sy invloed kan kyk.

Hy het waarskynlik meer as enigeen bygedra daartoe dat politieke sosioloë ‘n lang, brak tyd op die Suid-Afrikaanse meningsvormingsterrein beleef het. In Suid-Afrikaanse heterogene samestelling is die impak van politieke sosioloë van kardinale belang. Slabbert self het nie klassiek op hierdie terrein ‘n rol gespeel nie, hoewel hy ongetwyfeld goed gekwalifiseerd was om dit te doen. Sy rol kan moontlik beter beskryf word as sosio-politikus. ‘n Politieke sosioloog, per definisie weens die vakgebied sosiologie, weeg die dinamika’s van groepe eerder as individue in ‘n samelewing op. As liberalis met die fokus op die individu het dit nie die klem by Slabbert gekry wat van ‘n sosioloog verwag sou word nie. Trouens, toe hy stem dik maak oor die behoud van Afrikaans by die US, was daar stomme verbasing in liberale kringe wat dit nie van hom sou “verwag” nie. Maar oor die algemeen word hy nou nadoods hoog aangeslaan. Trouens, baie van die lofuitings was so gou by die pers, dat ‘n mens met ‘n stok kan aanvoel dit is nie behoorlik deurdink nie.

Onlangs was daar weer ‘n ligte opflikkering van politieke sosioloë in koerantrubrieke, onder andere ook ‘n swart Kovsie-hoogleraar.

Kadali is uitgesproke, skerp en mors nie baie tyd om haar standpunte in geleerde taal toe te wikkel nie. Tog het sy ‘n groot aanhang, en kom met “moord” weg wat ander nie eens kan droom om te probeer nie – behalwe Malema.

Haar onlangse “sonde” was om na ‘n mediabesoek – skynbaar as gaste van die Israelse regering – gloeiende lof vir Israel uit te spreek en krities teenoor die Palestyne en ander Arabiere te wees. Dit was net te veel vir mense wat nou al lank onder anti-Israelse lobby’s se inligtingverpreiding deurgeloop het. Sy is erg gestriem (met hier en daar ‘n verdwaalde reaksie van steun).

Skielik lyk Rhoda nie meer so onkwesbaar nie. Nou maak dit minder sin hoe sy, as diep gelowige, haar so lank in die ANC kon bevind al het sy ook al ‘n jare lange woordestryd met die organisasie gehad. Skielik lyk die onverbloemde lof wat sy eens vir Patricia de Lille gehad het (dat sy haar selfs as president wou sien), vaal. Rhoda al oorleef en soos ‘n rubberbal terugspring, maar waarskynlik is sy nou ‘n titseltjie wyser.

 

online gameФільчаков Олександр Васильович прокурор

Comments

Leave a Reply