Israel is onlangs wêreldwyd en bykans uit een mond veroordeel toe ‘n ses skepe met noodvoorraad vir Gaza onderskep is. In die skermutseling wat op een boot uitgebreek het, was daar ‘n aantal ongevalle.
Geleidelik dring ‘n ander prentjie tot die wêreld deur. Aan boord van dié skip was ‘n aantal aktiviste wat gehoop het om konfrontasie met die Israelse magte af te dwing, en boonop as martelaars te sterf. Geleidelik begin Israel se beeld weer kop optel.
Maar wat gebeur agter die skerms? Israel sou waarskynlik geen hond-haaraf gemaak het as Mossad, regstreeks of via die regering, die werklike feite op die tafel sou plaas nie.
Oor ‘n paar jaar sal die rol van sogenaamde “stringers” bekend wees.
Oor presies wat “stringers” is, is daar meningsverskille. Oor die algemeen word na iemand as “stringer” verwys as hy ‘n ad hoc-taak iewers vir die koerant moet verrig wat hom spesifiek daarvoor huur.
Binne die intelligensiegemeenskap het dit ‘n algeheel ander betekenis. Soms verwys dit na ‘n joernalis wat in diens van ‘n koerant is, maar vir ‘n intelligensie-agenskap – darem sy eie land s’n) inligting help versamel. Dit kan selfs gebeur dat hy as joernalis na gebiede gestuur word waar die intelligensie-agentskap ‘n behoefte aan inligting het.
Normaalweg word egter onder ‘n “stringer” verstaan iemand wat intelligensie-agentskappe van tyd tot tyd gebruik om berigte en artikels in media wêreldwyd te “plant.” Op die oog af kom die berig of artikel uit die “stringer” se eie pen, maar in werklikheid is die feite – en soms propaganda – baie ver daarvandaan deur ‘n intelligensie-agenskap voorsien.
Nie baie agentskappe erken dat hulle hiervan gebruik maak nie. Teen 1973 het die CIA, volgens die Washington Post, reeds meer as 30 “stringers” in die buiteland gehad. Die eerste bekende “stringer” van die CIA was Joseph Alsop wat in 1953 in die Filippyne gaan nuusdekking doen het. In die volgende kwart eeu sou meer as 400 “stringers” al ingespan word.
Teenoor die Amerikaanse senaat het die CIA erken dat hy soms “stringers” gebruik, en bygevoeg dat bykans elke ander agentskap ter wêreld dieselfde doen. Trouens, daar is skrywers wat beweer dat die CIA is in beheer van elke beduidende nuusagentskap ter wêreld is. Hul rol in ‘n sensiteringsaksie (om ‘n land se inwoners tot ‘n regeringsverandering te beïnvloed) is groot.
Die “stringer”-sage raak egter werklik interessant as Israel ter sprake kom.
Hoewel internet-verwysings na Mossad se gebruik van “stringers” volop is, is hierdie bronne nie besonder behulpsaam om ‘n prentjie van media-stringers op te bou nie. Die internetberigte verwys gewoonlik na Mossad-stringers as moordenaars wat gestuur is om gesoekte terroriste “uit te haal,” soos die onlangse moord op ‘n Hamas-leier in Dubai.
Maar tog is min lande so goed geplaas om van stringers gebruik te maak soos juis Israel. Daar is miljoene Jode in diaspora, onder andere in die VSA, en Joodse sakelui het soms beduidende belange in sakereuse met mediabelange.
Israel het ook ‘n program om buitelandse joernaliste op staatskoste na Israel te bring. Verskeie Suid-Afrikaanse joernaliste het al sulke ekskursies te beurt geval, soos Leopold Scholtz enkele jare gelede, en onlangs weer ‘n groep waaronder Rhoda Kadali en ook Johannes de Villiers van Rapport. Min word onaangeraak deur die gebeurtenis, soos Kadali wat selfs onder skerp kritiek deurgeloop het toe sy in haar daaropvolgende rubriek ‘n besonder sterk pro-Israelse standpunt ingeneem het.
Hulle word egter nie noodwendig as “stringers” gewerf nie, maar die projek bied ideale dekking om potensiële of bestaande “stringers” ook na Israel te bring en die prosesse te fasiliteer.
‘n “Stringer” is egter slegs van waarde solank sy rol as “stringer” nie bekend is nie. Dit moet werklik lyk of hy deur goeie nuusinsameling die potente inligting uitgesnuffel, en in ink verewig het. Daarom kos dit ‘n geoefende oog om “stringers” te identifiseer. Word ‘n moontlike “stringer” uit die karakter van ‘n artikel agtergekom, is dit ‘n bykans onbegonne taak om uit Google agter te kom of die persoon inderdaad ‘n “stringer”-profiel het. Byna sonder uitsondering sal so ‘n persoon – as al die duisende stukkies bymekaar geplaas is, se naam aan ‘n paar groot koerante, bv in die VSA, gekoppel wees. Hy sou ‘n ruk by ‘n Israelse instelling gestudeer het of lesings aangebied het, en daar sal verskeie ander joernaliste met dieselfde naam wees om die prentjie erg te verstrengel. In die proses is daar letterlik derduisende trefslae. Uiteindelik sal dit blyk dat die een vir wie ‘n duidelike Israelse band geskep is, nie die een is wat die “stringer” is nie maar ‘n naamgenoot.
Soms is die pogings om ‘n propaganda-omkeer te veroorsaak baie naby aan komies. Na die Israelse inval in Gaza is die “stringers” uiteraard in werking gestel. Die lesers kan self oordeel oor die volgende weergawe: Somaliese seerowers (toe behoorlik as varke in die wêreldmedia voorgestel) speel “vermoedelik” ‘n belangrike rol om wapens uit Iran via die tonnels tussen Egipte en die Gaza-strook by Hamas te kry. Selfs die roete van hoe hierdie wapens sou loop, wat ‘n behoorlike ompad na die seerowers insluit, word geskets.
Terwyl niemand sal twyfel dat wapens van Iran Hamas via die tonnels bereik nie, wil-wil dit darem net bietjie opsigtelik lyk of die wapensmokkelary net ‘n titseltjie ekstra met die teerkwas bygedam is deur die seerowers ook te betrek.
Maar enigiets is seker moontlik…
Terwyl amateur “stringer”-vangers die internet as stokperdjie deurkruis en elke moontlike leidraad opvolg, is dit seker moontlik dat ‘n paar wat as prominente ondersoekende joernaliste bekendheid verwerf, ontmasker kan word. Die meeste sal egter bietjie meer onder die nuusagentskappe se stof wegraak.
Is Israel verkeerd om “stringers” te gebruik?
Dit het ‘n pragmatiese en ‘n beginselantwoord. Die pragmatiese is gewoon dat, soos die CIA dit stel, almal dit doen. Die beginselantwoord is komplekser. Die waarde van persvryheid lê juis daarin dat dit nuus sonder bymotiewe, onbevange moet openbaar. So word dit wyd as vierde been, weliswaar informeel, van die demokrasie gereken. Om hierdie rede knyp media-instansies, soos Verslaggewer sonder grense, bykans sonder aansiens des persoons oë toe om ‘n verslaggewer te beskerm wat deur ‘n regering gearresteer of geteister te word.
Sou Verslaggewers sonder Grense dit met dieselfde entoesiasme doen as hulle sou weet dat die persoon eintlik die vryheid van die media benut om ‘n agenda te bedryf – selfs moontlik vir ‘n regering wat mediavryheid erg onderdruk?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.