Moontlik, omdat verlede jaar Darwinjaar was, is “debatte” in koerante en op die internet oor evolusie volop. Hierdie “debatte” is dikwels erg nydig, en is dikwels sprekend van groot onkunde. Die indruk word gewoonlik gelaat dat dit handel oor Christen-kreasioniste aan die een kant, en ateïstiese evolusioniste aan die ander kant.
Tog is dit nie so eenvoudig nie, soos blyk uit ‘n RSG-debat waar ‘n teoloog die standpunt van evolusie gestel het, en ‘n argitek die standpunt van kreasionisme.
Hierdie is ‘n eerlike poging om die speelveld te skets sonder om eie voorkeure te vermeld.
In hooftrekke kan ses benaderings tot die debat geïdentifiseer word, waarvan sommige meer verbaal, en ander minder is.
– Die persoon wat glo die Bybelse skeppingsverhaal is presies soos die Bybel dit skets, en vir wie die fokus op glo en geloof, en nie bewyse val nie. Die Bybel is immers ‘n geloofsboek, nie ‘n wetenskap- of geskiedenisboek nie. Gewoonlik speel die sondeval ‘n belangrike rol om as motivering vir Jesus se kruisdood te dien.
– ‘n Tweede benadering word die jong aarde kreasionisme genoem. Hierdie groep verskil van eersgenoemde deurdat hulle hul standpunt dat die aarde sowat 6 000 jaar oud is (daar is enkele variasies) probeer bewys, en ‘n eie wetenskap hiervoor ontwikkel het, wat bykans elke aspek van die konvensionele wetenskap bevraagteken en verdag probeer maak. Die sondvloed speel ‘n uiters belangrike rol, en sou ook die hele aarde oordek het. Wat die nie-biologiese wetenskappe betref, het dit sekere ooreenkomste met die konvensionele wetenskap, behalwe dat alles oneindig vinniger sou geskied het. Kontinentale drywing sou bykans oornag plaasgevind, en die sondvloed se water “ingesluk” het. Olie- en steenkoolvelde het baie gou ontwikkel. Wat die biologiese wetenskappe betref, was daar ‘n tyd toe alle spesies nog gelyk sou bestaan. Die mens en die dinosourus sou saam geleef en saam in die ark gewees het. Dit laat Bybelse argeoloë wat met die opgrawing van stede soos Jerigo werk wat ouers as 6 000 jaar is in ‘n moeilike posisie.
– Die geloofsonderbou vir hierdie groepering is sterk gevestig in fundamentalistiese kerkgroepe wat in die 70’ger jare van die vorige eeu in die VSA ‘n oplewing getoon het, en in ‘n groot mate via kerkverbande in die Baptisties-charismatiese konteks na Suid-Afrika gekom het.
– Die derde groep, die ou aarde kreasioniste, het nie ‘n probleem met die wetenskaplike beraming van die aarde se ouderdom van meer as vier miljard jaar nie. Die rasionaal hiervoor word in die Bybel self gevind, naamlik Psalm 90: 4, en 2 Petrus 3:8, wat die konsep tuis bring dat God se tyd nie ons tyd is nie (Hy is immers die Skepper van tyd ook). Dit word simbolies uitgedruk as een dag is soos ‘n duisend jaar (simboliek vir selfs die ewigheid), en ‘n duisend jaar wat vir God soos een dag is. Hierdie groep ontken “species hopping” en voer aan dat “die afwesigheid van tussenvorme” as bewys hiervoor dien. Namate meer en meer tussenvorme ontdek word, kwyn hierdie groep ten koste van die jong aarde kreasioniste.
– Die vierde groep word dikwels verkeerdelik gelyk gestel aan die “intelligent design.” Hul korrekte naam is Deïstiese evolusioniste, ook soms Teïstiese evolusionisme genoem. Hulle glo God skep en gebruik evolusie as meganisme. Christen-paleontoloë maak die grondslag hiervan uit, en vandag is dit die amptelike standpunt van die NG Kerk en die Hervormde Kerk. Hulle gebruik ook die teksverse hierbo vermeld om die aarde se ouderdom Bybels te verklaar. Daar is uiteraard baie predikante en lidmate wat nie die standpunte deel nie. Die Gereformeerde Kerke (Doppers) se formele sinodebesluit is ook hiermee versoenbaar, maar baie verwarring bestaan onder lidmate en predikante oor die werklike standpunte wat deels veroorsaak is deur die mediaverklaring wat na die sinodebesluit uitgereik is, en ‘n ander standpunt gestel het. Hierdie benadering verklaar die voorbeeld hierbo vermeld waar die NG teoloog “die evolusie” se standpunt, en ‘n argitek die jong aarde kreasionisme se standpunt gestel het.
– Toevallige evolusie behels ‘n ateïstiese standpunt waar God afwesig is in Sy skepping. Mutasies vind deurlopend ongerig plaas, en natuurlike seleksie sorg dat net die lewensvatbare gemuteerde vorme kan bly voortbestaan. Onkundiges verwys dikwels hierna as Darwanisme. Dit is verkeerd aangesien Darwin, toe hy geleef het, niks van genetiese mutasies sou kon weet nie, en Darwin eintlik slegs in die Engelse wêreld as toonaangewend beskou word. In Die Franssprekende wêreld was daar verskeie kenners wat voor hom soortgelyke teorieë geformuleer het.
– “Intelligente ontwerp” is aanvanklik ontwerp om die Amerikaanse vertolking van godsdiensvryheid in skole, wat in effek op ‘n beleid van “geen godsdiens” neergekom het, te omseil. Daar is gehoop dat die howe simpatiek sou wees dat die aanbied van die evolusieleer in skole na ‘n Skepper kon verwys, as die Skepper uiters vaag geformuleer sou wees. Die poging was egter nie geslaagd nie, en is deur die howe beskou as ‘n slenter van Christene om Deïstiese evolusie in die skole te laat leer. Hoewel hierdie benadering slegs as juridiese noodmaatreël ontwerp is, het dit sedertdien op eie bene begin staan, en is volgens sommige berigte so radikaal en onverdraagsaam dat dit hoegenaamd nie as ‘n grondslag vir gemeenskaplike denke kan dien nie.
Soos gemeld, uit die debatte sou afgelei kon word dat daar net twee opsies op die tafel is – jong aarde kreasionisme wat “die Christelike standpunt” verteenwoordig, en die toevallige evolusie wat “ateïste se standpunt” verteenwoordig. Die probleem word vererger deurdat die jong aarde kreasioniste na hul eie benadering as “kreasionisme” verwys asof die ou aarde kreasionisme nie (meer) bestaan nie. Die toevallige evolusioniste eis ook dikwels evolusie as hul uitsluitlike domein op.
‘n Christen wat sonder die nodige agtergrond op so ‘n debat afkom, sal maklik ‘n idee kan vorm dat daar net twee opsies is: As hy ‘n Christen wil wees moet hy glo die aarde is 6 000 jaar oud. As hy glo die aarde is ouer, kan hy nie ‘n Christen wees nie.
Predikante en lidmate van kerkverbande wat in ou aarde kreasionisme of Deïstiese evolusie glo, is gewoonlik in hierdie debatte afwesig. ‘n Belangrike rede is waarskynlik dat die opkoms van jong aarde kreasionisme onderskat word. Die opvatting bestaan dikwels verkeerdelik dat die jong aarde kreasioniste se voortbestaan vergelyk kan word met die pous se volharding dat die aarde plat is, selfs lank na Magellaan se ekspedisie om die aarde gevaar het. Asof dit gaan oorwaai. Die verbetenheid waarmee aanhangers van die jong aarde wetenskap hul opvattings verdedig (en selfs jong aarde Evangelisasieaksies op die been bring) wys dit sal nie gebeur nie. Boonop is daar ‘n stroming van lidmate van die susterkerke na charismatiese kerke. Hoewel ‘n standpunt oor kreasionisme of evolusie waarskynlik selde ‘n rol by hierdie skuif speel, bevind meer en meer mense hulle in kerkverbande wat die jong aarde kreasionisme aanhang.
In Europa is wel deeglik kennis geneem, deurdat die Europese Unie – met die steun van die regerende Christen-demokratiese Partye – ‘n beleidsdokument aanvaar het met die titel: “Die gevaar van kreasionisme.”
In Nederland vind dorpsmuseums wat ongehinderd jare lank hul omgewing se geskiedenis uitgebeeld, skielik dat hulle onder druk kom wanneer na duine van miljoene jaar oud verwys word. Dit is immers onmoontlik as die aarde net 6 000 jaar oud is.
Die debatte op die webblaaie van koerante neem werklik dikwels die karakter aan van iets wat nie tot eer van God sterk nie. Aan die een kant word heel kerkverbande tot die ateïsme gereken, en omgekeerd is daar reaksies soos: “jou god.”
Wedersydse beskuldigings van bedrog is volop. Jong aarde kreasioniste verwys graag na die ouderdomme van fossiele as bedrog, en selfs dat dit “vervaardig” word. Omgekeerd wys wetenskaplikes (daar is al verskeie boeke geskryf om die jong aarde wetenskap as kwasi-wetenskap uit te wys) byvoorbeeld na die bekende voorbeelde van die lawa van Mount St. Helens waar die jong aarde wetenskaplikes aangedring het op ‘n koolstoftoets en voor betaal het, terwyl die instansie wat die toets gedoen het, reeds vooraf verduidelik het so ‘n toets is nie toepaslik nie, en ‘n foutiewe lesing gaan oplewer. Die ander voorbeeld waarna gereeld verwys word, is dat ‘n jong aarde wetenskaplike self vasgestel het die “mensspore” waarop dinosourusse sou getrap het, ook deur dinosourusse gemaak is.
