{jathumbnail off}
Vyftien mense, insluitende minstens agt kinders, het Dinsdag doodgebrand in ‘n kinderhuis buite Newcastle, het KwaZulu-Natal se departement van maatskaplike ontwikkeling gesê.
Nog nege kinders is gehospitaliseer.
“Die getal mense wat doodgebrand het, het na 15 gestyg,” het Mandla Ngema, woordvoerder vir Meshack Radebe, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling gesê.
“Die persoon wat in beheer is van die huis, sowel as haar vier kinders, het doodgebrand. Agt ander kinders se lyke is ook gevind.”
Volgens Ngema het ‘n reddingspan later die oggend nog twee lyke gevind.
Dit is nog nie duidelik hoeveel van dié wat gesterf het kinders was nie.
Supt. Jay Naicker het gesê dat die polisie Dinsdagoggend omstreeks 06:00 uitgeroep is na die Hope in Christ Home.
“Die LUR gaan vandag na die toneel om die situasie te ondersoek,” het Ngema gesê.
Daar word beraam dat die kinders wat doodgebrand het tussen die ouderdomme van twee en 15 jaar was.
Twee voertuie buite die huis het ook gebrand.
‘n Brandondersoekspan was ook onderweg van Pretoria om die oorsaak van die brand te ondersoek.
Die Hope in Christ Home was ‘n kinderhuis wat deur die departement van sosiale ontwikkeling bestuur is.
Polisiebeamptes in Knysna gaan Dinsdag aan ‘n uitkenningsparade moet deelneem nadat ‘n vrou Saterdag glo deur ‘n polisieman verkrag is, het ‘n woordvoerder gesê.
Volgens Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap , is die 32-jarige vrou glo deur twee polisiemanne wat aan diens was in ‘n polisievoertuig in Knysna se hoofstraat verkrag.
“Sy was in ‘n restaurant met vriende toe hulle ‘n argument gehad het. Sy het besluit om by die hoofstraat op te loop en het ‘n geparkeerde polisievoertuig gevind,” het Pojie gesê.
“Sy het hulle vir hulp gevra. Die bestuurder het haar in die voertuig ingetrek en die passasier het haar verkrag.”
Die saak is deur George se familiegeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredingseenheid ondersoek.
“Hulle is ‘n gespesialiseerde eenheid en is onafhanklik van die Knysna-polisie,” het Pojie gesê.
Die saak is ook aangemeld by die Onafhanklike Klagtedirektoraat.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar lede is ingeroep vir ondervraging.
“Indien verdagtes na die uitkenningsparade geïdentifiseer word, sal hulle in hegtenis geneem word,” het Pojie gesê.
Die paar harde klappe wat Afrikaans toegedien is in ‘n beëdigde verklaring deur die DG vir Kuns en Kultuur, nogal met die goedkeuring van die president, het nie net regsimplikasies nie.
Die eerste vraag wat gevra kan word is of Engels so ‘n uitsonderlike status verdien soos wat die regering graag daaraan wil toeken?
Dit kan ten beste met “miskien” beantwoord word. Engels, met al sy variante, is waarskynlik die taal ter wêreld wat die meeste gepraat word. Dit is nie so ‘n eenvoudige antwoord nie, omdat baie van die mense wat as “Engelssprekers” getel word, in werklikheid ander huistale het, en baie van diegene wat aandui dat hulle Engels magtig is, se vaardigheid hierin so gebrekkig of ontbrekend is dat dit nie betroubare resultate oplewer nie. Die moedertaalsprekers wat Mandaryns en Kantonees (twee Chinese tale wat onderling verstaanbaar is) is moontlik meer as die werklike aantal Engelssprekendes.
Wat die aantal lande betref waarin ‘n mens jou met Engels kan behelp, sal in alle waarskynlik minder wees as die lande waar Spaans bruikbaar is. Weer eens is dit ‘n grys gebied omdat byvoorbeeld aanvaar word dat Engels wyd in Indië en Sri Lanka gepraat en verstaan word, wat hoogstens kol-kol die geval is.
Boonop word projeksies gedoen wat daarop dui dat Spaans weldra meer moedertaalsperkers in die VSA sal oplewer as Engelspsprekers (die jaar 2050 word byvoorbeeld gereeld genoem).
Hoewel Arabies in baie lande gebruik en verstaan word, is hierdie lande in die reël yl bevolk, met meer as die helfte van die Arabiessprekendes wat byvoorbeeld in Egipte woon.
Teenoor ‘n minderheidstaal in Indië en Sri Lanka, Tamil, met sowat 65 miljoen moedertaalsprekers, is Afrikaans met waarskynlik nie meer as agt miljoen moedertaalsprekers nie, ‘n klein taal.
Maar gaan krap aan die waardigheid van ‘n taal, en daar is bykans altyd ‘n groot teenreaksie.
Nie baie lank gelede nie was daar ‘n taamlike beweging in Nederland om minstens by sommige universiteite Engels as ‘n taalmedium in te voer. Toe hou ‘n groep immigrante optogte en dring aan om Engels as kommunikasietaal, eerder as Nederlands te mag gebruik.
Fout.
Min of meer dieselfde tyd is daar ‘n debat oor welke taal die Europese Parlement se amptelike taal moet wees, en toe dit blyk dat Engeland soort van as vanselfsprekend aanvaar dit moet Engels wees, is daar ‘n skerp teenreaksie. Oornag verdwyn Engels van ‘n rits politieke partye in Europa se webtuistes. Van hierdie partye, soos die Duitse CDU en die Nederlandse CDA het omtrent volledige Engelse weergawes naas die lande se eie tale gehad, maar selfs noudat Engels weer beskeie in daardie webtuistes kom nesskop, is slegs ‘n klein deel van die inhoud in Engels te lese. Ook in Swede waar die inwoners taamlik gesteld is om Engels onder die knie te hê, het Engels uit politieke partye en selfs toerisme-webbladsye verdamp.
Van die Duitse ministers is ook stram om Engels te praat, selfs al is hulle vlot Engels magtig. Weer eens het ‘n betreklik nietige saak die ding aangevuur – die BBC wat ‘n joernalis wat slegs Engels magtig is stuur om die nuuskonferensie na afloop van die Duitse verkiesing te gaan dek, en toe aandring om vrae in Engels te vra en beantwoord te word. Dit, terwyl die BBC ‘n korrespondent in Berlyn het wat Duits vlot magtig is.
Daar is egter ook ‘n verwikkeling op ‘n ander vlak. Enkele jare gelede was dit nog taamlik maklik om Friesies via ‘n kennis van Nederlands te lees. Of so het ek tot my verbasing gedink, synde ek op skool geleer het Friesies is nader aan Engels as aan Nederlands verwant. Vir seker minder as ‘n jaar het ek nie iets in Friesies gelees nie, en toe ek weer daar gaan oplees as deel van spesifieke navorsing, kry ek ‘n groot verrassing. Ek kan dit beswaarlik volg, en eintlik ook net bietjie volg omdat ek vir stamboeknavorsing myself redelik bedrewe moes maak om Sweeds te lees.
Miskien nie so verrassend dat Friesies en Sweeds na mekaar trek nie, synde beide van Skandinawiese herkoms is, met die Friese wat verwant is aan die Angele en Saksers wat in Engeland gaan vestig het.
Toe onthou ek dat daar beslis iets gebeur het. Omtrent elke Nederlandse korrespondent wat ek het, kondig skielik aan dat hulle eintlik Friesies is. Selfs al kan hulle nie ‘n woord Friesies verstaan nie.
Maar duidelik het daar ‘n Friesiese bewuswording plaasgevind, wat tot die herontdekking van die Friese taal en gebruik daarvan gelei het. Dis ook nie so eenvoudig nie, want Friesies het verskeie weergawes wat dalk meer soos afsonderlike tale as net dialekte van mekaar staan.
So sterk was hierdie oplewing in ‘n stadium dat staatkundiges in Nederland en België selfs die opsie genoem het dat, sou België uitmekaar spat, Vlaandere aansluiting by aangrensende Nederlandse provinsies sou vind, en dat Friesland, of liewer, die Friesiese gebiede, nie deel hiervan sou uitmaak nie. ‘n Variasie was om voor te stel dat die Friesiese gebiede dan by Denemarke, ook ‘n Skandinawiese land, sou inskakel.
Toe die taal / dialek, Groningins, onlangs sy eie amptelike Bybelvertaling in gebruik neem, was Friesiese eregaste duidelik meer welkom as die Nederlandsprekers, hoewel ook selfs ten opsigte van hierdie “broeders in taalverdrukking” ‘n ligte afstand gehandhaaf is.
Onlangs het ‘n aantal Katalaanse stede en dorpe in ‘n nie-bindende referendum vir volkome Katalaanse onafhanklikheid van Spanje gestem. Katalaans is na berig word nader aan Italiaans as aan Spaans.
Die werklike interessante geval is egter Baskies.
Omdat Baskies ‘n baie ou taal is (met onseker taalverwantskap) is dit erg dialekties wat stremmend op die aanwending van die taal as amptelike taal of akademiese taal inwerk. Baie Baske, hoewel Baskies hul moedertaal is, het ook ‘n Spaanse identiteit vir “hoër” funksies en is van die grootste koerante in die selfregerende Baskiese provinsies Spaans.
Trouens, ‘n gestandariseerde vorm van Baskies vir amptelike en hoër gebruik, Batue, is eers in taamlik onlangs ingevoer. ‘n Eens groot taal, Occidan, word nou net deur ‘n klein aantal mense in Frankryk gepraat waar dit eens sowat 10 miljoen sprekers gehad het. In Frankryk word net Frans amptelik erken. Occidan word ironies in dele van Katalonië as amptelike taal erken, en het ook meer amptelike status in Monaco en Italië waar dit ook in dele gepraat word. Die mate waarin hierdie taal oornag amper verdwyn het, word gereeld as argument gebruik hoekom ‘n taal behoorlike amptelike erkenning behoort te geniet.
Dit lyk egter of daar in Europa – ook Frankryk – ‘n horde oertale en Romaanse variante is wat ten spyte van bitter min sprekers, ook verseg om heeltemal die handdoek in te gooi. Selfs binne die Baskiese gebied is daar ‘n magdom klein taaltjies, en word juis as een van die redes aangevoer hoekom Baskies so gesukkel het om homself bestendig te kry.
Wat kan van Afrikaans verwag word as dit nie amptelike erkenning kry nie, of erg afgeskaalde erkenning?
Ten eerste kan verwag word dat die sprekers wat meen Afrikaans is cool en ‘n taal wat lekker as gig-taal by shows gebruik kan word, deurlopend teenspoed by taalpuriste sal kry.
Die generasie wat betreklik onlangs nog op skool deurgeloop het omdat hulle na hul gesin as familie verwys het, of dit op die skoolterrein gewaag het om van die skoolgronde te praat, of na hul pa se besigheid in plaas van onderneming te praat, moet maar in afsku toesien hoe Engels sy “kolonisasie” van Afrikaans voltrek.
Eers wanneer die sportlui besef dit is uncool om coaches in plaas van afrigters te hê, sal Afrikaans kan voel hy weer hierdie aanslag van binne af.
Dan is daar die Afrikaanssprekendes se skryfvermoë. Sien ‘n mens dit wat buite-om die gedrukte media in skrif verskyn, wonder ‘n mens gewoon of daar nog ‘n onnie los rondloop wat weet wat in Afrikaans vas, en wat los geskryf word. Die taalgebruikers oor die algemeen het nie ‘n benul nie, selfs nie eens van die voorste taalbulle nie.
Word daar nie op die staatkundige front hard geveg vir die regte van ‘n taal wat van binne in elk geval gerysmier word nie?
Pas het iets die VSA weer getref wat in Suid-Afrika ondenkbaar is: Die staatsdiens op Capitol Hill het tot stilstand gekom omdat die amptenary weens sneeustorms nie by die werk kon kom nie. Die amptenare se snoesige “vakansiedag” in hul huise kos die VSA $100 miljoen per dag.
Dit het die vraag opnuut laat ontstaan: Behoort so iets so verlammend in te werk, veral in hierdie tyd waar mense met ongelooflik baie kommunikasiemiddele tuis tog nog “aan diens” kan wees?
Die Christian Science Monitor berig dat tot 9 %, of te wel 102 000 amptenare, reeds ooreenkomste met die staat het om van hul huise af te werk, en die regering wil hierdie persentasie nog verder opstoot.
Jare gelede, toe Robert (Taalbul) van Tonder met sy Boerestaat Party (sy spelling) die politieke toneel kleurvol gemaak het, het ‘n koerantredakteur opgemerk dit kos ook net iemand met ‘n tikmasjien en faksmasjien om ‘n politieke party heel sigbaar te kan maak. ‘n Mens kan jou bloot indink hoe sigbaar ‘n eenman-party met ‘n rekenaar, e-pos en die internet kan wees, met nog ‘n selfoon op die koop toe.
Kantoorhuur is duur – nie net in huurgeld nie, maar in skoonmaakkostes, kommunikasieinstrumente, meubels, water en ligte. ‘n Gedesentraliseerde opset waar elkeen, of so veel as moontlik van die personeel van hul huise af werk, klink aantreklik. Voeg hierby die voordele van fleksietyd, sodat kinders by die skole gehaal kan word, en vele meer.
Dit is vanselfsprekend dat nie alle tipes werk hulle tot hierdie soort desentralisasie leen nie. Sekere aanpassings is nodig, soos dat die fokus van werksure na werkslading verskuif. Uit ‘n arbeidsregtelike oogpunt sal die fokus waarskynlik verskuif van werknemers na kontrakteurs.
In Washington lyk dit of dié praktyk, ten spyte van die regering se aanmoediging, stadiger in die staatsdiens posvat as in die private sektor. ‘n Gevestigde gemaksone van veral senior personeel wat traag is om die nuwe kommunikasietegnologie baas te raak, en wat gevestigde werkspatrone soos om gereeld laat te kom, staan in die weg van behoorlike ontplooiing.
Die VF Plus het die afgelope Saterdag ‘n petisie in die Wesmoot geloods om die verskuiwing van ± 15000 inwoners vanaf Atteridgeville na die Andeon plotte, wat deur die Pretoria/Tshwane Metroraad beplan word, te stuit.
Die gemeenskap het in hulle duisende opgeruk om hierdie veldtog te ondersteun wat gehou was by die Claremont parkie op die h/v Market en Bremerstrate in Claremont.
Die veldtog wat om 08:00 sou afskop moes inderhaas vervroeg word omrede mense reeds vanaf 07:00 by die parkie saamgedrom het. Reeds om 09:00 het lang toue mense gestaan en wag om by die petisietafel uit te kom en moes vrywilligers inderhaas met lyste tussen die toue inbeweeg om die mense nie te lank te laat wag nie. Net na 10:00 het petisielyste opgeraak en het die plaaslike laerskool gehelp om nog lyste af te rol. Gewone lede van die publiek het ook met die lyste die strate ingevaar en van huis na huis beweeg en boere van die landbouhoewes het met die vorms van hoewe na hoewe beweeg. Die lang toue in die parkie het gelyk asof dit ‘n verkiesingsdag kon wees.
Die VF Plus se verteenwoordiger in die gebied, Philip van Staden, het sy dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die goeie opkoms en die lede van die publiek bedank vir die hulp wat vrywillig aangebied is. “ Vandag is net ‘n bewys dat die gemeenskap siek en sat daarvoor is dat daar op hulle getrap word en dat hulle demokratiese regte vertrap word. Ons rig ‘n dringende versoek aan die Metroraad en die Gauteng Provinsiale regering om hierdie planne dringend te laat vaar anders gaan daar nie verantwoordelikheid aanvaar word vir die gemeenskap se optrede indien daar met die planne voortgegaan sou word nie.”
Die petisie stel dit duidelik dat die inwoners en die VF Plus beswaar maak teen die volgende:
* Die oorweging van die Pretoria/Tshwane Metroraad om ± 15000 inwoners van Atteridgeville te verskuif na Andeon plotte;
* Plakkers in Hjalmer/Theo Slabbertstraat Pretoria Tuine;
* Plakkers op Andeon plotte;
* Duisende plakkers wat regering verskuif het na Hornsnekweg.
Die inwoners en die VF Plus dring daarop aan dat:
* die betrokke partye (in die geval die inwoners van Wesmoot) geraadpleeg word alvorens die besluit oor die verskuiwing van inwoners, vanaf Atteridgeville na Andeon plotte, finaal geneem word op die Raadsvergadering van 25 Februarie 2010; en
* daar daadwerklik opgetree word om alle plakkers uit die Wesmoot te verwyder.
Daar word op Saterdag 13 Februarie 2010 weer geleentheid vir inwoners gegun,wat nog nie die petisie onderteken het nie, om die petisie te kom onderteken.
Met sluiting om 16:00 die afgelope Saterdag het reeds 4000 inwoners die petisie onderteken terwyl nog 500 vorms in die strate beweeg het. Die finale syfer sal eers teen 13 Februarie 2010 om 18:00 bekend wees.
Die plaaslike wyksraadslid van die DA, Mev Suzette Fourie, en die ANC raadslid van wyk 07 het egter nie die veldtog kom ondersteun nie.
Reeds in 1994 het Cachalia en ander in hul rigtinggewende boek, Fundamental Rights in the New Constitution, geskryf dat elf amptelike tale onprakties is, en dat daar daarom uiteindelik waarskynlik net een sal wees.
‘n Mens het nie elf raaiskote nodig om te weet na watter een hulle verwys het nie.
Afgesien an Cachalia het hierdie boek ook outeurs gehad soos Penuel Maduna, intertyd minister van Justisie, Dennis Davis en Gilbert Marcus.
Hierdie mense se politieke sentiment het heel waarskynlik reeds verklap dat die aandrang op die behoud van Afrikaans as amptelike taal tydens die onderhandelings ‘n klip in die maag was, en dat die elf amptelike tale as foefie ingebring is om deur die onwerkbaarheid daarvan ‘n situasie van de facto eentaligheid te skep.
Kort na 1994 het Pansat in een van sy min sterk standpunte dit gestel dat die owerheid self die grootste oortreder van die taalbepalings in die grondwet is.
Om sake praktykgerig makliker te maak, kon provinsies uit die “groslys” van elf tale ‘n paar as amptelike tale in hul provinsies kies. Afrikaans en Engels is in al die provinsies amptelike tale, terwyl die provinsies dan ook nog een of twee ander tale daarby het, soos Xhosa in die Wes- en Oos-Kaap, seSotho in die Vrystaat, Tswana in Noordwes, en so meer.
Sommer gou was daar probleme. Die polisie, wat ‘n gedeelde nasionale en provinsiale aangeleentheid is, het gou taal-beleidsvoorskrifte afgedwing wat strydig was met die taalbeleid van sommige van die provinsies, soos in die Wes-Kaap. Stasiebevelvoerders is in gemeenskappe ontplooi waar hulle nie met die oorheersende tale vertroud is nie, met gevolglike afname in dienslewering.
Amptenare van nasionale departemente is verplaas na provinsies waar hulle, anders as wat ‘n liggies-geïmplementeerde beleid bepaal, hulle nie minstens twee van die provinsie se amptelike tale onder die knie gehad het nie.
‘n Voormalige Statistikus-generaal het selfs ‘n verbod op Afrikaans in interne kommunikasie per e-pos tussen Afrikaanssprekendes geplaas.
Soms het die Engels-beheptheid ook tot ligter oomblikke gelei. Toe die Vrystaatse Landboudepartement in ‘n mislukte eksperiment van Glen na Bloemfontein se hoofstraat verhuis, is ‘n groot bord “Main Entrance” bo ‘n deur in die hoofstraat aangebring. Hierdie deur, ‘n soort sy-ingang, het nie toegang na die departement se kantore gebied nie – die werklike “main entrance” was in die straat langsaan.
Toe breek die fase aan van probeer verstaan hoekom mense wat hoegenaamd nie Engels onder die knie het nie, dit so graag gebruik. Soos om by ‘n kantooropset voor ‘n toe deur te beland, met ‘n nota opgeplak. “We are having a meeting” in plaas van “We are in a meeting”. Daar was tallose voorbeelde van “Engels” wat Miesies Vênderbaail se “Engels” na die produk van ‘n Oxford-graduandus sou laat lyk.
Ag, dan moet ‘n man seker afsluit met iets ligters, van Oxford gepraat.
‘n Suid-Afrikaanse Oxford-student loop jare gelede saam met sy professor, in druk gesprek, oor die kampus. Die student merk twee donkerige dames op, en skielik verlang hy vreeslik huis toe. Voor hy ‘n wag voor sy mond kan plaas, sê hy hardop:
“Hiert, ek het nie geweet Soutrivier se sjeelbek loop ook hier nie.”
Die een vlieg om: “Djou moer djou Boer.”
“What did she say?” wil die proffie weet.
“She says she also comes from South Africa.”
Soos Engeland se krieketspan.
Ek sien net negatiewe stellings omtrent Malema en sy dreigemente oor die myne se vergrype. Ek het reeds twee jaar gelede vir die ANC geskryf om daaraan te dink: In plaas daarvan om ‘n hele klomp plase te vat wat hulle in elk geval nie weet hoe om te bestuur nie, kan hulle eerder daaraan dink om ‘n paar myne te vat.
Dit sal ‘n paar dinge uitsorteer: Tydens die Anglo-Boereoorlog is ons voorsate uitgemoor omdat Rhodes en sy mede-Joodse vriende die minerale van die ZAR wou inpalm, wat hulle toe ook gedoen het. In die jare van sanksies het die myne steeds uitgevoer en dit het slegs monolopieë buite die landsgrense veroorsaak.
Myne word teen amper geen winste bedryf nie aangesien hulle hoofkantore meestal in die buiteland is (veral Britanje) en deesdae ook China en ander. Die voordeel wat dit vir ons inhou, is feitlik nul, enkele werksgeleenthede, maar eienaarskap sal dit nie verander nie.
Sou Malema wel genoeg steun kry om die myne te nasionaliseer, sal dit immers die winste binne SA hou. Die vervreemding van bates van die geldbase wat ons ondergang bewimpel het, sal my groot genot verskaf.
Verder kan hulle ‘n uitsondering maak: die eienaars moet in Suid-Afrika woon. Dit sal verseker dat die befondsers van ons ondergang ook maar moet deurmaak wat die res moet deurmaak.
Geen SA myn kan dus meer ander aandelebeurse bevoordeel nie.
Op die kort termyn kan dit dalk negatief wees, maar op die langer termyn sal dit goed uitwerk.
‘n Beleidsverandering in die VSA sal moontlik sommige dokters en aktiviste wat met MIV/Vigs-pasiënte in Afrika werk, sonder geld of medisyne laat.
President George W. Bush se PEPFAR-befondsingsbeleid vir MIV/Vigs op die kontinent het oorspronklik klem gelê op noodbehandeling en die verskaffing van medisyne aan pasiënte.
Onder dié beleid het Uganda byvoorbeeld tussen 2003 en 2008 ongeveer $929 miljoen (R7,2 miljard) ontvang. Die geld is gebruik om sowat 150 000 mense met anti-retrovirale middels te voorsien.
“George W. Bush is ‘n held in hierdie land,” het Peter Mugyenyi, die hoof van ‘n Vigs-behandelingskliniek in Uganda, gesê.
Maar, alhoewel die PEPFAR-beleid toegang tot medisyne vergemaklik het, het nuwe MIV-infeksies toegeneem.
Toe die PEPFAR-beleid moes hernu word, het president Barack Obama dus besluit om eerder meer hulpbronne te rig op die voorkoming van nuwe infeksies.
Maar, met meer geld wat aan voorkomende inisiatiewe spandeer word, sal minder geld aan die behandeling van pasiënte spandeer moet word.
Alhoewel pasiënte wat reeds medisyne van PEPFAR ontvang het nog steeds verniet behandeling sal ontvang, is meeste klinieke voorberei daarop om nuwe pasiënte te moet wegwys.
Dokters en aktiviste soos Mugyenyi is hoogs ontsteld oor die beleidsverandering, en sê die VSA het hul beloftes teenoor Uganda verbreek.
“Die belangrikste ding is die beskikbaarheid van behandeling. Enige ander program, maak nie saak wat hulle dit noem nie, sal misluk.”
Lynne McDermott, ‘n PEPFAR-woordvoerder wat in Kampala gebasseer is, sê die VSA kan eenvoudig nie aanhou om ‘n groeiende hoeveelheid pasiënte te behandel nie, en dat die land altyd ‘n medisyne-tekort in die gesig sal staar tensy die hoeveelheid nuwe infeksies begin afneem.
Mugyenyi het gesê hy is besig om “paniekerig” te raak.
“Ons is op pad na ‘n slagting. ‘n Slagting wat vantevore gestop is,” het hy gesê. “Daar is geen voorkomende program wat sonder behandeling suksesvol kan wees nie.”
Die motorvervaardiger Toyota het aangekondig dat hulle die nuwe Prius in Japan herroep weens probleme met die motor se remme.
Die maatskappy het aangedui dat hulle die ministerie van vervoer later op Dinsdag in kennis sal stel of dit die elektriese model Prius ook gaan herroep. Hierdie model is verlede jaar bekendgestel.
Daar word verwag dat tot 300 000 van die Prius-modelle herroep gaan word. Dit volg nadat Toyota reeds sowat agt miljoen motors wêreldwyd moes herroep weens probleme.
Die jongste stap sal twee ander modelle insluit, naamlik die Lexus HS250h sedan en die Sai, wat slegs in Japan verkoop word.
Luidens berigte het Toyota Maandag van hul televisie-advertensies in Amerika van die lug onttrek.