Tien jaar vir R100

‘n 21-jarige van Mdantsane is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy buurman verlede jaar van R100 beroof het, het die polisie Maandag gesê.

Lt. Nkosikho Mzuku het gesê Yamkela Tshoyi is Vrydag in die Mdantsane-landdroshof gevonnis.

In Mei 2012 was Tshoyi se buurman op pad na ‘n winkel toe hy hom beroof en met ‘n mes gedreig het.

“Yamkela het die geld gevat en daarmee weggehardloop,” het Mzuku gesê.

Mzuku het gesê dit was nie maklik om die landdros te oortuig nie, maar Tshoyi is skuldig bevind.

Denel naarstiglik op soek na breinkrag

Die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel probeer sy bes om belowende studente en gegradueerdes te lok om ‘n loopbaan in die verdediging- of veiligheidsektor te oorweeg, het dié maatskappy se hoof van menslike hulpbronne gesê.

“Ons wil ‘n dinamiese omgewing skep waar die beste en slimste studente kies om loopbane in verdediging en veiligheidsverwante sektore soos lugvaart, ruimtevaart, en hoë-tegnologie-vervaardiging na te jaag,” het Natasha Davies, waarnemende hoof vir menslike hulpbronne en transformasie by Denel, gesê.

Davies het gesê tegmologie wat deur die maatskappy ontwikkel word, word toenemend gebruik om probleme soos renosterstropery, dwelmhandel en grensbeheer die hoof te bied. Navorsing oor alternatiewe bronne van energie trek ook baie aandag.

Met “geweldige mededinging” vir ingenieurs- en tegniese studente, lê dié maatskappy die klem op loopbane in nuwe tegniese gebiede, sowel as navorsing en ontwikkeling.

Die maatskappy het in die laaste finansiële jaar R752 miljoen bestee op navorsing en ontwikkeling.

“Die uitdaging is om vaardighede en kennis in ons bestaande arbeidsmag te behou, en om dit aan te vul met die entoesiasme en energie van jong ingenieurs wat die maatskappy binnekom,” het sy gesê.

Wit Afrikaanse Stellenbosch in sy swernoot

Na ‘n raadsvergadering het die rektor, Russel Botman, op 29 April hoogs ingenome die einde van die Universiteit Stellenbosch (US) as ‘n respektabele akademiese inrigting aangekondig; ten minste by implikasie. Kyk die video op die US-webwerf. In die universiteitsraad was daar klaarblyklik min teenstand teen Botman se voorgestelde politiek-gemotiveerde veranderings. Sy transformasieplan is goedgekeur.

Soos in my twee onlangse skrywes in die vooruitsig gestel is (Praag 28 en 29 April), gaan dit vir Botman om die terugsnoeiing en sover moontlik uitroeiing van twee dinge wat voorheen kenmerkend van die US was, naamlik blankes en Afrikaans. In hierdie proses word die derde kenmerk van die US van weleer, naamlik akademiese uitnemendheid, onbeskaamd afgeskaal en in groot mate vernietig.

Dit is wat gebeur as ‘n universiteitsraad die wesenlike aard van ‘n universiteit, naamlik akademiese voortreflikheid, misken en toelaat dat ‘n aktivistiese rektor die US op die pad van slaafse ANC-gedienstigheid lei.

Die Burger se berig hieroor (30 April, p 8) is ‘n klakkelose herhaling van die amptelike verklaring wat die US uitgereik het. Na verloop van ‘n week het die koerant self nog geen kommentaar gelewer of kommentaar deur ander toegelaat op die berig wat opsetlik in die binneblaaie weggesteek is nie. Die opskrif wek ‘n gunstige indruk: “Plan vir vernuwing kry groen lig by US.” ‘n Mens sou dink dat dit, soos dit ‘n universiteit betaam, gaan om die verhoging van akademiese standaarde; dat net die akademies beste studente voortaan tot studie toegelaat sal word en dat net die akademies beste dosente voortaan aangestel en bevorder gaan word. In werklikheid word die teenoorgestelde beoog.

In Die Burger kraai geen haan oor die uitwissing van nog ‘n beskawingsproduk, die US van weleer, waarop Afrikaners opreg trots was, nie. ‘n Histories voortreflike Westerse universiteit word tot ‘n tipiese Afrika-onderneming verwater. Al gekraai wat waarneembaar is, is dié van ANC-aktiviste, soos Botman, wat lekkerkry omdat die US so uitermate vir politieke oogmerke diensbaar gestel word.

Dit is die ou Botman-refrein. Die US moet relevant, divers, inklusief en meer verteenwoordigend (die ANC se demografiese preokkupasie) wees. Daar moet ‘n verwelkomende kultuur wees, wat in die praktyk egter net die nie-wittes in ag neem. As wittes op ‘n verswartende kampus onwelkom voel, sou beweer word dat die fout by die wittes lê.

Die menswaardigheidsvereiste neem ook net die nie-wittes in ag. Wittes met ‘n A-simbool gemiddeld in matriek en met ouers wat hulle finansiële verpligtinge (bv inkomste- en munisipale belasting) nakom, moet by toelating tot bv mediese studie terugstaan vir nie-wit nie-presteerders met ouers wat nie-betalers en selfs nie-Suid-Afrikaners is. Daar word voorgegee dat sodanige blatante rassediskrimasie geensins wittes se menswaardigheid aantas nie. Botman en kie kyk na die US uitsluitlik uit die oogpunt van die bevoordeling van nie-wittes. Diegene, naamlik die wittes, wat die US (en tewens die land) opgebou het, mag maar vertrap word.

Die politieke doelwit wat Botman aanspoor, is dat daar in 2018, wanneer die US sy eeufees vier, nie meer gesê moet kan word dat die US ‘n wit en ‘n Afrikaanse universiteit is nie. In 2018 moet die meerderheid studente nie-wit wees; ‘n raskwota in sy suiwerste vorm. Dit is ook ‘n nie- of eintlik anti-akademiese norm in sy suiwerste vorm, want oor die akademiese gehalte van die studente wat toegelaat gaan word, word geen woord gerep nie.

Let op die volgende blatante verdoeseling oor die onderrigtale. Alle voorlesings moet volledig toeganklik en daarom in Engels wees. Vir Botman maak dit versnelde transformasie moontlik, sodat die US gouer sy diversiteitsdoelwitte kan bereik. Die wyse waarop Afrikaans as akademiese taal “versterk” gaan word, is met parallelmedium-onderrig en tolking. Parallelle of aparte klasse in Afrikaans en Engels sal waarskynlik gou iets van die verlede wees. Dit herinner te veel aan wat Botman ons “ongemaklike verlede” noem.

Tolking sal Afrikaanssprekende studente dan aan die agterste speen laat suig, want hulle sal aangewese op ‘n vertaling van die dosent se Engelse voorlesing wees. Ooreenkomstig die US se personeelbeleid sal die beste vertalers nie aangestel word nie. Voorkeur sal aan voorheen benadeeldes, dus tans bevoordeeldes, dus nie-wittes, gegee word, wat gebrekkige vertaling sal meebring. Wat Afrikaanssprekende studente sal moet aanhoor, kan Kaaps of Afro-Afrikaans sonder grondige kennis van die goed ontwikkelde Afrikaanse vakterminologie wees. Daar is geen moontlikheid dat Afrikaans as akademiese taal op hierdie oorlamse manier versterk gaan word nie. Hier word doelbewus mislei om die politieke pil van die uitfasering van Afrikaans te versuiker.

Druk van die ANC het veroorsaak dat Engels as ‘n tweede onderrigtaal aan die US ingevoer is. Maar die ANC-regering is nie bereid om ‘n sent addisioneel by te dra tot die duplisering van lesings nie. Die US het sonder om vooraf finansiële waarborge te beding, hierdie dwase pad van tweetaligheid betree. Nou word die rol van die voertale omgeruil, want Engels word die hooftaal en Afrikaans die bykomende taal. Die ANC-regering was nie bereid om die Engelse aanbod addisioneel te befonds nie, al is dit ter bevoordeling van hoofsaaklik nie-wittes ingevoer. Nou beweer Botman dat ‘n tolkdiens ten behoewe van Afrikaanssprekende studente daargestel gaan word. Dit is baie duidelik dat die ANC-regering nie ‘n sent hiertoe sal bydra nie, want die vertaling (van Engels na Afrikaans) sal hoofsaaklik wit studente bevoordeel.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Botman en kie bereid sal wees om genoeg geld aan tolkdiens te bestee ten einde hierdie proses behoorlik op dreef te kry. Ek voorspel dat die voorgestelde tolkdiens spoedig in die vergetelheid sal verdwyn. Die Afrikaanssprekende studente sal self die mas in Engels moet opkom. Hulle ontheemding van hulle universiteit sal dan volledig wees. Dit sal dan die totale transformasie wees wat Botman deurentyd nagesteef het. Onthou verder dat Botman lankal die “Afrikaanse aanbod” tot 60% afgeskaal het en dit is bloot die amptelike syfer. Daar is groot eenstemmigheid dat hierdie “aanbod” (asof dit ‘n onverdiende guns, ‘n welwillendheidsgebaar, aan Afrikaanssprekendes is) in die praktyk reeds baie minder is en steeds krimp.

My vertolking van die koers wat die US ingeslaan het, is nie vergesog nie. ‘n US-raadslid, Piet le Roux, berig in Rapport (5 Mei): “Die US sal voortaan ‘n universiteit wees waar die primêre taal Engels is en waar Afrikaans tot tyd en wyl as bykomende taal geakkommodeer word.” Van studente en dosente word nie verwag om Afrikaans magtig te wees nie, want die kampustaal gaan Engels wees. Vergelyk hierdie mening van ‘n raadslid, wat ingelig is, met die misleidende beeld van US-transformasie wat Die Burger (doelbewus) aan sy lesers voorhou.

Le Roux verwys ook na hoe nodig Botman rasseklassifikasie het om sy ideaal van ‘n hoofsaaklik nie-wit US te bereik. Maar dan is dit die einste Botman wat die eertydse departement volkekunde aan die US in onguns wou bring omdat daardie departement na bewering artefakte vir rasseklassifikasie gehuisves het.

Sedert 2007, toe Botman rektor geword het, is daar veral een verskynsel aan die US wat opval, naamlik die skaamtelose bevoordeling van bruines by toelating as studente en by aanstelling en bevordering as dosente en as ander personeel. Dit word gedoen sonder die potloodtoets waarna Botman onlangs verwys het. Die ergste is dat dit onder die vaandel van geregtigheid geskied. Ek het al dikwels daaraan gedink dat Botman darem in ‘n lekker posisie is. Hy mag lede van sy etniese groep blatant bevoordeel sonder dat ‘n haan daaroor kraai. As ‘n wit rektor dieselfde vir sy etniese groep probeer doen, sou daar dadelik uitroepe van rassisme opgeklink het.

SA werkloosheid klim kwaai

Die getal werklose Suid-Afrikaners het in die vierde kwartaal van 2012 met 100 000 mense gestyg tot 4,6 miljoen, het Statistiek Suid-Afrika Maandag verklaar.

Statistiek Suid-Afrika het sy kwartaallikse arbeidsmagopname bekend gemaak. Die land se amptelike werkloosheidsyfer staan tans op 25,2%, wat met 24,9% in die vierde kwartaal van 2012 vergelyk.

Statistiek Suid-Afrika se amptelike definisie van werkloosheid is “iemand tussen die ouderdom van 15 en 64 jaar oud wat in die week voor die opname sonder werk was, maar werk soek en beskikbaar is om te werk of om ‘n onderneming te vestig”.

As mense wat opgehou het om werk te soek, ingesluit word, staan die syfer op 36,7% in die eerste kwartaal van die jaar – die hoogste sedert 2008.

Staatsveiligheid tjoepstil oor Guptas

Die departement van Staatsveiligheid bewaar die stilswye oor sy rol in die omstrede voorval waarin ‘n private vliegtuig van die invloedryke Gupta-familie verlede week op die Waterkloof Lugmagbasis geland het.

Die departement het bevestig dat sy direkteur-generaal deel is van die taakspan wat die omstandighede rakende die ongemagtigde landing van die vliegtuig op ‘n nasionale sleutelpunt ondersoek.

Die woordvoerder van die departement van Staatsveiligheid het geweier om te sê of die departement voor Dinsdag van die beplande landing bewus was.

Intussen sê die Tshwane Metropolisie hy is verbaas om te hoor dat nege van sy beamptes na bewering deel uitgemaak het van ‘n sekerheidskontingent wat die bruilofsgaste van die Guptas na Sun City begelei het.

Sommige van die beamptes onder verdenking het blykbaar dieselfde dag siekteverlof geneem. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle privaat voertuie gebruik het en dit onwettig met blou polisieligte, sirenes en vals nommerplate toegerus het.

Jeug steun busstakers

Suid-Afrika se jeug steun stakings deur bus-, taxi- en treinbestuurders, het ‘n nuwe meningspeiling getoon.

Minstens 75% meen dis reg as busbestuurders staak, 68% voel dieselfde oor treindrywers en 63% ondersteun taxi-bestuurders se reg om te staak.

Pondering Panda se selfoonopname van 2 146 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het dié menings gewys.

Volgens die uitslae steun jong swartes en bruines die stakings veral; met bykans 79% swartes en 77% bruines wat voel busbestuurders het die reg om te staak.

Slegs 64% Indiërs en 40% wittes het so gevoel.

Wittes was die enigste rasgroep wat meer geneig is om te dink dat stakings deur besbestuurders onwettig moet wees. Minstens 46% van hulle het so gevoel.

Shirley Wakefield, woordvoerder van Pondering Panda, sê jong mense het die stakings “oorweldigend” steun.

“Hierdie getalle wys dat jong Suid-Afrikaners ‘n mate van solidariteit en simpatie met die stakende bestuurders deel.”

Sy sê dis vreemd dat die jeug só voel, aangesien baie jong mense elke dag openbare vervoer gebruik.

Siriese rebelle gebruik Saringas, sê VN

Die VN se menseregte-ondersoekbeamptes het getuienis van slagoffers van Sirië se burgeroorlog en mediese personeel wat aandui dat rebellemagte die gifgas Sarin gebruik het, is Sondag berig.

Die Verenigde Nasies se onafhanklike kommissie van ondersoek oor Sirië het nog nie bewyse van regeringsmagte gesien wat chemiese wapens gebruik nie, wat onder die internasionale reg verbied word, het Carla Del Ponte gesê.

“Ons ondersoekbeamptes was in buurlande waar slagoffers, dokters en veldhospitale besoek is, en volgens die verslag van verlede week wat ek gesien het, is daar baie sterk vermoedens, maar nog nie onweerlegbare bewys nie, van die gebruik van Saringas,” het Del Ponte gesê in ‘n onderhoud met die Switserse-Italiaanse televisie.

“Dit is gebruik deur die opposisie, die rebelle, nie deur die regering nie,” het sy bygevoeg, in Italiaans.

Del Ponte, ‘n voormalige Switserse prokureur-generaal wat ook gedien het as aanklaer van die Internasionale Strafhof vir die voormalige Jugoslavië, het geen besonderhede oor wanneer of waar Sarin gebruik is nie.

Die Geneva-ondersoek na oorlogsmisdade en ander menseregteskendings is apart van ‘n ondersoek na die beweerde gebruik van chemiese wapens in Sirië deur die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, wat sedertdien tot stilstand gekom het.

President Bashar al-Assad se regering en die rebelle beskuldig mekaar van drie chemiese wapenaanvalle, een naby Aleppo en ‘n ander naby Damaskus, beide in Maart, en ‘n ander in Homs in Desember.

President Barack Obama het verlede jaar verklaar dat die gebruik of aanwending van chemiese wapens deur Assad ‘n “rooi lyn” sal oorsteek.

Is die volgende Afghanistan in Afrika?

Die bomaanval in Tanzanië wil-wil lyk soos die aanval ‘n jaar of twee gelede in Afghanistan toe agt niksvermoedende Suid-Afrikaners gedood is tydens ʼn selfmoordbomaanval op ‘n Dinsdagoggend in Kaboel, klaarblyklik die slagoffers van ‘n aanval uit weerwraak oor ‘n rolprent wat die spot dryf met die profeet Mohammed.

Daar was geen provokasie in Tanzanië om die aanval op die Katolieke kerk te verklaar nie, behalwe miskien die land se ontginbare neerslae.

Volgens The Jerusalem Post het die Afghaanse ekstremistegroep, Hezb-e-Islami, verantwoordelikheid vir die aanval in Afghanistan aanvaar. Die aanval is op ʼn minibus uitgevoer naby die stad se lughawe. Na wat verneem word, is twaalf mense dood. Die departement van internasionale betrekkinge het bevestig dat agt van die slagoffers Suid-Afrikaners was, wat vir ʼn internasionale koeriermaatskappy gewerk het.

Is Tanzanië oppad na dieselfde groter wetteloosheid, armoede en endemiese korrupsie wat Afghanistan teister? As die oorlog om “demokrasie” daar te vestig ‘n aanduiding van enigiets is, is dit dat die multi-miljard dollar pogings om stabiliteit te herstel in die streek ‘n volslae mislukking is.

Soos die geskeduleerde 2014 vermindering van Amerikaans-geleide NAVO-troepe nader kom, doem die vrae al hoe meer op.

Die Afghaanse sentrale regering is swak en hopeloos korrup, die nasionale gewapende magte is ongeorganiseerd en haat die buitelandse teenwoordigheid, die Taliban het steeds invloed, en vroue bly heeltemal gemarginaliseer.

Maar miljarde dollar is uitgestort in Afghanistan oor die afgelope dekade. Selfs die amptelike syfers van hulp en finansiële bystand is nie naastenby wat uitgedeel is aan Amerikaanse gevolmagtigdes nie.

Verslae bevestig dat miljoene Amerikaanse dollar in kontant deur die CIA in tasse, rugsakke en plastiek inkopiesakke aan die kantoor van Afghanistan se President Hamid Karzai afgelewer is sedert sy inhuldiging in 2004.

Die VN se verslag oor dwelmhandel UNODC 2009 beweer dat net tussen 10% en 15% van die Taliban se fondse uit dwelms verkry word. Die res, meer as 80%, kom uit ander bronne.

Verslae meld dat die dollars in plastieksakke aan krygshere en politici, baie met bande met die dwelmhandel en in sommige gevalle die Taliban, gegaan het.

Die verslag noem ook ‘n anonieme Amerikaanse amptenaar wat beweer, “Die grootste bron van korrupsie in Afghanistan is die Verenigde State van Amerika.” Teen hierdie tyd moet Amerikaanse belastingbetalers se bloeddruk seker styg weens die oneerlikheid om Amerikaanse fondse in die sakke van die Taliban te laat beland.

Hamid Karzai het verklarings uitgereik ter bevestiging van die bewerings, maar het daarop aangedring dat die fondse “klein” was en “gebruik is vir ‘n goeie doel”. As hierdie bewerings waar is, is daar geen rede waarom dit nodig sou wees om deur middel van geheime kanale, wat enige vorm van aanspreeklikheid ophef, te gaan nie.

Afghanistan se status as ‘n Narko-staat is nie net toe te skryf aan die swak toepassing van ontwikkelingshulp nie. Die voortgesette verwaarlosing van landelike en landbou-ontwikkeling, het toestande help skep wat hoogs kontroversieel is.

Vanaf die CIA se koverte oorlog van die 1980’s en ’90’s tot die Amerikaanse ingryping in 2001, is slegs ‘n skamele $237,000,000 toegewys vir landbou. Afghanistan staan in vir meer as 90 persent van die wêreld se heroïen en in die afgelope jaar as een van die grootste produsente van verfynde produkte soos honderde heroïne laboratoriums oral in die land opskiet.

Hoewel die Taliban dikwels as die vernaamste weldoener in die opiumhandel beskryf word, daar is rede om te glo dat die internasionale bankwese die grootste voordeel trek. Vandag het die heroïenproduksie in Afghanistan toegeneem met 40 keer sedert die VSA se inval in 2001.

Testosteroon-gevulde Amerikaanse soldate maak ‘n bespotting van hul land deur te urineer op Afghaanse lyke, Korans te brand en ongewapende burgerlikes aan te val. En nie enige hooggeplaaste Amerikaanse of NAVO-amptenaar is blykbaar verantwoordelik vir hierdie dade nie.

Washington gaan eenvoudig wegstap en Afghanistan laat soos die Sowjet-Unie dit in die vroeë ’90’s gelaat het. ‘n Geteisterde land met onstabiliteit, geen infrastruktuur nie, ‘n ekonomie in wanorde, en China wat wag om oor te neem.

Bomaanval op Tanzaniese kerk waar pouslike gesant is

‘n Vrou is dood en 44 mense is ernstig beseer toe ‘n bom ontplof het in ‘n Rooms-Katolieke kerk in die noorde van Tanzanië, het ‘n Tanzaniese polisiebeampte Sondag gesê.

Die vrou is in die hospitaal oorlede as gevolg van die aanval op die Arusha-kerk net voor die diens, wat deur die pous se gesant na Tanzanië bygewoon is, het gesê Magesa Mulogo, het die plaaslike polisiekommissaris van Arusha gesê.

Mulogo het gesê ooggetuies het gesien hoe die bom van ‘n motorfiets in die kerk gegooi word. Mulogo het gesê die bestuurder van die motorfiets is in hegtenis geneem.

Die Vatikaan se ambassadeur in Tanzanië, aartsbiskop Francisco Montecillo Padilla, het die amptelike opening van die kerk bygewoon toe die ontploffing plaasgevind het. Hy is ongedeerd.

Mulogo het gesê die motief agter die aanval is nie bekend nie, maar Tanzanië het in die onlangse verlede glo sektariese geweld tussen Christene en Moslems ervaar.

Sirië se president wy standbeeld in openbaar in

Pres. Bashar al-Assad van Sirië het Saterdag in die openbaar verskyn by die Damaskus Universiteit vir die inwyding van ‘n standbeeld ter ere van studente wat gesterf het in die opstande in dié land.

“Pres. Bashar al-Assad het hom by duisende studente en die families van ontslape studente geskaar met die inwyding van ‘n standbeeld ter ere van die martelaars by Sirië se universiteite en die Universiteit van Damaskus,” het die staatstelevisiestasie berig.

‘n Foto op die presidensie se Facebook-blad wys Assad, omring deur lyfwagte en ondersteuners.

Twee ontploffings by die Aleppo Universiteit op 15 Januarie het die lewe van 87 mense geëis. Die meeste van die slagoffers was studente.

Minstens 15 studente is op 28 Maart dood toe ‘n mortier ook ‘n kafeteria by die Damaskus Universiteit se fakulteit van argitektuur getref het. Die staatsmedia het dié aanval op terroriste blameer.