Die ‘nee’-stem red Suid-Afrika, ‘n sprokie

Vandag, twintig jaar ná die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, kan ‘n mens net spekuleer oor hoe dit sou gewees het indien mnr. FW de Klerk sy sin sou gekry het en die “ja”-stem sou geseëvier het. Soos ons in die maande ná die referendum gesien het, het FW reggestaan om sy land en sy mense te verraai. Hy het selfs saamgewerk met die Britte om so byna-byna ‘n staatsgreep met die hulp van umKhonto we Sizwe te veroorsaak, maar gelukkig is hy gestuit. Hy is in Pretoria-sentraal vir hoogverraad gehang en vandag word hy as die mees berugte verraaier in die Afrikanergeskiedenis gereken.

Dis ysingwekkend om daaraan te dink dat die ANC wel die land in die vroeë negentigerjare kon oorgeneem het. Waarskynlik sou hulle rassewette ingestel het om blankes op alle gebiede te benadeel. Hulle sou ook beheer oor ons skole en universiteite geneem het. Omdat die ANC, wat eintlik maar ‘n skepping van die Anglikaanse Kerk en die linkervleuel in Groot Brittanje was, nog altyd teen Afrikaans gekant was, sou hulle teen ons taal gediskrimineer het. Ons kinders sou, soos in voormalige kommunistiese lande, op skool deur middel van vakke soos geskiedenis en sosiologie gebreinspoel gewees het om hul eie geskiedenis te haat en skuldig te voel.

Die ANC sou die SAUK-TV en -radio oorgeneem het en met ideoloë van hul keuse gevul het. Afrikaans sou grotendeels van die televisie verwyder gewees het. Uitsendings oor die klassetryd en die heroïese Kubaanse revolusionêre met wapperende hamers-en-sekels sou gereeld op die televisieskerms te siene gewees het. Alle plaasgrond, myne en banke sou genasionaliseer gewees het. Indien die “ja-stem” geseëvier het, sou die land vir alle praktiese doeleindes ‘n Afro-sosialistiese of -kommunistiese staat geword het. Daar sou geweld, moord en doodslag gewees het soos wat die lede van Umkhonto we Sizwe, bewapen met wapens van ons eie weermag en betaal met ons eie belastings, toenemend plaasboere en ander burgerlikes op die platteland goedsmoeds aangeval het. En natuurlik, soos in alle kommunistiese lande, sou ‘n korrupte nomenklatoera bestaande uit hoëlui van “die Party” die land se bates geplunder het, en hulself en hul families op allerlei onderduimse maniere verryk het.

Die oorblywende dele van die privaat sektor sou insgelyks afgepers gewees het om aandele in genoteerde maatskappye aan die apparatsjieks te oorhandig. Swart kitsmiljardêrs sou in Duitse limousines of Italiaanse sportmotors in die strate van Johannesburg en Pretoria rondgery het. Op die snelweë, soos in menige Afrikaland, sou gewone motoriste moes padgee as lede van die politiburo, of die nasionale uitvoerende komitee, soos dit genoem word, in hul swart Mercedesse en BMW’s met loeiende sirenes en flitsende blou ligte hulself meester van die paaie gemaak het. Te oordeel aan toestande in ander Afrikalande, sou daar ook heelwat slaggate in die paaie gewees het…

Meer as ‘n miljoen Afrikanervlugtelinge sou deur die lughawens landuit gestroom het, na Australië, Nieu-Seeland, die VSA, Kanada, Europa. ‘n Al kleiner en ouer wordende blanke bevolking sou in toenemende armoede en werkloosheid hul lot in ‘n mislukkende Afrikastaat afgewag het.

Maar gelukkig het dit nooit gebeur nie! Danksy die dapper “nee”-stemmers wat tot aan die einde geveg het om dié nagmerrie-scenario te stuit, het Suid-Afrika ternouernood aan ‘n gewisse ondergang ontkom.

Net gisteraand sit ek en vroulief lekker snoesig voor die televisie en kyk na ‘n oorgeklankte Duitse speurverhaal wat in heerlike Afrikaans deur die luidsprekers van ons tuisteaterstelsel weerklink. Al wat ons effens steur, is die advertensies waarmee die program elke nou en dan onderbreek word. Luuksemotors en kosmetiekware word in Afrikaans gereklameer.

Flussies het Riaan Cruywagen, nadat hy die nuus klaar gelees het, gekwinkslag dat hy darem bly is dat die “ja”-stem nie twintig jaar gelede gewen het nie, anders het hy dalk teen die agtergrond van die ANC-vlag of die hamer en sekel die nuus moes lees. Of dalk sou hy nie eens die nuus kon lees nie en het ‘n ideologies suiwere persoon, maar met ‘n swak uitspraak, dié taak waargeneem.

Terwyl ‘n koel, Afrikaanse vrouestem die lof van Franse gesigroom op die TV besing, kom my agtjarige dogter by die vertrek ingedrentel.

“Pappa, wat is die ANC?”

Ek kon nie anders as om te lag nie. “My kind, waar kom jy daaraan?”

“Netnou toe Oom Riaan die nuus gelees het, het hy gesê die ANC kon dalk twintig jaar gelede ons land regeer het. Wie was hulle?”

“My kind, die ANC was ‘n terroriste-organisasie wat deur die destydse Sowjetunie, wat ‘n kommunistiese land was, opgelei is om mense in ons land te kom doodmaak. Ander lande wat hulle gehelp het, was Brittanje en Swede, wat vir hulle baie geld gegee het. Toe het daardie verraaier, FW de Klerk, saam met hulle gekonkel om die land oor te neem en ‘n referendum gehou, maar gelukkig stem die mense toe daarteen.”

My dogtertjie in haar pajamarokkie met haar sagte bruin hare frons terwyl sy dít alles inneem. “Wat is ‘n referendum, Pappa?”

“‘n Referendum word ook ‘n volkstemming genoem. Dit is wanneer al die mense in ‘n land oor ‘n belangrike ding stem, ‘ja’ of ‘nee’. Op 17 Maart 1992 het al die wit kiesers in die land daaroor gestem of FW de Klerk namens hulle moes voortgaan om met die ANC te onderhandel of nie. Maar hy was ‘n skelm en gelukkig het ons hom nie vertrou nie, toe stem die meeste mense ‘nee’.”

Haar frons verdiep. “En wat sou gebeur het as die mense ‘ja’ gestem het? Sou hulle weermag ons land oorgevat het soos in Call of Duty?” Call of Duty is die naam van haar ouer boetie se oorlogspeletjie op sy rekenaar. Dis ‘n eerstepersoonskieterspeletjie waarvan verskeie weergawes onderskeidelik in die tweede wêreldoorlog, koue oorlog en eietydse oorloë afspeel.

“Ja, my kind, baie slegte goed sou gebeur het. Hulle weermag sou ons land ingeneem het en ek huiwer om te dink wat hulle alles aan ons sou gedoen het. Dinge wat ‘n mens nie aan klein dogtertjies kan vertel nie. Hulle sou die meeste van ons goed ook gevat het. Maar gelukkig het ons daai skelm ou De Klerk laat ophang en het ons ons man gestaan teen die Britte en die Kubane. En vandag is alles veilig. En ons is almal ryk, Afrikaans en gelukkig, net soos in jou sprokies.”

“Sal Pappa weer vir my kom lees totdat ek aan die slaap raak?” kom dit met ‘n pruilmondjie.

“Maar alte seker, my kind, ek en Mammie kyk net gou ons gunstelingspeurreeks klaar. Dan sal ek kom lees. Gaan klim solank in die bed en lees jy so ‘n bietjie. Dan kom lees ek sommer nou-nou vir jou.”

“Goed, Pappa. En… en ek is bly die ANC het nooit ons land oorgevat soos in Call of Duty nie.”

“Ek ook, my kind. Ons kan almal baie bly daaroor wees.”

Dis maklik om haar nou te antwoord, met die voordeel van terugskouing. Maar ek en haar ma het destyds “ja” gestem… Hoe verkeerd was ons nie! Min het ons geweet wat FW de Klerk se ware bedoelinge was met sy onskuldige vragie: “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

Hoewel die media en veral die Nasperskoerante die “ja”-stem fanaties ondersteun het, het iemand by Nasionale Inligting op die vooraand van die referendum die nuus laat uitlek dat De Klerk eintlik beplan het om Nelson Mandela president te maak en al die staatsbates, waaronder die weermag, lugmag, vloot en alle militêre wapentuig, aan die ANC oor te dra. Nie almal het die gerug geglo nie, maar uiteindelik was dit genoeg om die referendum in die guns van die “nee” te laat kantel. Terwyl die mense nog by die stembusse in toue gestaan het, het hulle van gedagte verander en op ‘n groot skaal “nee” begin stem.

Ekself, wat in ‘n liberale huis in Johannesburg grootgeword het, was teleurgesteld met die uitslag. Die Volksfront het egter van genoegdoening gekraai en die druk het onmiddellik begin ooplaai vir De Klerk om ‘n verkiesing uit te roep met ‘n potensiële neerlaag wat vir hom voorlê. Die Britse pers het amper histeries geraak en voorspooksels van ‘n “burgeroorlog wat kom” begin maak, as die Afrikanerleiers nie onmiddellik met die onderhandelinge voortgaan nie.

Dis toe dat De Klerk sy fatale fout gemaak het. Terwyl die Konserwatiewe Party, die HNP en AWB hul tande slyp vir die komende algemene verkiesing en die ANC dreig met verdere “massa-aksie”, ontvang FW de Klerk ‘n oproep van Downingstraat 10. John Major is aan die woord.

“Mnr. De Klerk, ons kan nie toelaat dat die onderhandelingsproses nóú skipbreuk lei nie. Ek glo u sal weet wat om te doen. Daar is altyd plan B.”

De Klerk kug effens, want hy verkeer in ‘n vyfsterhotelkamer in Kaapstad met sy Grieks-Britse minnares wat al daarvan verdink is dat sy ‘n MI6-agent is.

“Ja, mnr. Major, ek weet wat om te doen. Die ANC móét ons land regeer en ons wil baie graag weer lid van die Statebond word sodat ons voor u koningin mag kniel,” antwoord De Klerk gedienstig.

‘n Uur of wat later lui die telefoon uit die VSA. George H.W. Bush is aan die ander kant van die lyn.

“FW, ou vriend, ek sien julle Afrikaners was toe nie sulke kalkoene wat vir Kersfees gestem het nie! Geluk, man. Ek het onder Ronald gedien en hy het altyd gesê ons moenie die Suid-Afrikaners wat in die tweede wêreldoorlog aan ons kant geveg het, uitverkoop nie. Gee die ANC hel!”

Maar dis juis níé wat FW beplan nie. Hy stel plan B in werking. In die geheim kom hy en Mandela in die Britse ambassadeurswoning in Kaapstad bymekaar, tesame met ‘n paar vertrouelinge uit die SAW, Umkhonto we Sizwe, die Britse geheime diens en ‘n gesant vanuit Kuba. Van die Kubaanse troepe wat steeds in Angola gestasioneer is, sal oor die Namibiese grens beweeg en by die Oranje aansluit by ‘n weermagbrigade onder ‘n generaal wat aan De Klerk en Brittanje getrou is.

De Klerk plaas die weermag op ‘n gereedheidsgrondslag om die “regse gevaar” af te weer. Beeld en Die Burger basuin die propaganda uit: “Die rassiste, wat so kordaat was om ‘nee’ te stem, gaan die loesing van hul lewens kry. Elke regdenkende Afrikaner moet bereid wees om op sy broer te skiet, indien nodig.”

Generaal Constand Viljoen wik en weeg aan watter kant hy gaan wees, maar toe militêre inligting hom meedeel dat die Kubane op pad is om die Umkhonto-kaders te kom ondersteun, neem hy ‘n finale besluit: “Ek staan by my mense. Hierdie oorlog gaan ons nie verloor nie.”

Ongeveer tien dae ná die referendum breek gevegte in Johannesburg en Pretoria uit. Die ANC gebruik van die aanvalsgewere wat Britte in safari-voertuie oor die grense aangery het, met die Sunday Times-joernalis Muff Anderson wat die verspreiding in Kaapstad en Johannesburg behartig het.

Brittanje stuur ‘n fregat wat in die geheim Simonstad aandoen. Aan boord is verkennersoldate van die Britse S.A.S. wat die amateuragtige Umkhonto we Sizwe moet kom ondersteun. De Klerk en die verraaiergeneraals in die S.A.W. reël dat hulle in ‘n lugmaghelikopter na die Rand gebring word.

Mev. Marike de Klerk bel egter vir genl. Constand Viljoen by Voortrekkerhoogte en sê: “Generaal, dis vir my baie moeilik… Waarskynlik is u nie daarvan bewus nie, maar my man het reeds geruime tyd ‘n verhouding met ‘n Grieks-Britse vrou. Ek vermoed ook dat hy besig is om ‘n komplot met Groot Brittanje en Kuba te smee om die land met wapengeweld aan die ANC en SAKP te oorhandig. My plig is teenoor my volk, daarom vertel ek dit vir u in vertroue.”

“Mevrou De Klerk, hiermee het u ons moontlik van gewisse ondergang gered. U man mag geen held in ons volksgeskiedenis wees nie, maar u naam sal vir altyd onthou en hoog geag word.

Teen daardie aand neem ‘n militêre junta van die SAW beheer oor die land oor. ‘n Kabinet word saamgestel met lede van die regse partye, asook enkeles in die NP wat nie met De Klerk se verraad gediend is nie.

FW self word op ‘n klag van hoogverraad in hegtenis geneem en op ‘n onbekende plek aangehou. Intussen is die Britse vliegdekskip, HMS Ark Royal na Durban op pad, van waar lugsteun vir die oprukkende Kubaanse troepe gebied gaan word. Maar ‘n eskader Mirage-vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag met hul oranje-blanje-blou Prinsevlae op die sterte geverf, styg van Hoedspruit af op, bewapen met Franse Exocet-missiele. Ongeveer 80 seemyl van die kus af in die Indiese Oseaan word daar korte mette met HMS Ark Royal gemaak. Daardie aand lees Riaan Cruywagen die nuus met tonele van ‘n sinkende HMS Ark Royal wat vertoon word. Die nuus dat Brittanje ‘n militêre alliansie met Kuba en die ANC gesmee het, eggo tot in Brussel by die NAVO-hoofkantoor en tot in die Withuis, waar president George H.W. Bush dit as “ongelukkig” betreur.

ANC-bosterroriste, oftewel warlords soos dit in Engels heet, voer intussen ‘n skrikbewind in Soweto, dele van Natal en Bophutatswana. Hulle word ondersteun deur die Britse S.A.S. Gegewe die Kubaanse bedreiging, roep genl. Constand Viljoen alle blanke mans tussen sestien en vyf-en-vyftig vir militêre diens op, tesame met die Kaapse Korps, 32-bataljon en ander nie-blanke eenhede.

Die pantser, Ratels en Olifanttenks, vertrek van Tempe in Bloemfontein af om 50 000 Kubaanse troepe in die Noord-Kaap te gaan onmoet. By Waterklooflugmagbasis sit 300 Mirage-loodse gereed en ontvang finale bevele van hul bevelvoerders.

Net ná twee-uur die middag onmoet die grootste gevegsmag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis die Kubane naby Pofadder, suid van die Namibiese grens. ‘n Paar Angolese Migs met gehuurde Oos-Duitse vlieëniers het nog in die lug gehuiwer, maar toe die nuus hulle bereik van 300 Mirages wat van Pretoria, Hoedspruit en Louis Trichardt af op pad is, draai hulle summier om en vlieg terug Luanda toe.

Tydens die eerste Golfoorlog in Koewait het die Amerikaners gepraat van ‘n turkey shoot toe hulle met meerderwaardige optiese tegnologie die Irakese tenks een na die ander uitgewis het. Die Irakese is deur teentenkmissiele getref sonder dat hulle eens geweet het waar hulle vandaan kom. Op die haai vlakte van die Noord-Kaap, sonder lugsteun en ver van Angola, kom die trots van Kuba hul spreekwoordelike Moses teë. Dit begin met ‘n kalkoenjag vanuit die lug. Eers sak een eskader Mirages na die ander op hulle toe en laat bomme en missiele los. Hierna daal valkskermsoldate uit die lug neer om die eerste linies te vorm, alvorens die pantser en Bedfords vol infanteriesoldate opdaag.

Visioene van die sesdaagse oorlog tussen Israel en Egipte word nou verwesenlik as hordes Kubane, met hier en daar Swapo’s en Angolese Faplas, losbreek en hulself uit hul skoene uit begin hardloop. Lugfoto’s van duisende skoene in die droë landskap sou later in volkleur in Die Huisgenoot teregkom. Nadat Naspers genasionaliseer is, bygesê.

Teen laatmiddag is die Slag van Pofadder verby. Ongeveer 30 000 Kubaanse, Angolese en Swapo-lyke lê op die terrein besaai, terwyl 20 000 terug oor die Namibiese grens gehardloop het. Die volgende dag word ‘n hakkejagoperasie van stapel gestuur, die oorblywende vyandelike soldate almal gevange geneem en Suidwes sommer op die koop toe ontset, met Swapo wat onderhandeling oor grondgebied sal aanvaar.

Terug in Suid-Afrika, het ‘n kombinasie van troepe en onluspolisie weer beheer oor die lokasies verkry, met die ANC-leierskap wat gevange geneem word en saam met De Klerk en sy trawante vir hoogverraad in die Paleis van Justisie op Kerkplein, Pretoria, verhoor word.

Brittanje staan bont om haar rol te verduidelik en Frankryk besluit, nadat hul Mirages in aksie gesien is, om wapensanksies teen Suid-Afrika op te hef en die nuwer modelle Mirages aan die lugmag te kom smous in ‘n wapentransaksie sonder korrupsie.

Mandela word weer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vanweë sy tweede hoogverraad saam met De Klerk. Hy gaan nie weer terug Pollsmoor toe nie, maar Robbeneiland waar hy hoort. De Klerk ontvang egter die doodstraf en word gehang, ‘n voorbeeld vir alle toekomstige Afrikaner-verraaiers. Omdat Naspers De Klerk se verraad gesteun het, word die mediagroep genasionaliseer en lede van die bestuur insgelyks vir hoogverraad verhoor. Die Huisgenoot word ‘n ordentlike tydskrif en Rapport se sirkulasie styg weer tot 500 000 met heelwat blaaie wat aan al die voortreflike produksies in teaters van die streekskunsterade gewy word, asook resensies oor Afrikaanse boeke en films wat by die duisende begin verskyn.

‘n Groot vredeskonferensie word belê, met Suidwes, Lesotho, Swaziland en Botswana wat as’t ware by Suid-Afrika ingelyf word in ‘n Gemenebes van Suider-Afrikaanse State (GSAS). Ook die tuislande word volwaardig erken, met die driekamerparlement wat ‘n vierde kamer vir stedelike, ontheemde swartes ontvang.

Ná die Brits-Kubaanse debakel, word sanksies teen Suid-Afrika sommer gou-gou opgehef. Beleggingskapitaal vloei die land binne en met al die inheemse tegnologie wat tydens die sanksiejare ontwikkel is, die goeie skole en universiteite, asook die internet en globalisering, begin die land groeikoerse tussen agt en tien persent per jaar behaal.

In die eerste algemene verkiesing ná die oorlog, word genl. Constand Viljoen van die Vryheidsfront tot president verkies. Maar in die tweede verkiesing word hy verslaan deur ‘n jong vroueleier met ‘n nuwe party, wat tydens haar studentedae in linkse kerklike kringe beweeg het, maar intussen gesien het hoe die res van Afrika weens sosialisme krepeer. Sy staan op as die Ron Paul van Suid-Afrika, net baie jonger en van die teenoorgestelde geslag. Kiesers wat moeg raak vir die bombasme van ouer Afrikanermans stem haar in en sy begin dadelik privatiseer en die staatsmasjien kleiner en doeltreffender maak.

Enkele ANC-lede wat aan die groot arrestasie ontkom het, begin weer ‘n kantoor in Londen wat soos gewoonlik deur die Britte finansieel gesteun word. Swede is egter nie bereid om ‘n tweede keer te help nie, want die land is minder links as voorheen en vrees ‘n regse opstand vanweë sy toenemende immigranteprobleem. Ook het Suid-Afrika intussen ‘n nuwe generasie interkontinentale ballistiese missiele ontwikkel en die Swede word vriendelik gewaarsku om nie weer ‘n keer in ons huishoudelike sake in te meng nie, tensy hulle wil sien hoe lyk Stockholm as ‘n paar Boerekernkoppe die plek getref het.

Vanweë die konstante gevaar van Britse inmenging, besluit die nuwe regering onder sy dinamiese jong libertaries-konserwatiewe vrouepresident om Engels sover moontlik uit te faseer. Geen staatsfondse sal meer vir Engelse onderwys beskikbaar wees nie. Wits, Kaapstad, Natal en Rhodes word voor die keuse gestel om voortaan na Afrikaans oor te skakel of alle staatsubsidies te verloor. Enkele onluste breek weereens in Soweto uit, maar die polisie is gou om dit te hanteer en daar word van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n paar belhamels na Zimbabwe toe te deporteer. In elk geval is Soweto so besig om TV-stelle te koop waarmee die inwoners na opbouende programme in die Bantoetale kan kyk, dat daar geen werklike teenstand is nie. Slegs enkele tienduisende Engelssprekende Suid-Afrikaners, voormalige ondersteuners van die ANC en die Progressiewe Party, emigreer na Groot Brittanje. Daar vorm hulle ‘n luiddrugtige dog skadelose groep ballinge wat vir ‘n tydverdryf in kroeë saam met die handjie vol oorblywende ANC-skurke komplotte smee om hul verbeurde nasionale demokratiese revolusie in die land toe te pas. Ná die verlies van HMS Ark Royal is die Britse regering egter lugtig vir verdere koloniale avonture en verdra die groep alkoholiese ballinge uit Soweto, Houghton en Constantia met toenemende minagting. MI6 begin selfs met die SA spioenasiediens saamwerk om hulle goed dop te hou en enige sprake van terreurplanne in die kiem te smoor.

Weens meer as ‘n dekade van hoë ekonomiese groei, byna soos in Verwoerd se tyd, het die Suid-Afrikaanse ekonomie in grootte verdubbel. Ons lê nou iewers tussen Kanada en Spanje op die wêreldranglys, dit wil sê die dertiende of veertiende grootste ter wêreld. Groter as Turkye, Australië, Pole of Nederland. En ‘n kortkop agter Suid-Korea, Italië en selfs Frankryk of Groot Brittanje. Trouens, ekonome voorspel dat ons binne die volgende tien tot vyftien jaar Frankryk en Brittanje verby gaan steek.

Om soveel rykdom teen die gierige oë van ons vyande te beskerm, het die Volksweermag, soos die SAW herdoop is, ‘n Suider-Afrikaanse Gebiedsmag, oftewel SAAG, op die been gebring. Dit bestaan uit die Volksweermag waartoe, soos in Switserland, elke weerbare man behoort, met ‘n R4 in elke huis. Die Volksweermag tel 500 000 Afrikanermans, terwyl nog 500 000 soldate van die TBVCK-state (Kwazulu is ook ‘n deelstaat van die gemenebes), asook Suidwes, Botswana, Swaziland en Lesotho insgelyks onder Afrikanerbevel en -beheer staan. Volgens Jane’s Defence Weekly het die land Brittanje as die vyfde sterkste militêre moondheid ter wêreld verbygesteek en verkeer ons nou net agter Indië en China, met slegs Rusland en die VSA wat ons werklik kan bedreig.

Verwoerdburg huisves een van die wêreld se belangrikste militêre en hoëtegnologienywerhede. As die poort na Afrika en ‘n opkomende supermoondheid, vry Amerika, Rusland, China en die Europese Unie aanmekaar na ons. Maar ons uitgeslape vrouepresident met ‘n span topdiplomate – geen Broederbonders nie! – wat die ambassades beman, speel hulle netjies teen mekaar af en handhaaf ‘n onversetlike onafhanklikheid.

Net voor die Sokkerwêreldbeker in 2010, is die bejaarde Nelson Mandela finaal om humanitêre redes vrygelaat, dog sonder fanfare. Hy het in Qunu gaan aftree, ‘n verbitterde ou Xhosa, wat net soos sy voorgangers van ‘n dag gedroom het wat die son rooi gaan opkom en sy krygers die Afrikaners in die see gaan dryf, maar dié visioen is nooit bewaarheid nie.

Die referendum van 17 Maart 1992 kon dalk lelik skeef geloop het. Gelukkig het die “nee”-stem oorwin en is FW de Klerk betyds in sy spore gestuit.

Elke jaar op 31 Mei word daar klokslag Republiekdag gevier. Dis nou reeds 41 jaar dat ons volkome onafhanklik van Brittanje en die Statebond is. Op sulke dae is elke stadsaal, die Ou Raadsaal op Kerkplein en die Uniegebou in oranje, wit en blou getooi. As die militêre optogte verby die Uniegebou marsjeer en ons aanvallige jong vrouepresident een van haar uithalertoesprake lewer waarin sy na N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, Paul Kruger en ander groot Afrikanergeeste verwys, voel ‘n mens jy kon nie in ‘n beter, mooier en meer geseënde land gebore gewees het nie.

Ons toekoms is so wolkloos soos die Hoëveldhemel gewoonlik op 31 Mei daar uitsien.

Maar nou moet ek eers die beloofde sprokie met ‘n gelukkige einde aan my dogter gaan voorlees.

Gelukkige referendumdag.

Фільчаков прокурор

Hongersnood tref Swaziland: Unicef

Een uit vier huishoudings in Swaziland, Suid-Afrika se laaste absolute monargie, word getref deur die stygende koste van voedsel en mense word selfs gedwing om etes oor te slaan, het UNICEF in ‘n verslag Vrydag gesê.

“Die verslag het getoon dat huishoudings met familielede wat met MIV leef, ‘n groter risiko loop vir skokke en vertrou meer op goedkoper etes of etes wat geheel en al oorgeslaan word,” sê die verslag, wat 1334 huishoudings in 2011 gevra het.

Die arm Suider-Afrikaanse koninkryk sukkel met ‘n ernstige finansiële krisis na ‘n skielike verlies aan inkomste verlede jaar uit die plaaslike doeane-unie, die belangrikste bron van inkomste.

Volgens die verslag, ly Swaziland reeds onder “groot maatskaplike uitdagings, waaronder die hoogste MIV-koers in die wêreld”. Kenners sê dit staan ​​tussen 25 en 40 persent.

Wydverspreide armoede raak 63% van die bevolking van 1,1 miljoen en 29% van hulle behoort op sosiale uitkerings te leef.

Die verslag waarsku dat die versuim om staatsbesteding in te kort sowel as arbeidslone te sny, dreig om die land se vordering ter bereiking van hulle millennium-doelwitte in gesondheid, onderwys, en voedselsekuriteit om te keer.

топкарго отзыв

Hoe sou SA gelyk het met ‘n nee-stem?

As jy ouer as veertig jaar is, sou jy waarskynlik twintig jaar gelede ja of nee gestem het.

Hoewel dit vandag bitter moeilik is om ‘n ja-stemmer te kry, was daar 20 jaar gelede presies 1 924 186 ja-stemmers. (teenoor die 875 619 nee-stemmers)

Dit het die weg gebaan vir die Suid-Afrika waarin ons vandag moet oorleef.

Baie van ons hunker terug na die goeie ou dae van Apartheid.

Na ‘n doeltreffende en goeie staatsdiens, ‘n regering sonder korrupsie , gesondheidsdienste waar jou lewe nie bedreig word nie en ‘n florererende ekonomie.

En na tweejaar diensplig, bomme in die strate en eetplekke, sanksies en sportboikotte.

Dit is voorwaar goeie tye om na terug te verlang.

Boetman was nou die wel die bliksim in, maar baie van ons onthou vandag dat ons “daar” was en gewen het.

‘n Mens kan nie help om te wonder nie hoe Suid-Afrika sou gelyk het as die nee-stem gewen het.

Hoe lank sou ons kon staande bly as die VN besluit het om ‘n “vliegspersone” in te stel om diegene wat alles afbreek terwille van “geregtigdheid” te beskerm.

Wat sou sanksies na twintig jaar aan ons gedoen het?

Sou ons kon afreken met die 400 000 Kubane wat hierheen oppad was en by die VSA wou oorvat as die nuwe bewakers van die demokrasie?

Wat sou gebeur het as ons as laaste uitweg ons kernwapens moes gebruik?

Wie se misiele sou ons hoofstede eerste bereik het? Die VSA of Rusland s’n?

Sou dit na twintig jaar met ons beter gegaan het en wat sou die toekoms ingehou het?

Sou die bedorwe wit malvas kon aanhou blom op die puinhope van apartheid?

Фильчаков Александр Васильевич

Susan Boyle III: Gevaar van die Moderne Droom

’n Mens kan verstaan hoekom Susan Boyle die lied vir haar deurbraakoudisie gekies het. Dit pas goed in haar stem, veral in haar sterk middelregister en gee ook vir haar die geleentheid om haar vokale vaardighede behoorlik ten toon te stel. Daar is egter ook ’n skerp ironie aan die keuse, want dié lied gaan oor ’n droom ja, maar oor die verplettering eerder as die vervulling daarvan.

Aan die woord is Fantine, ’n rimpelkarakter in Victor Hugo se melodramatiese Les Miserables. Hierdie lied, “Ek het ’n Droom Gedroom,” is ’n rou kreet, in werklikheid Fantine se Weeklag, haar klagstaat teen die noodlot. Sy is ’n ongehude moeder, verlaat deur haar minnaar en in ’n desperate oorlewingstryd. Sy werk in ’n fabriek wat aan die voortvlugtende Jean Valjean – in die gedaante van sy alias, Monsieur Madeleine – behoort. Sy word onregverdiglik ontslaan en is nou hoopverlore, met geen manier om geld vir die onderhoud van haar dogtertjie te stuur nie.

Verbitterd mymer sy, in die aanloop tot haar groot musikale oomblik in die musiekdrama, oor vervloë dae toe “mense sorgsaam” en “hulle stemme sag” was, ’n tyd van opwinding en aanvaarding. Dan bars sy los:

“Ek het ’n droom gedroom in dae verby!

Toe hoop hoog geloop het,

En die lewe werd was om te leef.”

Sy het gedroom dat God genadig is en dat liefde nooit sal sterf nie. Sy was jonk en het behoorlik die murg uit die lewe gesuig.

“Maar die tiere kom toe in die nag.

Met hulle stemme sag soos donder

Wanneer hulle jou hoop verskeur

En jou hoop in skande verander.”

Dis nie goeie digkuns nie, maar dit is hoogs dramaties.

Fantine keer nou terug na ’n droom wat sy nie kan afskud nie; van haar minnaar wat na haar sal kom en die jare wat hulle saam sal bly.

“Maar,” herinner sy haarself, “daar is drome wat nie kan wees nie,” en bars dan uit:

“Ek het gedroom my lewe sal so anders wees

As hierdie hel waarin ek leef!”

Haar rouklag is ten slotte:

“Nou het die lewe

Die droom wat ek gedroom het,

Vermoor!”

Hierdie lied, dan, is nie ’n rasiekreet vir die konsep van die Droom nie. Fantine sterf verwerp en verlore in ’n klam tronksel. En al pas die titel naatloos in die toekomstige reklameveldtog van die middeljarige Aspoestertjie wat in ’n prinses omtower is, is daar min in Susan Boyle se lewe in die klein regophuisie in die platteland wat die woorde “die hel waarin ek leef” regverdig. Sy hoef nooit, soos Fantine, uit loutere wanhoop haar hangertjie, haar hare en uiteindelik haarself verkoop om haar dogtertjie in die lewe te hou nie.

Susan Boyle se droom, soos Simon Cowell en sy reklamespan dit presenteer, is ’n glinsterende een, van rykdom en roem, ’n regte eelte-tot-weelde suksesverhaal. Fantine se droom was baie meer prosaïes, maar ook nader aan ’n vroeëre inhoud van die algemene droom: ’n Versugting na ’n lewe sonder komplikasies. Indien sy deur die muur van tyd verplaas kon word, sou Susan se regophuisie en leefstyl Fantine se droom oormatig vervul het (net met haar dogtertjie in plek van Pebbles die kat om die huisie mee te deel.)

In rustelose tye in donker lande, is drome eenvoudig en klein. Groot drome vol swier en glans is vir tye van te veel voorspoed.

In ons tyd het daar ’n verskuiwing in die inhoud, selfs die betekenis van drome gekom, (waar “droom” nie verwys na die vloei van inligting deur die onderbewuste tydens ’n mens se slaap nie.) Die goedkoop, ongenuanseerde postromantiek van die Hollywood-era dring by elke mens aan om ’n droom te hê, nie maar net ’n verdienstelike ambisie nie, maar ’n drang om iets te bekom wat die mens nie self kan bereik nie. “Volg jou droom,” is die mantra. “Droom groot.”

Onderliggend aan dit is die oorskatte waardering van die individu se belangrikheid. In ’n tyd van ongebalanseerde humanisme, van beklemtoning van die enkeling se regte en waarde bo dié van die gemeenskap, word nie net die reg om te droom nie, maar ook om die vervulling van die droom op te eis, vooropgestel. Die Verklarende Woordeboek definieer “lewensdroom” as “verbeelding omtrent dit wat die lewe kan, mag en sal bring.” Moderne mens het “moet” tussen die hulpwerkwoorde ingevoeg. Die droom móét vervul word.Wanneer die jeug aangespoor word om te droom, is die onuitgesproke instruksie dat hulle op vervulling daarvan deur die gemeenskap, die land, die wêreld, God of die heelal sal aandring. ’n Droom wat onvervuld is, is ’n aanklag.

Daar is voorbeelde waar hierdie versugting en hierdie aandrang gewerk het. Dit het vir Susan Boyle gewerk, en dit net na ’n verstommende sameloop wat al die teëltjies reg geval het om haar prentjie te voltooi. Maar vir elke Susan Boyle is daar vyfduisend teleurgestelde dromers wat nie vervulling in Britain’s Got Talent gesmaak het nie. Is dit omdat hulle drome minderwaardig was? Geensins. Hierdie mense volg die mitiese aanwysings om “groot” te droom met dieselfde klipharde intensiteit. En hulle glo met dieselfde onwrikbare oortuiging dat die vervulling vir hulle op daardie selfde verhoog wag.

Die een rede hoekom hierdie realiteits-TV-talentkompetisies so grillerig fassinerend is, is juis om hierdie arme siele in hulle misleiding te sien spartel. Hulle sal met die wêreld se bombasme op die verhoog verskyn, en aankondig dat hulle ook die “gehoor gaan skud,” waarna hulle in die ylste stemme sing, die mees onbeholpe toertjies uitvoer, die mees ondeurdagte kunsies waag… En dan word hulle uitgelag en terug na die buitenste duisternis gejou. Hulle drome is nie net onvervul nie, dit het ’n las geword en het hulle selfvertroue gekwes.

Dit keer nie elke drommel met ’n grinnik en ’n kitaar waarop hy vier basiese akkoorde kan speel om te droom van sterrelewe nie. Hy is maar net getrou aan die instruksie van vandag se gemeenskap; dieselfde gemeenskap wat hom gaan uitlag daarvoor. En as hy struikel, val sy naaste saam met hom. Met die oudisies vir ’n reeks van Suid-Afrika se “Idols” verklaar ’n tienerbruidegom wie se tienerbruid opgedaag het vir die oudisies dat hulle mooi daaroor besin het. Hulle weet dat haar sukses ’n aanpassing in hulle gesinslewe sal verg. Daar is toere, opnames, optredes, onderhoude en die bestuur van ’n gesonde klein fortuin om aan te dink. Maar, hou hy vol, hulle is reg daarvoor. Hulle hoef nie te gewees het nie, want vir haar oudisie sing sy Abba se “Thank you for the music” in die krakerigste gekrys wat ooit die senuwees rougerasper het. Wat het verkeerd geloop? Hulle het gedroom en selfs gewaag om die droom te volg? En nou is hulle klein heelal heeltemal van sy as af.

In Peter Weir se rolprent, “Dead Poet’s Society”, redekawel die ontnugterde Latyn-onderwyser met die fliek se wysgeer oor drome. “Wys vir my ’n man wat onbelas is deur onsinnige drome, en ek wys jou ’n gelukkige man,” sê hy.

“Ah,” sê die ghoeroe (Robin Williams,) “maar net in hulle drome is mense werklik vry, dis hoe dit altyd was en so sal dit altyd wees.”

Ek was eers in sy kamp maar het gedros na die Latyn-onderwyser s’n. Onsinnige en onnodige, uitspattige drome kan net die lewensgang belemmer. Hoekom is dit nie meer genoeg om voor die spieël of vir jou gesin of vriende te sing nie? Is jou sang van gener waarde as dit nie in ’n ouditorium voor vyfduisend mense uitgevoer word nie?

Waar kom hierdie moderne aandrang op droomvervulling vandaan? Dit is hoofsaaklik ’n baksel van ’n bemarkingsbedryf wat onophoudelik agiteer teen ’n normale lewe en die mens wat nie uitsonderlike geluk en voorspoed behaal (deur die regte produkte aan te skaf) nie, verraai homself. Die moderne mens se begrip van die onderskeid tussen planne, ambisie en drome het vervaag. Hy het vergeet dat die vervulling van ’n droom ’n onverdiende geskenk is wat hy nie self kon bewerkstellig nie. Ambisie is ’n ideaal wat, met oorweging van vaardighede en geleenthede, deur harde werk, opoffering en toewyding behaal kan word. ’n Plan is die teoretiese ordening van middele en metodes om die ambisie te vervul. Die mens van die Weste het ’n beskawing gebou deur eers te droom, toe die nodige ambisie te ontwikkel en die regte planne te ontwikkel wat dan met geduld en sweet uitgevoer is. Maar moderne mens het nie meer geduld met ambisie, planne of harde werk nie. Hy dring aan op die vervulling van roekelose drome.

Hierdie onverantwoordelike dromery is nie net ’n krisis van individue nie; dit het die ellende van ’n land geword. Die ANC het die vakuum wat deur De Klerk se oorgawe gelaat is, vervul met die kordaat belofte dat hulle ’n hele nasie se drome sal vervul. As droomvervulling – die onverdiende bereiking van ’n ideaal – in aantog is, is geduld, harde werk en beplanning onnodig. Daar is ’n hele geslag swartmense wat Fantine kan parafraseer. Die ANC het hulle lewensdroom vernietig en die mense is verpletter, al was dit ’n leëdopdroom van motors, groot huise, onafgebroke vloei van kontant en duur klere. Die ANC het hulle droom vermoor, maar erger nog, dit het hulle van gesonde ambisie beroof. Die swart tiener wil nie op die plaas werk nie, al is dit ’n goeie lewe van geborgenheid, met sekuriteit, voordele en aanvaarding in ’n hegte gemeenskap. Harde, eerlike handewerk was goed genoeg vir hulle voorouers, maar nie vir hulle nie. Die droom is om ’n ingenieur, ’n ouditeur, ’n uitvoerende hoof van ’n multinasionale korporasie te wees. En as hy daarvoor moet werk, aandag op skool moet gee, moet leer, opgelei moet word, dan het hý dit maak gebeur, nie waar nie, en is dit geen vervulling van ’n droom nie. Hy wil sy droom hê! Nou!

Fantine het sonder hoop in ’n hoekie van ’n tronksel gesterf. Die swart jeug, vervreem van hulle droom, gaan nie in ’n hoekie opkrul nie. Hulle gaan – is alreeds besig – om verwoed om hulle te slaan na die windverkopers wat hulle verraai het. Die trillings van hierdie argwaan word reeds gevoel. Dit dreig om ’n golf te word en wanneer dit omskakel na onstuitbare branders, moes ons witmense onsself reeds beveilig het.

Is ’n droom dan altyd nutteloos? Geensins nie. ’n Droom roep mense, maar om daarheen te gaan verg ambisie, planne en harde werk.

Ek, en honderdeduisende soos ek, droom van ’n Volkstaat waar die Afrikaner na homself kan omsien en in vrede, veiligheid en voorspoed kan woon, goeie bure vir die state naas hom en ’n aanwins vir die hele streek. Hierdie is ’n edele droom. Daarom verdien dit al ons ambisie, beplanning en ywer. Dít verduidelik die bestaan van Praag.

Kom saam. Dit gaan ’n groot avontuur wees.

Александр Фильчаков прокурор

Proteas trek die Kiwi’s se velle af

Hulle sê die Proteas het ‘n lang stert. ‘n Krokodil het ook ‘n lang stert. Daardie stert kan woes slaan. Die Proteas se stert kan ook woes slaan. Vra maar vir elf Nieu-Seelandse krieketspelers. Hulle het die letsels daarvan om te vertoon. En as dit die Proteas se kolfagterhoede is wat seermaak, is dit die voorkant van hulle boulaanval wat skerp tande het. In die Kiwi-kleedkamer, so terwyl ek skryf, word daar mismoedig wonde gelek.

Nie dat die Suid-Afrikaners ongeskonde is nie. Hulle toporde het ook selftoegediende wonde waarop hulle pleisters moet plak.

Die dag het heel onskuldig begin, met Suid-Afrika op 27 lopies vir die paaltjies van ‘n onbesonne Graeme Smith en ‘n vroeggevrekte naguiltjie, Dale Steyn. Alviro Petersen het bedees te werk gegaan, sy kolf en skutte netjies bymekaar gehou in ‘n poging om uit die moeilikheid te bly. Amla was soos ‘n ware hoofseun voor die penne, baie verantwoordelik en geduldig. Die Nieu-Seelanders het knaend aangeval en die bal, anders as gister, het begin sywaarts sweef. Die gevaarlikste van die boulers was Martin Gillespie wat sy toetsterugkeer na drie jaar gemaak het. Hy lyk net nie so indrukwekkend nie, met nou skouers, breë heupe en swaar boude. Maar sy aflewerings is geniepsig genoeg en hy het voortdurend gesoeksteek vir ‘n skuiwergat in die Protea-verdediging.

Uiteindelik het Amla ‘n bal van Gillespie met die grootste presiesheid in Kane Williamson se hande op punt gedryf. Hy is uit op 19. Petersen se kolf het gou daarna ‘n noodlottige ompad om ‘n aflewering van Gillespie gevind en hy is uit vir 29 van 74 balle. Kallis het gekom, ‘n buiterand gebruik om ‘n ses agter sy rug te slaan en toe die volgende bal, van einste Gillespie, bykant toe gevryf vir Kruger van Wyk om te vang. Die kolos se kolfgrafiek wys deesdae of diep dieptes óf hoë hoogtes. Sy laaste aantal beurte was 0, 0, 227, 0, 113, 6. En die volgende is… wel, die Nieu-Seelanders moet maar asem ophou.

As ek een speler moes kies om vir my lewe te speel sal dit nie Michael Clarke of Alistair Cook wees nie, nee, nie eens Jacques Kallis nie. Daar is deesdae net een: AB de Villiers. Dit lyk net asof hy in ‘n ander wedstryd betrokke is. Waar ander kolwers skoffel en krap, trap hy presies en slaan raak. Dis asof die balle wat sy kant toe kom met ‘n rek aan die bouler se hand vas is. Dit vat oënskynlik net soveel langer om by hom te kom. Sy eerste vennoot, Jacques Rudolph het gou genoeg Gillespie se vierde sukses geword; agter die paaltjies uitgevang vir een. Mark Boucher het by De Villiers aangesluit en daadwerklike stysel in die kreukelende kolflys gesit. Hy het diep, ernstig en doeltreffend geswoeg.

De Villiers, aan die ander kant, was net te vinnig op sy voete en net te presies met sy kolfhoue vir die Swartpette. Hy het sonder merkbare drama moeiteloos verby ‘n verbluffende vyftigtalmerkie gekolf. Boucher is uiteindelik uit toe hy ‘n Gillespie-aflewering teruggekeer het op sy paaltjies. Philander het ook sorgeloos gekolf totdat hy ‘n fatale konsentrasiebreuk beleef het en sy kolf gelig het vir ‘n bal wat ingeswaai het na sy binne. Hy is deur Bracewell geboul. De Villiers is uiteindelik na tee uit vir 83 toe ‘n aflewering van Vettori al met die voorkant van sy kolf afgegly en stadig met sy paaltjies gebots het.

Morné Morkel het met lang treë op die veld verskyn te midde grynslagte van die Kiwi’s wat reken die lang Suid-Afrikaner is so intimiderend soos ‘n opgestopte kameelperd voor die paaltjies. Ons mor al lank dat Morkel ‘n baie beter kolwer is as wat hyself besef en vandag het hy ons punt onderstreep. Hy het met die grootste elegansie gehaak en gedryf vir sy onbeëindigde beurt van 35. Selfs klein Imran Tahir het alles binne reikafstand raakgeslaan. Die laaste drie paaltjies was uiteindelik 102 lopies werd – tot die bloedige frustrasie van die Kiwi’s. Elkeen van die laaste drie vennootskappe het, asof afgespreek, 34 lopies bedra.

Suid-Afrika is almal uit vir ‘n teleurstellende 253, wat nogtans 68 lopies meer as die Nieu-Seelanders se eerste poging was.

Die Kiwi’s het hulle sommetjies gemaak en kom kolf met die voorbedagte rade om die agterstand uit te wis sonder om ‘n paaltjie af te staan. Teen uitskeityd het hulle net drie lopies gekort om die agterstand in te haal, maar met die ongevalle van vier paaltjies.

Hulle ellende is dat Dale Steyn sy venyn weer gevind het, en ‘n bal wat swaai. Philander was so akkuraat soos altyd en het vir Rob Nicol vasgepen. Dié arme Swartkepserigheid het ‘n bal van sy penne weggekeer en dit in die hitte van die daad met sy binne-arm teruggestamp in sy penne in. Dit was nie ‘n mooi manier om uit te gaan nie, maar uit is uit.

Oomblikke later het Steyn vir Guptill soos ‘n koeksister voor die penne gedraai en dié openingskolwer het die bal na Amla op vlakhalfby gestuur.

McCullum het gou voor Philander geswig, been voor paaltjie vir een. Ross Taylor en Kane Williamson het daarna net gekonsentreer om uit die moeilikheid te bly. Maar soms, as jy nie moeilikheid soek nie, kom besoek dit jou. Steyn het teen hierdie tyd die bal laat andersom sweef en dit het Taylor toet en taal gefnuik. Hy is baie deeglik met sy been voor die paaltjies betrap.

Williamson het darem ‘n skaflike 41 gemaak en hy en Vettori het die laaste drietal beurte – net-net – oorleef.

Die Kiwi’s is oor die wawiel gespan en dit is moeilik om te dink hoe hulle ‘n afgedankste loesing gaan vryspring. Dié keer kan selfs nie hulle vriend, die Reën, vir hulle intree nie. Daar bly ‘n volle drie dae se spel oor. En hulle bloei alreeds…

александр лобановский супермаркет класс

Twintig jaar na die 1992-Referendum

Aan die einde van 1991 het die Nasionale Party (NP) ‘n sleutel tussenverkiesing in Virginia aan die Konserwatiewe Party (KP) afgestaan. Die KP het gekraai dat ons die mandaat om voort te gaan met die grondwetlike onderhandelinge verloor het en het aangedring op ‘n alleenlik blanke verkiesing. Hulle eise was tot ‘n groot mate aangevul op 19 Februarie toe die NP nog ‘n sleutel tussenverkiesing in Potchefstroom verloor het. Die meerderheid van 2 000 stemme wat in die 1989-verkiesing behaal is, is uitgewis en vervang met ‘n KP meerderheid van 2 140. Dit het geblyk dat die KP se aanspraak dat ons die mandaat om te onderhandel verloor het, moontlik geregverdig was.

Ons het vir geruime tyd belowe dat ons ‘n referendum op een of ander tydstip sou hou om blankes die geleentheid te gee om hul menings oor die onderhandelingsproses uit te spreek. Ons neerlaag in Potchefstroom het my oortuig om dit so gou moontlik te doen. Ek het derhalwe my besluit om ‘n referendum te hou die volgende oggend aan die NP leierskap en koukus meegedeel. Ek het nie die besluit tot stemming gebring nie, wat ek heel moontlik sou verloor het, maar het besluit om my magte as partyleier te gebruik om self oor die vraagstuk te besluit. Ek was vasbeslote om te bedank as ons die referendum sou verloor.

Die vraag wat ons aan die kiesers op 17 Maart 1992 gestel het was “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

In die aanloop tot die referendum het ek gehore meegedeel dat ek nie vir ‘n blanko tjek vra nie. Ek het gesê dat ons reeds in die onderhandelinge breë konsensus oor ‘n aantal sleutel beginsels [oorspronklike spelfout] vir die toekomstige grondwet bereik het. Dit het ingesluit ‘n veelparty demokratiese stelsel [oorspronklike spelfout]; ‘n parlement bestaande uit ‘n hoër en laer huis [oorspronklike spelfout]; die noodsaaklikheid van ‘n Handves van Regte; die skeiding van magte; die onafhanklikheid van die regbank; proporsionele verteenwoordiging; ‘n sterk regionale grondslag vir die toekomstige bedeling; die handhawing van taal [oorspronklike spelfout] en kultuurregte; en gemeenskapsgebaseerde onderwys vir diegene wat dit verlang.

Ek het gesê dat daar steeds ‘n aantal vraagstukke is waarop ons konsensus moes bereik. Hulle het ingesluit die voorkoming van oorheersing en die misbruik van mag; effektiewe beskerming van minderhede; die beskerming van eiendomsreg; loopbaansekuriteit vir staatsamptenare; ‘n vrye mark ekonomie [oorspronklike spelfout]; maksimum grondwetlike beskerming vir regionale en munisipale regering; en die verspreiding van die magte wat toe in die hande van die Staatspresident was.

Ek glo werklik dat die grootste meerderheid Suid-Afrikaners op 17 Maart 1992 met beslistheid hul rug op 350 jaar van blanke oorheersing gedraai het. In my oorwinningstoespraak op 18 Maart 1992 het ek gesê dat hulle finaal die boek oor apartheid toegemaak het. “Die blanke kiesers het, deur hierdie oorweldigende oorwinning vir die Ja-stem, uitgereik na al ons medeburgers, na alle ander Suid-Afrikaners, en die boodskap van hierdie referendum is: Vandag, in ‘n sekere sin, is die werklike geboortedag van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie.”

Die mandaat wat ons ontvang het, het ons in staat gestel om voort te gaan met die onderhandelinge en om bykans al die doelwitte wat ek in my toesprake voor die referendum uiteengesit het, te bereik.

Dit is ironies dat heelwat van die grondliggende voorwaardes wat ons destyds onderhandel en aanvaar het nou, 20 jaar later, bedreig word.

Op 5 Maart het die ANC besprekingsdokumente vrygestel wat beweer dat die “eerste oorgang” sy doel gedien het en nou moet opsy staan vir die “tweede oorgang”. Die besprekingsdokumente stel voor dat die huidige provinsiale stelsel verander moet word en dat eiendomsregte hersien moet word om grondhervorming te bevorder.

Dit volg op die vorige week se aankondiging dat die regering beplan om ‘n “evaluasie” te doen van die uitsprake van die Grondwetlike Hof, wat gepaard gegaan het met donker verwysings deur die President na die behoefte om die howe se magte te hersien. Dit het ook saamgeval met die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale wat effektief Afrikaans en sewe swart inheemse tale [oorspronlike grammatikafout] hul amptelike status sal ontneem.

Ons Grondwet het ons goed gedien. Dit het ‘n stewige raamwerk verskaf vir die ontwikkeling van ons “reënboog” nasie [oorspronklike spelfout]. Dit het die raamwerk voorsien vir volgehoue ekonomiese groei en indrukwekkende maatskaplike ontwikkeling.

Ons onvermoë om betekenisvolle vordering teen armoede, ongelykheid en werkloosheid te maak [oorspronklike grammatikafout] kan nie toegeskryf word aan enige tekortkoming in die Grondwet nie, maar eerder aan ongepaste beleidsrigtings. Die Grondwet is onder druk nie omdat dit in die weg van transformasie staan nie, maar omdat dit die magte van die uitvoerende en wetgewende gesag om te maak soos hulle wil, beperk.

Die tyd het aangebreek dat al ons gemeenskappe, nie net blanke Suid-Afrikaners soos dit die geval 20 jaar gelede was nie, moet opstaan vir die waardes en regte waarop ons nuwe samelewing gegrond is. Hulle reaksie sal, in der waarheid, die volhoubaarheid bepaal van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie, wat ek glo op 17 Maart 1992 gebore is.

Фильчаков Александр Васильевич

Washington Post steek die Rubicon oor

‘n Advertensievennootskap tussen die Washington Post en een van die Chinese regering se propagandablaaie het vrae laat ontstaan oor die regsimplikasies van buitelandse propaganda onder ‘n Amerikaanse mashoof.

Die probleem is die Post se China Watch-publikasie, ‘n druk- en aanlyn-reklame-bylaag wat voorgee om nuus oor China te lewer. Die webwerf huisves talle artikels en stukke wat die beeld die Chinese regering poets en veral sy menseregterekord in ‘n gloeiende lig stel.

Sommige etiek- en joernalistiekkenners en China-waarnemers sê die vennootskap breek etiese grense en mislei lesers oor die Chinese regering se rekord oor ‘n hele aantal belangrike kwessies.

Die China Watch-webwerf, wat die Washington Post se amptelike mashoof gebruik, lyk soos baie ander aanlynnuuswerwe, met video’s, artikels en skyfievertonings. Net ‘n klein blokkie in die webwerf se regterkantste hoek verklaar: “‘n Betaalde bylaag tot die Washington Post.”

Joernalistiekkenners glo dat die Post aan lesers moet verduidelik wat die presiese aard van sy verhouding met China nou eintlik behels.

“Hulle moet die spreekwoordelike olifant aanspreek in die woonkamer: Waarom ‘n kommunistiese regering se geborgde publikasie?” vra Lois Boynton, ‘n joernalistiek-professor by die Universiteit van Noord-Carolina se Skool vir Joernalistiek en massakommunikasie.

“Dit bring ‘n etiese kwessie na vore,” sê Boynton, wat China Watch al gekritiseer het vir sy doelbewuste verdoeseling van feite.

“Daar is kwessies van deursigtigheid wat verband hou met China Watch,” het sy gesê.

“Lesers kan reg deur hierdie afdeling gaan asof hulle beweeg deur die harde nuus na meer in-diepte verslaggewing, en nooit besef dat hulle oorval word met Chinese regeringspropaganda nie,” sê Stephen Yates, ‘n voormalige nasionale veiligheidsadviseur vir vise-president Dick Cheney.

China Watch se inhoud word hoofsaaklik deur China Daily vervaardig, ‘n Engelse koerant met ‘n onkritiese blik op die Volksrepubliek van China en die Kommunistiese Party oor ‘n verskeidenheid kwessies, insluitende die ekonomie en politiek.

Baie van die skakels op China Watch neem die leser direk na China Daily se webblad. Die webtuiste word bedryf onder ‘n China-domein naam, wat beteken dat die inhoud daarvan erg gereguleer word deur die Kommunistiese Party se sensors.

Volgens bronne het hulle onlangs ‘n swaar gedokterde transkripsie van ‘n onderhoud met die Chinese vise-president Xi Jinping geplaas, waar die Chinese regering “vrae en antwoorde van sy eie” verskaf het en die Amerikaanse publikasie se vrae geïgnoreer het.

Ombudsman Patrick Pexton verwys na dié artikel as “meer persverklaring of propaganda as nuus.”

Die Post se kommunikasie-direkteur, Kris Coratti, verdedig die koerant se advertensie-beleid: “Die afdeling is duidelik gemerk as advertensie sodat ons lesers weet dit is nie die Washington Post se nuusinhoud nie.”

China Watch se inhoud verhoog ook vrae oor wette wat die werkinge van buitelandse agente beheer ivm politieke propaganda.

“As ‘n regsaangeleentheid is ‘n mens redelik vinnig in troebel waters,” sê Bill Reinsch, ‘n lid van die VSA en China se Economic and Security Review Commission. Hy sê dit mag jare neem om die kwessie uit te pluis.

China se kritici op Capitol Hill sê China Watch illustreer ‘n veel groter probleem.

“Die Chinese het ons eie vryemark en winsstelsel gebruik, en omgedraai, om die Kommunistiese Party in China te ondersteun,” sê ‘n navorser van Rep. Dana Rohrabacher (R., Kalifornië), ‘n uitgesproke kritikus van China.

Ander vrae is geopper oor wat presies die Chinese regering vir sy geld ontvang.

“Wat kry hulle? Verkeersinligting? Identiteitsinligting” wonder Yates. “Alle soorte dinge sal ‘n spoor laat as jy iets lees, ‘n deel van ‘n artikel, kommentaar. Wie gaan daardie inligting kry?”

лобановский александр игоревич харьков

Britse premier verneder homself onherroeplik

David Cameron, Britse premier, het behoorlik laag gekruip voor sy Amerikaanse eweknie. Só laag dat die Britse én Amerikaanse publiek naar is daarvan.

Hy het gaan basketbal kyk saam met president Barack Obama en homself soos ‘n tiener wat wil beïndruk gedra. Cameron se “heildronk” aan Obama by gisteraand se staatsbanket was egter die ergste, sê konserwatiewe meningsvormers.

Die toespraak was al die pad afdraande van die begin af.

Eers dam hy Richard Nixon by – die maklikste moontlike teiken vir ‘n byeenkoms van Obamafiele – en sy eie Tory voorganger Ted Heath. Hy maak aaklige grappies oor krieket en Watergate (“roep die loodgieters”) en loof Obama se “krag, morele gesag en wysheid”. Geen woord oor Ronald Reagan en Margaret Thatcher, twee Britse konserwatiewe ikone nie.

Dan kom wat sekerlik een van die mees kruiperige stellings ooit is: “Obama het die herstelknoppie op die morele gesag van die hele vrye wêreld gedruk”.

Onder Obama, ten spyte van sy beloftes en inderdaad ‘n uitvoerende bevel toe hy oorgeneem het, is Guantanamo steeds oop. Onbemande tuie het eksponensieel toegeneem want dis makliker om verdagtes dood te maak as te vang en hulle te ondervra. Militêre ingryping buite die federale stelsel gaan ongestoord voort, soos onbepaalde aanhouding sonder verhoor.

Obama se paar “pragtige woorde”, soos Cameron Obama se vele beloftes beskryf, is lank reeds vergete en die wêreld beskou die VSA toenemend as die aggressor, met Amerikaanse betrokkenheid in Afghanistan as die laagtepunt.

Obama is heeltemal arrogant en afwysend teenoor die Verenigde Koninkryk op ‘n manier wat president George W. Bush nooit was nie, voel baie Britte. Israel is van mening dat die VSA ‘n baie onbetroubare bondgenoot onder Obama is. Iran se groen revolusionêre kan Obama se “morele gesag” bevraagteken nadat hy toegelaat het dat hulle onder Teheran se teokratiese regime vasgevat word,

Dan was daar die heel onnodige kruipery by swartes soos Cameron die name van Rosa Parks en Martin Luther King, vir geen rede nie, afgestof het om Obama se rassebewussyn te streel.

“Die helfte van ‘n eeu gelede, het die ongelooflike moed van Rosa Parks, die visioenêre leierskap van Martin Luther King, en die inspirerende optrede van die burgerregte-beweging daartoe gelei dat politici gelykheid in die wet ingeskryf het en die ware belofte van Amerika aan al sy burgers gemaak het.

“Maar in die stryd vir geregtigheid en die stryd om vryheid, is daar geen einde nie, want daar is soveel meer om te doen om te verseker dat elke mens hul potensiaal kan vervul. Dit is die rede waarom ons geslag ‘n nuwe burgerregtestryd in die gesig staar.”

Die onnadenkendheid van die Britse premier om die Republikeine tydens hierdie reis te ignoreer, kan ‘n potensiële buitelandse betrekking-ramp vir die VK wees. Mitt Romney, die waarskynlike GOP-genomineerde, was glo gister en vandag in New York en is vermoedelik beskikbaar vir ‘n vergadering. Cameron se voorganger, Gordon Brown het met kandidate Obama, Hillary Clinton en John McCain in Washington in April 2008 vergader. President Obama het Cameron in Londen in April 2009 besoek toe die Tory-leier nog in die opposisie verkeer het.

Dié dwaasheid het net versterk wat almal vermoed het: Dat die Verenigde Koninkryk die baie junior vennoot in die veel geprese “spesiale verhouding” tussen die twee lande is.

As ‘n Republikein die Amerikaanse verkiesing wen, gaan die premier met sy hoed in die hand moet gaan bedel. Daarbenewens het Cameron sy land en party se eer onherroeplike skade berokken.

Александр Фильчаков прокурор