Bosma se besoek ontketen herrie in SA

Die besoek van die heer Martin Bosma uit Nederland het, soos te wagte kan wees, ‘n herrie onder SA se linkse meningsmouse veroorsaak. Hieronder tel joernaliste van die dagblad Beeld.

Bosma is ondervoorsitter van die Nederlandse senaat (tweede kamer) en voorsitter van die interparlementere kommissie van die Nederlandse Taalunie (Nederland, Vlaandere en Suriname).

Sy party, die Partij voor de Vrijheid (PVV), is krities oor die omskepping van die Nederlandse samelewing tot ‘n multi-kulturele een. Tradisioneel is die Nederlande hoofsaaklik bewoon deur taalsprekers wat algemeen beskaafde Nederlands (ABN) as gemeenskaplike omgangstaal gebruik het en die Christelike geloofsrigting gevolg het.

Die werklike rede waarom Bosma nie hier met ope arms ontvang word nie, is polities van aard en handel oor die Moslemvraagstuk in Europa in die algemeen en in Nederland in die besonder.

Om enigsins te begryp waaroor die standpunte van die PVV gaan moet iets van die Nederlandse situasie as konteks verstaan word. Nederland is histories ‘n land waar mense van dieselfde beskawing (die Christelike) met min of meer ‘n uniforme kultuur van mense woon, met hier en daar ander aksente, soos in Friesland. Onder die invloed van die liberalisme en materialisme is die grense van Nederland vir vreemdes (waaronder Moslems) oopgegooi. Die materialisme het die protestantse werksetiek dusdanig ondergrawe, dat Nederlanders mense moes invoer om handearbeid, of dan die vuilwerk, te kom doen. Insgelyks het die liberalistiese antropologie verwag dat immigrante as leë doppe na Nederland sou kom en binne een geslag die Nederlandse lewens- en wêreldbeskouing sou aanvaar. Wel, dit het nie gebeur nie! Immigrante het gewoon hulle taal en kultuur asook hulle godsdiens behou.

Terwyl Nederlanders al minder en minder kinders verwek en al meer en meer gesekulariseerd geword het, en ‘n volstrekte skeiding tussen staat en kerk en politiek en godsdiens gemaak is, het die Moslems veral (a) hulle kultuur behou, en ook (b) hulle godsdiens beoefen. Hiervolgens is daar in die Moslemgeloof geen skeiding te maak tussen godsdiens en politiek nie en is dit die hoogste strewe van Moslemgelowiges om die koninkryk van Allah op aarde te vestig – dus ook in die Nederlande.

Daar kan dus op redelike gronde gekonstateer word dat as die demografiese tendense ontwikkel soos tans blyk die geval te wees, die Nederland binne ‘n honderd jaar en minder ‘n Moslemland sal wees.

Daar is ander, miskien belangriker faktore, as die verdwyning van die Westerse beskawing in Nederland. Op die korter termyn is daar (a) die Iranese kernkragwedloop en (b) die Iranese oogmerk om Israel met die grond gelyk te maak, asook die wêreldwye onstabiele ekonomiese omstandighede wat in die verlede onvermydelik tot oorlog gelei het.

Die veiligheid en sekerheid van Israel word in die laaste instansie deur Christelik-Westerse lande gewaarborg. As en indien die voorsiende godsdiensoorlog tussen Judaïsme en Islam uitbreek en Europese lande tot die beskerming van Israel toetree, sit Europese lande met ‘n groot Moslembevolking en ‘n enorme interne veiligheidskrisis.

Binne die konteks van Suid-Afrika is Bosma ewe onwelkom, want sien, agter elke kabinetsminister is een of ander Indiër te vinde.

Dit is duidelik dat die buitelandse beleid van Suid-Afrika uit en uit pro-Palestyns is, pro-Gadaffi was en sekerlik nou pro-Iran sal wees. Dink bv. aan die Universiteit van Johannesburg wat onlangs bande met ‘n Israeliese universiteit verbreek het. Die gevaar is dat indien ‘n Derde Wêreldoorlog uitbreek, hierdie regering se simpatie nie by Israel of selfs by die Weste sal lê nie, maar duidelik by die Islamiste en hulle bondgenote.

Teen hierdie agtergrond is Bosma uiteraard nie welkom in SA nie en sing die Afrikaanstalige joernaliste hartlik in dieselfde koor as die regering saam. G’n wonder hierdie land en sy mense gaan weens gebrekkige kennis onder nie.

лобановский класс

Kiwi’s goed, maar nie goed genoeg vir SA nie

Vroeg in die vyf-en-veertigste beurt van hulle kolfbeurt (ja, met krieket kry jy beurte ín beurte; dis belangrik en ons kom weer daarby) het Faf du Plessis ’n bal van Nieu-Seelander Kane Williamson haaks na die bykant gestoot om Suid-Afrika se wenlopie aan te teken. Dit het een van die opererende beginsels van krieket – van enige spansport – ingevryf: Vir ’n goeie span om ’n baie goeie span te klop, moet hulle baie goed speel. Vir ’n baie goeie span om ’n goeie span te klop, hoef hulle net goed te speel. En as ’n goeie span net goed speel, is hulle enigste kans om ’n baie goeie span te wen as dié pleinweg vrot speel.

Nieu-Seeland is ’n goeie span en Suid-Afrika is ’n baie goeie span. Gedurende die pasafgelope T-20-reeks het Nieu-Seeland in die eerste een baie goed gespeel, Suid-Afrika het vrot gespeel en Nieu-Seeland het net-net gewen; in die tweede het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika het baie goed gespeel en maklik gewen; in die derde het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika goed en Suid-Afrika het net-net gewen.

Vanoggend (Boeretyd) het Nieu-Seeland goed gespeel, maar dit was nie genoeg nie want Suid-Afrika het ook goed gespeel en maklik gewen. Dít som Nieu-Seeland se penarie teen Suid-Afrika op, ’n verknorsing wat net gaan verhewig hoe meer die spanne teen mekaar speel en hoe langer die wedstryde word. Suid-Afrika gaan vir lang tye triestige krieket moet speel om nie al drie die aankomende toetse te wen nie.

Nieu-Seeland, wat in 2005 laas ’n wedstryd op die Westpac-stadion in Wellington verloor het, het die loot gewen en manhaftig besluit om te kolf – lopies op die telbord, en al dié tipe ding, jy weet. Nieu-Seeland se lopieverkrygingstrategie is eenvoudig: Guptill en McCullum moet groot beurte speel en ’n halfdosyn ander kolwers moet bydra met gewigtige klein tellings. Guptill het nie lus gelyk hiervoor nie; nie teen ’n skroeiende Suid-Afrikaanse openingsaanval deur Tsotsobe, Morkel en veral Dale Steyn nie; nie met ’n blad wat die bal laat opspoeg en laat swaai het nie. Hy maak toe ’n strategiese onttrekking deur ’n Tsotsobe-aflewering saggies en teer op te kerf na De Villiers agter die penne.

McCullum het diep gesluk, goed gespeel en 56 lopies gekry. Williamson het wonderlik gespeel en 55 lopies gekry. En dit was maar eintlik al. De Villiers het sy boulers skrander aangewend en omgeruil en telkens ’n manier gekry om die Kiwi’s te ontwapen net sodra dit lyk asof hulle ’n beduidende vennootskap gekonstrueer kry. Hy het veral vir Steyn gereserveer vir die groot oomblikke – vir die beurtklimaks en tydens die versnelbeurte.

En nou moet ons eers praat oor die begrip “beurte” in krieket. Een van die innoverings van eendagkrieket is in Engels bekend as ’n “power play.” Dit is trosse van vyf of tien beurte waarin veldwerkbeperkings vir die kolwers kans gee om makliker en vinniger lopies aan te teken. Vir die afgelope tien jaar sukkel die Afrikaanse kommentators vir ’n gepaste vertaling. Tans berus hulle in ’n erg onoorspronklike en verbeeldinglose “kragspel” om dit te beskryf. Dit is tog duidelik dat die doel van dié tros beurte nie is om krag te vertoon nie, (nie eens “power” nie), maar om vinniger lopies te maak, d.w.s. om te versnel. So, “power play” is “versnelbeurt.” Hoor ek reeds hoe sê mense vir my dat dit veroorsaak dat daar beurte in ’n beurt is. Ja. Maar dié is daar reeds. Jy kry boulbeurte in ’n kolfbeurt en nou kry jy boulbeurte in ’n versnelbeurt en versnelbeurte in ’n kolfbeurt. Kom ons aanvaar dit nou maar so.

Nieu-Seeland het (vir hulle) ’n baie goeie en (vir Suid-Afrika) ’n baie gemiddelde telling van 253 gebank. Die Kiwi’s het duidelike doelwitte gehad om die Proteas onder dié telling voor te keer, waarvan die vernaamste was om drie paaltjies binne die eerste tien beurte van Suid-Afrika se beurt (sien!) te kry. So gedaan met Amla, Smith en Kallis wat tussen hulle presies 30 lopies aangeteken het. Kallis het gesneuwel met ’n wanberekende trekhou, ’n skoot wat hy meestal sal bêre. Maar Amla, en in ’n baie groter mate, Smith sal moet besin oor hulle eendagkolfbenadering.

Die Moslem het ’n uitstaande kolfgemiddeld en is op meriete gelys as die beste eendagkolwer in die wêreld. Tog is dit asof hy gedring voel om flambojant en aggressief, ongeag die situasie, te kolf. Hy lyk elke keer goed op dreef, en hy is, behalwe vir die irriterende en skadelike gewoonte om sy paaltjie te verloor. Hy doen dit darem op ’n vermaaklike verskeidenheid maniere en vanoggend was dit ’n delikate skramskootjie van kolf na wegpen gekap. Hy sal goed vaar om ag te slaan op daardie vervelige ou geykte wenk: Konsentreer van vooraf meer op die basiese dinge van krieket en die vreugde sal volg. Op die oog af is hy ’n verstellinkie en ’n instellinkie van sy gedugte beste af. Helaas, so is dit nie met Smith nie.

Hy is vanoggend weer op sy ou gunstelingmanier uit met ’n geslote kolfaansig wat ’n bal van die buiterand af glippe toe piets. Ek het nog altyd ’n waardering gehad vir ’n goeie speler met ’n lastige tegniekgebrek – iets soos Paulus se angel in die vlees. Jonty Rhodes moes iets baie soortgelyk as Smith oorwin. Hy het ook ’n oordrewe onderhandgreep gehad, maar hy het uitgewerk hoe om die kwesbaarheid daarvan te beperk terwyl hy die voordele daarvan kon beklemtoon. In die tweede helfte van sy loopbaan was hy die beste beurtafsluiter ter wêreld met ’n gemiddeld van meer as 80.

Smith se kwesbaarheid is besig om sy loopbaan te ondermyn en sy kolfgemiddeld is nou onder 40 (baie goed as hy ’n Kiwi was, maar onaanvaarbaar vir ’n Suid-Afrikaanse oopmaakkolwer.)

Met die Kiwi’s in vervoering oor hulle sukses het AB de Villiers en JP Duminy begin om die kolfbeurt te lap. Duminy het verbete sonder enige noemenswaardige tydsberekening geswoeg. Al dié wroeging was karige betaling om die oorkantste kolfkampie dop te hou, want AB de Villiers het, doodeenvoudig, ’n kolfmeesterklas gegee. Daar is nie nog ’n kolwer tans in wêreldkrieket wat sy spel kan vorm om die situasie te pas soos die SA kaptein nie.

O, daar is ander verwoestende kolwers: Gayle, Sehwag, Warner en deesdae ons eie Levi, maar AB op sy dag kan saam met die beste tonk. Nie een van die ander kan ’n beurt saamstel soos AB nie. Hy het enkellopies gekry waar enkellopies te kry was, ’n vier of twee toe dit nodig was, vier sesse toe die Kiwi’s dit regtig nie nodig gehad het nie. Duminy het uiteindelik die aftog geblaas op 46, wat op ’n manier goeie tydsberekening was, want toe stap Faf du Plessis in. Wat ’n irriterende kolwer om teen te boul! Hy wip hiperaktief rond in die kolfkampie, spring oor na die wegpen en druk die bal om die paaltjies na die bykant toe; bons oor na die bypen en sny die bal deur die wegkant; storm ’n vinnige bal en slaan dit oor die binnekringveldwerker…

Die vorige keer wat Du Plessis en die Kiwi’s mekaar in die oë gekyk het, het die Swart Pette gesmaal, want toe het Faf sopas vir AB in die kwarteindrondte van die wêreldbeker uitgehardloop en daarmee die slag aan die Nieu-Seelanders oorhandig. Dié verkleinering is nie nou meer voor in die Nieu-Seelandse gemoed nie. Daarvoor het Faf hulle te vrolik gestraf vir sy 66 nie uit nie.

Suid-Afrika sou in alle waarskynlikheid 300 lopies of meer kon jaag – Albie Morkel was, byvoorbeeld, nog in reserwe. Maar dit was nie nodig nie. Nieu-Seeland het bloot goed gespeel, en teen ’n baie goeie span soos Suid-Afrika is goed net nie goed genoeg nie.

лобановский александр отзывы

Slordig maar lekker! Bulle beur verby Haaie

Haaie en bulleJulle sportskrywer het, vir julle kennisname en moontlike plesier, die eerste drie wedstryde van 2012 se Super Rugby-toernooi onder die loep geneem, en vir dié wat gewonder het, en miskien selfs senuweeagtig is, laat ek julle verseker, hierdie wedstryde in ag geneem, het die Suid-Afrikaanse spanne niks uit Nieu-Seeland of Australië te vrees nie. Dié twee buitelande, daarenteen, moet maar hulle vitamines drink en die lewe onthou soos wat dit nou is, want hierdie jaar gaan hulle slae verdra as dít wat in die laaste wedstryd van die dag te siene was ’n  patroon vir die jaar gevestig het.

Die Bulle en Haaie het mekaar met uitsonderlike geweld op Loftus getref. Daar was baie hanteerfoute, soos maar altyd aan die begin van die jaar, en van die skopvoete was nog nie behoorlik gekalibreer nie, maar daar was ongewone intensiteit vir ’n aanvangswedstryd. Genade, eintlik was die twee spanne oorgehaal soos styfgerekte rekkers en van die openingsfluitjie af het hulle sonder brieke op botsende bane in mekaar vasgepletter. Die aanslane was, ongewoon vir Suid-Afrikaanse spanne aan die begin van ’n  seisoen, nie te wyte aan blote bottervingers nie, maar omdat die verdedigers die baldraer telkens met soveel ribkrakende trompsnelheid getref het dat die bal iewers heen móés gaan.

Die eerste helfte was ’n  triomf van aanvallende verdediging oor punteskeppende aanvalle. Die punteversamelaars, Morné Steyn, Pat Lambie en Riaan Viljoen het al hulle skoppe (net-net) mis geskop en van drieë was daar nie sprake nie. Min openingshelftes lewer soveel roekelose aksie op en nog minder eindig 0-0. Dié een het.

In die tweede helfte het ’n mate van nugterheid tot die rugbyruim teruggekeer en die blou puntestroper het in beweging gekom. Hangskoppe het die Natallers vasgepen en die blou horde se smorende aanvalle het strafskoppe opgelewer wat Morné Steyn, nou weer in die vloei van dinge, oorgeskop het. Konsentrasiebreuke deur die Bulle, veral in die skrum, het weer vir Lambie binne trefafstand gebring en hy het self ses punte van twee strafskoppe gemaak. Uiteindelik het die blou golf tog vooruit gerol en met ’n  bykomende skepskop het Steyn en die Bulle 18 punte gehad teenoor die Haaie se ses.

Daar was nou oënskynlik ’n  patroon – ’n ou, herkenbare een. Die Bulle het die Haaie weereens in ’n  hoekie van hulle kwartgebied vasgedruk. Maar daar is ander herkenbare patrone in Suid-Afrikaanse rugby ook. Die Bulle het die bal afgestaan en die Haaie het dit met hulle rug teen die doellyn aangegee. Binnesenter Whitefield het ’n  skoppie vorentoe geknikker in die hoop om uit te breek, dit op een of ander manier weer gevind en dit het teen die agterlyn afgeloop totdat Jacques Botes vir Lwazi Mvovo teen die kantlyn kon afvuur. Die vleuel en sy grillokke is ingejaag en platgeloop maar het die bal binneveld toe gekry waar die einste Botes, genoeg van ’n veteraan om daardie mitiese kortpaaie op ’n  voetbalveld te ken, die bal gevang en ’n  strompelende Bulle-verdediging finaal versnipper het vir die enigste drie van die wedstryd. Dit het 71 minute gevat, maar die wag was ’n  nie ’n onredelike prys vir ’n kosbare drie nie. Die telling was toe 18-13.

Dis asof die spanne hulle tradisionele persoonlikhede vir die laaste tien minute in daardie oomblik herontdek het. Die Bulle, asof afgespreek, sou verdedig, terwyl die Haaie snerpend en verbete sou aanval. Op een stadium moes die Bulle digby die 40 fases in twee bewegings absorbeer voordat hulle die bal kon wegrokkel. Steyn se verligtingskop het 30 meter van sy doellyn af oor die kantkalk gegaan. Die Haaie het hulleself styfgetrek vir net nóg een lynstaan waarna hulle net nóg ’n aanval, met alle potensiaal op sukses, kon loods. Haker Wepener se gooi was ’n presiese boog, reg waar dit moes wees, in die middel van die lynstaan. En toe rys daar ’n lang skraal figuur en kaats die bal voor die Haaie weg, Bulle se kant toe. Is dit ’n Matfield in daardie nommer-5 trui? Nagenoeg.

Juandré Kruger het gewys die slotfabriek is in volle produksie. Hy het die Bulle se lynstane gereguleer soos sy mentor, Victor Matfield, self. Hy het wonderlike voetbalvoorgevoel en het soos die wind met die bal gehardloop en die harde lakke ingestop wanneer hy moes. Hy is as Man van die Wedstryd aangewys, en dít nie sonder rede nie.

Die vraag is wat die aanbod van talent in SA rugby is na die vertrek van ’n tros ware legendes. Inderwaarheid is daar soveel nuwe modelle op die mark, dat die voetbalverbruiker skoon bederf sal voel. Die ander jongeling wat prominent in die Bulle-span was, was die jong Francois Venter op binnesenter. Hy doen sy werk, verlustig homself in die geweld van kontak en het daardie wonderlike vermoë om ’n paar tree dieper aan te val as wat redelik sou wees. Die Haaie se jong slot, Anton Bresler, het gewys dat die Bulle nie ’n  patentreg op dié posisie het nie.

Die Bulle het die laaste aanslag weerstaan en die stryd met 18-13 gewen.

Dit was nie foutlose voetbal nie, maar daar was genoeg van die ongebreidelde gladiatorgees in die skouspel om die aptyt te wek vir ’n groot Super Rugby-seisoen.

Laat waai!

Punte deur:

Bulle – Strafdoele:  Morne Steyn (5). Skepskop: Steyn.

Haaie – Drie: Jacques Botes. Doelskop: Pat Lambie. Strafskoppe: Pat Lambie (2).

Данильченко Юрий отзывы

‘Occupy’ die kleinhuisie!

’n  Sjinese student hoop om ’n  heldin vir vroue regoor die wêreld te word deur ’n ‘Occupy’ of besettingsbeweging van haar eie te loods – in die mans se toilette.

Lie Tiengtieng het opskrifte gemaak toe sy en 20 ander vroue in ’n  manstoilet in die suidelike stad van Ghoeangzjoe ingemarsjeer het met kleurvolle plakkate wat aandring vir ewe lang wagtye vir albei geslagte.

Nou is sy van plan om haar protesoptrede na die hoofstad, Beijing, waar Sjina se leiers volgende maand sal vergader vir die land se jaarlikse vergadering van die rubberstempelparlement, te neem.

“Ons wil hê senior amptenare moet kennis neem van die vraagstuk,” het sy vir AFP gesê. “Dit is ’n  gewigtige kwessie vir baie vroue. Gedurende die protes in Ghoeangzjoe het ons lukrake peilings gedoen en gevind die meeste mense ondersteun ons.”

Plaaslike media het na die protes berig dat provinsiale owerhede in Ghoeangzjoe gereageer het deur in te stem om die getal vrouetoilette met 50 persent te verhoog – ’n onderneming, sê Lie, wat landswyd geneem moet word.

Die vraagstuk het ’n  debat op die internet ontketen, hoewel nie almal ewe beïndruk is deur die protes nie.

“Die  Amerikaners beset Wallstraat, die Sjinese beset toilette. Dit is ’n  groot verskil,” het een woernaler onder die naam Hoeasjoe Zian geskryf.

топкарго

Praag se middagnuusbulletin

In die Hooftrekke:

Studenteverkragter gearresteer.

Bylmoordenaar geskik om verhoor te word

Nog geweld by Implats

VSA trek renosterhoringsmokkelring vas

Die eerste Super Rugby-wedstryde

Die jongste markaanwysers

’n  Jongman is in hegtenis geneem vir die verkragting en roof van drie studente van die Universiteit van Limpopo in Mankweng, het Limpopo-polisie gesê.

Dit blyk dat die man in die vroue se kamers van die kampus af ingebreek en hulle verkrag het tussen Woensdag 22h00 en 03h00 Donderdag, het konstabel Moses Molepo in ’n  verklaring gesê. Selfone en skootrekenaars is ook gesteel. Die arres volg na ’n  wenk van die publiek.

Bylmoordenaar geskik om verhoor te word.

Die voormalige Blou Bul-flank Phindile Ntshongwana is geestelik bevoeg om vir die moord op drie mense met ’n  byl in die hof te verskyn, het die Durbanse Hooggeregshof gehoor.

Regter Kate Pillay het gesê die beskuldigde is geskik om verhoor te word.

Ntshongwana staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en verkragting.

Hy het na bewering twee van sy slagoffers met ’n  byl doodgekap. Een is onthoof.

Dr Soobian Moodley het in Januarie getuig dat Ntshongwana nie enige tekens van geestelike onstabiliteit tydens mediese ondersoeke getoon het nie.

Nog geweld het vanoggend by Impala Platinum

’n  Amptenaar van Implats, Johan Theron, het gesê dat daar nog ernstige voorvalle van geweld vanoggend plaasgevind het. Dit is deur die Noordwes polisiesegsman, Brigadier Thulani Ngubane, bevestig.

Implats-werkers is al vir ’n  maand lank op ’n  onwettige staking wat die ontslag van 17,200 werkers tot gevolg gehad het.

Dit het tot gewelddadige oproere en die dood van ten minste twee mense gelei.

 

Afghanistan: Die land hou asem op vir vierde dag van geweld na verbranding van Korans

Afghaanse owerhede het hulleself gestaal vir ’n  vierde dag van gewelddadige protes na Vrydag-bidure oor die verbranding van eksemplare van die Koran deur die Amerikaanse weermag, ten spyte van ’n verskoning wat deur die VSA se president, Barack Obama, aangebied is.

Die segsman vir die Binnelandse Ministerie, Sediq Seddiqi het gesê hulle sal ekstra waaksaam wees.

Volgens amptenare het onlusbeheerpolisie in Kaboel ontplooi.

Dit Taliban het Donderdag ’n  oproep op Afghaanse Moslems gedoen om vreemdelinge “te slaan en dood te maak” om die Koran-verbranding te wreek.

Onluste het regoor die land na die insident uitgebreek en ten minste 17 mense, insluitende twee Amerikaanse soldate is gedood.

 

Sewe mense is in hegtenis vir die smokkel van bedreigde renosterhorings in Los Angeles, New Jersey en New York oor die afgelope week vasgetrap, het federale beamptes gister gesê.

Vier van die verdagtes is in Los Angeles betrap. Die mees onlangse arres het Woensdagnag by die Los Angeles Internasionale Lughawe aangekeer, het Thom Mrozek, ’n  segsman vir die VSA se aanklaerskantoor gesê.

Dzjin Zjao Feng, ’n  Sjinese burger, is by die lughawe in hegtenis geneem. Hy word daarvan verdink dat hy die vervoer van dosyne renosterhorings van die VSA na Sjina toegesien het.

Die arrestasies was die gevolg van ’n  18-maandelange ondersoek genaamd “Operasie Crash.”

Markaanwysers:

Goud verkoop teen $1,799-65 per fynons en Platinum teen $1,717-25.

Jy kan ’n  dollar koop vir R7-56.

Brent Ruolie verkoop teen ’n  pynigende $125-38 ’n  vat.

Sport

Die Super Rugby-toernooi het vanoggend met twee wedstryde weggespring.In Australië het die Brumbies onder Jake White die Western Force 19-17 geklop. Jesse Mogg en Robbie Coleman het drieë vir die Brumbies aangeteken en James Stannard het die Force se enigste drie behaal.

Vroeër het die Crusaders hulle landgenote, die Blues, net-net met 19-18 getroef. Chris Lowrey en David Raikuna het drieë vir die Blues gedruk en die Crusaders kon net een behaal – deur Robbie Fruean. Tyler Bleyendaal het die res van die punte met skoppe aangeteken.

Sri Lanka het die Australiese krieketspan geskud toe hulle die eendagwedstryd met twee paaltjies geklop het. Australië het eerste gekolf en in ’n  groot mate danksy ’n  honderdtal deur Forrest 280 lopies na 50 beurte behaal.

Vir Sri Lanka het Jayawardene met 85 en Chandimal met 80 uitgeblink. Die wenlopies is in met vier balle oor in die laaste boulbeurt behaal.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Broodblik! Oorlog toe in ‘n Ratel

Op ’n wintersaand, Junie 1983, steek ek op pad uit die kaserne in die deur vas. Op die klein paradegrond aan die oorkant is ses Ratels in ’n  halfmaanformasie, sulke kantige, dreigende masjiene in die penumbra van die aand. Hulle hoofligte glinster stip soos die oë van ’n  roofdier op wag en die kragtige soekligte wat bo-op gemonteer is, sweis deur die halfdonker van die nag. In die halfskaduwees van die aand is die gedaantes van die bemanning wat die masjiene diens en beheer sulke vlietende, doelgerigte figure, masjienagtige wesens in eie reg, oënskynlik sonder emosie in hulle toegespitsde bewegings. Die enjins luier in ’n  meganiese koor, laag en grommend.

Ek het nog nooit voorheen ’n  meer onheilspellende gesig gesien nie, ’n vertoon van apokaliptiese magte wat skaars bedwing kan word en op die kleinste voorwendsel in ’n orkaan van swael en vuur kan losbrand. Die instink om op die vloer te gaan lê met my arms oor my kop, was oorweldigend – en hierdie masjiene was aan mý kant!

Hierdie “vreesfaktor,” daardie eienskap waarna militêrevoertuigontwerpers streef, was in oorvloed in ’n  Ratel teenwoordig. Dit is buite perke verhoog in die bosse van Angola. Die terroris of FAPLA-soldaat, selfs die Kubaan, die Oos-Duitser en toevallige Rus, sou hulle hoor aankom – daardie snel naderende basgedreun, daardie waansinnige geloei van die turbo – maar dit is moeilik om vas te stel wáár die Ratels is en hoe gou hulle daar sou wees. En wanneer hulle uit die bosse bars en die 20-mils vlamvlamvlam en die lugspoorkoeëls skeur in teikens in en die brisantkoppe bars in vuur uit, is daar nie baie wat bly staan om die knelpunt te besleg nie. Dan gaan die deure oop en ’n  agttal veglustige troepe “stap uit” elke voertuig en vee vorentoe in ’n onweerstaanbare vuur-en-beweginggolf.

Hoewel die Grensoorlog nominaal in 1966 ontstaan het, was dit vir die eerste dekade ’n  lae-intensiteit- teeninsurgensiestryd. Die grootste deel van die werk is deur gemotoriseerde infanterie te voet of op Bedford-vragmotors gedoen. Die verskyning van Mercedes-Benz Unimogs het mobiliteit verhoog, maar selfs dié gedugte lorrietjies was sagtevelvoertuie – kwesbaar teen kleingeweervuur en veral landmyne.

Die Suid-Afrikaanse Weermag is in 1976 skielik in die diep kant van ’n  konvensionele oorlog gedompel toe marxistiese magte Angola in chaos omgedolwe het. Die ystermanne van Ops Savannah het Angola diep binnegedring in Eland-pantserkarre en Unimogs waarin sandsakke as koeëlwering en mynweerstand gepak is.

PW Botha se vaartbelynde krygstuigraad het die swakplekke in die beskikbare voertuigvoorraad nie net geïdentifiseer nie, maar verstommend vinnig aangespreek. Die opdrag het uitgegaan om ’n gepantserde personeeldraer te ontwerp en te vervaardig.

Die projekleier was ’n  jong generaal, Jannie Geldenhuys. Onder hom het ’n groep navorsers, ingenieurs, tegnici en vakmanne versamel. Die begroting, in internasionale terme, was karig en die span het gereeld asem ingetrek en die geduld van die telraamjokkies beproef.  ’n  Boer maak ’n  plan, natuurlik, maar ’n  Boer kan ook so vervlaks ambisieus met sy planne wees. Die oorspronklike konsep was vir ’n  vierwielaangedrewe, geslote voertuig, soort van ’n  gepantserde minibus met groot wiele. Maar die ontwerp het gegroei en gegroei, en toe nóg gegroei.

Geldenhuys is naderhand onttrek vir hoër diens as gebiedsbevelvoerder. (Die Ratelprojek het verhoed dat hy ’n  finale generalestafkursus doen, wat van hom, in sy eie speelse woorde “’n  ongekwalifiseerde generaal” gemaak het.) Roland de Vries het die projekleiding oorgeneem.

Die Ratel wat in 1976 gedebuteer het, het die ontwerpspesifikasies heeltemal oorskry. Die uiteindelike produk was lank – 7,2 meter – , hoog – 2,5 meter, en wyd – 2,1 meter. Onbewapen het die kolos ingeweeg op 16 ton. Die standaardweergawe se skerpkant was ’n  20-millimeter, Frans ontwerpte snelvuurkanon en ’n  7,62-mm M19 Browning-masjiengeweer is koaksiaal gemonteer. Die wapens is gehuisves in ’n roteerbare toring. Die enjin van keuse was ’n 12-liter, 6-silinder, turboaangedrewe Büssing-masjien wat krag gelewer het na die wiele deur ’n  massiewe sesgang- outomatiese ratkas.  Die gewone Ratel het ’n  bemanning van drie gehad – kanonnier en bevelvoerder in die toring, en die bestuurder (“drywer” in weermagvaktaal) in die klein kajuit reg voor op die kort snoet. In die passasiersruim was sitplekke vir agt infanteriste wat elkeen oorkant ’n  roteerbare skietgat gesit het. Die Ratel het seswieldryfvermoë en ewenaarslotte oor al drie aste gehad.

’n Resitasie van statistieke doen niks om die indruk van die Ratel te beskryf nie. Dit is ferm geplant op die ses groot wiele aan drie aste en is die ene skuinsvlakke. Een van die faktore wat ’n  Ratel so dreigend laat lyk, is die feit dat die bemanning nie maklik van buite sigbaar was nie. Dit is so ’n  masjienagtige voertuig, asof dit bloot ’n  meganiese aanmekaarflansing met ’n kwaadaardige intellek is.

Die Ratel was met die eerste oogopslag net te groot om enige iets anders as lomp te wees, maar in die hande van ’n  bedrewe drywer was dit verstommend beweeglik.

Die “Broodblik” (een van die byname van dié kar) was ’n  oombliklike sukses in die Operasionele Gebied. Die potensiaal van die voertuig was gou duidelik en dit het van meet af aan die patroon van gemeganiseerde infanterieontplooiing verander. Hierdie was nie bloot ’n voetsoldaattaxi wat sy vrag skutters afgelaai en dan onttrek het tot die slag gelewer is nie. Hierdie voertuig het soveel slaankrag in die stryd bygedra, en was so bestand teen kleingeweervuur en mortiere, dat dit gereeld die profiel van ’n slag verander het. Die mobiliteit van die Ratel, die sig wat dit aan die toringbemanning gebied het oor bosse heen omdat dit so hoog is, die vermoë daarvan  om versperrings oor te steek of daardeur te breek, het die SAW die kosbare vermoë gegee om die front te verskuif en om om die flanke van die vyandelike magte te beweeg. In ’n  geveg kon dit ’n gordyn van dekvuur lewer terwyl die infanterie in posisie beweeg.

Mobiliteit, een van die hoogste aangeskrewe elemente van oorlogvoering, is tradisioneel gesien as behorende tot die vlaktes van Europa en die woestyne van Noord-Afrika. Die bos was ontwerp vir ligte infanterie wat ten beste op lugsteun kon staatmaak. Met die Ratel het die Suid-Afrikaanse weergawe van Blitzkrieg na die Operasionele Gebied gekom. Dit het die gevegsdoktrine van die vyand oorhoops gegooi tydens die groot oorgrensoperasies Protea, Daisy, Smokeshell en ander.

In 1983 is ek gekies om by die Hoof van die Leër se Peloton aan te sluit. Dit was ’n  eksklusiewe groep Ratel-drywers wat na goeddenke van die Leërhoof aangewend sou word waar daar ook al ’n behoefte vir bestuurders was. Vroeg in ons Bestuurs- En Onderhoudskursus ( B&O), is ons ter wille van oriëntering op ’n halfdosyn Ratels in die transportpark losgelaat. My oorblywende indrukke was hoe die binnekant, uitgeverf met ’n koel, dik lemmetjiegroen, en al die drukpype en kabels en hefbome, aan die interieur van ’n  duikboot herinner het. Dít, en die feit dat ’n Ratel aan die binnekant die ene skerp, harde hoeke is. Ek het nog  nooit voorheen of daarna my kop so baie gestamp nie. Ek het met ligte harsingskudding en groot bewondering vir die masjien daar weggekom.

Na ’n intensiewe teoretiese kursus, het die bestuursopleiding begin. Uiteindelik het ’n  kort korporaal, Moffat, op my beslag gelê. Hy het my na die Ratel agter in ’n transportparkloods begelei. Eers moes ek agterop die enjinluike klim en leer om die groot klappe op te tel en ’n “parade” – ’n  instandhoudingsritueel – te doen. Een van die Ratel se eksentriekhede was ’n baie lang oliemerkstok. Om daardie “diepsteek” in die piepklein gaatjie doer onder in die enjinkompartement te kry, is ’n  raaisel wat baie konsentrasie verg.

Die oomblik het aangebreek en ek is geïnstalleer in die vlak bestuurdersitplek met die GM-tipe skootgordel vasgeknip, die kopstuk oor my skedel getrek en die kommunikasiebeheer aan ’n band om my nek gehang. Moffat het my gewys hoe om die hoofskakelaar te draai en die twee batteryskakelaars op te klap. Dit was tyd. Ek het die groot ronde aansitterknop gedruk en iewers agter my het ’n  knormoergeloei ontstaan en oomblikke later het die magtige enjin begin dreun. Ons wag vir die naalde van die lugdrukmeters om te klim: Anders as burgerlike vragmotors het ’n Ratel ’n positiewe remstelsel en moet genoeg lugdruk hê voor die remme werk.

“Kom ons ry!” het Moffat beveel.

Die rathefboom was ’n kort, stewige stingel links van my en ek het dit uit neutraal teruggeskakel na trurat met my voet ferm op die rempedaal. Ek het my regtervoet van die rem verwyder en op die versneller geplaas en getrap. Vir eers het niks gebeur nie – ’n  Ratel is nie die Hilux-bakkie waarop ek my bestuurstande geslyp het nie. En toe… toe beweeg dit, asof die aarde self weggesleep word terwyl die Ratel stilstaan… maar nee, dit ís die voertuig self wat agteruit rol, en dis ’n  gevoel van verstomming, asof ek ’n  stadsaal geskuif het; die blote gedagte dat dit in gehoor van mý gier, mý besluit, mý voet se drukking op die pedaal is wat die massiewe Ratel beweeg.

Opleiding het versigtig begin, met ’n  paar katvoetrondtes om die ringpad om die 1 SAI-basis. Later het ons dorp toe beweeg en na ’n  paar sessies oor die volgende paar dae uit na die “koeikamp,” ’n opleidingsveld net buite die Tempe-basis. Dáár het ek uiteindelik die legendariese “treinbrug” ontmoet.

Op die kant van ’n plato tuimel die aarde weg teen ’n  steil afdraande af. Ek het, per instruksie, die Ratel daarin onder beheer van die lugdrukbeheerde “kruiprem” laat afskuifel. Die oomblik wat ons gelyke grond getref het, het Moffat se stem in my kopstuk gegil: “Trap hom!”

Reg.

Die Ratel storm vorentoe, die turbo loei en die aarde streep weerskante van my verby en voor my is ’n  oënskynlike regop wal wat my hele windskerm vul. Redelik seker dat ’n gedestabiliseerde korporaal ons dood gaan kos – maar wat kan jy maak? – hou ek die versneller in. Die oomblik voor die allerafgryslikste ongeluk neem die voorwiele die skuinswal en die snoet swaai op. Oomblikke later is die Ratel – die ganse, massiewe, seswielgedrog – in die lug. Vir ’n  oomblik is ons die bonkigste, dikvelligste vliegtuig in die planeet se atmosfeer, en dan stamp die agterwiele in, oomblikke later die middelwiele en dan dryf die voordele in die aarde vas.

“Draai! draai! draai!” gil Moffat en ek sleep die groot wiel na regs en die Ratel sleep in die draai in, in ’n  storting van stofwolke, grondsuile en klipreën. Ek gil soos ’n  Spartaan in die hitte van geweld. Die enjin snou en tel toere op en ons stormjaag oor die rou Bloemfontein-grond. In daardie oomblik word die rowerleerlingdrywer ’n  Ratel-man.

Dit het konsentrasie geverg om ’n  Ratel te bestuur, ongeag van hoe ervare jy was. Die geheelontwerpte bak het veroorsaak dat die voertuig teen spoed van kant na kant begin sweef het en dit het ’n delikate aanraking op die stuur geverg om die gevreeste “body roll,” ’n  drastiese swenk na links of regs, te voorkom.

In ander gevalle, in diep sand op die Kaplyn, moes jy die stuur vasgryp, jou duime sorgvuldig bo-op en nie om die stuur nie. Dan hou jy vas, dryf die voertuig met mening aan en hy sal jou met baie opwinding beloon.

Twee maande later word ek met eerstelig wakker. Ek lê op my sy, toegewoel in ’n  bruin weermagslaapsak in ’n loopgraaf. Twee meters van my af is ’n hoë regop wiel en ek kan die massiewe kronkelvere en die skokbrekers sien. My oë vee teen die lengte van die voertuig af en dis ’n  oomblik van groot verwondering, selfs ongeloof, vir my. “Jou wonderlike, manjifieke masjien!” dink ek. En dit is alles myne.

Selfs nou, wanneer ek dit met my ou krygsmakkers bespreek, erken hulle dieselfde gewaarwordinge, dat die Ratel, enige Ratel, húlle s’n  is. Wanneer ek iemand anders ’n  Ratel sien bestuur, is ek verontwaardig, asof iemand my sportmotor sonder my toestemming gebruik.

Vir ons – vir almal – wat vir maande in ’n  Ratel moes opereer, het dit meer as ’n  kar geword. Jou hele leefwêreld het tussen daardie ses wiele bestaan. ’n  Ratel het goed na sy passasiers gekyk. Twee watertenks het 200 liter water deur die handige krane verskaf. Dit was dig genoeg om storms te weerstaan, en as hulle moes, het die troepe, regop in hulle sitplekke in die voertuig geslaap. Meeste van die tyd het jy so veilig gevoel in ’n  Ratel, wetende dat daardie skuins pantservlakke ongelooflik baie slae kon verwerk.

Die Ratels het die troepe gevat waar hulle nooit gedink het hulle sou kom nie. Ek onthou hoe ek eenkeer met laaste lig bo-op my Ratel gesit het, diep in Angola, tussen die lae bosse langs ’n rivier. Ek het op die spaarwiel gesit en ’n lou Lion-bier uit die blikkie gedrink. Die sonsondergang was ’n skouspel: Laag op laag van vlammende geel, oranje, rooi en wit. Ek was maer en bruingebrand en heeltemal seker van my plek in die organisasie. Op my Ratel. Alles was wel in my wêreld.

Die Ratel het wêreldwyd militêre doktrines omvergewerp. Generaal Jannie Geldenhuys sê in ’n onderhoud met my dat dit “’n  heilige, wiskundige reël” was dat tenks deur tenks gestuit moet word. Dit het verander tydens Operasie Askari – waaraan die Hoof van die Leër se Peloton met onderskeiding deelgeneem het – toe Ratel 90’s (Ratels met die 90-mm grofgeskut wat die hoofwapen van die uitgediende Eland-pantserkar was) die vyand se T54-hoofslagveldtenks slae gegee het. Die beweeglike Ratels het die tenks bekruip, houe geslaan en onttrek.

In 2003 en die jare daarna het ou Ratel-soldate hulle kop in ongeloof geskud toe hulle sien hoe die Yanks probeer om Irakese insypelaars en rebelle mak te maak met sagtevel- Humvee-voertuie. Die koers waarmee dié karre uitgedelg is, was skokkend. En dít terwyl hulle maar net kon kyk wat die Boere met die Ratel gedoen het. Nou eers begin hulle Stryker – ’n  peperduur teenvoeter vir die Ratel – operasioneel sy merk maak.

Die Ratel is geskeduleer om hierdie jaar deur ’n  nuwe infanteriegevegsvoertuig vervang te word. Dit is in wese die Ratel II, maar dié naam is polities giftig, so nou noem hulle dit… die Badger. Nou ja toe. Dit lyk na ’n gedugte voertuig, met agt wiele en ’n hipermoderne vuurbeheerstelsel vir die vreesaanjaende 30-mm Bushmaster-kanon. Ek is uitgenooi om een te toetsbestuur en sal dit met die eerste geleentheid graag doen. Ek verwag dat dit ’n  wonderlike voertuig sal wees. Maar gee eerder vir my ’n Broodblik.

Eenmaal ’n  Ratel-soldaat, altyd ’n  Ratel-soldaat.

Фильчаков Александр Васильевич

Oud-Noor met warm yster doodgeslaan

‘n Vrou is gemartel en doodgeslaan met ‘n warm yster in haar huis in Dullstroom, Mpumalanga, volgens ‘n berig wat Vrydag verskyn het.

Johanna Moore (78) is in ‘n plas bloed Donderdagoggend gevind waarin sy gelê het. Sy het ernstige brandwonde oor haar gesig en arms gehad, het Beeld berig. Sy is vermoedelik Woensdagaand aangeval.

Sy was ‘n Suid-Afrikaner van Noorse afkoms. Moore het die afgelope 22 jaar in Dullstroom gewoon en daar ‘n blomkwekery bedryf.

Hy lyk gevind is deur haar tuinier, Andre Mlwazu, wat vir haar gewerk het vir 21 jaar lank.

Sersant Johannes Maseko het gesê die motief vir die moord was waarskynlik roof, omdat Moore se huis geplunder is en haar beursie weg is.

Die plaaslike polisie het gevra dat enigiemand met inligting oor die saak na vore sal kom.

‘n Geskokte inwoner van Dullstroom Anita Minnaar, en ‘n goeie vriendin van Moore, beskryf haar as “die dierbaarste persoon denkbaar, iemand wat nie in staat was om iemand anders te benadeel nie”.

Фільчаков прокурор

Regimeverandering in Sirië ‘geen opsie’

Die Britse minister van buitelandse sake, William Hague, het Donderdag in ‘n onderhoud met die BBC verklaar dat buitelandse militêre ingryping in Sirië nie ‘n opsie is nie.

Dié aankondiging is deur ontleders verwag, na die pas afgelope fiasko in Libië, waar Britse, Franse en Amerikaanse inmenging tot ‘n burgeroorlog gelei het na die afsetting van en moord op kol. Gadaffi.

Hague het gister met sy Amerikaanse eweknie, Hillary Clinton, die opsie van ekonomiese en diplomatieke sanksies bespreek vóór die beplande konferensie in Tunis oor Sirië.

Die EU-ministers van buitelandse sake sal volgende week tydens ‘n spitsberaad in Brussel, onder meer strenger maatreëls teen Sirië bespreek. Dié houding word ook vertolk as ‘n manier van die EU om nie by die probleem betrokke te raak nie en die stryd daar sy gang te laat gaan.

Die Angelsaksers sal deur druk op die Arabiese Bond intree om die kwessie te probeer besleg. Hague het Brittanje se onmag om groter invloed te kan monster, as “uiters frustrerend” beskryf.

Militêre optrede is nie die antwoord nie, sê Hague. Hy sê die situasie is “baie ingewikkelder en vereis groter ingryping as in Libië”.

Pres. Basjar al-Assad, lid van die Alewitiese moslemminderheid, geniet die steun van China en Rusland wat albei ten gunste van ‘n diplomatieke oplossing in Sirië is. Albei lande het militêre ingryping reeds by die Veiligheidsraadsitting uitgesluit deur hul vetoreg uit te oefen.

Die situasie in Sirië is ook meer kompleks as die Angelsaksiese voorstelling van ‘n regime wat sy eie burgers dood. Al-Assad se teenstanders is lede van die Sjiïtiese minderheid, wat deur Iran gesteun word.

Iran steun laasgenoemde en Brittanje en die VSA is tans bekommerd dat Iran sy invloed sal uitbrei indien Al-Assad val.

александр лобановский супермаркет класс

Twee Metropolisielede vas

Twee Johannesburgse metropolisiebeamptes is Donderdag in hegtenis geneem vir bedrog, afpersing en dwarsboming van die gereg.

Die departement se interne eenheid het hulle in hegtenis geneem nadat hulle in ‘n uitkenningsparade uitgewys is, het sup. Wayne Minnaar, woordvoerder, gesê.

Die beamptes het na bewering die bestuurder van ‘n maatskappy onder valse voorwendsels in hegtenis geneem. Die twee het beweer die maatskappymotor se spesiale permit is vervals. Hulle het ‘n handgeskrewe kaartjie uitgeskryf, met vals name en vals polisienommers, vir ‘n boete van R300.

Volgens Minnaar word die beamptes aangehou by die Johannesburg Sentraal-polisiekantoor en hulle sal waarskynlik Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Данильченко Юрий Брониславович компромат

Vavi tree in om onbeskermde staking te red

Die hoofsekretaris van die vakbondfederasie, Zwelinzima Vavi, het stakende mynwerkers by Impala Platinum se Rustenburg-myn gevra om terug te gaan werk toe. Hy het mynwerkers op die dorp toegespreek.

Vavi sê ‘n verhoging wat aan werkers by die Impala Platinummyn se aanleg op Rustenburg in Noordwes aangebied is, behoort vir al sy werkers te geld. Hy het gevra dat alle afgedankte werkers heraangestel word met dieselfde voordele as wat hulle geniet het voor die staking.

Vavi sê ‘n vergadering is vir vandag tussen Cosatu en Implats belê om die staking te bespreek. Werkers by Implats is die afgelope vyf weke op ‘n onbeskermde staking. Die myn het reeds ingestem om al 17-duisend werkers weer aan te stel.

Afgedankte mynwerkers van die Impala platinnummyn naby Rustenburg het opnuut geweier om terug te keer werk toe. Vavi het gister tussenbeide getree in ‘n poging om die staking van 5-weke te beëindig.

Die werkers wat ‘n aanbod gekry het om weer aansoek vir werk by die myn te doen, eis ‘n salaris van R9 000 ná aftrekkings. Hulle sê hulle sal slegs terugkeer as daar aan hul eise voldoen word.

Данильченко Юрий Брониславович