Skrywer: Dan Roodt
Clinton verkoop ‘Oorlog teen Terreur’ aan Afrika
Sy het eerste in Senegal aangedoen, Amerika se beste vriend in die Franssprekende wêreld, om nuutverkose president Macky Sall te gaan gelukwens.
Daarna sal sy in Suid-Soedan, Oeganda, Kenia, Malawi, Suid-Afrika en Ghana, aandoen, almal op die voorpunt van die stryd teen Moslemterreur.
Soos die Washington Post in Junie berig het, het Amerika se geheime intelligensie-operasies in Afrika snel toegeneem. ‘n Netwerk van klein, ongemerkte vliegtuie monitor reeds militante organisasies in Mali, Nigerië, Somalië en Oeganda.
Sommige amptenare van Clinton se departement het egter hul voorbehoude oor die militarisering van die Amerikaanse buitelandse beleid op die vasteland uitgespreek, sê die verslaggewer Craig Whitlock in sy artikel. “Hulle het aangevoer dat die meeste terroristeselle in Afrika besig is om plaaslike doelwitte, nie globale nie, na te streef en dit hou nie ‘n direkte bedreiging vir die Verenigde State in nie.”
Die potensiaal vir ‘n gewilde teenreaksie teen die VSA is daar soos in die Midde-Ooste en erger nog, dit sal die potensiaal vir geweld in Afrika verhoog. Grense is reeds wankelrig, en eise en aansprake neem oral toe soos mededinging dit toelaat.
Die Los Angeles Times van 29 Julie, het ook intussen ‘n insiggewende berig oor Amerika se rol in die Somaliese konflik gepubliseer. Ná die Black Hawk-fiasco, het Washington besluit om byna alles anders te doen, en verskaf toerusting en opleiding vir duisende swart soldate om oorlog te voer teen die Shabaab, ‘n sogenaamde Al Kaida-bondgenoot.
Amptelik veg die troepe onder die vaandel van die Afrika-Unie. Maar in der waarheid is die 15.000 soldate uit vyf Afrika-lande grootliks ‘n skepping van die State Department en die Pentagon, wat opgelei word deur die Amerikaanse regering en afgetrede militêre personeel wat aangewend word deur privaatkontrakteurs.
Die Afrika-Unie se ingryping in Somalië is ‘n Afrika-oplossing vir ‘n Afrika-probleem, maar met Amerikaanse steun. Oeganda en Kenia het die grootste deel van die troepe in Somalië voorsien wat die VSA ‘n nuwe verleentheid bespaar het. Afrika is egter goed geskool in anti-Amerikaanse retoriek wat binnekort goed uitgebuit sal word.
Clinton se besoek aan Nairobi en Kampala val saam met gewapende mans wat ‘n bekende komediant wat gekskeer met Al-Kaida se insurgente in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe, doodgeskiet het.
Abdi Jeylani Malaq Marshale, in sy laat dertigs of vroeë veertigerjare, is Dinsdag doodgeskiet minute nadat hy Kulmiye-radiostasie, waar hy gewerk het as produsent en gewilde uitsaaier, verlaat het. Die polisie woordvoerder Mohamed Gaal, sê: “Ongelukkig het die aanvallers ontsnap.”
Clinton het glo ‘n persoonlike ontmoeting met Nelson Mandela in Qunu gereël, en sal John Atta Mills se begrafnis in Ghana bywoon. Wat sy met die voormalige Suid-Afrikaanse president wil bespreek, is nie duidelik nie, want klaarblyklik is Madiba se verstand nie meer te helder nie, om dit sagkens te stel.
‘n Fotosessie om Amerika se verbintenis tot pan-Afrikanisme te verkoop? Hou hierdie spasie dop.
Vrystaat-landbou se lagwekkende voorsitter
Die stem van rede sal seëvier in die debat oor grond, sê uitgaande voorsitter van Vrystaat-landbou Louw Steytler, maar daardie stem is gewis nie syne nie.
Steytler se sieninge van die beskerming wat die Grondwet bied, is só verbysterend, dat ‘n mens wonder hoe so ‘n onbekwame man tot ‘n leiersposisie verkies kon gewees het!
Steytler het sy gehoor weer getrakteer op sy “opinie” dat die Grondwet nie gewysig sal word nie.
“Die Grondwet sal nie verander word nie, dit is my opinie … As die druk kom sal ons dit beskerm met alles wat ons het,” het Steytler aan Vrystaatse boere op hul jaarlikse konferensie gesê. Het die man raadgewers, of het hy dit self uitgedink?
Dene Smuts, die DA se woordvoerder vir justisie en grondwetlike kwessies, en die enigste werklik bekwame persoon in die party, het die mite van die beskerming wat die Grondwet bied, al lankal ontbloot vir wat dit is: ‘n Bogstorie.
Dit sal nie nodig wees om die Grondwet te verander nie, omdat Artikel 25 reeds voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding, aldus Smuts.
Is Steytler oningelig, domastrant of moedswillig?
Steytler, wat glo boere benodig slegs ‘n “positiewe benadering tot die toekoms” om die groeiende bevolking van kos te voorsien, se geloof dat politiek uit landbou gehou moet word, laat ‘n mens met dieselfde tergende vrae.
Tans is landbou nét politiek en om soos ‘n volstruis kop-in-die-sand te hou, sal nie die ANC se houding ten beste beïnvloed nie. Dit sal alleen sorg vir ‘n ramp.
Die enigste wyse waarop kleinboere verstedeliking sal omkeer, sal uit nood gebore word, wanneer die stede se infrastruktuur ineenplof, of wanneer die regering jong swartes uit stede lok met geld in die vorm van uitkerings.
Hoe dit ookal sy, die ANC moet baie dankbaar wees vir Steytler se leiding, want dit is duidelik dat hy meen die boere gaan die spreekwoordelike melk en heuning aan Suid-Afrika se werkloses voorsien, op hulle eie onkoste.
Die ANC is nie bekommerd oor beleggers of die ekonomie nie. Selfs Julius Malema, van alle mense, weet dit nou ná sy besoek aan Londen.
O ja, en meneer Steytler, die Vrystaat se boere is Afrikaans…
Kommersiële boere moet glo kleinboere ondersteun
‘n Suksesvolle Suid-Afrika vra die insette van kommersiële boere oor grondhervorming, sê Agri SA se voorsitter, Johannes Möller.
“Die mark alleen sal die grondkwessie in Suid-Afrika nie uitsorteer nie,” het hy gesê by Vrystaat Landbou se jaarlikse konferensie in Bloemfontein.
Hy het gesê dit was omdat die situasie deel van ‘n politieke stelsel is en nie deur die mark self geskep is nie.
“Ons moet sterker voorstelle van die kant van die boere bring oor wat ons planne is om te sien dat die hele land suksesvol is. Die grondkwessie moet iewers eindig.”
Möller het gesê landbou kan nie volhoubaar wees as net kommersiële boerdery suksesvol is en die opkomende sektor sukkel nie.
“Dit is tyd vir ‘n simbiotiese verhouding tussen die kommersiële en opkomende landbousektore.”
Dit word regoor die wêreld aanvaar dat verstedeliking slegs gestop kan word as kleinskaalse boere ondersteun word. Dit is beraam dat 60 persent van die globale landbouproduksie van kleinboere kom.
“Ons het ‘n verpligting.”
Möller het gesê Agri SA takel grondhervorming saam met die regering in ‘n poging om vinniger te beweeg. Hulle is ook hard aan die werk om ‘n grond-oudit te voltooi, deur provinsiale strukture.
“Die uitdaging met die grond-oudit is dat dit nie net gedoen behoort te word deur georganiseerde landbou nie.”
Die departement van landbou moet betrokke wees. Die departement van grondsake het nie genoeg personeel nie, terwyl die departement van landbou mense in elke dorp het.
“Ons moet dit doen saam, en doen dit so vinnig as moontlik.”
Max du Preez het aan boere by dieselfde konferensie gesê die ANC se stellings oor grondgryp retoriek is wat boere nie ernstig hoef op te neem nie. Du Preez sê sy insigte in die werkinge van die ANC, het hom oorreed dat boere nie paniekerig hoef te wees nie.
Hy het bygevoeg dat die “Grondwet nie meer verander kan word nie”. Artikel 25 van die Grondwet maak reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding.
Drie oproeriges doodgeskiet in NW
Brig. Thulani Ngubane sê ongeveer 250 mynwerkers, wat die afgelope twee weke onwettig gestaak het, het Woensdagmiddag buite die K5 Khwezi-myn bymekaargekom.
“Daar was ‘n konfrontasie tussen die werkers, sekuriteit en werkgewers. Skote is afgevuur en drie mense is doodgeskiet terwyl 15 ander beseer is.”
Hy het gesê die situasie is tans kalm en die polisie monitor die gebied.
Geen verdere inligting was onmiddellik beskikbaar nie.
Die gevaarlikste sielkundige ter wêreld
Dalk is ek effens voorbarig met my konklusies, maar ek vermoed dat ons hier te make het met ‘n vorm van sielkundige oorlogvoering. Aan ons word ‘n bepaalde realiteit getoon terwyl agter die skerms ander spelreëls geld. In elk geval weet ons wat die uitwerking is van hierdie “skuldigbevinding”, naamlik ons moet die wetlike gesag van die huidige stelsel aanvaar sonder protes. Waar Genocide Watch se Gregory Stanton ons waarsku dat die ligte van volksmoord bloedrooi flikker moet ons enige vorm van verset laat vaar. Nie net is daar sprake van “rigtingbedonnerd” soos Fred de Vries dit gestel het nie, maar ook van morele verlamming sodat ons soos tydens Stalin se Rooi Terreur al voetslepend soos zombies na die galgtrokke sal loop om opgehang te word.
As my vermoedens klop, naamlik dat hier sielkundige oorlog gevoer word, sal dit ‘n goeie idee wees om name en instellings te noem wat hiervoor verantwoordelik sou kon wees, en ‘n bietjie naslaanwerk het my goed oppad gehelp.
Tydens my studie sosiale sielkunde aan die Universiteit van Amsterdam was ek nogal verbaas gewees hoekom ons geen geskiedenis oor hierdie rigting gestudeer het nie. Die “vader van die sosiale sielkunde”, ene Kurt Lewin (1890 – 1947) se naam is bekend vanwee ‘n instituut wat na hom vernoem is, maar verder het ek eers na my studie self gaan ondersoek wat hierdie man so besonder maak en hoekom daar geen aandag aan sy teorië gegee was tydens die lesings nie.
Soos ‘n kraak in ‘n muur het die lig in die duisternis begin skyn. Lewin was ‘n man wat nogal weinig gewetensbesware gehad het. Ek dink ons kan met reg sê dat hy die Josef Mengele van die sielkunde was. Die voormalige CIA agent dr. John Coleman beweer in sy werk The Conspirator’s Hierarchy: The Committee of 300 dat Lewin die geheime argitek agter die gruwelike Dresden bombardemente van 13 Februarie 1945 was. Volgens Lewin se berekeninge sou ‘n 65% lewensverlies onder burgers die Duitse moraal so ernstig ondermyn het dat hulle veggees gebreek sou word om ‘n verdere oorwinning vir die geallieerdes te verseker. Ons weet natuurlik dat dit slegs gehelp het om die stryd meer verbete te maak en het Duitsers wat min of meer neutraal was slegs verder in die arms van die Führer gedryf.
Benewens hierdie prestasie was Lewin se teorieë en gedagtes oorgeneem deur sy volgelinge wat later gekulmineer het in die daarstelling van die Tavistock Institute te Londen. Hierdie instituut wat homself voorgee as ‘n denktenk op allerlei maatskaplike vraagstukke is heimlik besig met navorsing om die sielkundige oorlogvoering teen die gewone burger verder op te voer deur ons aan allerlei polities korrekte propaganda bloot te stel. Een van Lewin se bekendste teorieë is sy “Change Model”, wat ‘n stapsgewyse plan is om mense se opvattings oor sekere kwessies te verander.
Hierdie verandermodel behels kortliks dat mense daarop gewys word dat hul bestaande opvattings nie meer geldig is nie en dit is belangrik dat dit moet verander. Hierdie fase word “unfreezing” genoem. Daarna word taktieke ingespan om ‘n nuwe stel waardes te indoktrineer, wat gepaard gaan met beloning of straf en word allerei pogings aangewend om die vorige waardestelsel te vervreem van die indiwidu. Vervolgens moet die nuwe waardestelsel ‘n deel word van die persoon se lewensuitkyk en word pogings onderneem om dit “in te vries” oftewel te “refreeze”. Klink dit bekend?
Verbasend genoeg het Lewin toegegee dat die doel van die nuwe waardestelsel nie altyd so duidelik sigbaar is nie en dit is nie altyd duidelik presies watter nuwe waardes nou eintlik moet geld nie, want die realiteit is nou ongelukkig altyd komplekser as die teorie. In plaas daarvan om sy teorie te diskrediteer het hy maar besluit dat dit ‘n goeie ding is om die einddoel nie te skerp te omskryf nie sodat mense op ‘n later stadium weer ontvries en heringevries kan word as blyk dat die plan misluk het. Ai, die arrogansie van die twintigste eeu se wetenskap!
Ek vermoed dat die skrywer van die roman A Clockwork Orange, Anthony Burgess, ook van Lewin se stompsinnige hoogdrawendheid geweet het. In Stanley Kubrick se filmweergawe van hierdie boek sien ons hoe die hoofkarakter – ‘n gewelddadige skurk – geherprogrammeer word om ‘n awersie vir geweld te ontwikkel. In die agtergrond speel toevallig sy gunstelling musiek, naamlik Beethoven oor die radio van die sielkundige wat hom programmeer. Die sielkundige het kennelik vergeet dat die geweldenaar versot is op Beethoven en het dus per ongeluk hiermee ook die estetiese aspek van sy karakter aangetas (die akteur wat die sielkundige vertolk lyk verdag baie soos Lewin). Uiteindelik het hierdie programmeerfout, die assosiasie van ‘Beethoven’ met ‘uiters onaangenaam’ hom tot ‘n selfmoordpoging gedryf en was die plaaslike regering gedwing om die skade teen hom te vergoed.
As dit nie sy ergste was nie het Lewin ook gedrag ontleed van mense wat geterroriseer was (ons sal maar nie vra waar hy hierdie geterroriseerde mense vandaan gehaal het nie), en in sy opstel Time Perspective and Morale (1941) skryf hy: “Indeed, one of the main techniques for breaking morale through a ‘strategy of terror’ consists in exactly this tactic – keep the person hazy as to where he stands and just what he may expect. If in addition frequent vacillations between severe disciplinary measures and promises of good treatment, together with the spread of contradictory news, make the ‘cognitive structure’ of the situation utterly unclear, then the individual may cease to know even whether a particular plan would lead toward or away from his goal. Under these conditions , even those individuals who have definite goals and are ready to take risks will be paralyzed by severe inner conflicts in regard to what to do.”
En ondanks al hierdie uitinge bly Lewin se naam in eer. Dit ly min twyfel dat hy saam met Freud en Wilhelm Reich tot die gevaarlikste sielkundiges behoort wat ons die adgelope eeu gehad het.
Om terug te keer na vandag en die Boeremagverhoor kan ons sien hoe bogenoemde verandermodel en reaksie op terreur vandag op die gees van die Afrikaner geprent word. Hierdie skuldigbevinding (van ‘n Afrikaanse regter na Afrikaners), tesame met die histrioniese rubriekskrywers van Naspers en News24 probeer ons oor te haal om hierdie gewelddadige nuwe orde en tweederangse burgerskap te aanvaar (“refreeze”). Dit is pogings om die gees van protesterende burgers te breek en mense verder te verwar en op te saal met innerlike konflikte oor wie hulle is en wat hulle wil bereik.
Dit mag duidelik wees dat Suid-Afrika ‘n perfekte laboratorium vir sielkundige oorlogvoering is. Soos proefkonyne word behoudende Afrikaners se waardes verguis en heropgevoed met ‘n nuwer, dodelike stalinistiese formule. Die gemak waarmee Afrikaners gebreek gaan word sal ‘n aanduiding wees vir die res van die westerse wêreld wat steeds meer met hul eie identiteit stoei as gevolg van massa-immigrasie na hul gebiede. En ondanks die gevare van wittes wat deur die presedent van die Boeremagverhoor geskep is, die anti-wit haatspraak onder Zuma, en Gregory Stanton se waarskuwing gaan die ywer oor rugby en die Olimpiese Spele onverpoosd voort.
Ek dink as Julius Caesar vandag geleef het sou hy seker Mortem et Circenses geuiter het, oftwel [gee die gepeupel] dood en spele.
Gierige Britte verwelkom Malema
Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, glo dalk boere moet doodgemaak word, maar nie omdat hulle wit is nie. Vir wit Britte het hy baie tyd. Hy is baie vriendelik in Londen ontvang met aansienlike mediadekking. Hy het selfs sy ontvangs daar as “baie positief” beskryf.
Die Britte het betaal, sowat R255, om hom te hoor praat by die Royal Overseas League House Dinsdagaand, te midde van die grootste sportbyeenkoms ter wêreld in dieselfde stad.
Malema het tydens ‘n TV-onderhoud op Sky News selfs die Suid-Afrikaanse Olimpiese span se rassesamestelling verdedig om Britse beleggers te beïndruk met sy eie voorliefde vir “nie-rassigheid”.
Dat hy swartes tot die uitwissing van Afrikaners aanhits, was skynbaar nie ‘n probleem vir die Britte nie. Hy toer saam met Floyd Shivambu, sy voormalige ANC-jeugligawoordvoerder, deur Londen, om beleggers te oorreed om in Suid-Afrika te belê.
‘n Wit weldoener van Kaapstad het vir Malema se reis betaal. Die minister van sport, Fikile Mbalula, is glo saam met Shivambu in die geselskap van swaargewig rykes.
Die onderhoudvoerder van Sky het die stelling gemaak dat daar min “swart gesigte” in die Suid-Afrikaanse span is, gegewe die demografie.
Malema het egter die spankeuse verdedig. “Ons is ‘n nie-rassige land en almal in die Suid-Afrikaanse span het gekwalifiseer om deel te wees van die span en kan trots wees om die vlag te dra. Ons ondersteun hulle. Dit gaan nie oor velkleur nie,” het hy gesê.
Alhoewel dit vir Malema nie oor “velkleur” gaan nie, gaan dit beslis oor grond. Malema het grondonteiening sonder vergoeding weer verdedig gesê en “wette is nodig om dit moontlik te maak”. Die Grondwet maak egter reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding.
Hy het gesê hy is deur Britse beleggers verwelkom. “Sodra ons met hulle praat, besef hulle dit wat hulle oor ons in die koerante lees en wat ons hulle sê, is twee verskillende goed.
“Ons vra nie om ‘n totale verbod op privaatbeleggings nie. Ons bring die minerale na die tafel, jy bring die geld en dan deel ons die hulpbronne.”
Malema het vroeër tydens ‘n onderhoud op BBC gesê sy skorsing uit die ANC sal “outomaties” verval as pres. Jacob Zuma in Desember sy ANC-presidentskap prysgee.
Geweld in Kagiso ruk hand uit, een dood
Die geweld in Kagiso aan die Wes-Rand het ook gister die lewe van ‘n man geëis. Nog een is beseer.
Die oproeriges het deurpaaie met betonstukke en ander voorwerpe versper, buitebande aan die brand gesteek het en voertuie met klippe bestook. Paaie na die Chamdor-nywerheidsgebied en dele van Kagiso is gesluit.
Die man wat geskiet is, het volgens ooggetuies munisipale grond probeer aan die brand steek, berig Beeld. Hy is deur veiligheidsbeamptes doodgeskiet.
Ao. Solomon Sibiya het gesê die geweld het uitgebreek toe kinders Maandag deur ‘n voertuig by die Tudor Shaft-plakkerskamp in ‘n tref-en-trapongeluk raak gery is en een dood is.
Openbare vakansiedae hersien
‘n Verslag oor openbare vakansiedae sal binne drie maande aan die Parlement voorgelê word.
Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en linguïstiese gemeenskappe het sy openbare sittings op Thohoyandou in Limpopo afgesluit.
Limpopo was die laaste van die provinsies waar sittings gehou is. Die hoof uitvoerende beampte van die kommissie, Solomon Moreroa sê die volledige verslag sal aan die parlement en aan die kantoor van die president gegee word.
Sommige godsdiens- en kultuurgroepe voer aan dat die openbare vakansiedae soos wat dit op die oomblik is, nie voorsiening maak vir die beoefening van nie-Christelike feeste nie.
Meer as 80% van die land se bevolking noem hulself egter Christene.
Pragtige eindpoging van Le Clos
Chad le Clos het Suid-Afrika se tweede goue medalje by die Olimpiese Spele in Londen gewen. Le Clos het die 200 meter vlinderslag in ‘n tyd van 1 minuut en 52.95 sekondes afgelê en die wêreldkampioen, Michael Phelps van Amerika moes met die tweede plek tevrede wees.
Phelps is tans die suksesvolste Olimpiese swemmer tot nog toe, met 19 medaljes. Le Clos, die Statebond-kampioen in dié nommer en die 400 m-individuele wisselslag, was slegs negende op die wêreldranglys.
Le Clos se eindpoging was skitterend en ‘n prentjie van selfvolharding. Die swemmer het sy ritme behou en voordeel gewen toe Phelps te diep in die water gesak het naby die einde.
Cameron van der Burgh het Sondag die land se eerste goue medalje in die 100 meter borsslag gewen. Die prestasies is des te meer besonders aangesien wit swemmers deurentyd probleme ondervind het met kwota’s tuis.
Ná net vier dae in Londen, het Suid-Afrika twee goue medaljes ingepalm. Terwyl die swart Olimpiese bestuurspan van Suid-Afrika jubel, was daar tweets van swart Suid-Afrikaners wat sê hulle wil nie wittes omhels vir hulle prestasies nie, en sal wag tot Caster Semenya die brons huistoe bring.
Die land se tweede goue medalje het Suid-Afrika tot 10de op die medalje-tabel laat opskuif.
Le Clos het gisteraand in baan 5 weggespring, langs Phelps in baan 6 en die Japanees Takeshi Matsuda in baan 4. Hulle was as die groot gunstelinge beskou.
Die Amerikaanse Olimpiese Komitee het hom intussen gedistansieer van uitlatings van ‘n Amerikaanse swemafrigter dat die Sjinese gouemedalje-wenner, Ye Shiwen, verbode middels kan gebruik.
Die komitee sê die afrigter, John Leonard is nie deel van die Amerikaanse afvaardiging nie. Sjina is woedend oor Leonard se opmerking dat die meisie se rekord Saterdag in die 400 meter wisselslag onmoontlik en ontstellend is.

