Leon Lemmer: Afrikaans ‘so heerlik als die geluid van die eerste reendruppels na ‘n langdurige droogte’

Deel op

Al hoe minder nie-fiksie boeke verskyn in Afrikaans. Afrikaanssprekende akademici verkies deesdae om eerder in Engels te publiseer. Nuwe boeke oor Afrikaans het skaars geword. Uitgewerye soos Naspers/Media24, vir wie dit voorheen ‘n prestige-saak was om boeke oor Afrikaans te publiseer, stel skynbaar glad nie meer belang nie. Dit is daarom te verwelkom dat ‘n nuwe boek oor Afrikaans die lig gesien het; des te meer omdat dit nog ‘n werk van JC (Jaap) Steyn (gebore in 1938) is, wie se tekste altyd van onberispelike vakmanskap en deeglike afwerking getuig.Ek verwys na Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (Centurion: Kraal Uitgewers, 2019, 328p, R300). “Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim finansiële bydrae van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns” (p 6). “Die meeste hoofstukke is verwerk van artikels wat in vaktydskrifte verskyn het” (11).

Die boek is op 14 Augustus, Afrikaansdag, in Bloemfontein bekend gestel. Ek kon die boek weke na sy verskyning steeds nie in enigeen van die plaaslike boekwinkels opspoor nie. Ten einde raad het ek spesiaal die hele ent Stellenbosch toe gery om die boek by Protea Boekwinkel te koop. Die boek het my verwagtinge nie teleurgestel nie. Die eerste vyf van die agt hoofstukke handel skynbaar oor bekende terrein, maar bevat heelwat inligting (insluitende foto’s) wat nie algemeen bekend is nie. In die laaste drie hoofstukke word minder bekende terrein betree. Hulle munt uit in aktualiteit. ‘n Nuwe boek van Jaap Steyn oor Afrikaans is, in die woorde van sy vangenoot, president MT Steyn (1857-1916), “so heerlik als die geluid van die eerste reendruppels na ‘n langdurige droogte” (60).

Die voorwoord begin soos volg: “Hierdie boek gaan oor Afrikaanse skrywers en politici se taalaktivisme en taalpolitiek. ‘Taalaktivisme’ lyk vir my na ‘n nuttige woord waarmee ‘n mens ouer woorde soos ‘taalstryd’ en ‘taalhandhawing’ kan saamvat … Eintlik is taalaktivisme in ‘n normale samelewing onnodig. Wanneer die politieke en ander maghebbers egter taalregte misken, sal die verontregte gemeenskap daarop reageer – óf deur gedienstig en gedwee na die owerheid se pype te dans óf self teen onreg op te tree en sodoende aktiviste te word” (8). ‘n Prominente derde moontlikheid is om apaties oor Afrikaans te wees. Afrikaanse taalaktiviste word dikwels “taalbulle” genoem (8). “Taalyweraars” is ‘n beter benaming (46). Vir die verdagmakers van Afrikaansyweraars is dit nie genoeg om agter die heillose ANC-regime aan te kruip nie. Hulle probeer ook om diegene wat lojaal teenoor Afrikaans is te diskrediteer deur hulle as bv polities (ver)regs voor te stel. Tydens die blanke politieke bewind moes ons telkens aanhoor dat Suid-Afrika ‘n abnormale samelewing is. Dit is goed en reg dat Steyn dieselfde etiket aan die nuwe Suid-Afrika heg.

Interessant is SJ du Toit (1847-1911), van Genootskap van Regte Afrikaners- (GRA-) faam, se opmerking oor Engelse skole: dat hulle “di fontein van ons nasionaliteit” vergiftig (16). J du P Scholtz (1900-1990) het hom “‘n nuwe soort Afrikaner” en “die eerste Afrikaanse nasionalis in die eintlike sin van die woord” genoem (38). Sy seun, Totius (1877-1953), het ‘n gedig, “Di laaste Afrikaner” (1907) geskryf, wat soos volg begin: “Hy is alleen nog o’er van heel die Boereras / Wat in syn kindsheid nog ‘n volk, ‘n nasi, was” (27). Die titel van hierdie gedig herinner aan Karel Schoeman (1939-2017) se Die laaste Afrikaanse boek (2002), waarin hy die boektitel soos volg verduidelik: “Nie slegs omdat dit waarskynlik my laaste boek is nie … maar meer nog omdat dit vir my onwaarskynlik lyk dat daar in Afrikaans gou of maklik weer ‘n omvangryke nie-fiksiewerk in tradisionale formaat en deur middel van die tradisionele kommersiële publikasieproses sal kan verskyn … [Hierdie teks] tewens op onbedoelde wyse uitgegroei het tot rekord van die einde van ‘n era in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en kultuur” (p 5). ‘n Soortgelyke boektitel is Hermann Giliomee se Die laaste Afrikanerleiers (2012) waarin staan: “Op die lange duur [staar] die Afrikaanse taal en die Afrikanergemeenskap ‘n onsekere toekoms in die gesig” (p 441).

‘Dit is ‘n ietwat oordrewe stelling, maar tensy daar daadwerklike verset kom, kan hierdie eeu die einde van sowel die Afrikanerdom as Afrikaans inhou.’

Volgens Totius se gedig en die titels van die twee boeke genoem in die vorige paragraaf, het die Afrikanerdom en Afrikaans hulle eindtyd betree. Hoekom? “Ná 1994 was daar geen Afrikanerverset teen die nuwe orde nie” (Giliomee 441). Dit is ‘n ietwat oordrewe stelling, maar tensy daar daadwerklike verset kom, kan hierdie eeu die einde van sowel die Afrikanerdom as Afrikaans inhou. NP van Wyk Louw (1906-1970) skryf in Lojale verset (1939): “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” Die tydsduur van ‘n geslag word gewoonlik op 25 tot 30 jaar gestel. Sedert die politieke magsoorname deur die heillose ANC-regime in 1994, het reeds meer as ‘n kwarteeu sonder beduidende Afrikaner-protes verloop. Volgens Van Wyk Louw se uitspraak is die Afrikanerdom en Afrikaans dus gedoem.

Die tema van Steyn se boek is historiese verset in Afrikanergeledere ten behoewe van Afrikaans; dus die soort verset waarvan daar in die nuwe Suid-Afrika bitter min tekens is. J du P Scholtz het tereg gesê: “‘n Volk wat tevrede is om sy taal in sy eie land ‘n ondergeskikte plek te laat inneem, [is] gedoem … om met sy taal onder te gaan” (Steyn 51). Oor die interafhanklikheid van Afrikaans en die Afrikanerdom het SJ du Toit, “‘n baanbrekertaalaktivis” (58), reeds in 1874 geskryf: “Sonder taal, geen nasie (51), en in 1879: “Taal en nasi is één” (53).

Steyn haal soos volg aan uit ‘n brief wat GR von Wielligh (1859-1932) in 1917 aan DF du Toit (1846-1923), ‘n stigterslid van die GRA – en iemand wat “soetskeel” was (37) – geskryf het: “Als ons, wat nog lewe, die regte van die Eerste Skrijwers nie bepleit nie, dan doen ons hulle onreg aan. Want netnou eendag word ‘n Afrikaanse Letterkunde Geskiedenis geskrywe en daarin sal so waar as mossie, die werk van die ou beweging met dolke onder die water gesteek word” (30). Von Wielligh se voorgevoel was merkwaardig korrek. Deesdae word die bedrywighede van die GRA verdag gemaak omdat die lede nasionalistiese Afrikaners was. Die skryfwerk van die blanke outeurs van die vroegste Afrikaanse tekste word tans dikwels geminag deur diegene wat in die mode wil wees deur die ontstaan en selfs aanvanklike ontwikkeling van Afrikaans teen wil en dank eerder aan nieblankes wil toedig.

Wat taal betref, het die nasionalisme onder blankes destyds ‘n deurslaggewende rol gespeel. “Een van die oogmerke van die taalbeweging was … om die doeltreffendste instrument teen verengelsing te vind” (157). “Die destydse Afrikanernasionalisme … was ‘n verdedigende beweging teen die aggressiewe Engelse nasionalisme” (173). “Afrikanernasionalisme is gewortel in taalbewustheid” (191). “Die Hollandse en Afrikaanse taalbewegings was uitvloeisels van die Afrikanernasionalisme in die laaste kwart van die negentiende eeu” (85). Von Wielligh het van DF du Toit gesê: “Die Afrikaanse taal was vir hom alles” (42). Dit herinner aan Jan Rabie (1920-2001), wat gesê het: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Van hoeveel Afrikaners kan deesdae gesê word dat hulle net so entoesiasties oor Afrikaans is soos DF du Toit en Jan Rabie was? Afrikaans het die vermoë om sonder beïnvloeding deur Engels voort te bestaan as die gebruikers die wil daartoe het. DF Malan (1874-1959) het in 1925 in die Volksraad gesê: “Daar bestaan geen twyfel meer dat Afrikaans genoeg verskeidenheid en buigsaamheid van vorm en woordeskat besit om gedagtes suiwer uit te druk nie” (141).

Soos baie eens Afrikaners vroeg in die 21ste eeu, was president MT Steyn “vroeg in die twintigste eeu ambivalent oor taal” (59). Hy het ‘n Engelse vrou, Tibbie Fraser, gehad en aanvanklik voorkeur aan Hollands bo Afrikaans gegee. Later het hy al hoe meer pro-Afrikaans geword. “Teen 1905 begin Steyn om briewe in Afrikaans te skryf” (60). Van aktuele belang is wat hy aan sy seun, Colin Fraser Steyn (1887-1959), geskryf het: “As ons die Afrikaanse taal nie ent op die Hollandse stam nie waaruit dit sal groei, dan sal dit homself ent op die Engelse stam waar dit sal sterf so seker as wat die son opkom” (59). Dit is wat tans sienderoë besig is om te gebeur. Ek doen reeds jare lank tevergeefs ‘n beroep op veral Afrikaansdosente en instansies wat voorgee om Afrikaans te bevorder (hierna “hierdie elemente” genoem) dat hulle taalsuiwerheid moet propageer, dat Afrikaans al hoe meer Engelsbesoedeld word; dermate dat dit later nie meer die moeite werd gaan wees om Afrikaans naas Engels in stand te probeer hou nie omdat die nie meer ‘n taal uit eie reg sal wees nie.

Polities byderwets redeneer hierdie elemente egter dat politiek voorkeur bo taalkundige oorwegings moet geniet; spesifiek dat versoening belangriker as suiwer(der) Afrikaans is (bv die Afrikaanse Taalraad/ATR). Dit is in skrille kontras met wat die GRA reeds in 1877 besluit het: “Die taal moet geen styf mar eenvoudig Kaaps-Hollands wees sonder inmenging van uitheemse woorde” (87). Die kernprobleem is dat die meeste Afrikaanssprekendes tans bruin is (as Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans eerder as Engels geklassifiseer word). Hedendaagse Kaaps is iets anders as die Kaaps-Hollands genoem in die voorlaaste sin. Omdat dit tans in die mode is om eerder kwantitatief as kwalitatief te dink, word die toekoms van Afrikaans deesdae dikwels aan die bruin mense toevertrou. Daar moet glo liefs nie beswaar teen die mengeltaal Kaaps, ‘n brousel van Afrikaans en Engels, gemaak word nie.

Om Kaaps as ‘n aanvaarbare soort Afrikaans te probeer vergoeilik, word die diversiteit – die beweerde groot aantal variëteite – van Afrikaans oorbeklemtoon. JJ Smith (1883-1949) het in 1914 die teenoorgestelde beweer: “Afrikaans word in alle dele van die land met ‘n verbasende mate van eenvormigheid gebruik” (109). Vanweë die toename in geletterdheid, die verbetering in kommunikasie en die toenemende invloed van die massa-inligtingsmedia (die pers, radio, televisie, internet) behoort daar tans minder sprake van Afrikaansvariëteite as voorheen te wees. Alle Afrikaanssprekendes behoort aangespoor te word om suiwer Afrikaans te praat, maar hierdie elemente is bang dat hulle hiermee aanstoot aan veral bruin mense sal gee, gevolglik word die indruk gewek dat dit in orde is as mense al hoe meer uitdrukking aan hulle tweetaligheid binne “Afrikaans” gee; iets wat nie met Engels gebeur nie. Wat hieruit blyk, is dat daar agting vir Engels is terwyl Afrikaans (en Afrikaners) maar geminag kan word.

Hiermee saam poog hierdie elemente polities byderwets om Afrikaans as ‘n inheemse taal voor te stel; dus sover moontlik sy Nederlandse wortels te misken. As die heillose ANC-regime af en toe ‘n lansie vir die inheemse tale breek, dan klop hierdie elemente hulleself op die skouer omdat hulle blindelings aanvaar dat Afrikaans daarby ingesluit word, terwyl die kamerade by sulke geleenthede in werklikheid slegs ooghare vir swart tale het (198). Verder oorbeklemtoon hierdie elemente polities byderwets graag die rol wat nieblankes in die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Dit vind uitdrukking in die (slegte/geringskattende) gewoonte om Afrikaans “‘n kombuistaal” te noem. Die GRA het sy stigtingsbyeenkoms in 1875 in Gideon Malherbe (1833-1921) se eetkamer gehou. Afrikaans het sedertdien veeleerder ‘n voorkamer- as ‘n kombuistaal geword, soos die koerant, De Vriend, reeds in 1905 te kenne gegee het (61).

Wat Afrikaansinstansies, soos die ATR, liefs moet insien, is dat vir suiwer(der) Afrikaans geywer moet word en nie polities-opportunisties vir meertaligheid, inheemse tale, alle variëteite van Afrikaans en daarby veral Kaaps nie. Gustav Preller (1875-1943) het geskryf: “Ons mag leer om opelik uit te kom vir ons goeie saak … inplaas van weg te kruip agter utiliteit en politiek” (168). Wat utiliteit betref, was die Nederlandse taalkundige, DC Hesseling (1859-1941), se mening “dat nie alleen rasionele argumente nie, maar ook die gevoel medebepalend is vir die keuse van ‘n kultuurtaal” (170).

Die waarheid is dat nieblankes in vergelyking met blankes baie min in Afrikaans gepubliseer het. Hesseling het in 1897 die mening uitgespreek dat “‘n nasionale letterkunde die enigste betroubare bolwerk teen die veldwinnende mag van Engels” is (99). Van Wyk Louw was van mening: ‘n Taalgemeenskap bestaan “in wese in die literatuur wat sy lede oor geslagte heen opgelewer het” (222). MT Steyn het sy seun, Colin, ook daarop gewys “dat om te dink dat ‘n taal aan die lewe gehou kan word sonder ‘n literatuur, is soos om ‘n huis in die lug te probeer bou sonder ‘n fondament … Hy benadruk voorts dat indien iemand nie ‘n boek in sy eie taal kan kry nie, hy dit dan in ‘n ander taal sal lees. Steyn waarsku dan teen die waarskynlike gevolg, naamlik dat mense sal begin om Engels te lees wat daartoe sal lei dat die taal meer en meer deurspek sal word met Engels en langsamerhand daarin verlore sal gaan” (60).

Jan Smuts (1870-1950) was reeds voor Uniewording in 1910 voorkeur aan Engels bo Afrikaans gegee. “In 1905 het Smuts aan ‘n Australiese joernalis gesê dat Engels die offisiële taal van Suid-Afrika sou wees en Hollands ‘n ‘toegelate taal'” (65) – soos dit deesdae met Afrikaans die geval is. In die taaldebat in 1908, tydens die Nasionale Konvensie met die oog op Uniewording, het Smuts se voorstel “niks oor gelyke behandeling of tweetaligheid bevat … nie” (75). JBM Hertzog (1866-1942) en MT Steyn “se oogmerk was amptelike status vir Hollands, maar veral gelyke behandeling van Hollands en Engels. [Hollands het Afrikaans ingesluit.] Amptelike status waarborg nie gelyke behandeling van die tale nie” (65) – soos ons sedert 1994 daagliks ervaar met Afrikaans as een van elf amptelike taal, maar met Engels in die praktyk as eintlik die enigste amptelike taal. Die groepie Afrikaanssprekendes wat mandaatloos die oorgawe aan swart mag bewerkstellig het, het nie hierdie elementêre les uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer nie.

MT Steyn het tereg geredeneer: “Slegs [taal]gelykheid sal ware vereniging bring” (69). “Sonder daardie taalregte was daar geen Unie en geen versoening ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) nie” (246). JJ Smith het gesê: “Dit ly geen twyfel nie dat als Engels en Nederlands op gelyke voet teenoor mekaar kom te staan, laasgenoemde die onderspit sal moet delwe” (109). Die waarheid hiervan, wat Engels en Afrikaans betref, word deesdae telkens in skole en aan universiteite bewys. Tydens die Nasionale Konvensie in 1908 het MT Steyn gesê: “Daar kan geen eenheid wees nie sonder gelykheid. So lank een ras [eintlik etnisiteit/kultuur: Hollands/Afrikaanssprekendes of Engelssprekendes] voel dat dit ‘n onderdanige plek naas die ander moet inneem, so lank is daar die gevoel van onreg en hierdie gevoel sal ‘n skeidsmuur vorm tussen die twee rasse” (77). Hy het “absolute gelykstelling” geëis. Hollands/Afrikaans is, volgens MT Steyn, “die Europese taal wat die oudste in Suid-Afrika is. Dit word vandag gespreek deur verreweg die grootste deel van die blanke bevolking. Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor” (77). Steyn het dit met verwysing na die Anglo-Boereoorlog (ABO) gesê. Vandag kan ons dit ook na aanleiding van die ANC/UDF/SAKP se terrorisme sê, asook natuurlik weens die ruggraatlose magsoorgawe deur die groepie onbekwame NP-onderhandelaars.

MT Steyn het sy 1908-toespraak soos volg voortgesit: “Voor geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou [vir die Unie] gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons ras [etnisiteit/kultuur] in ‘n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daarna heg nie, en in plaas van verenig sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel” (77-78). FW de Klerk het sy 1992-belofte dat die nuwe Grondwet aan die blanke kiesers vir goedkeuring voorgelê sou word, op ‘n verraderlike manier nie nagekom nie. Enersyds omdat hy geweet het dat die meerderheid blanke kiesers nooit oorgawe aan swart mag sou goedkeur nie. Andersyds omdat hy bang was vir baie in die swart massa se buitengewone vermoë tot geweldpleging en vernietiging.

“Hertzog het gereeld die kwessie van gelyke taalregte in die debat oor unifikasie geopper. In een van ‘n aantal toesprake in 1907 sê hy dat die heropbou van die Afrikaner net so belangrik is as unifikasie. As unifikasie nie daartoe ‘n bydrae lewer nie, is dit nie die moeite werd nie. Daarom moet die Afrikaner sy selfrespek herwin, want daarsonder kan hy nie respek van ander verwag nie” (66). Insgelyks kan ons sê dat dit dingend noodsaaklik is dat die Afrikaner nie onnodige skuldgevoelens weens ANC/SAKP-propaganda moet koester nie en sy selfrespek, insluitende sy respek vir Afrikaans, so gou moontlik volkome moet herwin, anders staar hy die ondergang van die Afrikanerdom én Afrikaans in die gesig.

Die Nederlandse taalkundige, RA Kollewijn (1857-1942), het gesê: “Dit kom my voor dat niks die Afrikaners só kan verbind, sóseer hul selfvertroue kan sterk nie, as die besef dat hul Afrikaans nie ‘n minderwaardige dialek is nie, waarvoor hulle hul eintlik moet skaam nie, maar die taal van ‘n volk, ‘n taal wat gepraat, geskryf word met dieselfde reg waarmee die Nederlander hom van Nederlands, die Engelsman [hom] van Engels bedien” (110). Oor die kwessie of Afrikaans ‘n dialek van Nederlands of ‘n taal uit eie reg is, het JHH de Waal (1877-1937) tot die besef gekom hoe “ontsaglik uiteenlopend” die twee tale is (120). Daar is ook geen geldige rede om skaam vir Afrikaans te wees nie. Soos CJ Langenhoven (1873-1932) dit gestel het: “‘n Vervloekte valse schaamte is dit, die schaamte vir jou moedertaal!” (131). In 1913 was Tobie Muller (1884-1918) se standpunt “dat die erkenning van Afrikaans as onderwystaal vir die selfrespek van die Afrikaner noodsaaklik is” (132). DJ Opperman (1914-1985) “verwys na die minderwaardigheidsgevoel van die Afrikaners wat aan die afneem was – en eintlik kon dit van 1914 af gebeur nadat Afrikaans ‘n onderrigtaal in skole geword het” (148). Ten einde die selfrespek van Afrikaners te ondergrawe, wil die ANC alle skole verengels en doen sy sikofant, die hanskakie Wim de Villiers, alles in sy vermoë om die Universiteit Stellenbosch so gou moontlik te verengels.

Vir die behoud van Afrikaans kan daar nie op bruin mense as ‘n etniese groep gesteun word nie. “Die bruin en swart elite [was] in die Anglo-Boereoorlog oor die algemeen Britsgesind” (81). “Die belangrikste bruin leier van dié tyd en die dekades daarna was Abdullah Abdurahman [1872-1940], wat bitter anti-Afrikaner én anti-Afrikaans was … Dat Engels die taal van kolonialisme en oorlog (met sy wit en swart konsentrasiekampe) was, het nie die prestige daarvan onder swart en bruin mense verlaag nie” (81). Na verloop van meer as ‘n eeu is dit steeds die geval. Nieblankes, veral swartes, is geneig om anti-Afrikaner (indien nie anti-blank nie) en anti-Afrikaans te wees, terwyl die bruin elite steeds uitmunt in hulle dislojaliteit jeens Afrikaans; vandaar die wydverspreide gesindheid onder bruin mense dat, anders as met Engels, daar maar met oorgawe met Afrikaans gemors kan word. Sedert 1994 volg baie blankes hierdie voorbeeld na. Luister gerus krities na die geradbraakte Afrikaans wat baie blankes, bv sommige “sportsterre”, praat. Ek skaam my daaroor.

Van hoofstuk 6 af, handel die boek oor aktuele sake. Hierdie hoofstuk begin soos volg: “‘n Klein historiese oomblik in Januarie 2018 het sonder veel kommentaar verbygegaan. Oudpres FW de Klerk het op 21 Januarie in Rapport die betekenisvolle erkenning gemaak dat die ANC die Afrikaneronderhandelaars in die 1990’s ‘bewustelik mislei’ het [dus ore aangesit het] en nooit die regte in die 1996-Grondwet wou eerbiedig nie” (174). Maar dit is De Klerk wat blankes telkens aangeraai het dat hulle hul op hul regte in die Grondwet moet beroep – totdat daar, nie heeltemal ongegrond nie, begin is met bewerings dat die einste Grondwet grondonteiening sonder vergoeding toelaat. De Klerk het in Rapport gereageer na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak op 29 Desember 2017, wat die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit Vrystaat verbied “omdat dit kwansuis ‘n vorm van rassisme sou wees” (174). Anders as iemand soos Leon Wessels, wat die gewilde deuntjie sing dat Suid-Afrika een van die beste Grondwette in die wêreld het, het Hermann Giliomee gesê: “Ek dink ons het een van die swakste grondwette vir hierdie betrokke land, Suid-Afrika” (175).

Jaap Steyn (hierna Steyn) vervolg: “Verskeie akademici het vroeg gewaarsku dat die Grondwet Afrikaans – en Afrikaners – in ‘n gevaarlik kwesbare posisie plaas” (175). Die skuld hiervoor kan terugvervoer word na De Klerk en sy onbekwame onderhandelaars. Onder meer “oorgerustheid en onkunde” het “‘n rol gespeel in die onderhandelinge oor die taalklousule van die huidige Grondwet … Vir die beplanners van ‘n nuwe toekoms het taal nie veel saak gemaak nie, of was die openbare taal van ‘n nuwe bedeling byna vanselfsprekend Engels. Postapartheid was vir hulle sinoniem met post-Afrikaans. Talle intellektuele het jare lank reeds gewaarsku dat Afrikaans die slagoffer kan word van die teenstand teen apartheid” (176).

Gerrit Viljoen (1926-2009) het as minister van staatkundige ontwikkeling (1989-1992) in 1990 gesê “dat die amptelike status van Afrikaans [dus die toe heersende absolute gelyke status van Afrikaans en Engels] nie onderhandelbaar is nie” (179). Ook: “Die ekskuus-dat-ek leef-tipe Afrikaanssprekende kan gerus maar ophou om apologeties te beding vir ‘n ondergeskikte posisie waarin Afrikaans bloot verduur word” (185). In 1992 het Viljoen weens swak gesondheid uit die politiek getree. “Die stem van die vernaamste verdediger van Afrikaans in die politieke wêreld het dus stil geword” (186). “Ná 1992 het die prominente NP-ministers in die openbaar oor taal geswyg” (185).

Hierdie swygende politici het nooit diegene in die letterkundige en akademiese wêreld wat die status van Afrikaans wou aftakel, bv André P Brink (179, 187, 198) en Jakes Gerwel (186), teengespreek nie. “Uit die polemieke blyk dit dat baie van hulle vroeg reeds bereid was om belangrike funksies van Afrikaans prys te gee” (186). “Die stemming in die land en die Afrikaanse gemeenskap [by uitstek die bruines] het dit vir die onderhandelaars maklik gemaak om stap vir stap na ‘n oorheersend Engelse bedeling te beweeg” (191). Byvoorbeeld: “Reeds in November 1991 [is] eenparig besluit … dat Engels die taal van die [Kodesa-]onderhandelinge gaan wees” (193), wat op 21 Desember 1991 begin het.

Hennie Aucamp (1934-2014) het in 1990 teen “mode-simpatieë” uitgevaar: “Is Afrikaans eers van binne ondergrawe, en van amptelike status beroof, is die verskynsel Afrikaner daarmee heen. Want die taal is ‘gansch het volk’. Wie die siel van ‘n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ‘n man se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself” (181). “De tael is gansch het volk” is ‘n leuse wat die Vlaamse taalyweraar, Prudens van Duyse (1804-1859), in 1836 geformuleer het en wat sedertdien gebruik word om Nederlands en Afrikaans teen verengelsing en verfransing te beskerm; verwys bv na PH Zietsman se boek, Die taal is gans die volk (Pretoria: Unisa, 1992). In 1991 het Nelson Mandela “die Afrikaners gewaarsku dat hulle hul grootste fout sou begaan as hulle spesiale status en beskerming vir Afrikaans sou vra” (Steyn 190). Breyten Breytenbach het in 1993 (dus vóór ons “bevryding”) gesê: “Die ANC sal nie Afrikaans bevorder nie, al sê hy ook wat” (182). “Volgens Breytenbach sou beskerming vir Afrikaans net kon geskied deur volgehoue skoolonderrig en voortgesette publikasie” (182).

Ná die 1994-ramp het daar ‘n opmerklike “verflouing van Afrikanernasionalisme” ingetree (184). “Die verswakking van Afrikanernasionalisme sou belangrike gevolge hê vir taalverhoudings en taalgetrouheid” (185). Daardie nasionalisme het tradisioneel “taaltrots en sorg vir die taal” verseker en bevorder. Ná 1994 is daar druk op Afrikaners uitgeoefen om verskoning te vra. Daar is van hulle verwag om hulle te skaam vir wat tydens die NP-bewind vermag is. Die Afrikaner se tradisionele taaltrots is ondergrawe. Dit verduidelik waarom Afrikaansdosente en -instansies steeds nie bereid is om Afrikaanstaalsuiwerheid te bevorder nie. Die taal verengels daagliks sienderoë en feitlik niemand spreek besorgdheid daaroor uit nie. Die verswakking van Afrikanernasionalisme het ook aanleiding gegee tot “die opvatting dat groeps- of minderheidsregte onbelangrik is. Wit politici het oortuig geraak dat die klem al hoe meer moet val op individuele regte” (188), soos deur die ANC begeer. Dít is waarmee ons deesdae vir lief moet neem. Roelf Meyer het gesê: “Vergeet minderhede!” (189).

In 1993 het Rina Venter, die minister van gesondheid (1989-1994), op ‘n direksie-ete van Rapport openbaar hoe chaoties die NP se onderhandelinge verloop: “Dat ons geen plan meer het nie… Niks is in plek nie; niks wat ons ons kiesers beloof het nie” (185). Die omvang en diepte van hierdie onbekwaamheid en verraad word in besonderhede in Venter se outobiografie, wat ek eersdaags wil resenseer, beskryf. Steyn noem wat Venter tydens die onderhandelinge waargeneem het: Dat Roelf Meyer “gou begin het om die ANC as ‘n vennoot te hanteer” (194). Venter was ongelukkig oor die ooreenkoms wat “bepaal het dat alle kinders toegang tot enige skool van hul keuse moes hê in die taal van hul eie keuse” (194). FW de Klerk was hiermee tevrede, maar Venter het gesê: “Julle vernietig nou Afrikaanse skole! … Roelf Meyer se antwoord was dat die ANC nie van voornemens was om Afrikaanse skole en universiteite af te skaf nie” (194). Sedert 1994 sit ons met die nalatenskap van hierdie opperste dwaasheid.

Niël Barnard, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens (1979-1992), skryf: “Toe ek oor die gebruik van Afrikaans tydens die onderhandelinge begin agiteer, was van die politici sigbaar geïrriteerd, want sulke onbenullighede behoort nie onderhandelaars se tyd in beslag te neem nie. Pik Botha het my openlik meegedeel dat my gebrekkige Engels my tog nie moet verlei om so ‘n beuselagtigheid tot ‘n twispunt tydens die onderhandelinge te verhef nie. Die baie bekwame politikus, maar ook openlike Afrikaans-hater Pravin Gordhan het met onbeskofte geniepsigheid enigiemand wat iets in Afrikaans wou sê, onderbreek met ‘I don’t follow that language'” (192). “Barnard meen dat verskeie ministers soos FW de Klerk, Roelf Meyer, Dawie de Villiers, Leon Wessels, Pik Botha en ‘al die ander geswore Broederbonders’ oor taal in die algemeen en Afrikaans in die besonder ‘n gebrek aan belangstelling openbaar het wat vir altyd op hul kulturele sonderegisters behoort te staan” (194).

“Die ANC het sy oogmerk van Engels-eentaligheid langs ‘n ompad bereik, want 11 plus 0 [amptelike tale] was in werklikheid maar 10 plus 1” (198). “Breyten Breytenbach het gesê die besluit is skelm, en dat daar uit die mengelmoes net een taal gaan uitkom, naamlik Engels” (198). ‘n Joernalis, Paul Taylor, het geskryf: “Hulle raak klaarblyklik op onregstreekse wyse van Afrikaans ontslae, wat waarskynlik die slimste [slinkste?] manier is om dit te doen” (199). “Die sakesektor het onmiddellik daarna verpakkingsmateriaal, etikette, gebruiksaanwysings, ensovoorts eentalig-Engels begin maak met die verskoning dat hulle onmoontlik elf tale daarvoor kan gebruik. Die openbare uitsaaier (die SAUK) het van 1994 af die sendtyd vir Afrikaans oor televisie sterk ingekort … Van 1994 af is instellings verengels wat vroeër die werkgewers vir baie Afrikaners was, soos Eskom, Transnet en die weermag” (199).

In die Oorgangsgrondwet (1993) staan: “Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie … nòg die regte met betrekking tot die taal nòg die status van ‘n amptelike taal soos dit in enige gebied of met betrekking tot enige werksaamheid ten tyde van die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, verminder mag word.” In die 1996-Grondwet staan: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Wat in die twee genoemde Grondwette staan, is ontleen aan Bylaag A en B in JC Steyn se boek, ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525-527).

Dit is so duidelik soos daglig dat met “die inheemse tale van ons mense” die swart tale bedoel word en dat Afrikaans uitgesluit word omdat daar van 1910 tot 1994 nie sprake van “die historiese inkorting van die gebruik en status” van Afrikaans was nie. Niël Barnard “sê die ANC het botweg geweier om weer die bepaling insake die nie-inkorting van die taalregte en -status van Afrikaans en Engels op te neem” (Steyn Verset 199-200). Die NP-lede was magteloos, want in hulle dwaasheid het hulle toegelaat dat die Grondwet eers ná die 1994-verkiesing, toe die ANC reeds die meerderheidsregering was, aanvaar is. “Die taalklousule [in die 1996-Grondwet] het die benadeling van Afrikaans vergemaklik in die uitvoering van die [ANC-]regeringsbeleid van nasiebou deur Engels [een nasie, een taal], asook die politiek van vergelding” (204). Die hele staatsdiens het bv weens “ingrypende transformasiemaatreëls” (203) feitlik oornag grootliks verengels (202).

Hoofstuk 7 handel oor NP van Wyk Louw. Die eerste sin is wat Jan Greshoff (1888-1971) van Louw gesê het: “Sy hele bestaan draai om taal” (205). Daarna skryf Steyn iets waarmee baie Afrikaners nie met Louw sal saamstem nie: “By Louw is ‘volk’ ‘n sentrale begrip, maar by hom het dit ‘n betekenisverandering ondergaan, sodat hy in 1960 skryf van ‘my volk, Blank en Bruin'” (208). Dit verduidelik die entoesiasme wat daar by bv Adam Small (1936-2016) vir Louw was. Veralgemenend is my standpunt dat bruin mense kultureel baie nader aan blankes as swart mense is, maar daar is ook groot kultuurverskille, bv daar is baie bruin Moslems. Maar die eintlike onderskeid wat ek tussen Afrikaanssprekende blankes (spesifiek Afrikaners, dus nie-hanskakies) en bruin mense tref, is dat Afrikaners Afrikaansgetrou is, terwyl Afrikaans bloot ‘n kommunikasiemiddel, ‘n gebruiksartikel, vir bruin mense is, met die bruin elite wat uitmunt in dislojaliteit jeens Afrikaans. Dit is lede van hierdie bruin elite, soos Hein Willemse, Danny Titus en Michael le Cordeur, wat deur Afrikaansinstansies, soos die ATR en die ATKV, oorgraag by hulle bedrywighede betrek word. Afrikaansinstansies soek die heil van Afrikaans by die verkeerde mense, naamlik Afrikaansdislojales. Hulle is dikwels ook anti-Afrikaner gesind, “want die bruin kiesers het sedert die negentiende eeu, en veral sedert die 1930’s, hoofsaaklik Engelse partye ondersteun” (246), bv die Verenigde Party (VP), wat “Afrikaans misken het” (246). Om taal- eerder as rasredes sluit ek bruin mense nie by my siening van die Afrikaner en dus die Afrikanervolk in nie. Steyn skryf: “Meningsopnames wys … op aansienlike verskille in taalhouding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. By die laer middelklas is daar entoesiasme vir Afrikaans, maar die bruin elite is minder geesdriftig en party is gekant teen doelgerigte pogings om Afrikaans in sy hoër funksies te bevorder” (230).

“Ook Louw gebruik die frase Afrikaanse nasionalisme. Die historikus GD Scholtz [1905-1983] sê dat daar in die woord nasionalisme vir Afrikaners alles opgesluit gelê het wat edel en goed was” (210). Die frase Afrikaanse nasionalisme behoort dus by Louw meer omvattend as my Afrikanernasionalisme te wees tensy Louw se begrip Afrikaner bruin mense uitsluit. Dit lyk nie asof laasgenoemde die geval in die volgende sin is nie: “Die essensie van die Afrikaanse nasionalisme is die strewe van Afrikaners om voort te bestaan as ‘n aparte gemeenskap met ‘n eie taal en nie net as individue nie” (210). Hoewel Louw in ‘n abstrakte of teoretiese sin heelwat empatie met bruin mense gehad het, het hy as oortuigde Broederbonder (219) dit egter in die praktyk meesal oor Afrikaners as blankes en sodanige Afrikanernasionalisme gehad.

Louw se standpunt was: “Nasionalisme is oorbodig en verkeerd by ‘n volk waarvan die geestesbesit nie bedreig word nie. Dit word egter anders wanneer die geestesbesit bedreig word … Die onderskeid wat Louw by implikasie getref het, was tussen die verowerende of imperialistiese nasionalisme van die groot nasies, aan die een kant, en die verdedigende en opbouende nasionalisme van die volkere wat teen die eerste soort nasionalisme in verset kom, aan die ander kant” (211). ‘n Verdedigende nasionalisme behoort uiteraard ‘n verdedigende taalbeweging in te sluit. Louw noem dat sodanige taalbewegings “by enkeles ontstaan” (216); soos by Prudens van Duyse, waarna hier bo verwys is. Waar is die enkelinge wat, 1994 ten spyt, Afrikaners en Afrikaans tot ‘n nuwe bloeityd kan lei? In hierdie verband haal ek vir Uys Krige (1910-1987) aan: “Fort Wajier lê ver, lê ver, onderkant die eerste ster” (“Die soldaat”, 1940). Dít gee uitdrukking aan my pessimisme.

In 1965 was Louw nogal optimities: “Ek praat as Afrikaner, maar ek praat ook namens die Afrikaanse literatuur wat sy eie eer en waardigheid het – ‘n eer en waardigheid wat onafhanklik is van die politiek en wat sal voortleef wanneer die grootste deel van ons tyd se politiek en die groot massa van ons politici begrawe en vergeet sal wees” (231). Sy gedig, “Nuusberigte” (1956), in die bundel Tristia (1962), begin met die reël: “Het my land ‘n ander geword as wat ek ken?” (232, 265). Steyn skryf: “Dit kan feitlik interpreteer word as: ‘Het my volk ‘n ander geword as wat ek ken?'” (232). Sedert Louw se skrywes in 1956 en 1965 het die land en baie blanke Afrikaanssprekendes, veral ná die 1994-ramp, radikaal verander en daardie veranderings was (meesal) nie verbeteringe nie.

‘Tans het ons die absurde situasie dat die voortbestaan van die Afrikaner en daarmee saam sy geestesbesit, bv Afrikaans, meer as ooit bedreig word, terwyl Afrikanersnasionalisme sedert 1994 sterk afgeneem het en voortdurend verdag gemaak word; ook deur elemente wat voorheen Afrikaners, selfs Broederbonders, was.’

Volgens Louw: “Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand” (222) en “Sonder die strydbaarheid sou die Afrikaanse gemeenskap en kultuur verdwyn” (219). In die 1930’s het Louw “die vasbeslote, uitdagende Afrikaans-nasionale weerstand” beklemtoon, “wat hy in ‘n gedig in Die halwe kring (1937) verwoord het: ‘dat ons nie kon gebuig word / soos húl geweld dit wou'” (225). Later het dit geblyk dat daardie geweld van die ANC gekom het en dat die FW de Klerk-faksie gebuig is, maar nie ware Afrikaners nie. Steyn skryf: “Die geskiedenis staaf sy [Louw se] destydse siening. Die vernaamste kenmerk van die politieke en kulturele aktiwiteite van die Afrikaners in die jare ná die Anglo-Boereoorlog was die taalstryd teen verdringing deur Engels. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem en die houding versterk dat taal deel is van die identiteit van die Afrikaner: wie verengels, is verag as verraaier. Dit was die plig van ‘n Afrikaner om Afrikaans te bly. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie” (225-226).

Tans het ons die absurde situasie dat die voortbestaan van die Afrikaner en daarmee saam sy geestesbesit, bv Afrikaans, meer as ooit bedreig word, terwyl Afrikanersnasionalisme sedert 1994 sterk afgeneem het en voortdurend verdag gemaak word; ook deur elemente wat voorheen Afrikaners, selfs Broederbonders, was. Louw sou dit (seker) ‘n “nuwe vanggat van die onregverdigheid” genoem het (226). Deesdae ervaar ons as blankes daagliks die nadelige gevolge van swart nasionalisme, wat aansluiting by swart Afrika-nasionalisme vind en dikwels goedgepraat en (feitlik) nooit veroordeel word nie.

Louw het gewaarsku teen “die toeploeg [van blankes] deur [die] massa-immigrasie” (248, 255) van swartes; iets wat deesdae groter afmetings as ooit tevore aanneem. Steyn skryf: “Afrikaners is reeds toegeploeg” (261) met 79,2% van die bevolking wat volgens die 2011-sensus swart was. Sedertdien is toegelaat dat miljoene der miljoene onwettige immigrante, veral uit Afrika, hulle in Suid-Afrika vestig. Steyn stel hierdie getal op 8 tot 9 miljoen (261). “Die gevolge van getalsoorweldiging word vererger deur emigrasie en ‘n lae geboortesyfer” (261), wat albei kenmerkend van veral die blanke bevolking is.

Vir my lyk dit asof swart nasionalisme soortgelyk is aan die histories imperialistiese nasionalisme waarteen Louw dit gehad het. Insgelyks is die nasionalisme wat steeds by Afrikaners aanwesig is, ‘n verdedigende nasionalisme wat guns in Louw se oë sou vind. Maar hy sou sterk beswaar teen die flouheid daarvan hê. Hy kon graadverandering verwag by diegene wat eens Afrikaners was, maar sekerlik nooit fundamentele aardverandering nie. “‘n Volk kan nie ‘n Damaskus-ervaring hê nie” (251). Louw skryf: “Dit sou ontsettend wees as ons vergeet dat ons in die [ABO-]marteling tot ‘n volk gemaak is” (250). Ná die ABO het dit geblyk dat daar genoeg krag in die Afrikanerdom oor was om “orent [te] kon steier” (255). “‘n Volk wat getroos word in sy toestand, is ook ‘n verlore volk” (253). Ná die ABO het Afrikaners glad nie berus in die toestand waarin hulle hulle bevind het nie. Dink bv aan die 1914-rebellie.

Sal ware Afrikaners ná die verraderlike 1994-magsoorname ooit kan berus in die lot wat hulle heeltemal onverdiend toebedeel is? Soos JD Kestell (1854-1941) in 1902, hoop ek dat dit sal blyk dat die Afrikanerdom steeds “‘n onuitdelgbare element” is (257). Louw wou nie hê dat Afrikaners saggemaak moet word “met troospraatjie” nie (258); die soort heuningsmeerdery waarvoor veral Nelson Mandela berug was. “Die prysgawe van vryheid was dus vir Louw ‘n vorm van ongeregtigheid” (259). “‘n Nasie wat sy selfbeskikkingsreg prysgee en hom onderwerp aan andersoortige oorheersing, pleeg volgens [Piet] Cillié [1917-1999] hoogverraad” (260).

Het Louw die heillose ANC-regime voorsien? “In die algemeen gestel, skryf hy, is ‘n heerserstaal die wapen van ‘n heersende groep. Hierdeur [bv met Engels as eintlik die enigste amptelike taal] vergemaklik hy sy eie kommunikasie en administrasie en bemoeilik hy die kommunikasie en organisasie van moontlike teenstanders” (211). Iets waarvan iemand soos Wim de Villiers kennis behoort te neem, weens sy kroniese manie ten gunste van ‘n wêreldtaal en wêreldburgerskap, is die volgende stelling van Louw: “‘n Wêreldtaal … is bepaald nie alleen ‘n gestalte van lieflikheid nie” (211). Dieselfde geld vir identiteitlose wêreldburgerskap. “Transformasie [die hooffunksie van die Universiteit Stellenbosch se huidige beleid] het vir Afrikaans en Afrikaners ontsettende verliese meegebring” (269). Louw skryf oor hoe koloniale en imperiale moondhede hulle taal “in hulle onderdane ingestamp” het (212). Nou sit ons plaaslik met ‘n terroristiese bewind wat die koloniale taal Engels in iedere lid van die bevolking wil instamp.

Steyn skryf: “Gedrukte en digitale koerante, tydskrifte en boeke bly onontbeerlik vir Afrikaans omdat hulle die enigste instellings is wat nog konsekwent die standaardtaal behou en uitbou” (237). Daardie “konsekwent” moet gekwalifiseer word. Die koerant Son gebruik/misbruik die allerbedenklikste “Afrikaans”, naamlik ‘n soort Kaaps. In die ander eens trots Afrikaanse koerante en tydskrifte van Naspers/Media24, maak al hoe meer Engels hulle verskyning in die opskrifte en tekste. Oor die radio en televisie is ‘n soortgelyke neiging waarneembaar. “‘n Taal kan nie net as tweedehandse slengtaal van shows of die oe’s en a’s van celebs bestaan nie” (237). WEG Louw (1913-1980) “teiken in sy gedig ‘Naggesprek’ mense wat ‘ongeërg die spel voortsit met die taal: één woord Engels, één woord Afrikaans, om die beurt'” (237). In 1970 het Van Wyk Louw dit betreur dat anglisismes ‘by vandag se jeug as ‘t ware deur alle porieë binnestroom’. Dit was vir hom ‘triestig’ dat sy kinders, ‘wat volkome van anglisismes ontluis was’, vir hom moes sê: ‘Ek wil so graag reg praat, maar ek durf nie voor die Onnie nie'” (237). Steyn voeg by: “Dit klink vandag soms of ‘n onsigbare onnie sê: ‘Jy durf nie reg praat nie! Jy moet meer van die Rooitaal bygooi. Onthou: hoe rooier, hoe mooier” (237). Dit is nie net onderwysers en (Afrikaans)dosente wat vir lief met geradbraakte Afrikaans neem nie, maar ook Afrikaanse predikante, wat deesdae in Engels aan bv die Universiteit Stellenbosch opgelei word.

“‘n Deel van die geskiedenis is altyd – soos in Die dieper reg (1938) verwoord – die ‘trouloosheid / van dié wat om ‘n ander diens / soos knegte jou verlaat'” (239). “Ná die ‘donker nag van die siel’, dus ná 1994, [het daar nog nie] ‘n mooi dagbreek en ‘n helder nuwe dag” (263) vir Afrikaners en Afrikaans aangebreek nie. Ná verloop van meer as ‘n kwarteeu is dit steeds stik donker nag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.