Suidpunt: Vergeetwoorde of zombiewoorde?

Deel op

Stel jou voor jy moet 600 jaar se Afrikaans/Nederlands inhaal net om ‘n eenvoudige sin te skryf.

So iets is niks snaaks vir die Latynstudent nie, want die kultuurtaal rondom Rome het sonder ‘n woordeboek so drasties verander dat mens ‘n kernwoordeskat van 2 400 woorde moet opbou, terwyl jou moderne tale maar 1 300 woorde vereis om ‘n stukkie teks te kan lees (altans,  ‘n antwoord by Quora.com). Die Lexis Latina (1985) wat aan Suid-Afrikaanse universiteite destyds voorgeskryf is, is weer geskoei op The Frequency of Latin words and their endings (1939) deur P.B. Diederich. Uit die werk van 145 skrywers van Klassieke Latyn het Diederich die woorde met die hoogste frekwensie gekies en ‘n kernwoordeskat van 1 471 woorde saamgestel (volgens hom beslaan dit omtrent 83,6 persent van al die woorde wat in hierdie Latynse letterkunde bestaan). Die res van die woordbedenksels is Nieulatyn, wat deur akademici dwarsdeur die eeue aan verskillende universiteite en leerinstellings bedink is. Maar soos ek verneem is die Thesaurus Linguae Latinae, wat woorde voor 600 n.C. versamel, nog lank nie klaar nie. En hierdie projek is al sedert 1899 aan die gang.

Latynstudente kan in Nieulatyn sonder probleme woorde uit verskillende eeue met mekaar afwissel, terwyl jou moderne lewende tale baie gevoelig is wanneer ‘n woord, uitdrukking of frase argaïes of verouderd daar uitsien.

Maar wat sou gebeur as ons 600 jaar se Afrikaans/Nederlandse woordeskat heeltemal ontsluit en gebruik? Die skuurdeure van die hele kollektiewe onbewuste van taal oopsluit? Dit wil sê, voortdurend ou vergeetwoorde en uitdrukkings opdiep, opgrawe, afstof en op die blinkgepoleerde embuiatafel uitstal? En wat as, wat as hierdie woorde skielik hul eie lewe weer kry?

Aanloop

Ek het twee Furry-boeke in een maand klaargelees: reWritten (2017) en Imperium Lupi (2017). Suidpunt, wat besiel jou? Literêre navorsing? Dít ook. Maar daar moet ‘n ander rede wees waarom ek by forum.furbase.de/ aangesluit het. O, ja – omdat ek die Weltgemeinschaft wil skud – ons is nog hier. En niemand, juis in hierdie marginale groepe (dikwels diegene wat soos verstotelinge of uitgeworpenes voel), is so geskok as ‘n behoudende Afrikaner hul boeke lees en in sy eie taal bespreek en resenseer nie. Hoe kan dit dan? Maar as selfbenoemde afgevaardigde van die Afrikaner, bedien ek my van ‘n luisterryke hoeveelheid leesstof.

Met betrekking tot hierdie artikel het ek my egter hoofsaaklik toegespits op die taalgebruik.

reWritten het my in vele opsigte herinner aan ‘n onderhoud met Hennie Aucamp (Gesprekke met Skrywers 1, 1971, pp. 8; 4-5). Ek haal aan:

J.P. Smuts: In jou Standpunte-artikel skryf jy positief oor die eerstepersoonsvertellingshoek in die kortverhaal. Reken jy nie dat daar ook gevare in die ek-vertelling skuil nie?

Hennie Aucamp: Die ek-vertelling het ‘n hele reeks valstrikke. As die skrywer nie versigtig is nie, kan die ‘ek’ die grense van sy wêreld oorskry en die werklikheidsillusie van die hele verhaal saboteer. ‘n Kindverteller moet bv. ‘n kind blý, kindertaal praat en nie grootmensinsigte aan die verhaal opdring nie.

[…]

J.P. Smuts: Van Wyk Louw verwys op ‘n plek na aanvaarbare taalgebruik in die prosawerk. Hy noem deursigtige prosa waarin alleen die mededeling opval en nie die medium self nie, en prosa waarin ‘n mens net so bewus is van die taal as van die mededeling. Wat is jou standpunt omtrent taalgebruik in jou eie werk?

Hennie Aucamp: Van dr. Con de Villiers het ek omtrent taalgebruik geleer: eenvoudig is nog nie eenvoudig genoeg nie. Ek wil dié kosbare raad ‘n klein bietjie anders inklee: skryf so eenvoudig as wat die taalsituasie jou dit toelaat. Want ‘moeilike’ taal is soms literêre noodsaak. Wanneer die held van ‘n roman ‘n intellektueel is, sê bv. ‘n professor, gaan hy in terme van sý bepaalde wêreld dink en redeneer. Dit sou artistieke bedrog wees om sy taal af te stem of te vereenvoudig net om die leser tegemoet te kom. Of sê ‘n skrywer wil ‘n barokke wêreld oproep, of ‘n hiper-gekultiveerde salonsfeer, dan moet sy taal mos rekening hou met sy bedoeling. En die tekens is daar dat die Afrikaanse letterkunde nie altyd ‘n “opelug-letterkunde” gaan bly nie. Nee, eenvoudige taal is nie altyd moontlik nie, maar helder denke, dit behoort taalgebruik te alle tye te rig. Selfs wanneer die lewe vanuit die gees en gemoed van ‘n versteurde mens benader word, moet daar beplanning wees, beplande wanorde.

Ek sien ‘n duidelike ooreenkoms, al is dit miskien onbewustelik.

In reWritten kry ons te make met ‘n vermenslikte jakkals (nie ‘n vos nie, ‘n egte Suid-Afrikaanse swartrugjakkals), die hooffokalisator, hoofkarakter en eerstepersoonsverteller, genaamd Professor Van Elsburg. Sy taalgebruik (in die Engels) is oor die algemeen redelik eenvoudig, totdat hy te doene kry met kunsmatige intelligensie. Hierdie rekenaar praat hogere en kille Engels, maar lig die hoofkarakter in presies wat die afgelope honderde jare gebeur het (totdat die mensdom verdwyn het). Jy sou nie die duidelike onderskeid opgemerk het as Professor Makwassie van Elsburg van die begin af buitengewone hogere Engels gebesig het nie. Soms verlaat die Professor (afgesien van sy “hooggeleerdheid”) hom op BASIC-English, en dis goed te verstane, aangesien teen die tweede helfte van die boek hy ‘n skokkende ontdekking maak wat sy hele lewensuitkyk verander en hom in ‘n eksistensialistiese put van wanhoop dompel. Hy kan nie sy verstandelike vermoëns oorskry nie, want hy is niks anders nie as ‘n [bestel nou die roman en vind self uit].

Om hierdie rede was die taalgebruik goed gekies.

Terloops, op Goodreads stuur die skrywer sy groete aan al ons PRAAG-lesers:

Baie dankie vir jou mooi woorde! Dit was nogals ‘n verassing om ‘n Afrikaanse resensie van reWritten te vind! Ek is Afrikaanssprekend, maar die mark vir sulke tipe boeke is reeds so klein dat mens maar probeer om vir die grootste mark (VSA) te skryf. Jy / julle moet bietjie kontak maak. Dalk vir ons kom kuier by ons volgende Furry Convention 😉

En op Twitter, die volgende plasing:

En ook die betrokke PRAAG-artikel is gedeel op sy Twitter-voer:

Bogenoemde is ‘n amikaal ligte snoetstampie of neusiesvryf (Furriaans: ‘nose boop’) in vrede: ons het amptelik kennis gemaak.

Die volgende boek wat ek onder oë kry is die Furry-cum-Steampunk-cum-Romeinse verhaal genaamd Imperium Lupi. Hierdie boek het ek ook geniet met F-777 se elektroklassieke Dance of the Violins in my ore. ‘n Lywige boek wat in sy sagteband omtrent 726 bladsye dik is, op Google Play omtrent 1 776 bladsye beslaan. Hier kry ons met die derdepersoonsverteller te doen, wat duidelik meer speling het. Wanneer die karakters by die Hoofkwartiere werksaam is, blyk die taalgebruik van die verteller allermins eenvoudig. Die verteller dryf, deur die afwisseling tussen die hogere en lae woorde, openlik die spot met die karakters. Sodra ons by ‘n vinnige aksietoneel kom, is die taalgebruik opmerklik weer eenvoudig. Die hogere en oude Engels breek heeltemal met alle vereenvoudingsreëls wat Aucamp hierbo noem, vol geleentheidswoorde wat uit verskillende eeue van die taal dateer. Uit my internetgeskiedenis het ek die volgende woorde gaan naslaan by etymonline.net:

betwixt, flotsam, deign, dolt, fistula, moniker, dearth, svelte, conciliatory, gruel, pugnacious, wry, callow (vergelyk “kaal” (soos pasuitgebroeide kuiken), maar nou wel met die betekenis “onervare”), breeches (vergelyk “broek”), ruse, gaunt, infirmary, trepidation, putrid (heart), countenance (support), gusto, traipsing, surreptitious, churn (vergelyk “karring” / NL: “karn”), ignominy, dapper (“netjies”, “smaakvol”), “cosseted in opulence”, flummoxed, scalded, decrepit, covetous, placid, “It appears […] we’re conjoined at the hip by our mutual need”, provisos, revere, “pugnacious staring match”, capacious, defected (oorgeloop na ander party, land, gebruike), “winner of the Quin Medal and all round good egg”, clomped [ens.].

Asook my gunstelingsinne:

“Janoah sat in the waiting room nursing an ember and staring at the single basic imperium lamp flickering overhead, her posterior mortified by the uncomfortably thin seat cushion. ALPHA wasn’t one for creature comforts. […] Set up after the war to guard against the very extravagance and corruption that had sparked the conflagration in the first place, they could not be seen as hypocrites. Still, Janoah thought, would it kill them to hire a tea-boy?”

Let asseblief op dat hierdie boek vir ontspanning geskryf is. Sal jy ooit so iets in Afrikaans durf waag?

Vervlakking met opset?

Ek vra ‘n Franssprekende kollega van my by die Afrikaanse Wikipedia (wat in Noord-Ierland bly en vlot Afrikaans skryf)  of die Franse iets soortgelyks doen as die Engelse. Gebruik die Franse nog Oudfranse/ou Franse woordeskat? Mais bien sûr! kom die antwoord:

Volgens sommige taalkundiges is argaïsmes onlosmaaklik verbonde met dialektismes aangesien dialekte die neiging het om die historiese woordeskat te bewaar. Ek stem saam.

Daar is ‘n aantal uitstekende publikasies soos Rudolf Zimmer se Aspekte der Sprachkomik im Französischen: Studien zur Sprache des Humoristen Alphonse Allais, 1854-1905. Zimmer definieer argaïsmes volgens die terminologie van die Noorse taalkundige Leiv Flydal as «tydelike ekstrastrukturalismes» (naas ruimtelike en sosiale ekstrastrukturalismes) en beskryf hulle gebruik ter wille van ‘n bepaalde effek wat die spreker/skrywer graag wil bereik. So het argaïsmes hul vaste plek in die kerk- en regstaal. In Zimmer se publikasie word die humoristiese effek ondersoek wat bereik word as argaïese woordvorme of verhewe terme met die gewone volkstaal vermeng/gekombineer word. ‘n Voorbeeld is naguère wat as sinoniem vir l’autre jour gebruik word.

Die gebruik van tydsvorme in geskrewe Frans (en Italiaans) verskil merkbaar van die gesproke omgangstaal.

Die woordeskat van Frans en Italiaans (as volkstaal) kan aangevul word deur ontlenings uit Latyn – vergelyk die Franse œil/yeux en oculaire (afgelei van die Latynse oculus). Hierdie ontlenings mag in ‘n sekere sin as argaïsmes gedefinieer word.

Die stigting van Franse kolonies in Noord-Amerika het ‘n tweede Franse taalgebied laat ontstaan wat baie kenmerke van 17de eeuse Frans bewaar het – sowel in sy uitspraak asook sy woordeskat. So hoor ons in Kanada nog die Frans wat die Sonkoning gepraat het! ‘n Soortgelyke studieveld is Kreooltale wat op Frans baseer.

Sommige taalkundiges sal terme wat tot die skryftaal beperk bly as argaïsmes definieer (soos décéder in plaas van mourir – alhoewel daar ook subtiele betekenisverskille is tussen décéder en mourir: sien gerus Office québécoise de la langue française: Décéder et mourir).

Heksagonale Frans het enkele Keltiese telwoorde bewaar – soos soixante-dix, quatre-vingt en quatre-vingt-dix teenoor septante, huitante, nonante (in Franssprekende Switserland en Québéc). Nie noodsaaklik ‘n argaïsme nie, maar twee verskillende tradisies wat uit Gallies en Latyn oorgeërf is.

Ek herinner my aan ‘n Disqus-opmerking wat ek voorheen op PRAAG geplaas het:

[…]

2. Ek kom ook agter waarom Engelse boeke as medium so gewild is, buiten die groot publikum.

Die sinoniemwoordeboeke is uiters toeganklik. En ek sien veral Britse skrywers huiwer nie om die hogere en lagere taalgebruik met mekaar af te speel nie. So word Oerengels (‘betwixt’) afgespeel met Iers (‘hubbub’) in nog ‘n Furry-boek (van 700 bladsye+: Imperium Lupi). Sommige van die woorde moet jy digitaal dubbelklik om ‘n definisie te kry – en dan wonder mens regtig: “Duidelik gee die skrywer nie ‘n duit om oor die onwetendheid van die leser nie! En dis reg so!”

Ook gee hulle glad nie om om Franse en Duitse leenwoorde in te voer nie. Die Duitse boeke is weer baie lief vir Franse, Engelse en veral Latynse sinne [toevallig almal gewilde vreemdetale op skool].

Daarteenoor: Jou arme Afrikaner mag straatpraat, maar mag hoegenaamd nie van “glunderende gluurder” praat nie. Want o, word “glunder” nie as “deftig” in die HAT aangemeld nie? Vir Hollanders is dit ‘n doodnormale alledaagse woord. Jou arme Afrikaner word in die baarmoeder al gemuilband.

Oordryf ek? Besluit self.

Ten hul beterwete, en téén Aucamp se raad, dink die taalkundiges blykbaar anders. Blaai gerus deur Norme vir Afrikaans, vierde uitgawe, 2003, soos geskryf deur W.A.M. Carstens, vide bladsye 349 en 350, en daar kry jy die volgende voorskriftelikheid (opgesom):

– Hoë woorde skep die indruk dat die skrywer met sy meerderwaardige kennis, hoë sosiale en kulturele status wil pronk of die aangesprokene probeer beïndruk.

– “As ‘n mens formeler praat (of skryf) as wat die situasie vereis, dan dink die luisteraars (of lesers) jy is ‘n snob.” […] “Deftigdoende sprekers wat fouteer met hul taalgebruik, verloor geloofwaardigheid.” (Combrinck 1993a:11)

– Taal wat te akademies of vakgerig is sal die gewone mens nie verstaan nie.” In ‘n vakverband kan ‘n mens dié soorte sinne nog aanvaar, maar nie wanneer met die breë publiek gekommunikeer word nie. In so ‘n geval kom staan die skrywer/spreker se woorde tussen hom en die aangesprokene”.

– Streef daarom “eenvoud” en “natuurlikheid” na deur voorkeur te gee aan die eenvoudiger alledaagse woorde.

– “Scholtz (1986d:9) het vir hierdie soort gevalle net een oplossing: ‘Probeer om altyd die kort, eenvoudige woord te gebruik. Op stuk van sake is eenvoud die vernaamste kenmerk van goeie styl. Hierby voeg Van der Walt (1992:2): “Eenvoud, ook ten opsigte van taalgebruik, is die basis van goeie smaak en styl, van duidelikheid, en dit dwing jou om self te verstaan, terdeë te verstaan, wat jy wil sê.”

Wat jy hierbo gelees het is onverbloemde Marxistiese verdomming in sewende rat. Ek ruik al weer ‘n klasseverskil wat uitgewis moet word.

Nou maar goed. Moet die taal so vereenvoudig word dat, verskoon die Anglisisme, “fok julle almal!”, binnekort tot die nuwe Superstandaardafrikaans verhef word? Want sonder twyfel is dit presies wat ons akademici beoog. Dit voldoen immers aan al die uitgestipte voorskrifte: dit is kort (woordbesuinigend), dit spreek van eenvoud (ook wat betref die spreker se gedagtegang), dit is kragtig, dit dra die presiese boodskap met emosie oor en dit is glashelder – dit dwing die aanhoorder om self te verstaan. Al spreek dit vanuit die ‘kommin’ stratum.

Nee, ek ruik hier eerder minderwaardigheid teenoor die groot tale daarbuite. Soos ‘n slak moet ons mos binne ons doppe inglip, soos kakkerlakke moet ons wegskarrel, om tog nie raakgesien te word nie. Maar onthou, liewe leser, ons het ‘n skatkis ryk van die Nederlandse, Duitse en Franse woordeskat geërf in 1925, maar ons het dit alles – uit niks anders as eenvoud – weggegee! As dit al is waarvoor ons die Hollanders dankbaar kan wees  – ons kon voortbou op hul woordeskat. ‘n Mens sou die tragiek kon vergelyk met ‘n plattelandse volk wat vir eeue onwetend langs ‘n bouval gebly het, totdat ‘n Franse argeoloog eendag opdaag en met die regte papiere met daardie eeuelange verborge skatte van die ingestorte burg na sy privaatmuseum huiswaarts keer. Die plattelandse volk kan net hulself verwyt – hulle kry maar net hul verdiende loon vir hul eie eenvoudigheid en onnoselheid. Net so het ons nooit ons woordeskat ten volle gebruik nie.

As ek na my pilhouertjie se voubiljet kyk, het die medici (gelukkig!) nie ‘n saak met die voorskriftelikheid van ons Afrikaanse akademici nie. Laasgenoemde kry net van hul eie medisyne terug: die snotklap wat hulle verdien vir hul eie eenvoud en onnoselheid. Want jy kan die mediese teks nie eenvoudiger maak nie – anders sal die dokters nie verstaan watter presiese kwaal die pasiënt van Middel X as newe-effek kan ontwikkel nie. Ons praat hier immers van lewe en dood! In die verlede het ons gesê ‘n bejaarde is mal of kranksinnig of hy is van lotjie getik. ‘n Paar jaar later het hy Alzheimers, vandag is Alzheimersiekte ‘n onderafdeling van Demensie, Demensie ‘n onderafdeling van… En net so is daar spesifieke name vir ‘n spesifieke kwaal vir ‘n spesifieke liggaamsdeel onder spesifieke omstandighede in gespesialiseerde rigtings. In die meeste gevalle is daar nie meer spesifieke Boerename daarvoor nie; die wetenskap het te snel ontwikkel.

Al hierdie mediese terminologie en rits dodelike vermanings in hierdie voubiljet word in kinderlike onskuld en blinde vertroue oor die hoof gesien. In die meeste gevalle is die pasiënt/koper doodtevrede met die gebruiksaanwysings gedruk op die plakker van die voorskrifbotteltjie: “Gebruik tablet 2 maal per dag voor ete”.

7 000 jaar van beskawing, 12 jaar op die skoolbanke, en dis hoe ver ons gevorder het? Spengler was reg: ‘n volk verdien wat hom toekom! Ek is, soos vele ander, egter nie tevrede nie. Ons wil weet waarom die dokter “b.d.d. a.c.” op die voorskrif skryf (bis de die, ante coenam – tweemaal daagliks, voor die maaltyd). Waarom? Want dokters maak foute, die aspirantapteker agter die toonbank maak foute [lees verkeerd], en ek maak ook foute [deur hierdie waninterpretasie en dus die foutiewe voorskrifaanwysings blindelings te gebruik]. Aangesien jy deesdae alles moet nagaan, van jou kontantstrokie by die supermark tot by die meterleser, kan jy netsowel die hele gesondheidswese ook bevraagteken.

Die probleem is nie alleen by die geneeshere nie, die probleem is die publiek wat nie tred met die tyd hou nie. Wat staan jou as verbruiker dus te doen? Koop daardie Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe (2011) deur A.J. Brink en kie vandag nog, as dit kan. Op Takealot.com lees ek wel:

Die aanbieding is nie alleen van waarde vir voor- en nagraadse studente en praktisyns in alle fasette van die gesondheidswetenskappe nie, maar ook vir vertalers, taalkundiges en joernaliste, Afrikaans- en/of Engelssprekend.

Nou wat help dit daar is ‘n woordeboek  vir vertalers as die gewone volk in elk geval nie die voubiljette gaan lees nie? Wat is die sin daarin? Onsin! Uit my ervaring is die woordeboek ook vir die leek bedoel. Lees dit! Gebruik dit! Vind uit. Google rond. Vergewis jou van die terme en afkortings van voorskrifte, soos hier op die Nederlandse Wikipedia.

En nou dat ons by die Nederlands is, nog in hierdie week lees ek deur die gratis e-boek Meertaligheid in de Gouden Eeuw: Een verkenning deur Willem Frijhoff, waarin die woord “roemruchte” opduik:

Gysbert Japicks (1603-1666) was van laatstgenoemde genres wel de meest roemruchte vertegenwoordiger.

Die WAT erken “roemrugtig“, maar plaas ‘n duidelike “verouderd” langs die woord, aangesien “roemryk” mos nou die gepaste keuse is. Hierdie voorskriftelikheid is absurd. “Roemrugtig” is duidelik net so springlewendig in 2010 met die skrywe van Frijhoff se boek, al is dit ook in Nederlands. As mens selfs NPO Radio 1 op die internet soek by http://www.listenlive.eu/netherlands.html en die kanaal aanskakel, luister jy die Afrikaans van die 1950’s. Net soos “weeluis” in Afrikaans vandag springlewendig is, al ken die Hollanders vandag hoofsaaklik net die Germanisme “bedwants”, wat “weegluis” teen die vroeë 1800’s vervang het. Niks keer die Hollanders natuurlik om die ou benaming weer te gebruik nie.

Waarom moet Afrikaans onnodig oorvereenvoudig en agteruitstaan, nee, selfs agteruitgaan, as ander tale dit nie doen nie? Vir wie? Vir wat? Geen ander volk ter wêreld steur hulle daaraan in die minste nie. Frans, Engels, Duits en ander is nog steeds akademiese tale, hulle gebruik nog steeds woorde uit die verlede. En – die Frans kan soos die Duits soms uiters omslagtig raak, maar uiters spesifiek. Wat die Afrikaanse taalkundiges dus kwytraak in hulle blinde taalideologie om brood en spele om die hoi polloi te behaag, is absolute snert, nie prakties uitvoerbaar nie en help Afrikaans allermins om te ontwikkel en uit te styg. Afrikaans word deur oorvereenvoudiging teruggedwing na sy voormalige patois-status as Kombuistaal.

Die Franse, Engelse en Duitsers omarm, en maak die akademiese wêreld en hul taalgebruik (jargon) déél van hul alledaagse bestaan. Die Afrikaanse akademici probeer duidelik ‘n skansmuur tussen die (hulle, die oningeligte) publiek en (ons, in hoofletters, DIE ALWETENDE GODE VAN BERG OLIMPUS WAT NIE MET DIE STERFLINGE BENEDE MENG NIE) akademie oprig. Of eerder, ‘n wig indryf.

Ek is dit heeltemal eens met die aktrise/joernalis Elma Potgieter, soos ek haar al menigmaal aangehaal het. Sy sê tydens ‘n kykweer van Kwêla op 7 Augustus 2017 (en dit hoort op iedereen se kopkussing borduur te word):

[…] as jy nie jou taal oefen nie, dan… dan verklein jy, jy verskraal jou woordeskat. En as jy ‘n verskraalde woordeskat het maak dit van jou ‘n primitiewe mens. Want jy kan nie meer jou emosies uitdruk nie. (my beklemtoning)

Maak die skatkis leeg?

Die mens het ‘n probleem om die waarde van woorde te verstaan. Wat is woorde?

In Afrikaans kan ons woorde munt. Dus, ‘n woord word soos ‘n muntstuk geslaan en in die tesourus (skatkis) gegooi. Hierdie skatkis staan bekend as ons woordeskat, waarvan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) die konkrete vorm daarvan is [hoewel Woordenboek der Nederlandsche Taal sonder twyfel ook ons erfenis is]. Indien woorde soos krom of blink muntstukke is wat verskillende gevoelens ontlok, dan kan ons ewe maklik ‘n munt uit die oerdae (wolf), en ‘n onlangs vereenvoudigde werkwoordvorm uit die 1920’s (koop) langs ‘n nuwe moderne selfstandige naamwoord plaas (groenteburger) om die sin te maak met “die”-lidwoord:

“Die wolf koop die groenteburger.”

Of, hierdie volgende trotse voorbeeldsin uit my Standerd 1-jaar, met ‘n vertwyfelde rooi vraagteken daarnaas van die klasjuffrou in my klaswerkboek:

“Die kaaiman kou my fyn.”

(Surrealisties gesproke is dit wel moontlik.)

Dit beteken dus ons mag met enige muntstuk, ongeag hoe verouderd of aangeslaan, ‘n sin bou, solank dit sin maak. Elke woord is nog ‘n pyl in jou koker. Hoe meer pyle, hoe meer skietgoed.

Jou probleem is met die moderne skrywers wat hul taal soos ‘n boom beskou: dat elke jaar daar nuwe blare bot (woorde) wat met die herfs afval, verdroog, vermolm en deur die erdwurm van tyd verorber en uitgeskei word. Ons sien dus hoe skrywers hulle elke dag moegmaak deur eendagsvlieë te skep, terwyl hordes gangbare woorde eenvoudig vergeet word wat reeds in die woordeboeke opgeneem is. Ons wonderlike akademici, soos ek reeds uitgewys het, bied ook nie veel antwoorde nie. Al wat hulle voorstel: as iets te moeilik klink, maak dit makliker. Met ander woorde, maak die skatkis sommer heeltemal dolleeg. Doen weg, geheel en al weg, met jou verlede. Verarm die Afrikaans sodat ons slegs 300 verskillende woorde met mekaar bedags praat. Soos die gromgeluide van grotbewoners uit die Steentydperk. Vergeet heeltemal van die afgelope eeue se tegnologiese vooruitgang.

Suidpunt, ontspan my liewe dier. Gelukkig weet jy mos van beter. En die PRAAG-lesers ook.

Ja, maar nou: voordat Afrikaans soos ‘n nuwe Latyn, Frans, Duits of Engels word – met so ‘n ruime woordeskat van 600 jaar is daar sekerlik meer uitdrukkingskrag as voorheen – kan daar nie miskien ‘n paar probleme insluip nie?

Tog wel. Maar net ‘n paar. So tweetjies.

Chaos vir taalaanleerders, of nie?

Ene Johan Nijhof skryf op Quora.com:

But there was a Japanese professor, Vondel expert, who arrived at Schiphol with much delay, and commented. “Ik vrees, ik ben een ogenblik te spade -I fear I am a moment too late”. As “spade” did not exist any more since Vondel, he made a great impression there.

(zu spät?)

Ek het ook gesien hoe tweedejaarstudente, Engelssprekend natuurlik, moeite het om “verouderde” Afrikaans raak te sien in van ons eerste gedigte. ‘n Groot probleem ook vir iemand wat pas Duits of Frans begin leer: dikwels is mens totaal onkundig watter taalgebruik werklik verouderd en wat nuut en gangbaar is. ‘n Mens leer die onderskeid alleen deur daaglikse omgang. In wese kan jy ‘n sin leer wat in die 1700’s laas geuiter is, en behoorlik aandag trek as jy hierdie taalfossiel oproep. Dikwels as ek ‘n sin in Duits skryf en toets, eindig my poging in ‘n boek op Google Books wat in 1830 laas geskryf is! Hoppla!

Aan die ander kant, as mense aan hierdie taalfossiele eers gewoond is, sal niemand daarvan snaaks dink nie.

Maar mens mag wonder wat jy met ‘n woord soos “trut” sal maak. In Afrikaans beteken dit gewoon “sukkelaar, lamsak, domkop”. Om die waarheid te sê het ek niemand in my leeftyd dit nog ooit hoor gebruik nie – dis eerder ‘n papierwoord.  In Nederlands word “trut” as vertaling gebruik vir “bitch” en “asshole” soos byvoorbeeld “kom op, trut!”. En selfs Reverso.net flits ‘n hoflikheidswaarskuwing wanneer ek heel onskuldig die woord intik… Nee, hierdie woord is springlewendig in daardie taal.

En nog ‘n valse vriend wat ek hierdie week ontdek is bekaf. In Afrikaans beteken dit gewoonlik iemand is bietjie suur/afgehaal weens teleurstelling (soos ook te sien in die platte “jou bek hang op die grond”). In Nederlands beteken dit weer iemand is kapot, klaar, pê, uitgeput, pootuit, gaar, hondmoeg. Kramers’ Fransch Woordenboek stem saam: die Franse vertalings gee être sur les dents (op die tande [in/teen die grond?] wees), être fourbu (uitgeput wees).

Valse vriende verwag mens sal opduik. Dit is gans normaal. Maar soms is daar ‘n ander roering onder die oppervlak wat die hele taalgeskiedenis in ‘n onverwagte wending stuur.

Moenie slapende honde…

Ek dink almal is teen hierdie tyd bewus van die minder mooi herkoms van “maaifoedie”. Sedert Max du Preez en die ANC in 2011 haaks oor hierdie woord geraak het (en sedert die HAT die oorsprong daarvan skaamteloos in 2009 uitbasuin), hoor mens gereeld daarvan op Radio Sonder Grense. Grensloos.

Juffrou het my gewoonlik bonuspunte gegee vir oorspronklike navorsing, so, vergun my om maar een enkele ander voorbeeld te noem.

Hondsvot.

Kom ons veronderstel daar verskyn eendag ‘n koerantopskrif wat lui: “Jannie is ‘n hondsvot!” Jannie voel geaffronteerd en wil weet wat gaan vir wat. Dit eerste boek waarna mens gryp is die HAT:

honds’vot s.nw. [~te] (w.g.) Veragtelike, niksbeduidende persoon, skobbejak.

Niks onaardig daaraan nie. Die Van Dale sê:

Laf en verachtelijk persoon, gierigaard, reepje op de schouders van een kapotjas.

Maar Jannie is steeds nie tevrede nie, en gaan kyk in die WAT. Die WAT roem daarop dat hulle al in hofsake gebruik is. Dit geld op presies dieselfde beginsel as ‘n weerkundige of sterrekundige wat by ‘n hofsaak betrek word wanneer die beskuldigde of slagoffer ‘n saak “teen sonsondergang” iets moes afgehandel het, of “teen sonsondergang” vergoed sou word vir die dagloon. Wat was die presiese tyd?

Nou kom ons kyk wat sê hulle, uit my e-WAT.

honds’vot s.nw., |hondsvotte, hondsvotte. Soms ook hondvots. (skeldtaal, nie algemeen) Veragtelike persoon, ellendeling, niksbeduiende kêrel, sukkelaar: So ‘n hondsvot, of hy nie geld van ‘n vrou wil bedel nie!

hondsvotsery |hondsvotsery honds’votsery s.nw. Ook hondvotsery. (verouderend)

1 Onsin, kafpraatjies: Dit is alles sommer hondsvotsery wat hy nou daar praat (opgeteken in Franschhoek).

2 In die segswyse maatskappy is hondvotsery (verneukery), dit betaal nie om met iem. in maatskappy te wees nie (Moorreesburg, Tulbagh).

Dit staan ook net so geskryf in my ou leergebonde WAT Deel IV op die stapeltjie bokant my kopkussing.

Maar iets pla. Jy weet wat ‘n hond is, maar wat is ‘n vot?

Gaan kyk jy nou na etymologiebank.nl en doen jy bietjie naslaanwerk in Boshoff en Nienaber se Afrikaanse etimologieë (sub verbum “hondsvot”, bl. 290, 1967) tref die waarheid jou soos ‘n bliksemstraal ins Gesicht. Daar staan dit swart op wit: hondsvot = vulva canis. (Trek asem geskok in!) ‘n Woord wat ‘n mens liewers nie in vrouegeselskap sal gebruik nie.

Is dit dan veel erger as die p-woord?

Volgens algemene bronne op Google is daar tot dusver al twee voorvalle bekend waar die skuldige met R50 000 beboet is as jy iemand ‘n p**s noem, veral as die ontvangkant ‘n man is. Dis mos ‘n man se eer wat op die spel is [met al die moderne trans-/poligenderpolitiek vind ek hierdie redenasie, komende van ons liberale howe, nogal vreemd]. Eerroof, of eerdiewery, is maar van die mooi woorde wat in Nederlands onder crimen injuria ressorteer. As jy lank genoeg mense kwaad maak sodat hulle jou begin vloek, is dit ‘n vinnige en maklike 50K-randjie losslaan (wat gulsig weer opgevreet word deur Meneer die Prokureur se vensterkoevertjies). Tog, waarom sou ‘n regdenkende mens so los met die woord omgaan?

Ons ken immers die Europese geskiedenis: ridders het op maat van D’Artagnan se “Ehre wem Ehre gebühret” (Wer nicht kämpft, wer nicht kämpft, Hat schon verlor’n) mekaar se oë uitgesteek oor daardie poort na die geboortekanaal. En boonop Christene! – watwou! – aartsvyandskap, tweedrag, broedertwis en hande taaibevlek met broedermoord en Christenbloed; hul siele saam met Lucifer en trawante na die ewige verderf verban, terwyl daar tog tot in alle Ewigheid géén huwelike in die hemel gesluit of kan voortbestaan nie (Matt. 22:23 e.v.)?! Huh? En al hierdie bloeddorstige waansin oor ‘n – o, okei, okei.

Maar Troje is met die aarde gelyk gemaak, ons ken die oorsaak. Kuisheidsgordels was die valhek (of jaloerse paspoort?) tot morge op morge erfgrond, slawe, lakeie en Cornucopia. Miljoene topverkoperromans (ook die sadistiese Fifty Shades of Grey) het oor hierdie wegsteekdingetjie gehandel, en mans sal steeds ‘n fortuin onder die rooilig (of brug) betaal om daardie heilige grond te mag betree [al is dit ook vir die ligsinnige tydverdryf van 10 minute]. Kuddes onskuldige stoetbeeste moes met hul lewens boet aan die bruilofstafel, as bruidskat, en met rede. En Mata Hari (Margaretha Geertruida Zelle) sou nooit so maklik die toekoms van Frankryk in haar skoot gehad het, as dit nie vir ‘n sekere geheime wapen was wat saam met die tonne siergoud gerittel het nie. En het Suid-Afrika nie juis ‘n drakoniese Sensuurwet agter die blad juis oor hierdie einste klein krokkie wat grinnikend uit die boek koekeloer nie (dikwels maar in ‘n enkele sin van drie woorde)?

Ek sou dus met die p-woord (as Anglisisme) glad nie so onversigtig mee omgaan nie. Deur die eeue heen weet ons nou, tot vandag toe – dit bly die mees gesogte, magtigste en gewaardeerde Wapen, ‘n troefkaart, in enige arsenaal! Ja-nee, selfs die Raad op Atoomkrag moes radeloos oor hierdie vraagstuk buig [die visepresident van die Raad op Atoomkrag was toevallig ook die voorsitter van Aksie Morele Standaarde]. As iemand dus my die p-woord sou toeslinger, sou ek sidder soos ‘n ridder, en saluéér!

Maar nou ‘n hond s’n. Wat kan ‘n teef uit die agterstrate van Haarlem ‘n man dan nou bied, buiten ‘n hondelewe? Bedags moet sy hoofsaaklik voëlvry (maar nie vlooivry) in haar spoor trap tussen die smet en vullis, maar saans het sy geen verweer teen die rondloperbrakke van die allerlaagste kaste nie. Dit is láág, laer kan jy nie teen die grond sleep nie.

Ek sou dus sê “hondsvot”, ‘n erfstuk van die manhaftige Wikings wat die volke langs die Noordsee ongelukkig soos viswywe leer skel het (of via Duits in Nederlands beland het), oortref die duurste en mees gewraakte Anglisisme in Afrikaans, maar omdat die betekenis deur die eeue verander, versluier, verduister, verouder en vergete geraak het sal slegs die ingewydes die donker geheim saam met hulle graf toe neem. So het sy angel verlore gegaan.

Maar Jannie sal nooit kan bewys dat die koerant die opskrif ooit lelik bedoel het nie. Selfs al was die skrywer ook ‘n Germanis of Germaanse filoloog. En so is daar duisende woorde daarbuite met donker oorspronge. En dit is boonop ‘n drogredenasie (bekend as die etymological fallacy) om ‘n moderne woord op sy ou lees te skoei en as geldige argument in ‘n hofsaak te gebruik.

The etymological fallacy is a genetic fallacy that holds that the present-day meaning of a word or phrase should necessarily be similar to its historical meaning.

Konteks, konteks, konteks! Maar weer – hoe weet Jannie wat die konteks is?

Suidpunt, wat het jy nou aangevang?!  Jy moes hierdie woord eerder met rus gelaat het!

Wat? Dis maar ‘n enkele woordjie. Ek het bloot ‘n ou woord soos Dr. Frankenstein met ‘n donderblits laat herleef en terselfdertyd bewys hoe kinderagtig die samelewing geword het. Ek kan nie verhelp as dit ‘n ongewenste Zombiewoord word nie. Ons sien dit trouens reeds gebeur – wat ek hier noem is geen wetenskapsfiksie of toekomsmusiek nie.

Gestel dit word nou aan die groot klok gehang, dan kry jy onmiddellik vier gevolge (soos met “maaifoedie”):

  1. Meer mense is nou skielik bewus van die woord. Ek het hom nuwe lewe gegee. Sy gebruikswaarde (of taalkundig-korrek: “woordfrekwensie”) neem toe.
  2. Mense stel skielik belang in etimologie (ongelukkig sal die meerderheid nooit, soos in die 1930’s, tot by Oudnoors en Goties vorder nie – daarvoor is hul koppe te vlak.).
  3. Dit dien as Rorschachtoets van die individu se vlak van volwassenheid. (En ‘n hele paar mense dop die toets met lof.)
  4. Jy kan self besluit of die woord gebruik mag word of nie.

4.1. Baie sal die woord nou doodgewoon gebruik soos die Afrikaanse betekenis lettertjie vir lettertjie in die WAT en HAT staan.

4.2. Baie sal nou skielik vroom met toeknietjies sit en die woord uit skaamte vermy (soos baie mense deesdae “boks” pleks van “doos” gebruik).

4.3. Baie sal die woord met opset dubbelsinnig en uittartend gebruik om reaksie uit te lok.

‘n Laaste paar los gedagtes

Al sit jy ook op ‘n goudmyn woorde wat terugstrek tot doer voor die Middeleeue, beteken dit steeds nie jy is besonder knap met die aanwending daarvan soos met vertaling nie. Neem nou maar die volgende voorbeeldsin uit Meertaligheid in de Gouden Eeuw (2010, p. 8).

Oorspronklik:

On remarquera que la langue française devient de jour en jour d’un usage plus habituel dans ce pays-ci.

 

Letterlik (woord vir woord):

‘n Mens sal opmerk dat die taal Frans word van dag tot dag van ‘n gebruik meer gebruiklik in hierdie land.

Vrye vertaling in die Nederlands deur Frijhoff:

De Franse taal blijkt van dag tot dag meer gebruikt te worden in dit land.

Om korrek en keurig te vertaal kan mens slegs deur voorbeelde en op eie inisiatief leer. Al wonder ek soms hoeveel millennia dit nog gaan duur voordat geleerde mense weer praat van OP die platteland (maar IN rural communities), OP die dorpe en IN die stede.

Ek sluit af.

Hopelik sal die nuwe belangstelling in die Afrikaans/Nederlands van ouds ook ander laat besef hoe sleg daardie hoogs irriterende en lamsakkige stopwoorde “in plek” (à l’anglaise: “in place”) klink. Ons het immers mos vaste uitdrukkings tot ons beskikking? Daardie twee woordjies bring ‘n hoogs bedonderde Grammar Nazi (ekskuus, skoolvos) in my uit. Hier volg ‘n paar foute en my verbeterings. Hopelik sal dit jou genoeg aanspoor om die woordeboek weer nader te trek om jou woordeskat uit te brei. Ons almal het dit dringend nodig.

“Het jy ‘n veiligheidsplan [in plek]?”*

“Het jy ‘n veiligheidsplan (gereed)?” (laat verkieslik ‘gereed’ weg)

“Hy verduidelik dat reëlings vir kragopwekkers [in plek] is vir teatervenues.”*

“Reëlings is egter reeds getref vir kragopwekkers by die teatervenues.”

“Reëlings is egter reeds vir kragopwekkers by die teatervenues getref.”

“As ons nie ‘n goeie agenda vir ons tong [in plek] het nie…”*

“As ons geen goeie woord (op ons tong) het nie…”

“Sy voer aan dat hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie in plek is nie…” * (verdomp vaag!)

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie van krag is nie…”

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie in werking getree het nie…”

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie uitgevaardig is nie…”

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie bekragtig is nie…”

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie deurgevoer is nie…”

“Sy voer aan hoewel die nuwe munisipale regulasies nog nie ter tafel gelê is nie…” (konteks?)

“Terug na die koop-en-verkoop-ooreenkoms – dit is dalk [in plek], maar is dit op datum? “*

“Terug na die koop-en-verkoop-ooreenkoms – dit bestaan dalk (wel), maar is dit op datum?

“Tog gaan jy lekkerder vakansie hou as jy weet dat jou lewensdekking [in plek] is”* (uiters vaag!)

“Tog gaan jy lekkerder vakansie hou as jy weet jy het (wel) lewensdekking.”

“Tog gaan jy lekkerder vakansie hou as jy weet jou lewensdekking is op datum.”

“Dit beteken dat ‘n stop-en-ry nou [in plek] is en alle voertuie…”*

“Dit beteken daar is nou ‘n stop-en-ry, en alle voertuie…”

“maar vir ‘n jong haarstilis van Durbanville het die meetsnoere reg [in plek] geval”*

“maar vir ‘n jong haarstilis van Durbanville het die meetsnoere in lieflike plekke geval” (gaan lees jou Bybel reg!)

“Die Wes-Kaapse LUR van Menslike Nedersettings, Tertius Simmers, sê hy het ‘n aantal maatreëls [in plek] gestel”*

“Die Wes-Kaapse LUR van Menslike Nedersettings, Tertius Simmers, sê hy het reeds ‘n paar maatreëls getref”

“Huidige maatreëls [bly in plek].”* (NWU-aankondigingopskrif)

“Huidige maatreëls steeds van krag.”

Istis dicentibus: “Quo usque eadem?“ responde: “Quo usque eadem peccabitis?”

[As iemand sou sê: “Hoeveel keer nog dieselfde (verwyte)?”, antwoord dan: “Hoeveel keer nog dieselfde foute?”]

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.