Leon Lemmer: Geestelike vorming as die doel van die universiteit

Binnehof van die Archiginnasio, die eerste amptelike setel van die Universiteit van Bologna, Italië, wat in 1563 gebou is.

Daar is rede om bekommerd oor die gehalte van skool- en naskoolse onderrig in die nuwe Suid-Afrika te wees. Die akademiese standaarde is dermate aan die daal dat ‘n leerling dalk eersdaags ‘n A-simbool sal kry deur bloot vir die eksamen op te daag. Daar sal nie eens van hom verwag mag word om betyds te wees nie.

Dit is wenslik om heeltemal basiese inligting oor onderrig, opvoeding en die akademie te versprei, want sommige van dié wat in sleutelposte in die onderwys sit en deurslaggewende besluite neem, is soms gewoon oningelig en doen skynbaar niks om hulle kennis aan te vul en hulle insig te verbeter nie. Dorothy Sayers (1893-1957) het in Oxford in 1947 in ‘n lesing, “The lost tools of learning” (gratis op die internet beskikbaar), opgemerk: “The most irrelevant people are appointed to highly technical ministries.”

Dit is bekend dat Johan Degenaar (1926-2015) aan die Universiteit Stellenbosch in sy eerste klas vir eerstejaar-filosofiestudente gevra het wat ‘n universiteit is. Sodanige bewustheid van en sensitiwiteit vir wat die akademie op tersiêre vlak behoort te wees, word plaaslik glad te selde aangetref. Studente weet nie wat ‘n universiteit veronderstel is om te wees nie. Deesdae word studente wat nie eens weet hoe ‘n behoorlik funksionerende skool daar uitsien nie, egter toegelaat om voor te skryf hoedanig ‘n universiteit moet wees. Die probleem is dat bitter min dosente en rektore navorsing oor die wesenlike aard van die universiteit gedoen en diepgaande daaroor besin het.

Die meeste mense in akademiese poste (ek kan hulle kwalik akademici noem) weet nie wat bv die trivium en die quadrivium, die sewe vrye kunste (artes liberales), is nie. Hulle verstaan gevolglik nie waar die fakulteit artes (“arts faculty”) vandaan kom nie. In koerante het ek al verskeie kere die stommiteit “kunsfakulteit” as vertaling teëgekom. Universiteite het omstreeks 1200 in die Middeleeue (400-1400) in Europa ontstaan. Die universiteit is een van die pronkprodukte van Europese beskawing wat tot groot voordeel van die mensdom dwarsoor die wêreld nagevolg is. Wat betreurenswaardig is, is die mate waarin universiteite die afgelope dekades nie bloot (soos dit hoort) by veranderde omstandighede aangepas het nie, maar inderdaad ontaard het, by uitstek in Amerika; dermate dat dit tot die ondergang van die Westerse kultuur kan lei.

Onderrig verwys na aktiwiteite wat uitgevoer word om ‘n doel, bv die opvoeding of geestelike vorming van die leerder, na te streef en selfs te bereik. Onderrig kan ook verskaf word om ‘n leerder op te lei om ‘n taak te verrig. Hierdie onderskeid tussen opvoeding en afrigting verteenwoordig die (klem)verskil tussen ‘n universiteit en ‘n technikon. Dit is onverskoonbaar dat hierdie twee soorte inrigtings in die nuwe Suid-Afrika saamgeklits is. Ek onderskei tussen ‘n instelling (bv opvoeding) en ‘n inrigting (bv die skool of universiteit waar opvoeding plaasvind)

Onderrig begin met die mededeling van inligting en leiding oor hoe daar met dié inligting omgegaan moet word, bv hoe geleer moet word. Daar moet derhalwe ‘n gebruiks- of toepassingstrategie wees, bv nie blote memorisering van inligting nie, maar nadenke om krities tot eie gevolgtrekkings te kom. Hiervoor moet die juiste oriëntasie en gesindheid by die leerder gekweek word. Dikwels word gesê onderrig begin met die aanleer van basiese vaardighede soos die “three Rs”, te wete “reading, writing, arithmetic”. Naas die inligting wat die onderwyser meedeel, word daar dus eerstens van die leerder verwag om die vermoë te ontwikkel om addisionele inligting te versamel deur bv te lees. Tweedens moet hy ook uitdrukking kan gee aan wat hy ervaar en weet deur te skryf. Derdens moet hy naas sodanige gebruik van letters en woorde (“literacy”) ook syfers en getalle kan skryf, verstaan en verwerk (“numeracy”).

In die Middeleeuse onderwys het die sewe vrye kunste basiese literêre en wiskundige vaardighede by die leerders tuisgebring. Die beoefening van hierdie kunste dateer terug tot die klassieke tyd van bv Plato (427-347 vC) en selfs Pitagoras (570-495 vC). In die vroeg-Middeleeue verwys Martianus Capella (360-428) uitdruklik na sommige van hierdie vrye kunste. Hulle word vry genoem omdat ‘n vrye persoon, dus ‘n nie-slaaf, hulle as onderwerpe en vaardighede onder die knie moet hê ten einde aktief aan die burgerlike/sosiale lewe te kan deelneem. Die doel met sodanige studie was om van die leerder bv ‘n deugsame, ingeligte, welsprekende mens te maak.

Trivium en quadrivium

Die sewe vrye kunste bestaan eerstens uit die trivium, die drie “literêre” maniere of weë, naamlik grammatika, logika/dialektiek en retorika, en tweedens uit die quadrivium, die vier “wiskundige” paaie (Latyn: via), naamlik rekenkunde, musiek, meetkunde en sterrekunde. Op die oog af is dit reeds duidelik dat die universiteit se fakulteit artes sy oorsprong in die trivium en die fakulteit natuurwetenskappe syne in die quadrivium het.

Die trivium-kunste/vakke het met die mens se gees te make en word soos volg verduidelik: “Grammar is the mechanics of a language (always Latin, at the time); logic (or dialectics) is the ‘mechanics’ of thought and analysis; rhetoric is the use of language to instruct and persuade” (Wikipedia). Miriam Joseph (bron hier onder, Kindle 144) word daar soos volg aangehaal: “Grammar is the art of inventing symbols and combining them to express thought; logic is the art of thinking; and rhetoric, the art of communicating thought from one mind to another, the adaptation of language to circumstances.”

Die quadrivium-kunste het op die materiële betrekking en word soos volg deur Proclus (412-485) verduidelik: “Arithmetic … studies quantities as such, music the relations between quantities, geometry magnitude at rest, spherics [astronomy] magnitude inherently moving” (Wikipedia). In daardie grootliks voor-wetenskaplike era is hierdie terme anders gebruik as wat deesdae die geval is. Sterrekunde het bv sterrewiggelary (“astrology”) ingesluit, asook wat ons kosmologie noem. “The subject of music … was originally the classical subject of harmonics, in particular the study of the proportions between the music intervals created by the division of a monochord … The quadrivium may be considered to be the study of number and its relationship to physical space and time: arithmetic was pure number, geometry was number in space, music number in time, and astronomy number in space and time” (Wikipedia).

Die trivium het as voorbereiding vir die quadrivium gedien. Hierdie sewe vrye kunste was die ekwivalent van wat deesdae die leergang vir ‘n baccalaureusgraad genoem kan word. In die Middeleeue kon die student ‘n meester in akademiese studie word deur op hierdie terrein verder te studeer, dus ‘n meester in die wysbegeerte/filosofie te word, want filosofie was destyds die omvattende benaming vir nie-religieuse kennis, insluitende wetenskaplike kennis. Dit is waarom so baie graadbenamings steeds na filosofie verwys. Pleks van ‘n meester in die wysbegeerte te word, kon die student hom egter ook, na sy studie van die sewe vrye kunste in die basiese of artes-fakulteit, in ‘n beroep in een van die drie hoër fakulteite bekwaam, naamlik teologie, regte en medisyne.

Studia humanitas, studium generale, universitas

In die ná-Middeleeue, tydens die Renaissance (15de tot 17de eeu), is die trivium-kunste verbreed en studia humanitas genoem omdat naas Latynse taalkunde daar bv letterkunde, geskiedenis en Grieks bygevoeg is. Vandaar die hedendaagse gebruik om die fakulteit artes die fakulteit lettere en wysbegeerte te noem. Tegniese en beroepstudie is in die vroeg-moderne tyd egter deurgaans uit hierdie basiese leergang geweer. In die vrye kunste het dit steeds om die algemene geestelike vorming van studente gegaan, dus voorbereiding vir nagraadse (bv beroep-) studie.

Die frase studium generale word deesdae steeds in die akademie gebruik, bv as die naam vir ‘n algemene universitêre oriënteringskursus, of as benaming vir (openbare) lesings oor enige onderwerp, dikwels deur dosente. Oorspronklik het studium generale egter verwys na universiteite wat studente uit enige plek/oord aanvaar het. Daardie benaming is gebruik om hierdie inrigtings te onderskei van universiteite (studium particulare) waar net plaaslike studente welkom was. Wat ek interessant vind, is dat die studium generale se studente uit verskillende lande of kulture afsonderlik gehuisves is.

Die Latynse term universitas is later as benaming gebruik vir groepe of ondernemings wat op leer en opvoeding toegespits was. Universitas het mettertyd die frase studium generale vervang. Universiteite was aanvanklik in gildes georganiseer, soortgelyk aan dié wat in die vervaardiging- en handelsektor aangetref is. Universiteite het as voorgangers gehad die Rooms-Katolieke Kerk se katedraal- en kloosterskole, wat onderrig aan onderskeidelik priesters en monnike verskaf het. Die goedkeuring van die pous of vors was nodig ten einde te verseker dat die opleiding van die afgestudeerdes in die samelewing aanvaar is.

Om as universiteit te kwalifiseer, moes daar naas onderrig in die basiese of voorgraadse fakulteit ook onderrig in minstens een van die nagraadse beroepsfakulteite verskaf word. Daarvolgens is die oudste universiteit in Bologna, gevolg deur dié in Parys, Oxford en Cambridge. Oor hulle presiese aanvangsdatums (omstreeks 1200) bestaan daar egter groot verskil van mening. In die 13de eeu het universiteite in die volgende lande ontstaan: Italië, Frankryk, Engeland, Spanje en Portugal. Kolleges (“collegia”, organisasies) is in bv Amerika die aangewese benaming vir tersiêre onderwysinrigtings wat net voorgraadse onderrig verskaf, of vir die voorgraadse afdelings van universiteite.

Dorothy Sayers

Wat Dorothy Sayers in haar 1947-voordrag gedoen het, is om aan te toon dat die klassieke en Middeleeuse benadering tot opvoedkundige vorming, met die nodige aanpassings, steeds met vrug in skole toegepas kan word, bv “how to think” en “the art of learning.” Byvoorbeeld, hoe om tussen ‘n gesaghebbende en ‘n oppervlakkige boek te onderskei; hoe om die biblioteekkatalogi te gebruik; hoe om in ‘n naslaanwerk inligting te vind, ens. “The sole true end of education is simply this: to teach men how to learn for themselves.” Hierdie take is voorheen in Suid-Afrika in boekopvoeding gedoseer en in skoolbiblioteke toegepas. Deesdae het min skole noemenswaardige biblioteke en nog minder beskik oor gekwalifiseerde skoolbibliotekarisse. Die owerhede wend hulle eerder tot die voorsiening van rekenaars, wat sekerlik waardevolle onderwyshulpmiddels is maar nie in alle opsigte skoolbiblioteke kan vervang nie.

Sayers beklemtoon elementêre waarhede, soos dat die betekenis van terme gedefinieer moet word en dat vakke nie in waterdigte kompartemente aangebied moet word nie. Ons kan nie letterlik terug na die Middeleeue gaan nie, maar ‘n “neo-mediaeval curriculum” kan ons help om foute in ons opvoedkundige stelsel uit te skakel. Die doel moet “the proper training of the mind” wees. Sayers onderskei drie stadiums in die skoolloopbaan: “Poll-Parrot stage (grammar)” wanneer dinge van buite (“by heart”) geleer, reseptief aanvaar en gememoriseer word; “Pert stage (logic/dialectic)” wanneer inligting bevraagteken en soms teengespreek word, dus wanneer leerders begin om krities te besin; “Poetic stage (rhetoric)” wanneer leerders hulleself doeltreffend uitdruk en poog om onafhanklik standpunt in te neem, bv ingevolge waardering en kritiek. Op hierdie vlak is kreatiwiteit en sintese (bv “the inter-relations of all knowledge”) moontlik. Sayers het gedink die “mistress-science” teologie kan op die hoogste vlak, dus metafisies, sintese moontlik maak. Die genoemde drie stadiums hang saam met die ouderdom van die leerder: grammatika 9 tot 11 jaar, logika/dialektiek 12 tot 14 jaar en retoriek 14 tot 16 jaar. Daarna volg die quadrivium.

‘n Redelik onlangse weergawe van Sayers se denke is te vinde in Martin Robinson se boek, Trivium 21c: Preparing young people for the future with lessons from the past (London: Independent Thinking Press, 2013, 290p; Amazon Kindle $12,80).

Miriam Joseph

Die veld wat ek in my bostaande teks gedek het, is egter (anders as Robinson se boek) eerder op die universiteit as die skool toegespits. Miriam Joseph (gebore Agnes Lenore Rauh, 1898-1982) doen dieselfde in haar boek, The trivium: The liberal arts of logic, grammar, and rhetoric (Philadelphia: Paul Dry Books, 1937/2002, 306p; Amazon Kindle $8,34). Daar is ‘n verdere newetitel: “Understanding the nature and function of language.” Baie van wat ek hier bo geskryf het, is ook in haar teks, maar ek het die trivium in ‘n breër en hopelik duideliker konteks probeer plaas. Sy skryf oor die trivium as “tools to perfect the mind” (Kindle 58, ook 130), wat egter hoogstens tot geestelike verbetering (nie vervolmaking nie) kan lei.

Joseph was as dosent aan die Rooms-Katolieke Saint Mary’s College in South Bend, Indiana, verbonde. Sy is naas Aristoteles (384-322 vC), asook sy christelike spreekbuis Thomas van Aquino (1225-1274), deur Jacques Maritain (1882-1973) beïnvloed; ook deur Porphyry (232-305) wat probeer het om die wysbegeerte van Plato en Aristoteles te versoen. Wat letterkunde betref, word die invloed van veral Shakespeare se werk (die onderwerp van Joseph se doktorale proefskrif) in die teks weerspieël. Byvoorbeeld, hierdie treffende voorbeeld van omkering (“obversion”) word aangehaal: “I have no hope that he’s undrowned” (82).

Die kern van Joseph se boek word soos volg deur die redaktrise, Marguerite McGlinn, saamgevat: “The trivium teaches us that language evolves from the very nature of being human. Because we are rational, we think; because we are social, we interact with other people; because we are corporeal, we use a physical medium. We invent symbols to express the range of practical, theoretical, and poetical experiences that make up our existence. Words allow us to leave a legacy of our experience to delight and to educate those who follow us. Because we use language, we engage in a dialogue with the past and the future” (65).

Die hoofklem in die boek is op grammatika. Daarna volg heelwat inligting oor logika, bv Aristoteles se vier soorte oorsaaklikheid: “material, formal, efficient, final” (7104). ‘n Toepassing van John Morton (1420-1500) se vurk, “The accused is guilty no matter how the dilemma is resolved” (7017), het tans aktuele relevansie vir veral blankes in Suid-Afrika. Minder inligting as oor logika word oor retoriek verskaf. Daar word bv na Aristoteles se ses elemente van poëtika/”imitation” verwys; bv in die geval van ‘n drama: “(1) plot, (2) characters, (3) the thought of the characters, (4) diction or style, (5) music, (6) spectacle (production in the theatre, scene, costumes)” (5688).

Joseph skryf: “The utilitarian or servile arts enable one to be a servant – of another person, the state, or a corporation, or of a business – and to earn a living. The liberal arts, in contrast, teach one how to live; they train the faculties and bring them to perfection; they enable a person to rise above his material environment to live an intellectual, a rational, and therefore a free life in gaining truth” (130, 201).

Dit is duidelik dat Joseph se teks oor dekades (1935-1965) van klasgee tot stand gekom het. Die verpligte trivium is aan St Mary’s College ingestel nadat Mortimer Adler (1902-2001) daar ‘n lesing gelewer het. Hy is een van die grondleggers van die Great Books Program, ‘n ander manier om min of meer dieselfde resultate as met die trivium te behaal. Deesdae word Adler se idees glad te maklik negatief gestereotipeer met die opmerking dat daardie aanbevole boeke dié van dooie, wit, Westerse mans is.

Weens praktiese redes (of onkunde) het Joseph soms op ‘n misleidende manier kortpad gevat oor wysgerige probleme wat sedert die klassieke en Middeleeuse tyd anders en dikwels beter aangespreek is. In die voetnote het die filosoof Todd Moody sommige van Joseph se opmerkings verduidelik of reggestel. Wat Joseph se teks tuisbring, is dat dit uiters moeilik is om so ‘n kursus doeltreffend en (ten spyte van al die aanhalings uit baie bronne) interessant op naskoolse vlak aan te bied, om van skoolvlak nie te praat nie.

James Turner

James Turner (gebore in 1946) gebruik filologie as ‘n omvattende benaming vir die trivium. Filologie beteken: “(1) Wetenskap van die taal en lettere, veral van ‘n vroeëre tydperk … (2) Versameling, bewerking en toeligting van letterkundige tekste” (HAT). Turner het ‘n meesterwerk oor die geskiedenis van die humaniora geskryf, Philology: The forgotten origins of the modern humanities (Princeton University Press, 2014, 568p; Amazon Kindle $16,78). Humaniora beteken: “Wetenskappe wat op die studie van [die] mens betrekking het; vroeër veral die antieke tale en literatuur … wat tot ‘n hoër mensheid lei” (HAT). “Studying literature, art, philosophy, and classics was held to build character, even to deepen the student’s ‘spiritual’ nature” (Kindle 9948). Inhoudelik val die klem op menslikheid maar die bestudering van die humaniora word (waar toepaslik) wetenskaplik (bv objektief en rasioneel) benader.

Die humaniora was eeue lank die kern van geleerdheid in die Weste maar word deesdae skromelik aan universiteite verwaarloos. Enersyds kan dit aan die opkoms van die natuur- en sosiale wetenskappe toegeskryf word en andersyds aan die klem wat deesdae op beroepsopleiding geplaas word, wat die gewildheid van bv sake- en bestuurstudie verduidelik. Vir Turner beteken filologie “the multifaceted study of texts, languages, and the phenomenon of language itself. Philology has fallen on hard times in the English speaking world (much less so in continental Europe)” (114). “Philology is no discipline but a set of related scholarly practices” (7346).

Die verskil tussen die humaniora en Turner se filologie (letterlik liefde vir woorde) is dat hy filosofie (letterlik liefde vir wysheid) uitsluit. “Must not a history of the humanities include the oldest component, philosophy? Absolutely not … For most of this [humanities’] long evolutionary history, philosophers understood their studies as the opposite of philology, rhetoric, and antiquarianism” (9931) – hy noem darem nie dialektiek ook nie. Hy verwys na “the age-old gap between philosophy and philology” (1662). Filosofie het vóór filologie ontstaan. “Philosophy did not have roots in philology” (6254). “Philosophy stood as the self-conscious opposite of philology” (224). “Philosophy is a guest among the humanities, and a dubious one” (9966). Turner se gesindheid teenoor filosofie kan myns insiens kwalik geregverdig word. Wat akademiese dissiplines betref is filosofie histories die eerste kennis waaroor mense beskik het. Met die frase “for most of this … history” kwalifiseer Turner darem sy afkeer van filosofie as deel van die humaniora, want sedert die 20ste eeu speel linguistiese wysbegeerte ‘n prominente rol en daaruit blyk die verwantskap tussen filosofie en filologie baie duidelik.

Wat die trivium betref erken Turner grammatika en retoriek, maar logika word eerder dialektiek genoem. Daar is die vraagstuk of logika ‘n dissipline uit eie reg of deel van filosofie is. Daar is ook die kwessie van die verhouding tussen logika en wiskunde. Bertrand Russell (1872-1970) en Alfred North Whitehead (1861-1947) het in hulle boek, Principia mathematica (3 volumes, 1910-1913), gepoog om aan te toon dat wiskunde eintlik logika as grondslag het. Bitter min mense is in staat om hierdie werk te beoordeel. Die navorsing en formulering het ‘n dekade lank so baie van die jeugdige Russell geverg dat hy skryf: “My intellect never quite recovered from the strain” (The autobiography of Bertrand Russell, London: George Allen and Unwin, 1967, p 153). Ek volstaan met die opmerking dat wiskunde in die moderne universiteit gewoonlik in die fakulteit natuurwetenskappe en filosofie (insluitende logika) gewoonlik in die fakulteit artes aangebied word.

Volgens Turner, wat sy aandag op Engelstalige universiteite toespits (472), was filologie voor 1850 “the pride of the first great modern universities” (123). “Language study in its heyday formed the skeleton of modern erudition and gave us many dissiplines that today make up the humanities and even social sciences” (188). Die begrip teks word breed vertolk: “Greek temples, medieval cathedrals, and Renaissance paintings” is almal tekste (179). “Every text of the era revealed something about the culture it came from” (170). Aristoteles en Aristarchus (220-143 vC) het die volgende beginsel onderskryf: “The critic must understand a text in relation to the customs of the period that produced it” (677), oftewel “a text can be well understood only in cultural-historical context” (4563).

Johann Herder (1744-1803) was van mening “the language of each people, or race, or nation … expressed in its vocabulary and structure that nation’s distinctive sensibilities and ways of thinking. Language, that is, articulated a people’s unique identity – or , as Herder believed, its spiritual essence” (3583, ook 4369, 4398). Wilhelm von Humboldt (1767-1835) stem saam: “Every nation has a specific spirit expressed in its language. Humboldt created a plausible linguistic basis for cultural diversity” (3801). Literatuurgeskiedenis word dan “a narrative of the unfolding of national character” (4536). Volgens Max Müller (1823-1900) “ethnicity grows from a common tongue” (6908). Potensieel nog meer fundamenteel: “Linguistic differences produce differences in cognition” (6676).

Die woord kultuur het eers ná 1750 in omloop gekom (4594). Teen die 19de eeu is aanvaar dat daar kulturele evolusie is, maar “exactly what civilization meant remained hopelessly nebulous, though often the invention of writing had something to do with its origin” (4603). Mettertyd het tekstuele studie/filologie al hoe meer “the study of civilizations” geword (4622). Die vrye kunste/trivium is soms “cultural studies” genoem (6254). Edward Burnett Tylor (1832-1917) het in 1871 die volgende definisie verskaf: “Culture or civilization, taken in its wide ethnographic sense, is that complex whole which includes knowledge, belief, art, morals, law, custom, and any other capabilities and habits acquired by man as a member of society” (9064).

Turner toon aan hoe die verhouding tussen grammatika, dialektiek en retoriek deur die eeue verander het, bv die klem wat op elk geplaas is en die betekenis wat aan elk geheg is. Byvoorbeeld, in die geval van Lorenzo Valla (1407-1457) “rhetoric rules; dialectic makes rhetoric more effective, and grammar (meaning grounding in ancient languages and literatures) provided the raw material” (1308). Wat in gedagte gehou moet word, is dat die trivium op sowel gesproke as geskrewe taal betrekking het, al was gesproke taal aanvanklik oorheersend omdat daar min geskrewe rekords en ook min funksioneel geletterdes was. Later verskuif die klem, bv in 1867 William Dwight Whitney (1827-1894) “defined philologist as any ‘student of human thought or knowledge as deposited in literary records'” (4151).

Met verloop van tyd het die klassieke tale (Grieks en Latyn) al hoe minder in aanvraag aan universiteite geword en het die klem na die nasionale spreektale en hulle taal- en letterkunde verskuif. Geskiedenis is aanvanklik saam met letterkunde gegroepeer en was toe eerder ‘n interessantheid of op vermaak ingestel. Sedert Edward Gibbon (1737-1794) se werk, The history of the decline and fall of the Roman empire (1776-1788), is geskiedenis egter veronderstel om “nonfiction about the past” te wees (3157) en moet dit verkieslik op primêre bronne gebaseer wees. Deesdae is geskiedenis ‘n dissipline wat deels by die humaniora en deels by die sosiale wetenskappe tuishoort.

Turner se boek is buitengewoon leesbaar, gesaghebbend en interessant. Gevatte stellings kom voor. Na Moses word as die “principal Secretary to the Holy Ghost” verwys (1585). Benjamin Jowett (1817-1893) se boek oor Plato is beskryf as “the best translation of a Greek philosopher which has ever been executed by a person who understood neither philosophy nor Greek” (7600). Van Richard Jebb (1841-1905) is gesê: “What time he can spare from the adornment of his person, he devotes to the neglect of his duties” (7682). Dalk moet ek die volgende geval in gedagte hou wanneer ek my rubriek skryf: James G Frazer (1854-1941) “promised his publisher to ‘try to study brevity.’ If sincere, he was an appallingly bad student. The third edition [of The golden bough: A study in comparative religion, 1890, 2 volumes], finished in 1915, reached twelve volumes. In 1922, he took pity on readers and boiled it all down into a single volume” (7740).

George Grey

Dwarsdeur die boek maak Turner polities oorverligte geluide. Ek vestig slegs die aandag op wat hy oor sir George Grey (1812-1898), die Britse goewerneur aan die Kaap (1854-1861), skryf. “A reform-minded liberal and fanatical imperialist, an avid collector of rare books and manuscripts, a sincere Christian and racist, he sympathized with subject peoples even as they suffered under his brutality in the interests of empire” (8845). Grey was ‘n regeringsamptenaar in Australië voordat hy na die Kaap gekom het en ná 1861 die eerste minister van Nieu-Seeland geword het. “Throughout, he observed the indigenous people he ruthlessly ruled” (8853). Grey het inheemse Nieu-Seelandse tale geleer en Maori- en ander Polinesiese volksverhale versamel en gepubliseer, “predictably taking all credit for himself” (8853). Ek dink Turner se aanslag is hier uiters onbillik. Hy pas nie die beginsel toe wat hy self predik nie, naamlik dat Grey beoordeel moet word in die konteks van die tyd waarin hy gelewe het.

Dit is moontlik ‘n insident soos die volgende wat aan Turner se verligte siel krap: “In a skirmish with the natives [in 1838 in Western Australia], in which he [Grey] was speared near the hip, he showed great courage, and put the assailants to flight, shooting the chief, who had wounded him” (Encyclopaedia Britannica, revised 14th edition, 1961, vol 10, p 882). Turner word in daardie artikel direk teengespreek: “The governor [Grey] gained the veneration of the Maori tribes, in whose welfare he took a close personal interest, and of whose legends and myths he made a valuable and scholarly collection” (882).

In die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad is daar die waardevolle Grey-versameling bestaande uit 4 050 boekdele, insluitende meer as ‘n honderd Middeleeuse manuskripte, wat deur George Grey geskenk is (Reuben Musiker, Companion to South African libraries, Craighall: Ad Donker, 1986, p 147). In 1887 het Grey 14 000 boekdele aan die openbare biblioteek in Auckland, Nieu-Seeland, geskenk (Wikipedia).

Grey het as bemiddelaar tussen die Vrystaatse regering en die Basoeto’s opgetree. Hy het ‘n federale regering vir Suidelike Afrika voorgestel, waartoe die Vrystaatse regering en moontlik ook die Zuid Africaansche/Transvaalse regering sou instem, maar die Britse regering was nie daarvoor te vinde nie; ook nie FW de Klerk en die ANC in die 1990’s nie. Op sy standbeeld in Kaapstad word Grey beskryf as “a governor who by his high character as a Christian, a statesman, and a gentleman, had endeared himself to all classes of the community, and who by his zealous devotion to the best interests of South Africa and his able and just administration, has secured the approbation and gratitude of all Her Majesty’s subjects in this part of her dominions” (Wikipedia).

Slot

In die hedendaagse universiteit is daar drie basiese fakulteite: artes/humaniora, sosiale wetenskappe en natuurwetenskappe. Eintlik is dit slegs die fakulteit artes wat op die geestelike vorming of opvoeding van studente ingestel is; dus sorg dat hulle lees-, skryf- (dus taal-) en dinkvaardighede ontwikkel. Studente wat nie ‘n graad hierin voltooi het nie, is al dikwels geleerde barbare genoem. Die kompartementalisering en selfs balkanisering van akademiese dissiplines, gevolg deur spesialisering, vind deesdae heeltemal te vroeg plaas. Beroepsopleiding word deesdae nie meer deur algemeen-geestelike vorming voorafgegaan nie. Dit is egter iets wat by uitstek in die nuwe Suid-Afrika nodig is, dus om in die grondfase ‘n sin vir beskawing te ontwikkel, onder meer omdat die universiteitskampusse periodiek op gewelddadige wyse deur studente op horings geneem word. Maar selfs op die hoogste universitêre vlak, dié van rektor, ontbreek daardie geestelike vorming soms omdat hy by uitstek beroepsopleiding ontvang het, bv as die rektor in die geneeskunde of selfs aptekerswese (werklike plaaslike voorbeelde) studeer het en hy bygestaan word deur ‘n viserektor wat in bv verpleegkunde (werklike voorbeeld) gekwalifiseerd is.

Voorheen het die universiteit bepaal aan watter vereistes ‘n student vir toelating tot studie en deurlating tot ‘n graad moet voldoen. Deesdae word in toenemende mate eerder voldoen aan die eise wat die studente en plaaslik die ANC-regering stel. Weens kruipsug waak nie ‘n enkele plaaslike universiteit daadwerklik oor universitêre outonomie en akademiese vryheid nie. My skoolmaats wat in die geneeskunde wou studeer, het Duits as vak gekies omdat sodanige leeskennis destyds deur die universiteit vereis is. Insgelyks het dié wat in die regte wou studeer, Latyn as vak gekies. Deesdae word geredeneer dat geen plaaslike universiteit (‘n mate van) vaardigheid in enige taal behalwe Engels mag vereis nie.

Turner verwys na “Mithridates VI of Pontus [135-63 BC] who, according to Pliny the Elder [23-79], spoke all twenty-plus languages of the peoples [in Anatolia, Turkey] he ruled” (4058). William Jones (1746-1794) was elf vreemde tale magtig (“Greek, Latin, French, Italian, Spanish, Portuguese, German, Persian, Turkish, Arabic, and Hebrew” – 3466) en “he knew something about fifteen others” (2763). Blykbaar word net swart studente in die nie-rassige nuwe Suid-Afrika toegelaat om op die belastingbetalers se koste mediese opleiding in Kuba te ontvang. Sulke studente moet Spaans leer, maar in Suid-Afrika mag daar nie van enige student vereis word om Afrikaans magtig te word nie, al is Afrikaans plaaslik veel meer bruikbaar as Spaans.

Weens die onvoldoende toelatingsvereistes wat om polities byderwetse redes gestel word, voltooi die meeste eerstejaarstudente nie hulle graadkursusse nie. Diegene wat dit wel doen, voltooi hulle studie nie binne die minimum tydperk nie. Hierdie opset is nie in die belang van die studente, die universiteite en die land nie. Insgelyks funksioneer die ANC-regering in wesenlike opsigte nie in die land se belang nie. Dit is die kernprobleem wat glad te geredelik as onoplosbaar beskou word. ‘n Mens kan met reg van akademici verwag dat hulle hul rug styf teen ‘n ondoeltreffende, korrupte en ideologies misleide bewind sal maak, maar hulle doen dit nie. As die groen hout deur apatie verteer word, watter hoop op doeltreffende verset kan daar by die droë hout wees?

In Suid-Afrika is miljoene rande se skade die afgelope dekade aan universiteitseiendom aangerig. Sedert 1994 het (Westerse) beskawing plaaslik eerder agteruit as vooruit gegaan. Waaraan die land behoefte het, is ‘n basiese, algemene graadleergang ingestel op die breë en indiepte geestelike vorming van studente. Studente moet die vermoë ontwikkel om krities en met insig te kyk, te lees en te luister, heldere begrippe te vorm en om daaraan duidelike uitdrukking in goed geformuleerde sinne te gee. Bowenal moet hulle kreatief met idees kan omgaan deur te put uit die beste wat deur die mensdom voortgebring is. Skoling in die letterkunde, taalkunde, geskiedenis en wysbegeerte is hiervoor noodsaaklik; ook inligtingkunde, nie bloot in die sin van rekenaargeletterdheid nie, maar veral in die opsporing en verwerking van data en inligting, insluitende grondlegging in navorsing en rigtingwysing in innoverende denke en die toepassing daarvan. In so ‘n substansiële kernleergang is daar geen plek vir bloedarmoedige skyndissiplines soos swartstudies en vrouestudies nie.

Wat hiermee gevisualiseer word, is ‘n hedendaagse voortsetting en aanpassing van veral die Middeleeuse Trivium, dus beskawende geestelike vorming wat studente voorberei op ‘n suksesvolle loopbaan in enige beroep, asook hulle doeltreffende funksionering as ouers, gemeenskapslede en landsburgers. Sodanige Baccalaureus Artium-leergang kan teen billike koste deur afstandsonderrig aangebied word, dus sonder om by te dra tot die oorbevolking van residensiële universiteite.

Die voorafgaande uiteensetting is ‘n konserwatiewe benadering tot die tradisionele universiteit. Hierdie teks dien as aanloop tot my beoogde latere bespreking van Chris Brink se boek, The soul of a university: Why excellence is not enough (Bristol University Press, 2018, 408p; Amazon Kindle $28,36). Hier volg ‘n aptytwekker.

Brink was die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) van 2002 tot 2007. Op daardie stadium het ‘n hewige taalstryd gewoed. Hoewel Brink (soos sy latere opvolger, Wim de Villiers) voor sy aanstelling valslik voorgegee het dat hy Afrikaans sou bevorder, het hy (soos De Villiers) alles in sy vermoë gedoen om die US te verengels. Brink kom uit Upington en boonop uit ‘n Afrikaanssprekende gesin. Daarby het hy aanvanklik aan die Randse Afrikaanse Universiteit studeer. ‘n Mens sou dink dat hy goed ingelig behoort te wees oor die Afrikaanse grondslag waarop die US kragtens sy stigtingsvoorwaarde veronderstel is om te funksioneer.

Brink skryf: “Deep within the psyche of Stellenbosch is the story of how the university’s founding was made possible by the bequest of £100 000 in the will of Oom Jannie JH Hofmeyr, stipulating that the bequest was to enable Afrikaans to have geen mindere plaatz – no lesser place – at the university than English. That is why, at the centre of Stellenbosch University campus, you will find the statue of JH Hofmeyr, with the simple inscription Ons Weldoener – Our benefactor” (Kindle 2931). Dit moet “plaats” wees en nie “plaatz” nie, maar dit is tekenend van die minagting waarmee Brink met sy moedertaal, Afrikaans, omgaan. “Oom Jannie” verwys gewoonlik na Jan Smuts. Hofmeyr, daarenteen, was bekend as Onze Jan.

Maar die eintlike en feitlik ongelooflike fout in hierdie aanhaling is dat Brink die stigtingskenker van die US, Johannes Henoch (Jan) Marais (1850-1915), met Jan Hendrik Hofmeyr (1845-1909), die leier van die Afrikanerbond, verwar. Dit ten spyte van die feit dat Brink as US-rektor daagliks Marais se standbeeld op die Jan Marais-plein op die US-kampus kon waarneem. Dit in sigself beklemtoon die feit dat Brink nooit erns met die behoud van Afrikaans as die eens dominante US-onderrigtaal gemaak het nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.